Sondag 29
Jun. 2014 GKE
Skriflesing Ps. 88
tv 2
Ps. 84-1:1 & 3
Sb 9-1:1 voor die
wet
Sb 9-1:11 na die
wet
Ps. 86-1:1,3,6
& 9
Sb. 10-1 : 1- 4
Gebed na woordverkondiging
Sb. 17-1:1 & 6
Inleiding
Ps. 88 is ’n donker Psalm. Baie
mense beskou dit as die swaarmoedigste gebed in die hele Bybel. In wanhoop roep
die Psalmdigter tot God. Die Psalm wissel tussen die Psalmdigter se noodroep
tot die Here en die redes vir sy nood.
Eerste
noodroep:- ’n Lewe sonder lig
In Ps. 88:2-3 hoor ons sy eerste
noodroep:
Here, God van my
verlossing, dag en nag roep ek tot U. Luister tog nou na my gebed; hoor my
hulpgeroep. Want my lewe is vol ellende, en die dood kom al nader.
Dan gee hy die redes in Ps.
88:4-10. Sy lewe is sonder lig. Sy swaarkry het vir hom te veel geword.
Hy sit in ’n donker put waar dit vir hom voel of God van hom vergeet het. Hy
staan met sy voet in die graf en dit voel of God hom so straf dat selfs sy
vriende hom vermy. Sy oë het dof geword van smart.
Tweede
noodroep: Dood sonder hoop
In Ps. 88:10b hoor ons sy tweede
noodroep:
Here, elke dag
roep ek U om hulp, en sprei my hande uit na U in gebed.
Sy oproep om hulp word al hoe
intenser. Hy is so bedruk dat hy herhaal dat hy die hele dag lank bid sodat God
sy hulpgeroep moet hoor.
In Ps. 88:11-13 gee hy weer sy
redes. Hy het geglo soos die mense van sy tyd dat as jy eers dood is met God se
wraak wat op jou rus, dan is jou laaste kans op ’n wonder verby. As hy eers in
donkerte van die dood is, kan hy nie meer die wondermag en redding van God
ervaar nie.
Derde
noodroep: Vrae sonder antwoorde.
In Ps. 88:14 hoor ons sy derde
noodroep:
Maar ek roep na U
om hulp, Here. Elke oggend is my gebed voor U.
Ons hoor hier hoe die roepstem van
die Psalmdigter nog dringender word, want hy roep al van vroeg in die more af
om hulp.
In Ps. 88:15-19 hoor ons weereens
die redes. Hy vra waarom God hom verstoot? Van jongs af kry hy swaar en dit
voel vir hom of God se toorn hom tref. Hy kry egter nie antwoord op sy vrae
nie. Dan sluit die Psalm op hierdie donker noot af:
die duisternis
van die dood is my enigste geselskap
Die digter se gebed eindig soos
dit begin het met ’n noodroep, maar ons hoor nie of sy gebed verhoor is nie.
Daar is
tog hoop
Waarom is hierdie swaar donker Psalm
vir ons opgeteken? Hoekom vind die outeur nie vrede en 'n toevlug en troos aan
die einde soos in die ander Psalms nie? Daar sal waarskynlik ook oënskynlike
hopelose oomblikke in jou lewe voortkom. Daar sal tye kom wanneer jy ook maar
net soos die Psalmdigter tot die slotsom kom dat die duisternis van die dood
my enigste geselskap is. Elkeen van ons kry ook te doen met vriende of
familie wat deur donker tye in die lewe gaan. Daardie tye in jou lewe wanneer
dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het. Wanneer ons pynlik
bewus gemaak word van die waarheid van Rom. 8:20
Die skepping is
immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit
daaraan onderwerp het.
Ons hoor nie wat die oorsaak van
die digter se swaarkry is nie. Ek glo dat die rede daarvoor is dat elke mens se
omstandighede verskil. Die omstandighede in die Psalmdigter se lewe wat hom tot
die dieptes van wanhoop gedryf het sal heel waarskynlik nie by ons voorkom nie.
Die gevolge is egter net so sleg soos wanneer ongeluk en teenspoed ons tref.
Elke mens het sy eie omstandighede wat die lewe donker maak.
Waar vind ons hoop in hierdie
donker Psalm? Kom ons luister weer na vers 2:
Here my God wat
my altyd help , ek roep elke dag om hulp,
elke nag bid ek
tot U.
Die Griekse woord wat hier met
“altyd help” vertaal is, is met heil in die OAV vertaal. Dit beteken letterlik
om mens te bevry of te verlos. Om jou in ’n posisie te plaas waar geen gevaar
is nie.
Wat sê hierdie eerste hulproep van
die Psalmdigter vir ons? Hy is ’n man wat in die verlede al verskeie kere
ervaar het hoe God hom help. Dit is dan ook die rede waarom hy in die hede met
sy nood na God toe kom. Hy weet dat hierdie God wat hom in die verlede gehelp
het, hom ook in die toekoms kan help. Hieruit is dit duidelik dat hy dit glo al
sê hy dit nie direk in die Psalm nie.
Waar kom hierdie sekerheid van die
Psalmdigter vandaan? Van God se liefde. God se liefde wat Hy vir ons in Jesus
Christus wys. Want Jesus het ook op ’n keer in doodsbenoudheid tot God gebid,
maar sy gebed is nie verhoor nie. In bange Godsverlatenheid het Hy uitgeroep: “Eloï,
Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My
verlaat?” soos ons hoor in Mark 15:34. Hy het dit gedoen want God het die
wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom
glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Geliefdes, as jy dus vandag soos
die digter voel – asof God en mens jou verstoot het. As dit vir jou voel of jy
in ’n put sit waaruit jy nooit sal kom nie. Wanneer dit vir jou voel of jou
lewe sonder lig is en asof net die dood vir jou oorbly. Kom met jou pyn en jou
wanhoop na Hom toe wat al soveel kere in die verlede gehelp het. Luister weer
na sy uitnodiging wat Hy in Mat 11:28-30 aan ons rig:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai
is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk
op julle en leer van My, want Ek
is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk
is sag en my las is lig.”
Bring jou pyn en hartseer na God
toe wanneer dit alles donker is rondom jou.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking