29 Junie 2014

God is juis daar waar ons Hom nie verwag nie

GKE 15 Jun. 2014
Skriflesing Psalm 14
Ps. 42-1:1,2 & 5
Ps. 1-1:1-4
Ps. 119-2:1,11 & 15
Ps. 14-2:1,3 & 6

Inleiding
As ons na die lewe om ons kyk dan sien ons dat verdraaide morele waardes aan die orde van die dag is. Kyk maar na die korrupsie wat besig is om al hoe erger te word op alle vlakke van die samelewing. Die gewelddadige mynstakings wat veroorsaak dat die gemeenskap in Rustenburg en omgewing in armoede gedompel word. Verder het dit daartoe bygedra dat Suid-Afrika se kredietgradering afgeskaal is wat meebring dat die ekonomie ook negatief geraak gaan word. Ons moet onself in tronke toesluit omdat misdaad besig is om ons veiligheid dag na dag te bedreig. Die haat en onmin en wantroue wat veroorsaak dat mense mekaar met woorde en dade daagliks doodslaan en so kan ons aangaan.

In Ps. 14 gee die Here vir ons hoop hiervoor. Al lyk dit of Hy nie meer daar is nie en dat die onreg besig is om te wen, moet ons nie wanhopig raak nie, want God is juis daar waar ons Hom nie verwag nie. In Ps. 14 hoor ons van die mens se opstand teen God, die gevolge van die mens se opstand en dat God redding bring.

Die mens se opstand teen God
In die tyd van Dawid is Israel bedreig deur vyande wat nie die morele waardestelsel wat God in wet voorskryf gehoorsaam het nie. Verder is hulle ook van binne bedreig deur hul eie morele verval. Met Ps. 14 het die Here Israel verseker en hoop gegee dat die bose nie sou oorwin in tye van bedreiging nie. Hierin is daar ook vir ons ’n tydlose boodskap van versekering opgesluit dat God juis daar is waar ’n mens Hom nie verwag nie en dat Hy ons daarom ook sal beskerm.

In Ps. 14:1 sê die Psalmdigter basies
Net dwase sê vir hulleself: “Daar is geen God nie.” Hulle is korrup en hulle dade is boos. Niemand doen die goeie nie!

Die normale betekenis van ’n dwaas is iemand wat dom is en geen verstand het nie. Die Hebreeuse woord, nabal wat hier met dwaas vertaal is, beteken iets meer as net sonder verstand of dom. Letterlik beteken dit iemand wie se morele waardes korrup is. Sy morele waardes is korrup omdat hy nie die regverdigheid van God se wet wil aanvaar nie. Die bose mens leef dus asof die geregtigheid van God nie bestaan nie. Met ander woorde die bose mens is in opstand teen God se gesag. Wanneer jy ontken dat God bestaan, ontken jy ook sy gesag. Wanneer God se gesag ontken word maak elkeen maar net soos hy wil.

In vers 2 hoor ons dat die Here niemand vind wat vra na sy wil nie. Hiermee sê die Here vir ons hoe belangrik regverdigheid vir Hom is en dat dit die ideaal is waarna die mens moet streef. In vers 3 hoor dat almal afgedwaal het en dat daar nie een is wat regverdig is nie daarom kan ons net by die Here regverdigheid vind. Dit is tipies nie wat die mens wat in opstand teen God se gesag is wil hê nie. Dit is die wese van die sondeval naamlik dat die mens nie wil hê dat God moet besluit wat goed en reg is nie, maar dat hyself wil besluit.

Die gevolge van die mens se opstand teen God
In vers 4 hoor ons wat die gevolge is van die mens se opstand teen God. Daar is absolute morele verval. Die beeld wat hier gebruik word is dat net soos iemand wat brood verorber, oorval die onregverdiges die mense wat volgens God se wil, wil leef. Daardeur bewys hul ook hul opstand teen God. Dit wat hulle nodig het om te oorleef verkry hulle deur oneerlike metodes. God se regverdigheid word in skrille kontras met die onregverdigheid van die bose mense voorgehou.

Dit is wat ons vandag ook sien in ons samelewing. Ons moet egter versigtig wees om net die vinger na ander te wil wys, want dan hoef ons nie na onsself te kyk nie. Dis maklik om die korrupsie by ander raak te sien, maar wat van die oneerlike gedagtes in my hart? Ons verdoem maklik die geweld en onreg by misdadigers (met reg), maar ons sien nie die geweld in ons eie lewens raak nie. Wat van die haatdraendheid en onvergewingsgesindheid in ons eie lewens?

In vers 5 hoor ons dat die mens se opstand nie sonder gevolge is nie. God is heilig (dit wil sê sonder sonde) en daarom straf Hy die sonde. God kan nie toelaat dat sonde sy heiligheid aantas en besoedel nie en daarom moet die sonde met wortel en tak uitgeroei word deur dit te straf met die dood. Die mens wat teen God in opstand kom sal nie sy oordeel vryspring nie.

Die Here bring redding
In vers 5b, 6 & 7 hoor ons dat daar hoop is. Daar waar die lewe op sy donkerste is en dit lyk of ons hulpeloos staan teen die mag van die sonde ontmoet ons God in sy genade. In vers 6 hoor ons dat die boosdoeners nie sal oorwin nie. Daar is hoop om die verwoesting wat die sonde in mense se lewens veroorsaak te oorwin. Daardie hoop word by die Here alleen gevind. Vir die regverdige wat by God skuil is daar hoop. Die volk word teen die boosheid van hul vyande beskerm deurdat hulle op God vertrou. Hulle geloof in God maak hulle regverdig.

In vers 7 hoor ons die Psalmdigter se gebed vir redding. Dis ’n baie spesifieke gebed vir redding uit Sion uit. Die verwysing na Sion dui baie spesifiek op die belofte waaraan Israel vashou, naamlik dat daar ’n Messias, dit wil sê ’n Koning deur God gestuur sal word om die volk te red.

Hoe kry ons troos en hoop uit Ps. 14?
Die mens het God se gesag verwerp. Ons is self ook skuldig. As ons in gedagte hou dat die Here dit duidelik gestel het in vers 1 dat daar nie een is wat goed nie en dan beklemtoon Hy dit weer in vers 3 met die woorde:
daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie.
Die implikasie daarvan is dat elkeen van ons onder die oordeel staan wat in vers 5 aangekondig word.

Die hartseer gevolge van die opstand teen God se gesag is dat die hele mensdom as gevolg daarvan korrup geraak het.  Dit veroorsaak lyding. Ons ly oor ons eie sondige optrede, maar ook as gevolg van die sondige optrede van ons medemens. In hierdie donker hopelose toestand gee die Here ons met Ps. 14 die versekering dat die sonde en die gevolge van die sonde nie sal oorwin nie. Al lyk dit soms of God nie daar is nie, is Hy juis daar waar ons Hom nie verwag nie.

Daarom kan ons ook saam met die Psalmdigter bid:
“Ag, mag daar tog uit Sion vir ons redding kom!”  Mag daar vir ons ’n Messias Koning kom wat ons sal red uit die doodsbestaan van hierdie sondige wêreld. In die Nuwe Testament kry ons dan ook die versekering dat daardie Koning wel gekom het soos ons hoor in:

Matt 21:5
“Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.” 
Johan 12:15
“Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom, en Hy ry op ’n donkie.” 
Romein 9:33
“Kyk, Ek sit in Sion ’n klip neer waaroor ’n mens struikel, ’n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.” 
Romein 11:26
en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder.
1 Petr 2:6
Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” 

Daardie Koning het gekom. Hy het die doodstraf in ons plek gedra wat vir die goddelose bestem is sodat ons kan lewe. In Ps. 14 is die troos dat elkeen wat by die Here skuiling soek gered sal word. Ons vind skuiling by die Here deur in Jesus Christus te glo. Die oproep in Ps. 14 tot Israel is dat hulle by die Here moet skuiling vind en sodoende sal hulle lewenswandel in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die Here bewaar bly. Hulle ontvang die belofte dat hul redding uit Sion sal kom.

Die oproep tot ons in Ps. 14 is dat ons by die Here in Jesus Christus moet skuiling soek teen ons doodsvyand die sonde en die gevolge daarvan. Ons vind skuiling deur in Jesus Christus te glo. Die belofte wat gemaak is van ’n Redder uit Sion is in Jesus Christus vervul en daarom kan ons ook nou ’n lewe begin leef vry van die slawebande van die sonde. Die wat nie in Jesus Christus glo nie staan egter nog steeds onder die oordeel van God.

Geliefdes kom ons skuil by God wanneer die aanslae van die sonde dreig om ons te oorweldig deur te glo in die verlossing wat Jesus Christus vir ons gebring het. Hoe meer mense dit doen hoe beter plek sal ons samelewing word. Die evangelie is die enigste antwoord vir die korrupsie, geweld en onreg in ons samelewing. Kom ons leef die evangelie en vertel almal daarvan.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking