GKE 15 Jun. 2014
Skriflesing Psalm 14
Ps. 42-1:1,2 & 5
Ps. 1-1:1-4
Ps. 119-2:1,11 & 15
Ps. 14-2:1,3 & 6
Inleiding
As
ons na die lewe om ons kyk dan sien ons dat verdraaide morele waardes aan die
orde van die dag is. Kyk maar na die korrupsie wat besig is om al hoe erger te
word op alle vlakke van die samelewing. Die gewelddadige mynstakings wat
veroorsaak dat die gemeenskap in Rustenburg en omgewing in armoede gedompel
word. Verder het dit daartoe bygedra dat Suid-Afrika se kredietgradering
afgeskaal is wat meebring dat die ekonomie ook negatief geraak gaan word. Ons
moet onself in tronke toesluit omdat misdaad besig is om ons veiligheid dag na
dag te bedreig. Die haat en onmin en wantroue wat veroorsaak dat mense mekaar
met woorde en dade daagliks doodslaan en so kan ons aangaan.
In
Ps. 14 gee die Here vir ons hoop hiervoor. Al lyk dit of Hy nie meer daar is
nie en dat die onreg besig is om te wen, moet ons nie wanhopig raak nie, want God
is juis daar waar ons Hom nie verwag nie. In Ps. 14 hoor ons van die mens
se opstand teen God, die gevolge van die mens se opstand en dat God redding
bring.
Die
mens se opstand teen God
In
die tyd van Dawid is Israel bedreig deur vyande wat nie die morele
waardestelsel wat God in wet voorskryf gehoorsaam het nie. Verder is hulle ook
van binne bedreig deur hul eie morele verval. Met Ps. 14 het die Here Israel
verseker en hoop gegee dat die bose nie sou oorwin in tye van bedreiging nie.
Hierin is daar ook vir ons ’n tydlose boodskap van versekering opgesluit dat
God juis daar is waar ’n mens Hom nie verwag nie en dat Hy ons daarom ook sal
beskerm.
In
Ps. 14:1 sê die Psalmdigter basies
Net dwase sê vir hulleself: “Daar is geen God nie.”
Hulle is korrup en hulle dade is boos. Niemand doen die goeie nie!
Die
normale betekenis van ’n dwaas is iemand wat dom is en geen verstand het nie.
Die Hebreeuse woord, nabal wat hier met dwaas vertaal is, beteken iets meer as
net sonder verstand of dom. Letterlik beteken dit iemand wie se morele waardes
korrup is. Sy morele waardes is korrup omdat hy nie die regverdigheid van God
se wet wil aanvaar nie. Die bose mens leef dus asof die geregtigheid van God
nie bestaan nie. Met ander woorde die bose mens is in opstand teen God se
gesag. Wanneer jy ontken dat God bestaan, ontken jy ook sy gesag. Wanneer God
se gesag ontken word maak elkeen maar net soos hy wil.
In
vers 2 hoor ons dat die Here niemand vind wat vra na sy wil nie. Hiermee sê die
Here vir ons hoe belangrik regverdigheid vir Hom is en dat dit die ideaal is
waarna die mens moet streef. In vers 3 hoor dat almal afgedwaal het en dat daar
nie een is wat regverdig is nie daarom kan ons net by die Here regverdigheid
vind. Dit is tipies nie wat die mens wat in opstand teen God se gesag is wil hê
nie. Dit is die wese van die sondeval naamlik dat die mens nie wil hê dat God
moet besluit wat goed en reg is nie, maar dat hyself wil besluit.
Die
gevolge van die mens se opstand teen God
In
vers 4 hoor ons wat die gevolge is van die mens se opstand teen God. Daar is
absolute morele verval. Die beeld wat hier gebruik word is dat net soos iemand
wat brood verorber, oorval die onregverdiges die mense wat volgens God se wil,
wil leef. Daardeur bewys hul ook hul opstand teen God. Dit wat hulle nodig het
om te oorleef verkry hulle deur oneerlike metodes. God se regverdigheid word in
skrille kontras met die onregverdigheid van die bose mense voorgehou.
Dit
is wat ons vandag ook sien in ons samelewing. Ons moet egter versigtig wees om
net die vinger na ander te wil wys, want dan hoef ons nie na onsself te kyk
nie. Dis maklik om die korrupsie by ander raak te sien, maar wat van die
oneerlike gedagtes in my hart? Ons verdoem maklik die geweld en onreg by
misdadigers (met reg), maar ons sien nie die geweld in ons eie lewens raak nie.
Wat van die haatdraendheid en onvergewingsgesindheid in ons eie lewens?
In
vers 5 hoor ons dat die mens se opstand nie sonder gevolge is nie. God is
heilig (dit wil sê sonder sonde) en daarom straf Hy die sonde. God kan nie
toelaat dat sonde sy heiligheid aantas en besoedel nie en daarom moet die sonde
met wortel en tak uitgeroei word deur dit te straf met die dood. Die mens wat
teen God in opstand kom sal nie sy oordeel vryspring nie.
Die
Here bring redding
In
vers 5b, 6 & 7 hoor ons dat daar hoop is. Daar waar die lewe op sy
donkerste is en dit lyk of ons hulpeloos staan teen die mag van die sonde
ontmoet ons God in sy genade. In vers 6 hoor ons dat die boosdoeners nie sal
oorwin nie. Daar is hoop om die verwoesting wat die sonde in mense se lewens
veroorsaak te oorwin. Daardie hoop word by die Here alleen gevind. Vir die
regverdige wat by God skuil is daar hoop. Die volk word teen die boosheid van
hul vyande beskerm deurdat hulle op God vertrou. Hulle geloof in God maak hulle
regverdig.
In
vers 7 hoor ons die Psalmdigter se gebed vir redding. Dis ’n baie spesifieke
gebed vir redding uit Sion uit. Die verwysing na Sion dui baie spesifiek op die
belofte waaraan Israel vashou, naamlik dat daar ’n Messias, dit wil sê ’n
Koning deur God gestuur sal word om die volk te red.
Hoe
kry ons troos en hoop uit Ps. 14?
Die
mens het God se gesag verwerp. Ons is self ook skuldig. As ons in gedagte hou
dat die Here dit duidelik gestel het in vers 1 dat daar nie een is wat goed nie
en dan beklemtoon Hy dit weer in vers 3 met die woorde:
daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één
nie.
Die
implikasie daarvan is dat elkeen van ons onder die oordeel staan wat in vers 5
aangekondig word.
Die
hartseer gevolge van die opstand teen God se gesag is dat die hele mensdom as
gevolg daarvan korrup geraak het. Dit
veroorsaak lyding. Ons ly oor ons eie sondige optrede, maar ook as gevolg van
die sondige optrede van ons medemens. In hierdie donker hopelose toestand gee
die Here ons met Ps. 14 die versekering dat die sonde en die gevolge van die
sonde nie sal oorwin nie. Al lyk dit soms of God nie daar is nie, is Hy juis
daar waar ons Hom nie verwag nie.
Daarom
kan ons ook saam met die Psalmdigter bid:
“Ag,
mag daar tog uit Sion vir ons redding kom!”
Mag
daar vir ons ’n Messias Koning kom wat ons sal red uit die doodsbestaan van
hierdie sondige wêreld. In die Nuwe Testament kry ons dan ook die versekering
dat daardie Koning wel gekom het soos ons hoor in:
Matt
21:5
“Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is
nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.”
Johan
12:15
“Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom,
en Hy ry op ’n donkie.”
Romein
9:33
“Kyk, Ek sit in Sion ’n klip neer waaroor ’n mens
struikel, ’n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie
teleurgestel word nie.”
Romein
11:26
en op hierdie manier sal die hele Israel gered
word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die
goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder.
1
Petr 2:6
Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion
’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit
teleurgestel nie.”
Daardie
Koning het gekom. Hy het die doodstraf in ons plek gedra wat vir die goddelose
bestem is sodat ons kan lewe. In Ps. 14 is die troos dat elkeen wat by die Here
skuiling soek gered sal word. Ons vind skuiling by die Here deur in Jesus
Christus te glo. Die oproep in Ps. 14 tot Israel is dat hulle by die Here moet
skuiling vind en sodoende sal hulle lewenswandel in gehoorsaamheid aan die
voorskrifte van die Here bewaar bly. Hulle ontvang die belofte dat hul redding
uit Sion sal kom.
Die
oproep tot ons in Ps. 14 is dat ons by die Here in Jesus Christus moet skuiling
soek teen ons doodsvyand die sonde en die gevolge daarvan. Ons vind skuiling deur
in Jesus Christus te glo. Die belofte wat gemaak is van ’n Redder uit Sion is
in Jesus Christus vervul en daarom kan ons ook nou ’n lewe begin leef vry van
die slawebande van die sonde. Die wat nie in Jesus Christus glo nie staan egter
nog steeds onder die oordeel van God.
Geliefdes
kom ons skuil by God wanneer die aanslae van die sonde dreig om ons te
oorweldig deur te glo in die verlossing wat Jesus Christus vir ons gebring het.
Hoe meer mense dit doen hoe beter plek sal ons samelewing word. Die evangelie
is die enigste antwoord vir die korrupsie, geweld en onreg in ons samelewing.
Kom ons leef die evangelie en vertel almal daarvan.
Amen