29 Junie 2014

God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming

6 Apr 2014
Skriflesing Ps. 46 teksvers fokusvers Ps. 46:2
Liturgie
Ps. 46-1:1 & 6
Sb. 9-3:1 & 2
Sb. 15-7:4 & 5
Ps. 46-2:1 – 3

Inleiding
Die lewe is vol onsekerheid en benoudheid. Ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie. Wie van ons weet of ons more nog hier gaan wees? Een van die lewensvrae wat baie onsekerheid en benoudheid by baie mense veroorsaak is: “wat wag vir my anderkant die dood?” Die hoofrede waarom mense bang is vir wat anderkant die dood lê is as gevolg van die mens se opstandigheid teen God. Die mens wat God se gesag in sy lewe verwerp en dit veroorsaak dat daar skeiding tussen mens en God is.

God se straf daarvoor is die ewige dood waar die mens vir ewig van God en sy liefde geskei sal wees. Elkeen van ons verdien daardie straf. As dit jou nie benoud maak nie, dan verstaan jy nie werklik die erns van die saak nie. Geliefdes, weet u wat wag anderkant die dood? Daar is twee alternatiewe, of ewig beskerm en getroetel in God se liefde of ewig sonder Hom in uiterste nood en ellende.

Waar kry ek sekerheid daaroor? In Ps. 46 hoor ons waar die Psalmdigter gaan troos en sekerheid soek het. Hy vertrou dat God se volk veilig en beskut is onder God se beskerming. In hierdie Psalm word God se konkrete bystand aan sy bedreigde volk in die loop van die geskiedenis besing. Dwarsdeur die Ou Testament is die verdrukking van Israel en God se verlossing ’n heenwysing na Christus wat die mensdom van die slawerny van die sonde verlos. Die uittog uit Egipte waar God sy volk verlos van die slawerny van Egipte. Die verlossing van die Jode uit die slawerny van die Ballingskap. Die doel van hierdie Psalm is om die aandag op die God van Israel wat op Sion in die tempel woon, te vestig en hoe Hy sy volk verlos van hul vyande. Ons grootste vyand is die sonde wat ons van God af wegskeur.

God beskerm ons (Ps. 46:2-4)
In Ps. 46:2-4 hoor ons hoe God sy volk beskerm teen hul vyande. In vers 2 bevestig die Psalmdigter :
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming ;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood
Die Hebreeuse woord wat met “toevlug” vertaal is, wys op die absolute vertroue wat op iets of iemand geplaas word om jou teen gevaar te beskerm. Die Hebreeuse woord wat met “beskerming” vertaal is, beteken letterlik ’n plek van veiligheid. God is vir die wat by Hom skuiling soek so ’n plek van veiligheid.

Mens kan God vertrou, want Hy is altyd te bereid om te help wanneer jy in nood verkeer. Die Hebreeuse woord wat met “nood” vertaal is, beteken ’n diepe emosionele pyn en ellende wat mens ervaar as gevolg van ’n sekere situasie of omstandigheid. Die mens se grootste nood is dat hy vanweë sy sondige opstand teen God van Hom geskei is. God het die mens gemaak om in ’n verhouding met Hom te leef. Wanneer daardie verhouding gebreek is, ervaar die mens diep emosionele pyn en ellende.

Wanneer jy so voel dan moet jy weet, jy kan God vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Al skud die berge. As daar aardbewings is wat ’n tsoenami veroorsaak kan jy God vertrou om jou te help. ’n Gevaar wat egter groter is as enige nood wat deur aardbewings, tsoenami, siekte of wat ook al hier op aarde is, is die gevaar van die ewige dood weens ons sondige opstand teen God. Wat is die ergste wat mens hier op aarde kan tref? Die liggaamlike dood. Wat is erger as die liggaamlike dood? Die ewige dood waar mens vir ewig helse smart en pyn sonder God se vertroosting ervaar.

God is nog altyd bereid om te help met die nood wat ons ervaar omdat ons sonde die verhouding tussen ons en God gebreek het.

Blydskap in die Godstad (Ps. 46:5-8)
Om te beklemtoon dat mens veilig by God is, beskryf die Psalmdigter op ’n ander manier God se sorg vir sy volk. In verse 5-8 word die volk se blydskap beskryf omdat God Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan sy volk gee. Water verteenwoordig lewe. Sonder water is daar nie lewe nie. In Open 21:6 hoor ons:
Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.
God is die lewende water wat aan sy uitverkore kinders die ewige lewe gee.

Hy is snags teenwoordig by sy volk en daarom sal die Godstad niks oorkom nie. Die volke en nasies kan maar probeer om teenoor God in opstand te kom, dit sal hulle niks baat nie want God is almagtig.

In vers 8 word God se almag vir ons beskryf met sy Hebreeuse Naam Sebaot. Dit beteken letterlik ’n Almagtige heerser wat oor die heelal heers. Alles, dit wil sê elke mag of natuurkrag en elke volk en nasie, elke mens is aan sy heerskappy onderworpe. In die 83 Vertaling is sy naam vertaal met “die Here die almagtige” en in die Ou Vertaling is dit met “die Here van die Leërskare” vertaal. Ons kan dit ook vertaal met “die Here wat oor alles regeer.”

Die klem is dus hier op die almag van God. Daarom kan ons met vertroue by Hom skuiling soek omdat daardie skuiling wat Hy gee nie deur die vyand ingeneem kan word nie. Dit is soos ’n fort wat op ’n hoë berg wat omring is deur onklimbare steil kranse met hoë mure wat die fort bo-op daardie kranse omring. Dit is dus ’n vesting wat nie deur die vyand ingeneem kan word nie. Ons kan God dus vertrou om te help wanneer ons in nood verkeer omdat Hy almagtig is en daarom vir ons ’n veilige skuilplek gee. Die situasie of omstandighede verander nie, maar daai hopelose benoudheid (verlammende vrees) wat jy ervaar neem Hy weg en Hy dra jou veilig deur die gevaar. As ons eers eenmaal deur God se genade gered is, is daar niks wat ons van sy liefde kan skei nie.

Kom kyk wat die Here gedoen het (Ps. 46:9-12)
In hierdie laaste verse val die klem nou op wat die Here vir sy volk doen. God die Almagtige laat oorloë ophou. Hy breek die opstandige nasies se spiese en verbrand hulle oorlogswaens sodat hulle kan weet en erken dat Hy alleen God is. Daarom voel sy volk veilig by Hom.

In hierdie Psalm sê die Here vir ons hoekom sy volk vir niks bang was nie. Hulle het in hul nood gedink aan God se dade in die verlede en terwyl hulle dit gedoen het, het hulle onthou wat Hy alles vir hulle beteken het. Toe het hulle geweet dat hulle Hom kan vertrou en dat hulle vir niks meer bang hoef te wees nie. Op grond van God se troue verbondsliefde kan ons ook die beloftes vertrou wat Hy in Open 21:3-5 vir ons gee.
3Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Hoe vind ons troos in hierdie Psalm?
As daar by my nog enige onsekerheid is oor wat anderkant die dood vir my wag en as dit my doodsbenoud maak kan ek my troos in Jesus Christus vind. Dan kan ons vashou aan ons belydenis in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus dat my enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek aan Jesus Christus behoort.

Toe ons op die punt gestaan het om veroordeel te word tot die ewige dood het God sy Seun in ons plek laat sterwe. Toe Jesus so benoud was dat Hy bloed gesweet het, was daar vir Hom geen skuilplek teen gevaar gewees nie. Daar was nie vir Hom ’n toevlug en beskerming gewees nie. In helse pyn en smart het Hy in bange Godverlatenheid uitgeroep: “My God my God, waarom het U my verlaat?” Daar was vir Hom geen troos of beskerming toe Hy die dood tegemoed gegaan het nie. Hy het dit gedoen sodat daar vir ons ’n toevlug en beskerming kan wees teen die vyand van ons sondige geaardheid. Op grond van wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gedoen het kan ons ook met sekerheid sê:
Die Here, die Almagtige , is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting

God is vir ons ’n toevlug en beskerming en daarom kan ons ook daarna uitsien dat Hy Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan ons sal gee. Hy is in die persoon van die Heilige Gees altyd by ons teenwoordig en daarom kan ons veilig by Hom voel. Kom ons soek skuiling teen die vyand van die sonde by God, want Jesus is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking