12 Jan 2014 (GKE) Skriflesing: Mat 5:1 – 6:15
Teksverse Mat 5:13-15
Sing
Lofsang: Ps. 150-1:1 – 3
Na
wet: Ps. 1-1 v 1 & 2
Na
gebed Ps. 119-2 v 18 & 26
Slotsang Ps. 119-1 v
1 & 2
Inleiding
Ons het verlede week gehoor dat
ons op die Here moet vertrou sodat ons ’n seën vir die wêreld kan wees. Om ’n
seën vir die wêreld te wees moet ons gehoorsaam wees aan Jesus se opdrag om die
evangelie/goeie nuus uit te dra.
Vandag fokus ons daarop hoe om
prakties die evangelie uit te dra. Met ander woorde hoe moet ons dit doen? Om
die evangelie uit te dra behels baie meer as om net vir mense te vertel dat
hulle in Jesus Christus moet glo en dat dit hulle lewe sal verander. Ons moenie
net vir mense van die evangelie vertel nie, ons moet die evangelie leef. Met
ander woorde, mense moet God in ons lewens raaksien en hulle moet die verskil
agterkom wat dit veroorsaak of anders gestel: “jou lewe as Christin moet maak
dat ongelowiges hul ongeloof in God bevraagteken!”
Die bergrede
In die Bybel verduidelik die Here
baie duidelik vir ons hoe ons dit behoort te doen. In die bergrede (Mat. 5-7)
veral, vind ons hoe burgers van die Koninkryk van God behoort te leef. Ons kan
dit inderdaad die grondwet van die Koninkryk van God noem. Hierdie is egter nie
net ’n stel reëls van moet en moenies nie. Jesus wys sy volgelinge hoe ’n mens
behoort te lewe—nie net volgens ’n stel reëls nie, maar deur ’n innerlike
verandering van lewenshouding.
Dit is ook baie belangrik dat ons
moet verstaan dat dit nie hier gaan oor ’n klomp voorwaardes oor hoe om kinders
van God te word nie. Die genade van God bepaal wie sy kinders is soos ons ook
hoor in Joh. 1:12 & 13:
Maar aan almal
wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van
God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of
die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore
Die Here sê tog baie duidelik vir
ons in Rom. 10:9:
As jy met jou
mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood
opgewek het, sal jy gered word
Die bergrede wys vir ons prakties
hoe kinders hulle innige liefdesverhouding met hul hemelse Vader moet uitleef
en hoe dissipels Christus moet navolg. In Mat. 5:3-12 hoor ons die seënuitsprake
wat aantoon dat mense deur God geseën word omdat hulle deel het aan sy
Koninkryk en daarom kan doen wat reg is.
In Mat 5:13 – 16 gebruik die Here
twee beelde om aan ons te verduidelik waarom ons as sy kinders reg moet lewe.
13“Julle is
die sout vir die aarde. Maar as sout
verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer
sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense
vertrap dit.
14“Julle is
die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
15 ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie
maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat
julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle
Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Die eerste beeld wat Hy gebruik is
die van sout. Sout word gebruik om smaak aan kos te gee, maar ook om kos te
preserveer. Christus se dissipels dit wil sê sy volgelinge besit die kennis,
wysheid en lewenswyse om die wêreld te bewaar teen die vernietigende praktyke van
die wêreld. Hiermee saam kom ook die waarskuwing teen oneffektiewe
dissipelskap. Net soos sout wat nie meer krag het nie, nie meer werk as
preserveer- en smaakmiddel nie, word ons ook kragteloos wanneer ons God se
leefwyse afwater en aanpas by wêreldse standaarde.
Die tweede beeld wat die Here
gebruik is lig. Wanneer mens ’n lig aan skakel is die doel tog sodat dit moet
lig verskaf en daarom is dit onsinnig om ’n lig met iets toe te maak wat die
lig sal wegsteek. Navolgers van Jesus Christus besit die lig van God se
waarheid. Wanneer God se waarheid nie sigbaar is in hul lewenswandel nie, is
dit soos om ’n lig onder ’n emmer weg te steek.
Jesus se opdrag aan sy kerk is:
“Wees sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.” Hoe doen mens dit
prakties? In die res van die bergrede beskryf Jesus prakties eenvoudig hoe ons
dit moet doen. Dit is nie moontlik om by elkeen van die voorskrifte wat hier
volg in detail te bespreek nie en daarom gaan ek dit net kortliks noem. In die
loop van die jaar gaan ons weer daarna terugkom om in meer diepte daarop in te
gaan.
Mat
5:17 – 20
Die vervulling
van die wet
17“Moenie
dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het
nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle, hulle volle betekenis
te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal
eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval
voordat alles voleindig is.
19“Wie dan
ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer,
sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet
gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die
hemel. 20Ek sê vir julle: As
julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en
die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
In Mat 5:17 – 20 wys die Jesus vir
ons daarop dat hierdie nie maar net ’n stel reëls is nie, maar dat dit ’n
innerlike lewenshouding is wat ons navolg nie omdat dit van ons verwag word
nie, maar omdat ons dit wil doen uit liefde God. As dit ons gesindheid is, dan
eer ons God. Dan gaan dit nie oor my en my selfsugtige begeertes nie, maar oor
God en sy eer in my lewe.
Mat
5:21 – 26
21“Julle
het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord
pleeg nie; en elkeen wat moord
pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê
vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank.
Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse
Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
23“As jy
dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets
teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak
eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.
25“As
iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking solank jy nog saam
met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter
jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit
verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent
betaal het nie.”
In Mat 5:21 – 26 wys Jesus vir ons
dat moord reeds in ons gedagtes en gesindheid begin. Wanneer ek kwaad word en
nie bereid is om te vergewe nie is ek reeds besig om moord te pleeg.
Mat
5:27-32
Kuisheid
27“Julle
het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar
Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart
met haar egbreuk gepleeg.
29“As jou
regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit
is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele
liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap
hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van
jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”
Egskeiding
31“Daar is
gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ 32Maar
Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy
egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”
In Mat 5:27-32 vertel Jesus vir
ons dat ’n onkuise lewe reeds begin met die begeertes van ons hart en dat die
nagevolge van ’n egskeiding baie hartseer meebring.
Mat 5:33-37
Die aflê van ’n
eed
33“Verder
het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie
jou eed verbreek nie, en ’n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ 34Maar Ek
sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is
die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek
vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy
moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ’n eed aflê nie, want jy kan nie
een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’
wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”
In Mat 5:33-37 sê Jesus vir ons
dat ons betroubaar moet wees. Dit moenie nodig wees dat ons iemand met
eedswering moet oortuig dat ons betroubaar is nie. Ons lewenswyse moet mense
daarvan oortuig.
Mat
5:38-48
Vergelding
38“Julle het
gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet
julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang
slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om
jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy
goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom
wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”
Liefde vir die
vyand
43“Julle
het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’44Maar
Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat
julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son
opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié
wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet,
watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so
nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as
ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?
48“Wees
julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
In Mat 5:38-48 sê Jesus vir ons
dat liefde vir jou vyand baie groter waarde as vergelding het.
Mat
6:1-4
As julle armes
help
1 “Moenie
julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word
nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
2“As jy
byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges
in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit
verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 3Nee, as jy
iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen
nie, 4sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat
verborge is, sal jou beloon.”
In Mat 6:1-4 sê Jesus vir ons dat
ons opreg moet wees in ons hulp aan ander mense. As ek met ’n groot gebaar
mense help sodat ander kan sien hoe goed ek is, is ek skynheilig. Wanneer ek
behoeftige mense help behoort dit op so ’n manier plaas te vind dat niemand
behalwe ek en die Here weet wie dit is nie.
Mat
6:5-13
As julle bid
5“Verder,
as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan
om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle
kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6Nee,
as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy
nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.
7“Wanneer
julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik
nie. Hulle verbeel hulle, hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde
gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet
wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
9“So moet
julle bid:
Ons Vader wat in
die hemel is,
laat u Naam
geheilig word;
10laat u
koninkryk kom;
laat u wil ook op
die aarde geskied,
net soos in die
hemel.
11Gee ons
vandag
ons daaglikse
brood;
12en
vergeef ons, ons oortredings
soos ons ook dié
vergewe
wat teen ons
oortree;
13en laat
ons nie in versoeking kom nie
maar verlos ons
van die Bose.
Aan U behoort die
koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
In Mat 6:5-13 sê Jesus vir ons hoe
ons met God behoort te praat. Hier sien ons dat daar balans moet wees in ons
gesprekke met God en dat my gebede nie net moet handel oor dit wat ek van God
vra nie, maar dat dit in hoofsaak moet gaan om te vra na God se wil vir my lewe
en dat ek nie voorskriftelik moet wees teenoor God nie.
Mat
6:14-15
14“As julle
ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook
vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle
Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
In Mat 6:14-15 keer Jesus weer
terug na vergifnis toe. Vergifnis is een van die sentrale temas dwarsdeur die
Bybel. As ons nie wil vergewe nie, sal ons ook nie God se vergifnis aan ons
verstaan nie.
Slot
Dit help nie om net vir mense
vertel om in God te glo en dat dit ’n verskil in hul lewens sal maak nie. Mense
moet God en die verskil wat dit maak in ons lewens raaksien. Kom ons wees sout
vir die aarde en die lig vir die wêreld. Kom ons leef so dat ongelowiges hul ongeloof
in God bevraagteken.
Amen