Wys tans plasings met die etiket 1 Johannes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 1 Johannes. Wys alle plasings

10 Augustus 2025

Is God deel van jou lewe?


 Skriflesing: 1 Joh. 1:1 – 2:2

Teksvers: 1 Joh. 1:9


Ons vier DV(Deo Volente - as die Here wil) volgende week die Heilige Nagmaal en daarom gaan ons vandag stilstaan by wat dit beteken wanneer ons van Voorbereiding praat.

Wanneer ons van Voorbereiding praat, dan verwys ons na die selfondersoek wat ons voordat ons Nagmaal gaan gebruik, moet doen. Die Formulier vir die viering van die Heilige Nagmaal beskryf die ware selfondersoek as volg.

ð  Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou voor God verootmoedig.

ð  Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.

ð  Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

Ons gaan hierdie selfondersoek belig soos die Here dit vir ons in 1 Joh. 1 voorhou.

In 1 Joh. 1:1-4 vertel die apostel Johannes ons dat hy ’n ooggetuie was van hoe God wat van ewigheid bestaan het mens geword het in Jesus Christus en dat ons Jesus moet onderskei van God die Vader. Hierdie vier verse bevat genoeg om ons hele lewe mee te vul.

Hierin hoor ons van die perfekte gemeenskap wat daar in die Drie-Eenheid van God bestaan en dat Johannes en sy mede apostels daarin gedeel het. Johannes spreek dan ook sy begeerte uit dat sy mede gelowiges ook daarin moet deel, want om in gemeenskap met God te leef beteken dat jou lewe die doel bereik waarvoor God jou geskape het.

Wat beteken dit om in gemeenskap met iemand te leef? Die Griekse woord ‘koinonia’ wat ons met gemeenskap vertaal het, het ’n ryke betekenis. Dit beteken om in 'n hegte, intieme verhouding met iemand te deel wat gekenmerk word deur wedersydse deelname, gedeelde belangstellings en 'n gevoel van samesyn.

Dit bring ons by die ongemaklike vraag wat elkeen vir hom of haarself moet afvra: “Leef ek in gemeenskap met God?” Is God deel van jou lewe?

Verhoudings word gekenmerk deur:

ð  Weet van iemand: - byvoorbeeld ons weet van die Amerikaanse president Donald Trump, maar ons ken hom nie en hy ken ons ook nie. Daar kan dus nie sprake wees dat ons in ’n verhouding met hom saamleef nie.

ð  Verhouding waar jy iemand ken:- byvoorbeeld, ek kom by ’n vriend en hy stel my voor aan iemand wat daar saam met hom is. Wanneer ek weer daar kom en die persoon is weer daar dan groet ons mekaar, maar ons enigste band met mekaar is dat ons albei vriende is met my vriend.

ð  Intieme verhouding, waar jy in ’n noue intieme verhouding met iemand saamleef, byvoorbeeld jou huweliksmaat.

Daar is verskillende vlakke tussenin, maar dit is eers in die laasgenoemde geval van ’n intieme verhouding waar jy kan sê dat jy in gemeenskap met die persoon saamleef.

Waar staan jy in jou verhouding met God? Weet jy net van Hom of ken jy hom dalk net so in die verbygaan? Is God deel van jou lewe?

In 1 Joh. 1:5 hoor ons:

God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

Met ander woorde, God is heilig en daar is geen sonde in Hom nie. En dit bring ons by die struikelblok wat keer dat ons in gemeenskap met God kan saamleef. SONDE!

En dit bring ons dan ook by die eerste punt van selfondersoek. Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou voor God verootmoedig.

Dit is juis hier waar ons so dikwels struikel. Ons lewe in ’n samelewing wat nie meer oor sonde wil praat nie. Daar word allerlei mooi woorde en terme uitgedink om sonde sagter op die oor te laat klink.

Dit het die verdere komplikasie dat ons ook nie eintlik meer aan ons eie sonde wil dink of dit erken nie. Ons praat nog oor sonde en ons kan dit maklik uitwys en ons stem saam dat dit ’n skreiende skande is dat die samelewing al hoe meer gemoedkomend is oor sonde. Maar wanneer dit by ons eie sondes kom, dan skram ons weg.

Dis nie maklik om voor die spieël te staan en jouself in die gesig te kyk nie. Ek is mos ’n goeie mens. Ek kom dan kerk toe. Ek gee so dan en wan ietsie vir die armes.

Die ware selfondersoek vra dat ons krities na onsself moet kyk. Die vraag is: “Wat staan tussen my en God?” Wat maak dat God maar net ’n veraf kennis of ’n teoretiese konsep by my is? Hoeveel tyd maak ek vir God in my lewe? Watter prioriteit het God in my kalender en my begroting?

Hoe maklik vind ek ’n gerieflike verskoning om die erediens af te skaf? Of is ek al op daardie punt dat ek nie eers meer verskonings uitdink nie? Ek bly sommer maar net weg!

Hoe lyk my verhouding met my naaste? Hoeveel jaloesie en afguns is daar in my lewe? Hoeveel ongeduld het ek teenoor mense, veral hulle wat volgens my nie so ’n belangrike posisie in die samelewing beklee nie. Die kassiere, skoonmakers.

Tot hoe ’n mate verhef ek myself bo ander mense? Hoe belangrik is die eie ek in my lewe?

Voordat ons nie die harde werklikheid van ons sondes in die oë gekyk het nie, sal ons nie in gemeenskap met God kan saamleef nie en wanneer ons dit gedoen het kan ons eers begin om ’n oplossing daarvoor te vind.

Wat is die oplossing? Die verkeerde antwoord is dat ons nou ons sokkies moet optrek. Daardie gedagte dat ek myself nou moet regruk is totaal nutteloos, want jy gaan dit nie regkry nie! Moontlik gaan dit vir ’n rukkie beter gaan, maar kort voor baie lank is jy maar weer op dieselfde spoor.

In 1 Joh. 1:9 hoor ons:

Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Wanneer jy nog op die gedagte is dat jy jouself moet regruk, is daar nog geen sprake van gemeenskap met God nie. Gemeenskap met God begin wanneer jy bid dat die Gees vir jy wys watter sondes in jou lewe is en dit gebeur wanneer jy na God luister deur besig te wees met sy Woord en dat jy bid dat die Heilige Gees die Woord vir jou oopmaak.

Luister na die Woord in die eredienste, luister na die Woord in gesamentlike Bybelstudie en veral ook in persoonlike Bybelstudie.

Wanneer jy jou sonde teenoor God bely, is jy besig om die sonde struikelblokke wat tussen jou en God staan uit die weg te ruim.

Die volgende punt van die selfondersoek is:

Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.

Weereens haak ons hier ook op ’n dwaalspoor vas. Verstaan ons werklik wat dit beteken? Die persepsie vat so maklik grond dat wanneer ons, ons sondes bely dan vergewe Jesus die sondes. Soortgelyk aan vee dit maar onder die mat in. Dit werk nie so nie! Dit is hierdie verkeerde verstaan wat veroorsaak dat daar nie werklike verandering en bekering in ons lewens plaasvind nie.

Om in gemeenskap met God te leef, beteken om werklik te verstaan wat dit God gekos het. In 1 Joh. 1:7 hoor ons dis die bloed van Christus wat ons van ons sondes reinig. Bloed verwys hier na lewe. Deur jou bloed te gee, gee jy jou lewe deur opoffering.

Dit gaan baie verder as net die fisiese pyn en leiding aan die kruis. Dit gaan verder as die vernedering dat Jesus wat God is as ’n nederige mens gebore is en die lyding wat Hy moes verduur hier op aarde. Die dieptepunt van sy lyding was Godverlatenheid. Die perfekte gemeenskap tussen Vader, Seun en Heilige Gees wat van ewigheid bestaan het is versteur.

Dis nie net Jesus wat Godverlatenheid ervaar het nie. Die Vader en Heilige Gees het net sulke erge Godverlatenheid ervaar as Jesus self. Ek dink nie ons sal ooit die werklike diepte van daardie lyding verstaan of die diepte van God se liefde vir ons omdat Hy dit vir ons gedoen het nie.

Ons sondes word nie maar net vergewe of onder die mat ingevee nie. Dit het God ondenkbare lyding gekos, die dood, d.w.s Godverlatenheid.

Wanneer jy begin verstaan watter lyding God uit liefde vir jou ervaar het, begin jy verstaan wat dit beteken om in gemeenskap met God saam te leef. Dit kan nie anders as om lewensveranderend te wees nie.

En dit bring ons by die derde punt van selfondersoek:

Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

D.w.s ons moet die opregte begeerte hê om in gemeenskap met God saam te leef. Om in 'n hegte, intieme verhouding met God te deel wat gekenmerk word deur wedersydse deelname, gedeelde belangstellings en 'n gevoel van samesyn.

Wanneer dit deel van jou lewe is, kan jy ook nie anders as om dit te deel nie. Wanneer daar iets wonderliks met jou gebeur, wil ons dit mos met ander deel.

Om in gemeenskap met God te leef, beteken ook dat ons in gemeenskap wil leef met ons broers en susters wat ook in gemeenskap met God leef. Dit beteken ook dat ons dit wil deel met hulle wat dit nie ken, want hoe meer deel daarvan word, hoe groter word ons blydskap.

Dis ons roeping om God se liefde uit te dra aan die donker wêreld wat Hom nie ken.

Gaan dink daaroor na. Is God deel van jou lewe? Wil jy hê dat Hy deel van jou lewe moet wees?

Amen