Psalm
8
1Vir die koorleier: met musiek.
'n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe
wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,
hoe
glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing die magtige werk
wat
U tot stand gebring het.
So
word u teëstanders,
die
vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die
werk van u vingers,
die
maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat
U aan hom dink,
die
mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese
gemaak
en
hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers oor die
werk van u hande,
U
het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs
die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en
die visse in die see
wat
die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe
wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor
die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Wanneer mens na die grootsheid van God se
Skepping kyk, dan bring dit die gedagte na vore dat die mens nietig en onbelangrik
is.
Wanneer ons kyk na hoe glansryk alles is wat
God in die hemelruim geplaas het, dan sien ons die grootsheid van God se almag.
In vergelyking met die grootte van ons son is
die aarde maar net ’n klein kolletjie. Ons son is maar een van ongeveer 200
biljoen sterre binne die melkweg sterrestelsel. Binne die sigbare heelal; met
ander woorde dit wat ons kan waarneem; is daar bereken dat daar ongeveer 2000
triljoen sterre stelsels is wat elkeen biljoene sterre in het. Dis maar net wat
ons kan waarneem met die beste teleskope wat ons tans het.
Maar daar is nog meer as dit. Buiten dit wat
ons kan waarneem, strek die heelal in oneindigheid uit. In vergelyking met die
ondenkbare groot hoeveelheid sterre en planete in die heelal is die aarde nie
eers ’n stofdeeltjie nie.
As ons die hemel aanskou, die werk van die
Here se vingers, die maan en die sterre waaraan Hy 'n plek gegee het, kan ons
inderdaad saam met Dawid vra:
“wat is die mens dan
dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?”
Die antwoord van die sekulêre denke van ons
tyd op hierdie vraag is dat die aarde en die mens geen spesiale betekenis op
die groot kosmiese skaal het nie, en inderdaad staan die heelal onverskillig
teenoor ons bestaan.
Met ander woorde, binne die groter skema van
dinge het jou lewe volgens die sekulêre denke, geen betekenis nie. Wat ’n
troostelose boodskap is dit vir jou oor die betekenis van jou eie lewe? Wat ’n
troostelose boodskap is dit vir iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan
het?
Teenoor hierdie troostelose boodskap van die
wêreld sê die Here vir ons:
U het hom net 'n
bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U
laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:
Psalm 8 begin met lofprysing vir die Here wat
hierdie ondenkbare groot en wonderbaarlike heelal waarin ons woon, geskep het.
En dit sê vir ons dat God groter is as die verbysterende groot skepping.
In vergelyking met die grootsheid van God en
sy skepping is die mens niks. Maar dit is juis hierin waarin ons troos vind in
die wonder van God se genade dat Hy juis aan sulke mense dink en na hul omsien.
Dieselfde mens wat niks is nie, beklee ’n
ereplek binne God se skepping. God het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse
wese gemaak. Hy kroon hom met aansien en eer. Hy maak ons nietige mensies
konings en Hy stel ons aan om namens Hom te regeer.
Dit sê vir ons iets van hoe spesiaal die
neerbuigende liefde en goedheid van God teenoor die mens is.
In die Nuwe Testament word Psalm 8 ook op
verskeie plekke aangehaal om te wys hoe spesiaal ons werklik vir God is en hoe
diep sy liefde werklik vir ons strek. Byvoorbeeld in Heb. 2:5-9 hoor ons:
5Dit
is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp
het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:
“Wat
is 'n mens dat U aan hom dink,
'n
mensekind dat U na hom omsien?
7U
het hom 'n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid
en eer gekroon;
8U
het alles aan hom onderwerp.”
By die onderwerping
van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp.
Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar
ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood.
Hy is 'n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van
God vir almal sou sterwe.
In sy oorspronklike konteks verwys Psalm 8 na
die mensdom in die algemeen, as God se verteenwoordiger op aarde. As gevolg van
die sonde het hierdie verhouding skipbreuk gely.
Christus vervul die oorspronklike roeping van
die mens om oor die skepping te heers en deur sy lyding herstel Hy die mens se
waardigheid en roeping.
Psalm 8 vra: “Wat is die mens dat U aan hom
dink?” In Hebreërs 2:8&9 is die antwoord: “Kyk na Jesus.” Hy is die
volmaakte mens, die ware beeld van God, en deur Hom word ons roeping en
waardigheid herstel.
Ons hoor hier dat ons so spesiaal vir God is
dat Hy Homself in die persoon van Jesus Christus verneder het tot die status
van ’n nietige mens sodat ons, ons roeping kan vervul waarvoor God ons geskep
het.
In 1 Kor. 15:25-27 word Psalm 8 ook aangehaal
om nog verder vir ons te wys hoe spesiaal ons werklik vir God is:
25Hy
moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die
laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan
immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.”
Die dood is die finale vyand van God se
skepping en van die mens en daarom hou dit vir ons so ’n verskrikking in.
Hier hoor ons dat Christus deur sy opstanding
die mag van die dood gebreek het en daarom hoef gelowiges nie meer bang te wees
vir die dood nie. Deur ons geloof in Jesus Christus heers ons saam met Hom oor
die dood. Selfs die dood kan ons nie van die liefde van Christus skei nie.
Vir diegene wat God verwerp, is die dood
inderdaad ’n droewige troosteloosheid. Maar vir diegene wat glo dat Jesus
gesterwe maar ook opgestaan het is daar hoop. Die Here sê vir ons in
1 Tess. 4:14 dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het,
na Hom toe sal neem.
Die wonderlike troos wat die Here hier vir
ons gee, is dat die dood nie die einde is nie. Dit is slegs ’n deurgang na die
ewige heerlikheid saam met God. Daarom treur ons nie, soos die ander mense wat
geen hoop het nie. Wanneer ons vir ’n geliefde moet groet, is ons hartseer want
hulle plekkie in ons lewens is leeg.
Dit is egter nie ’n moedelose hopeloosheid
waarmee ons treur nie. Die Here troos ons met die wete dat daar lewe anderkant
die dood is. Om net ’n idee te gee van die ewige lewe saam met God wil ek die
volgende illustrasie gebruik. Dink aan ’n potloodstreep wat in die oneindigheid
in strek. Ons lewe hier op aarde is slegs ’n potlood kolletjie op daardie lyn.
Elkeen wat in Jesus Christus glo is vir God
so kosbaar dat Hy die ewigheid saam met hom wil spandeer.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Teenoor die wêreld daarbuite wat vir ons sê
dat ons maar net ’n produk is van blote toeval wat geen betekenis het nie, sê
God vir ons dat ons oneindig kosbaar is vir Hom.
Die troos van Psalm 8 is dat elkeen wat in
Jesus Christus glo SO kosbaar is dat God ’n ewigheid saam met hulle
wil spandeer.
Amen