07 Junie 2015

Hoe hanteer ons al die misdaad en geweld om ons?

U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God
Lees 2 Kron. 7:11-22 tv 13 & 14
10 Mei 2015
Ps.90-1 v 1
Ps. 6-1 v 1 & 3
Ps. 4-1 v 1
Ps. 91-1 v 1 & 6

As ek so na ons plaaslike nuus kyk voel dit vir my asof ons oorval word deur ’n vlaag van misdaad. “Ma veg verbete om haar kind deur kapers te beskerm” is die opskrif op die plakkate wat ons langs die pad gegroet het. Nou onlangs was daar weer ’n gewapende roof by een van die banke in ons dorp. In die week vertel ’n motorwag vir my hoe ’n vrou vroegoggend daar in die parkeerterrein deur gewapende rowers oorval is en hoe dit byna op ’n skietgeveg uitgeloop het toe die polisie daar aankom. Om nie eens te praat van al die huisrowe wat gereeld plaasvind nie. Beurtkrag is vir hierdie rowers ’n gulde geleentheid. As ons so na die droogte kyk wat ons so benoud maak dan voel dit asof selfs die natuur teen ons gedraai het.

Hoe moet ons dit hanteer? Ons bly reeds in tronke waar mens selfs in die dag jou sekuriteitshekke gesluit moet hou. Dit lyk asof die bose besig is om die oorhand te kry. Wat moet ons doen? In ons teksgedeelte hoor ons wat mens te doen staan in tye van nood en benoudheid.

Hierdie gesprek tussen God en Salomo vind plaas kort nadat die bouwerk aan die tempel en sy paleis voltooi is. Ons hoor hier in 2 Kron. 7 dat die tempel die hart van Israel se godsdiens is en hoe die Here vanweë sy groot liefde gesê het daar is ’n plek waar Hy gevind kan word. Op verskillende maniere en by verskillende geleenthede het Hy gewys en bevestig dat die tempel die plek is waar Hy sy volk wil ontmoet. Daar moet Hy aanbid en gedien word deur die offerandes en die dienswerk van die priesters. Daar moet die volk bymekaar kom om in sy Naam fees te vier.

Ons moet egter nie die fout maak om ’n kerkgebou aan die tempel gelyk te stel nie. Die tempel van die Ou Testament was ’n heenwysing na Christus soos ons in Joh. 2:19-22 hoor:
Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?” Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.
Daarom is Jesus in ons tyd die plek waar God gevind kan word. Deur Jesus het ons ’n liefdevolle Vader wat luister en help. Daarom sluit ons ook ons gebede af met “in die Naam van Jesus Christus.” Daarmee erken ek dat ek glo dat Jesus vir my sondes gesterf het en dat ek nou sonder veroordeling tot God in gebed mag nader.

In ons teksgedeelte hoor ons hoe ons God in gebed kan nader. Dit is egter nie ’n lys van voorwaardes wat gestel word nie. Dis nie ’n lysie wat ons kan afmerk nie. Dit wys hier op die gesindheid waarmee ons God moet nader ook in tye van nood.

Hier in 2 Kron. 7:11-22 hoor ons hoe God vir Salomo antwoord op sy gebed wat hy tydens die inwyding van die tempel gebid het. In hierdie antwoorde kom daar ’n paar belangrike aspekte na vore. Die eerste woorde van God is “Ek het jou gebed verhoor...” (Vgl. 2 Kron. 7:12) Salomo ontvang die versekering dat God ’n naby-God is wat sal luister. Hierdie versekering is ook vir ons bedoel.

Ons moet egter nie die fout maak om verkeerd van God te dink nie. Dat God maar net hierdie goedige omie is nie. God is ’n God van liefde, maar Hy is ook ’n regverdige God wat nie onreg kan verdra nie. Al die rampe waarvan God hier praat het inderdaad vir Israel getref. Dink maar net toe hulle in Ballingskap weggevoer is. Hulle was egter nie maar net onskuldige slagoffers nie. Daarom sê God vir hulle in 2 Kron. 7v13:
As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur,

God is egter nie vol oordeel nie en daarom voeg Hy by soos ons in 2 Kron. 7:14 hoor:
en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Dit gaan nie hier daaroor dat Israel moet bewys dat hulle goed genoeg is vir God nie. Nee daarom sê Hy “my volk oor wie my Naam uitgeroep.” Daar is net een manier hoe mens gered kan word. Dit is deur God se genade in Jesus Christus. Net soos Hy vir ons sondes gesterf het, het Hy ook vir die sondes van die mense in die Ou Testament gesterf.

Ons hoor hier wat God van sy kinders verwag. Ons hoor hier vier dinge wat kenmerke wat ’n kind van God se optrede behoort te wees.
i   toon berou
ii  bid
iii vra na my wil
iv  draai terug van hulle bose weë af


In die eerste plek vra Hy: Toon berou.
Nou kan ons maklik sê, maar dis nie my skuld dat die boewe so boos is en inbreek en nie ’n duit vir ’n mens se lewe omgee nie. Dink egter mooi daaroor. Hoeveel haat is daar nie by my teenwoordig nie? Kan ek met ’n rein gewete sê dat ek gehoorsaam is aan Jesus se opdrag (vgl. Mat 5:43 & 44)?
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg
Hoe gereeld bid ek vir die boosdoeners? Hoeveel maal wens ek hul nie die kwaad toe wat hulle ander aandoen nie? Hoeveel maal wil ek by God oorneem met die vergelding? Hy sê tog vir ons in Rom. 12:19:
Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.
Is ons bereid om die oordeel aan God oor te laat?

Die Here sê vir ons “toon berou”, verootmoedig julself. Erken jou sonde. Draai weg van die eie ek af.

In die tweede plek sê die Here vir ons: Bid.
Roep die Naam van God aan. Bid alleen tot die enige ware lewende God wat hemel en aarde geskep het. Hoe maklik skeep ons nie ons gebedslewe af nie? Moet ook nie in die wêreldse slaggat trap van meditasie nie. Meditasie gaan in wese daaroor dat jy by jouself nadink oor geestelike sake. Gebed daarteenoor is ’n aktiewe gesprek met God en nie net nadenke by jouself nie.

In die derde plek sê die Here: vra na my wil
Letterlik staan daar in die oorspronklike taal “soek my aangesig.” Hierdie opdrag is wel ook dat ons na God se wil moet soek, maar dit gaan oor meer as net dit. Dit gaan daaroor om God al hoe beter te leer ken vir wie en wat Hy werklik is. Dit gaan daaroor dat ek my verhouding met God moet bou vir die persoon wie Hy is en nie net vir die voordele wat ek uit God kan kry nie. Dit gaan daaroor dat ek myself moet verdiep in sy Woord, want dit is hoe Hy besluit het om Homself en sy wil aan ons bekend te maak. Deur sy woord. Mens gaan God nie vind as jy net oor Hom probeer mediteer nie. Jy gaan slegs die ware Drie-Enige God in sy lewendige Woord vind. Hoeveel tyd spandeer ons werklik met God se Woord? Is daar by ons die brandende begeerte om God beter te leer ken? Jesus sê vir ons in Mat 11:28
“Kom  na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee.

In die laaste plek sê die Here vir ons: draai terug van julle bose weë af
Met ander woorde, bekeer jou. Draai om op die verkeerde pad waarop jy is en kom terug na die regte pad wat God vir ons uitgelê het. Hou op om te sondig!

Geliefdes, as ons so na die bogenoemde opdrag van God luister, dan moet ons erken dat ons dit in eie krag nooit sal kan doen nie. Inteendeel, ons hoop die skuld teen ons elke dag net hoër op. Christus het ons reeds van ons sondes verlos en daarom moet ons soos verloste kinders lewe. Ons kan dit alleen doen deur die krag van die Heilige Gees. In Luk 12v10 sê die Here vir ons dat Hy die Heilige Gees sal gee vir dié wat vra. Sien u hoe belangrik gebed is geliefdes?

Die Here gee in hierdie gedeelte egter ook ’n baie ernstige waarskuwing (vgl. 2 Kron. 7v19-22). Diegene wat hulle rug op God draai staar baie ernstige gevolge in die gesig. As jy Christus verwerp, spreek jy daarmee ’n oordeel oor jouself uit soos ons ook in Joh. 3:18 hoor:
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Geliefdes, hoe hanteer ons al die misdaad en geweld om ons? Deur middel van gebed. Bid tot God dat die Gees in ons lewens sal werk. Bid dat die Gees die sondes in ons lewens sal uitwys. Bid dat die Gees ’n diepe berou en verootmoediging daaroor in my sal opwek. Bid dat die Gees God se woord vir my sal oopmaak sodat ek Hom werklik sal leer ken. Bid dat die Gees die wil in my sal wakker maak om die sonde in my lewe al hoe meer te haat en dat ek al hoe meer na God se wil vra en minder hunker na my eie sondige wil.

Geliefdes, toon berou; Bid; Soek die aangesig van God, draai terug van julle bose weë af.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking