31
Mei. 2015 GKE Nagmaal
Mat.
11:25 - 30 Fokusgedeelte : Mat
11:28
Lof-Psalm
Ps. 18-1:1
Na
Wet Sb 9-3:1 & 2
Na
Gebed Ps. 33-1:5 & 11
Slotsang
Ps. 84-1:2 & 6
Voel dit soms vir jou dat die lewe
te swaar raak? Voel dit vir jou of jy nie meer kan nie? Is daar ’n onrustigheid
in jou gemoed wat keer dat jy ware vrede beleef?
In ons teks rig Jesus sy
uitnodiging aan almal wat uitgeput is omdat hulle ’n swaar las dra. Die Griekse
woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken letterlik om emosioneel afgemat te
wees as gevolg van ’n groot worstelstryd. Dit beskryf daardie punt in mens se
lewe waar jy moed opgee en die lewe vir jou net te veel word.
Jesus rig hierdie uitnodiging in
die eerste plek aan die Jode wat die las moes dra van die verkeerde manier
waarop die Fariseërs die wet vertolk het. Jesus gebruik ook hier die beeld van ’n
Juk. ’n Juk is ’n swaar hout wat op ’n os wat ’n wa moes trek se nek gesit is en
wat ’n las en moeite was.
Net soos wat die juk ’n swaar las
op die osse se nekke was, was die Fariseërs se vertolking van die wet ’n swaar
las op die mense. Daar was geweldig baie reëls wat hulle moes nakom. Daar was
byvoorbeeld ’n reël dat jy nie op ’n Sabbatdag buite op ’n stoel mag sit nie
want as jy per ongeluk die stoel skuif en dit trek ’n voortjie in die grond wat
beteken dat jy besig is om te ploeg. Ploeg is werk en jy mag nie op die Sabbat
werk nie.
Al hierdie reëls was soos ’n swaar
vrag wat die mense moes dra omdat dit daarop neergekom het dat jy vir God moes
bewys dat jy goed genoeg is vir Hom. Dit vind ons vandag nog. Mense
interpreteer ’n sekere saak in die Bybel op ’n baie wettiese manier en verwag
dan dat almal volgens hulle interpretasie moet lewe. As jy nie so lewe nie word
jy verdoem.
Jesus se uitnodiging sê KOM. Die
Fariseërs se interpretasie se DOEN. Jou saligheid hang af van dit wat jy doen.
Jesus se uitnodiging “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek
sal julle rus gee.” gee vir ons die vertroosting dat ons saligheid nie
afhang van wat ons doen nie, maar dat dit van Hom alleen afhang. Hy het alles
gedoen wat nodig is om my van my sonde te verlos. Daar is niks wat ek kan bydra
nie.
In Mat 11:25 hoor ons dat hierdie
geheimenis aan eenvoudiges bekend gemaak word en dat dit vir slim mense verberg
word. Diegene wat met hulle verstand dit probeer uitredenaar eindig saam met
die Fariseërs op in ’n klomp moets en moenies wat die lewe vir almal moeilik
maak. God vra dat ons met kinderlike geloof moet glo dat Jesus Christus vir my
sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het.
Met die Nagmaal word ons herinner
aan dit wat Jesus vir ons gedoen het. Hiermee verseker die Heilige Gees my dat ek
ook deel het aan Christus se verlossing. Net so seker as wat ek met my oë sien
dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word, is sy
liggaam vir my aan die kruis geoffer en gebreek en is sy bloed vir my gestort.
Net soos ek liggaamlik deur brood en wyn gevoed word, net so word my geloof
geestelik gevoed. Soos wat die brood en wyn deel word van my liggaam, so word
ek deel van Jesus se verlossing.
Jesus nooi ons uit: “kom na My toe
almal wat uitgeput en oorlaai is” en daarmee saam gee Hy vir die vaste belofte
“en Ek sal vir julle rus gee.”
Kom ons gaan sit aan by die tafel
van die Here
Nabetragting
Neem Jesus se juk op, met ander
woorde vertrou op Hom alleen. Gee al jou sorge vir Hom en stap die pad saam met
Hom. Dit beteken wees sy dissipel.
Verder sê Hy ook daarmee saam “en
leer van My.” Leer wat is die ware betekenis van die wet. Die Fariseër maak van
die wet ’n swaar las wat onmoontlik word om te dra. Jesus leer ons wat die ware
betekenis van die wet is. Liefde vir God en liefde vir ons naaste. In Rom. 13:8
- 10 verduidelik die Here dit soos volg vir ons:
Julle moet
niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens
liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk
pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer
nie,” of watter ander gebod daar
ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou
naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
Neem Jesus se uitnodiging aan
“Kom na My toe,
almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek
sal julle rus gee. Neem my juk op julle
en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry
vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking