Wys tans plasings met die etiket vrede. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vrede. Wys alle plasings

29 Desember 2018

Die goeie nuus van Jesus Christus.

25 Des. 2018 GKE

Mat. 1 v 1 – 17





Die evangelie volgens Mateus begin die verhaal van Jesus Christus se geboorte anders as wat mens sou verwag. Dit begin nie met ʼn vertelling van die gebeure wat daar plaasgevind het nie, maar wel met ʼn geslagsregister. Mense sien die geslagsregisters in die Bybel as vervelig en dikwels word Mat. 1 v 1 – 17 geïgnoreer.

Hierdie inleiding tot verhaal van Jesus Christus se geboorte is egter belangrik want die verhaal waarvan ons hier hoor gaan oor veel meer as net die geboorte van ʼn kind. Dit is die verhaal van die koms van die mees belangrikste persoon in die geskiedenis van die mensdom wat beplan is voor die grondlegging van die aarde.

Die geslagsregister vertel ons baie meer as wat ons op die oog af sou dink. Wat openbaar die geslagsregister dus van Kersfees en van Christenskap? Die geslagsregister sê vir ons die evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie. Verder sê dit ook vir ons die Evangelie is anders as wêreldse waardes

In die eerste plek hoor ons
Evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie
Die verhaal begin nie met “Eendag lank, lank gelede ....” nie. Dis hoe mens gewoonlik ʼn sprokie begin wat nie werklik waar is nie. Wanneer Mateus begin met “dit is die geslagsregister van Jesus Christus,” dan sê hy daarmee dat hierdie verhaal gegrondves is die geskiedenis. Dis nie net ʼn sprokie nie. Dit het werklik gebeur.

Sprokies word dikwels gebruik om ʼn morele lessie tuis te bring. Dit sê vir ons hier is goeie advies oor hoe jy jou lewe behoort te leef. Hierdie verhaal vertel vir ons van ʼn gebeurtenis in die geskiedenis wat belangrike implikasies in jou lewe het. Dit is goeie nuus wat jou lewe sal verander.

Die verskil tussen advies en goeie nuus kan soos volg verduidelik word. Sê nou maar daar is ʼn vyand wat jou bedreig. Dan het jy advies nodig oor wat om te doen, watter maatreëls moet jy tref om jouself te verdedig sodat jy jouself kan red van daardie vyand. Advies gaan dus oor iets wat jy nog moet doen.

Goeie nuus vertel vir jou van iets wat reeds gebeur het. Dit is die goeie nuus dat die vyand wat jou bedreig het, oorwin is. Jy hoef nie meer verdegingsmure te bou nie. Jy hoef nie te vlug nie. Die koning het die vyand oorwin en dit verander jou lewe drasties.

Ons hoor nie hier advies wat oor wat ons moet doen om onsself te red nie. Ons hoor van die goeie nuus wat God gedoen het. Jy hoef nie jouself te red nie. God het gekom om jou te red. Dis die verskil tussen die Christendom en ander godsdienste. Ander godsdienste gee advies oor wat jy behoort te doen om gered te word sodat jy geestelik vervul kan wees. Die goeie nuus van Jesus Christus sê vir jou wat Jesus gedoen het om jou te red en dit gee vir jou die geestelike vervulling om met God versoen te wees.

Christenskap is dus nie primêr oor goeie advies oor wat jy behoort te doen om jou lewe te verbeter nie. Dit is wel waar dat die evangelie groot implikasies het oor hoe jou lewe daardeur verander word, maar eerstens is die evangelie die goeie nuus dat jy gered is. Jy is nie gered deur iets wat jyself gedoen het nie, maar wel deur dit wat Jesus vir jou gedoen het.

Jy begin dus by Christus en nie by advies oor om ʼn nuwe blaadjie oor te slaan nie. Jy begin deur die goeie nuus te glo van die verhaal van Jesus wat werklik in die geskiedenis gebeur het. Jy glo dat God werklik in Jesus Christus mens geword het. Jy glo dat Jesus Christus vir jou geleef en gely het. Jy glo dat Hy vir jou sondes aan ʼn vervloekte kruishout gesterf het. Jy glo dat Jesus die dood oorwin het en dit verander jou hele lewe.

Die goeie nuus van die geboorte van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister wat vir ons sê “dit is nie net nog ʼn sprokie met ʼn morele lessie nie. Nee dit is ʼn ware verhaal van een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom.”

Dan hoor ons die tweede plek die
Evangelie is anders as wêreldse waardes
Om te verstaan wat hierdie geslagsregister nog verder beteken moet ons in ag neem wat die kultuurgebruike was in die tyd waarin Mateus geleef het.

Ons leef in ʼn tyd met ʼn individualistiese kultuur waarin jy jouself by ander aanbeveel met dit wat jy in die lewe bereik het. Op jou CV voeg jy jou akademiese kwalifikasies, jou werksondervinding en dit wat in die lewe bereik het in.

Mateus het in ʼn tyd geleef wat meer op die gemeenskap gefokus was waarin jou familie en herkoms baie belangrik was. Mat. 1 v 1 – 17 is dus baie meer as net ʼn blote geslagsregister. Dit moet inderdaad as ʼn CV beskou word. Net soos wat ons vandag ʼn CV gebruik om onself aan te beveel, het ʼn geslagsregister gedien om te sê, “Dit is wie ek is.”

Net soos wat die mense vandag ook hul CVs opstel om al die positiewe dinge te beklemtoon en die negatiewe weg te laat, het die mense van daai tyd ook hul geslagsregisters gedokter om net die positiewe te beklemtoon. So het Herodus bv. baie name uit sy geslagsregister weggelaat omdat hy nie wou gehad het dat die weggelate persone met hom geassosieer sou word nie.

Die doel van die geslagsregister was om mense te beïndruk met die hoë kwaliteit en eerbiedwaardigheid van jou herkoms. Mateus doen egter net mooi die teenoorgestelde met hierdie geslagsregister. Dit is skokkend anders as die geslagsregisters van sy tyd.

Daar word bv. vyf vroue in die geslagsregister genoem, iets wat in die patriargale samelewing van sy tyd ongehoord was. Tog word hierdie vroue in Jesus se geslagsregister ingesluit. Verder is daar drie van die vroue, Tamar, Ragab en Rut wat nie deel was van die Israelitiese volk was nie.

Twee Kananiete en ʼn Moabiet. Die Jode van destyds het diegene wat buite die volk was as onrein beskou en hulle was bv. nie in die tabernakel of tempel toegelaat nie. Hulle was van ongewenste rasse, maar tog is hulle ingesluit in Jesus se geslagsregister.

Daar is nog meer hieraan verbonde. Deur die noem van hierdie vroue herinner Mateus sy gehoor van die mees immorele en slegte insidente in die Bybel. Tamar het Juda verlei om bloedskande te pleeg omdat hy nie sy jongste seun aan haar wou gee volgens die gebruik van sy tyd waar broers die vrou van hulle broer wat gesterf het as vrou moes neem sodat daar vir die afgestorwe broer ʼn nageslag kon wees.

Alhoewel Jesus nie van Serag afgestam het nie word hy ook genoem om die hele skandelike verhaal in herinnering te roep. Daardie disfunksionele familie was deel van Jesus se stamboom. Ragab was ʼn prostituut. Nie juis iemand in jou nageslag aan wie jy die mense wil herinner nie.

Koning Dawid word ook genoem en op die oog af sou mens dink dat dit darem die naam van ʼn voorafstaande persoon is wat genoem word. Die verwysing na Dawid is egter nie vleiend nie. In die geslagsregister word hy genoem as die vader van Salomo, maar dan word daar bygevoeg “by die vrou van Urija.” Dit laat die klem val op Dawid se skandes, sy owerspel en moord op een van sy getrouste manskape.

Hier in die geslagsregister van Jesus hoor ons van die morele buitestaanders, owerspeliges, bloedskandes, prostitute en selfs vooraanstaandes soos Dawid morele mislukkings was. Die onreines wat deur die wet van Moses uitgesluit is om in die teenwoordigheid van God te wees, was almal deel van Jesus se voorgeslag.

Wat sê dit vir ons? Dit sê in die eerste plek dat mense wat deur kultuur uit die samelewing uitgesluit word en selfs hulle wat deur die wet van God uitgesluit word, deel kan word van Jesus se familie. Dit maak nie saak wat jou agtergrond is nie of wat jy gedoen het nie of selfs of jy ʼn moordenaar is of nie. As jy in Jesus glo word jy deur de genade in Jesus Christus wat jou sondes bedek deel van die huisgesin van God. Jesus bedek jou sondes en verenig jou met God.

In die Bybelse tyd was dit so dat indien jy rein en respektabel wou bly jy kontak met die onreines moes vermy sodat jy nie deur hulle besoedel kon word nie. Jesus verander dit egter want sy heiligheid word nie deur jou onreinheid besoedel nie. Wanneer jy met Jesus in aanraking kom, word jy deur sy heiligheid skoon gemaak. Daarom kan jy na Hom toe kom ongeag van wat jy gedoen het. Jesus reinig jou van jou sondes.

Aan die ander kant sê dit ook vir ons dat selfs koning Dawid net op grond van God se genade deel kan word van God se gesin. Maak nie saak of jy deel is van die vooraanstaandes van die samelewing nie, dit is slegs op grond van God se genade dat jy deel kan word van sy gesin. Dit is slegs op grond van wat Jesus gedoen het dat jy deel kan word van sy gesin. Niemand is sonder sonde nie, selfs nie eens die mees vooraanstaande persoon in die samelewing nie.

In alle kulture word daar neergekyk op mense. Die rykes kyk neer op die armes, sekere rasgroepe kyk neer op ander rasgroepe. Die wêreld gebruik die maatstawe van sosiale status, rykdom en hoë aansien van jou herkoms om te bepaal of jy aanvaarbaar is nie.

In die gesin van Jesus Christus is dit egter anders. Die waardes wat buite die kerk so belangrik is, is nie vir God belangrik nie. Al wat belangrik is, is bekering en geloof in Jesus Christus.

Samevatting
Die goeie nuus van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister. Dit sê vir ons dat dit ʼn verhaal is wat in die waarheid van die geskiedenis gegrondves is. Daarom is die Evangelie goeie nuus en nie goeie advies nie. Dit vertel die goeie nuus van wat Jesus reeds vir jou gedoen het. Verder sê dit vir ons dat die wêreldse waardes soos status, rykdom, ras en geslag, nie bepaal of jy deel word van Jesus se gesin of nie. Dit is slegs op grond van God se genade in Jesus Christus dat jy deel word van sy gesin.

Daarom geliefdes. Glo in die evangelie. Glo in die ware verhaal van die goeie nuus van Jesus Christus en ervaar die rus en vrede wat net by God te vinde is.

Amen




07 Junie 2015

By Jesus vind ek rus vir my onrustige gemoed

31 Mei. 2015 GKE Nagmaal
Mat. 11:25 - 30 Fokusgedeelte : Mat 11:28
Lof-Psalm Ps. 18-1:1               
Na Wet Sb 9-3:1 & 2               
Na Gebed Ps. 33-1:5 & 11                   
Slotsang Ps. 84-1:2 & 6                      

Voel dit soms vir jou dat die lewe te swaar raak? Voel dit vir jou of jy nie meer kan nie? Is daar ’n onrustigheid in jou gemoed wat keer dat jy ware vrede beleef?

In ons teks rig Jesus sy uitnodiging aan almal wat uitgeput is omdat hulle ’n swaar las dra. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot worstelstryd. Dit beskryf daardie punt in mens se lewe waar jy moed opgee en die lewe vir jou net te veel word.

Jesus rig hierdie uitnodiging in die eerste plek aan die Jode wat die las moes dra van die verkeerde manier waarop die Fariseërs die wet vertolk het. Jesus gebruik ook hier die beeld van ’n Juk. ’n Juk is ’n swaar hout wat op ’n os wat ’n wa moes trek se nek gesit is en wat ’n las en moeite was.

Net soos wat die juk ’n swaar las op die osse se nekke was, was die Fariseërs se vertolking van die wet ’n swaar las op die mense. Daar was geweldig baie reëls wat hulle moes nakom. Daar was byvoorbeeld ’n reël dat jy nie op ’n Sabbatdag buite op ’n stoel mag sit nie want as jy per ongeluk die stoel skuif en dit trek ’n voortjie in die grond wat beteken dat jy besig is om te ploeg. Ploeg is werk en jy mag nie op die Sabbat werk nie.

Al hierdie reëls was soos ’n swaar vrag wat die mense moes dra omdat dit daarop neergekom het dat jy vir God moes bewys dat jy goed genoeg is vir Hom. Dit vind ons vandag nog. Mense interpreteer ’n sekere saak in die Bybel op ’n baie wettiese manier en verwag dan dat almal volgens hulle interpretasie moet lewe. As jy nie so lewe nie word jy verdoem.

Jesus se uitnodiging sê KOM. Die Fariseërs se interpretasie se DOEN. Jou saligheid hang af van dit wat jy doen. Jesus se uitnodiging “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” gee vir ons die vertroosting dat ons saligheid nie afhang van wat ons doen nie, maar dat dit van Hom alleen afhang. Hy het alles gedoen wat nodig is om my van my sonde te verlos. Daar is niks wat ek kan bydra nie.

In Mat 11:25 hoor ons dat hierdie geheimenis aan eenvoudiges bekend gemaak word en dat dit vir slim mense verberg word. Diegene wat met hulle verstand dit probeer uitredenaar eindig saam met die Fariseërs op in ’n klomp moets en moenies wat die lewe vir almal moeilik maak. God vra dat ons met kinderlike geloof moet glo dat Jesus Christus vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het.

Met die Nagmaal word ons herinner aan dit wat Jesus vir ons gedoen het. Hiermee verseker die Heilige Gees my dat ek ook deel het aan Christus se verlossing. Net so seker as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word, is sy liggaam vir my aan die kruis geoffer en gebreek en is sy bloed vir my gestort. Net soos ek liggaamlik deur brood en wyn gevoed word, net so word my geloof geestelik gevoed. Soos wat die brood en wyn deel word van my liggaam, so word ek deel van Jesus se verlossing.

Jesus nooi ons uit: “kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is” en daarmee saam gee Hy vir die vaste belofte “en Ek sal vir julle rus gee.”

Kom ons gaan sit aan by die tafel van die Here

Nabetragting
Neem Jesus se juk op, met ander woorde vertrou op Hom alleen. Gee al jou sorge vir Hom en stap die pad saam met Hom. Dit beteken wees sy dissipel.

Verder sê Hy ook daarmee saam “en leer van My.” Leer wat is die ware betekenis van die wet. Die Fariseër maak van die wet ’n swaar las wat onmoontlik word om te dra. Jesus leer ons wat die ware betekenis van die wet is. Liefde vir God en liefde vir ons naaste. In Rom. 13:8 - 10 verduidelik die Here dit soos volg vir ons:
Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Neem Jesus se uitnodiging aan
“Kom na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai is, en Ek sal julle rus  gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Amen

12 Desember 2013

Vind rus by Jesus wanneer die sorge van die léwe jou vasdruk

3 Nov. 2013 Mat 11. Fokusgedeelte : Mat. 11:28-30
Lof-Psalm Ps. 92-1:1 & 6
Na Wet Ps. 25-2:5
Na Gebed Ps. 119-2:10 , 11 7 26
Slotsang Ps. 34-1:4 & 5

Inleiding
Verlede Sondag het ons gehoor dat die Sabbat van die Ou Testament ’n heenwysing is na die rus wat ons in Christus vind. Hierdie week gaan ons fokus op HOE ons in Christus moet rus. Om te verstaan hoe ons in Christus moet rus gaan ons in die eerste plek luister na hoekom ons rus nodig het. Daarna gaan ons net weer stilstaan by waar ware rus vandaan kom en laastens gaan ons spesifiek kyk hoe ons moet rus.

Hoekom het ons rus nodig?
Die mense aan wie Jesus hierdie uitnodiging oorspronklik gerig het was die Jode wat gebuk gegaan het onder die swaar las van die wet wat die Fariseërs op hulle neergelê het. Die Fariseërs het daarop aangedring dat mense met intense toewyding elke reël van die wet van Moses tot op die letter moes nakom. Die Fariseërs het ’n lys van 39 dinge opgestel wat op die Sabbat verbode was. Deur vir elke moontlike geval ’n gebod op te stel, wou hulle verseker dat elkeen sou weet wat geoorloof en wat nie geoorloof is nie. Daardie lys was gegrond op die Joodse tradisies en op hulle interpretasie van God se wet.

Volgens die leerstellings van die rabbi’s van daardie tyd moes jy deur die presiese nakoming van die reëls bewys dat jy goed genoeg is vir God. Daar was geen sprake van rus nie, inteendeel dit was BAIE harde werk! Hierdie juk van wettisisme het ’n ondraaglike swaar las om te presteer op die volk geplaas. Daarmee moes jy bewys dat jy goed genoeg is.

Ons is egter tog nie meer gekoppel aan al die Joodse reëls en wette nie, so wat het dit dan nou eintlik met ons te doen? Alhoewel ons nie meer aan die presiese reëls van daardie tyd gebonde is nie, is daar nog steeds ’n druk op ons om te presteer. Net soos die Fariseërs van destyds is daar vandag ook godsdienstige leiers wat ons probeer oortuig dat ons deur ons optrede moet bewys dat ons “goeie” mense is. Verder is dit ook ’n verwagting wat deur ons samelewing geskep word. Daar is nie tyd of plek vir sukkelaars nie. Mense wat nie die pas kan volhou nie word eenkant toe gestoot.

U weet hoe gejaag die lewe is. Selfs die kinders spring dit nie vry nie. Hulle tyd word deesdae so ingedeel dat hulle heel dikwels eers laataand tyd kry om huiswerk te doen. Die druk op kinders om te presteer neem al hoe meer toe. Ouers is ook so besig dat daar min tyd vir die gesin oor is. Man en vrou leef by mekaar verby. Dis nie om dowe neute dat die moderne lewe vergelyk word met ’n muis wat op ’n oefenwieletjie hardloop nie. Jy hardloop jou vrek en jy kom nêrens nie.

Die gejaagde lewe bring mee dat ons geestelik uitgeput raak want daar is nie meer tyd om by die Bron rus en vrede te vind nie. Ons lewens is so volgemaak met die daaglikse aktiwiteite dat daar nie tyd is vir Bybellees nie. Daar is nie tyd vir gebed nie. Dit is wat veroorsaak dat klein dingetjies in die lewe naderhand so oorweldigend raak dat ons nie weet watter kant nie. Wanneer daar dan ’n groot krisis oor ons pad kom word ons heeltemal op die grond neergegooi!

Ons het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie.

Waar kry ons rus?
Die Fariseërs was die slim en geleerde mense van daardie tyd, maar ten spyte daarvan kon hulle nie begryp wat die ware doel van die Sabbat was nie. Hulle het op die verkeerde manier probeer om die rus van die Sabbat te vind. Dit wat vir hulle rus moes gee het baie harde werk geword wat nog net meer uitputtend was.

Net soos die Fariseërs soek ons vandag ook maar op die verkeerde plek na rus. Ons soek dit in die najaag van geld en materiële besittings. Ons soek dit in status en erkenning. Wanneer iets in my lewe so belangrik raak dat dit alles anders oorheers is dit ’n gevaarteken dat ek my rus op ’n verkeerde plek soek.

Die ander gevaar is dat ek wel by die regte plek kom soek, maar dat ek dit op ’n verkeerde manier soek. Dit is waar die Fariseërs gestruikel het. Hulle het God met hulle verstand probeer uitredeneer en dit het nie gewerk nie. Wanneer ons beter as God probeer weet moet ons die gevaartekens raaksien. Al wat ons moet doen is om God te vertrou soos wat ’n klein kindjie sy vader en moeder vertrou om vir hom te sorg.

Hoe weet ek dat ek rus op die verkeerde manier soek? Wanneer dit vir my moeite word om God te dien. As dit vir my moeite is om die eredienste by te woon of betrokke te wees by die gemeente se aktiwiteite en ek dit nou maar net doen om die ouderling, eggenoot of ouers tevrede te probeer hou dan weet ek dat ek besig is om my rus op ’n verkeerde manier by God te soek. Die gevolg is natuurlik ook dat ek geen rus kry op die manier nie! Die langtermyn gevolg is dat ek wegraak. Hoeveel van ons broeders en susters is maar net in naam op die lidmaatregister deel van die gemeente? In terme van meelewing met die gemeente is hulle lankal nie meer deel van die kerk nie. As my meelewing met die gemeente vir my moeite is en ek nie werklik rus vind nie, moet ek weet dat die logiese uiteinde is dat ek wegdryf van die kerk af!

Nog ’n teken dat ek op die verkeerde manier rus soek is dat ek so bietjie trots daarop voel dat ek darem nog ’n “goeie” Christen is! Ek kyk so ’n bietjie neer op die ander sondaars. Ek moet so ’n bietjie self ondersoek gaan instel of ek nie ook maar soos die Fariseër bid wat saam met die tollenaar daar in die tempel gaan bid het nie. Klink my gebed dalk soos die Fariseër sin? (Luk. 18:11)
‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.

Dan moet ek maar weer bietjie mooi gaan luister na wat Jesus daaroor sê soos ons hoor in Luk 18:14 (Lees gerus weer die hele gedeelte Luk 18:9-14
“Ek sê vir julle: Hierdie tollenaar, en nie die Fariseër nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Daar is maar net een plek waar ons rus kan vind en dit is by Jesus Christus soos ons hoor in Mat 11:27:
“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

En dit bring ons nou by die vraag:
Hoe moet ons rus?
Met Jesus se uitnodiging: “
Kom  na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
sê Hy vir ons hoe ons dit moet doen.

Kom na My toe:
Begin elke dag met gebed waarin jy jouself en die dag se gebeure aan God se leiding toevertrou. Praat met God (gebed) en luister na Hom (Bybellees). Moenie van jou gebede ’n noodwiel maak waar jy net in tye van krisis van God onthou en dan dringend by Hom smeek om jou te red nie. Moet ook nie van jou gebed ’n inkopielys maak waar jy net vrae en vra dat God aan elke gril en gier van jou moet voldoen nie.

Kommunikeer met Hom. Wanneer mens in ’n ware verhouding met God leef vind jy rus. Dan hanteer jy jou besige dag met die Krag wat God vir jou gee. Dan is dit moontlik om die dinge wat oor jou pad kom (groot en klein) te hanteer met die wete dat God in beheer is. Dan bepaal jy jou prioriteite met God se wysheid en nie met jou eie gebrekkige selfsugtige wysheid nie.

leer van My
Vertrou dat die Here om jou lewe te bestuur. Baseer jou besluite op die beginsels en norme wat Hy in sy Woord vir ons gee. Wanneer jou dag nie presies loop soos beplan nie (wat nogal dikwels gebeur) vertrou die Here en vra na sy wysheid om die veranderde skedule te hanteer.

Ek is sagmoedig en nederig van hart
Baseer jou aksies op Jesus se voorbeeld. Wees sagmoedig en nederig en nie aggressief en arrogant nie. Moenie ongeduldig en gefrustreerd raak nie en moet veral nie jou frustrasie en ongeduld op ander uithaal nie! Wees nog steeds vriendelik, geduldig. Moenie boek hou van die kwaad wanneer ander moedswillig jou dag laat verkeerd loop en jou benadeel nie. Vergewe nog steeds en moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Bly by die waarheid in alles wat jy doen en sê.

Neem my juk, want My juk is sag en my las is lig
Weet dat jy ’n bevoorregte kind van God is wat nie nodig het om vir God en die wêreld te bewys dat jy goed genoeg is nie. Jy hoef nie voor te gee wat jy nie is nie. Jy kan maar net jy wees en weet dat dit goed genoeg is vir God.

Om Jesus se las te dra beteken dat ek weet dat ek ’n kind van God is omdat Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het. Dit beteken dat ek weet dat ek nou ’n nuwe herstelde mens is wat na die beeld van God geskep is en dat ek Hom kan eer met alles wat ek doen en sê. My las is lig want ek weet dat die Heilige Gees my dra en help om werklik die lewe te leef wat God vir my beplan het. My las is lig omdat ek God vertrou met die wete dat dit wat Hy oor my pad bring ten goede sal uitwerk en dat Hy in beheer is van my lewe.

Slot
Ons het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie. Ons kan net by Jesus Christus ware rus vind. Ons rus in Jesus Christus wanneer ons in ’n verhouding met Hom saamleef deur gereeld met Hom te praat (gebed) en gereeld na Hom te luister (Bybellees). Ons vind rus by Jesus Christus wanneer ons by Hom leer en luister na dit wat Hy vir ons in sy Woord leer. Ons vind rus by Jesus wanneer ons sy voorbeeld van sagmoedigheid en nederig navolg en dat ons nie aggressief en arrogant is nie. Ons vind rus by Jesus wanneer ons sy juk opneem met die wete dat dit sag is en die las lig is omdat ons God ten volle vertrou en die lewe te leef wat Hy vir ons beplan het.

Geliefdes kom ons vind ons rus by Jesus wanneer die sorge van die léwe ons vasdruk
Amen