Wys tans plasings met die etiket dankie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket dankie. Wys alle plasings

01 Maart 2026

Vind vrede en gemoedsrus binne swaarkry deur die Here te loof en prys met danksegging


  lees Fil. 4:4-7 Teksvers Fil. 4:6   Psalm 100 en Hab. 3:17-19

Die lewe verloop nie altyd soos ons graag sou wou hê dit moet gebeur nie. Dinge gebeur wat ons anders sou wou gehad het. Die een oomblik is alles nog reg en goed en binne ’n oogwink gebeur daar ’n ongeluk wat ernstige gevolge het. Of daardie pynlike boodskap wanneer die dokter vir jou sê “jammer die diagnose is kanker.”

Die magteloosheid om te sien hoe jou geliefde deur siekte afgetakel word en die frustrasie omdat jy dit nie kan keer nie. Die bodemlose put van smart wat jou versmoor wanneer jy ’n kind of geliefde aan die dood afstaan. Geliefdes, ons het elkeen ons beproewings waarmee ons worstel. U weet wat dit is. Ons hoef nie elke voorbeeld op te noem nie.

In Rom. 8:20 beskryf Paulus vir ons dat die skepping aan die verydeling of nietigheid onderworpe is, met ander woorde daardie pynlike frustrasie van 'n wêreld wat gebroke is as gevolg van die sondeval.

Hoe hanteer ons dit geliefdes? Wat maak jy wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het?

Paulus self het ook maar ’n swaar pad geloop. In 2 Kor. 11:23-28 vertel hy hoe hy in gevangenisse opgesluit is, meer as een maal. Hy is verskeie kere met stokke geslaan en een maal selfs gestenig en vir dood agter gelaat. Hy het drie maal skipbreuk gely en hy moes die gevare van riviere, rowers, volksgenote, heidene, honger, dors en koue verduur.

Na ’n lewe vol swaarkry en gevaar was Paulus nou in die tronk toe hy hierdie brief aan die Filippense geskryf het. Hy het gewag om te hoor wat sy vonnis sou wees en die moontlikheid van doodstraf was ’n swaar werklikheid.

Watse raad gee Paulus wat al deur baie swaarkry in die lewe moes gaan hier uit die tronk aan gelowiges wat in moeilike omstandighede verkeer?

In Fil. 4:4 hoor ons:

'Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! '

Geliefdes, hierdie is net maar net oppervlakkige raad om te maak of jou moeilike omstandighede nie bestaan nie. Wat hy hier sê is: “maak die keuse om jouself in die Here te anker, ongeag wat jou omstandighede is en doen dit deurlopend, want die Here is die bron van ons vreugde.”

En dan verduidelik hy hoekom hy so sê soos ons hoor in Fil. 4:5-6:

Die Here is naby

Met ander woorde, ons hoef nie besorg te wees nie want die Here se teenwoordigheid is ’n feit.

Moet oor niks besorg wees nie

Wanneer jy jou bekommer dan laat jy toe dat angs jou gedagtes uitmekaar trek tussen die hede en jou verwagting van ’n vreesagtige toekoms. Moenie toelaat dat jou gedagtes deur hierdie verdeeldheid verslind word nie.

Geliefdes, dis alles goed en wel om te sê dat ons, ons nie moet bekommer nie, maar hoe kry mens reg?

Die geheim is:

maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Met gebed fokus ons op aanbidding en eerbied aan God en met smeking lê ons, ons nood voor die voete van die Here neer. Praat met die Here. Verduidelik hoe jy voel en wat jou omstandighede aan jou doen. Stort jou hart teenoor die Here uit. Maar let op die volgorde: Begin by wie God is en beweeg dan na jou behoefte toe.

Paulus voeg egter ’n baie belangrike komponent by wat ons nie moet vergeet nie. Doen dit met danksegging. Wat bedoel hy hiermee geliefdes?

Wanneer Paulus sê “verbly julle in die Here” dan sê hy: “sien God se genade raak en wees dankbaar daaroor.”

As ons bietjie verder in die Bybel kyk na wat die Here vir ons oor dankbaarheid sê kan ons na Psalm 100 kyk. Psalm 100 se inleiding stel dit as ’n dank Psalm bekend. Daarin leer ons dat ons dankbaarheid in God geanker is. Hy het ons gemaak en daarom behoort ons aan Hom. Daarom kan ons Hom loof want die Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.

Die wese van dankbaarheid begin by wie God is en wat ons verhouding met Hom is. God is ons Vader. Ons behoort aan Hom omdat Jesus met sy bloed vir ons betaal het.

Dankbaarheid word in geloof geanker. Daardeur interpreteer ons, ons omstandighede deur God se karakter. Dankbaarheid kyk na God se belofte dat Hy ons nooit alleen sal laat nie en dit is geanker in ons geloof dat Jesus aan die kruis deur God verlaat is sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie.

Moenie misverstaan nie geliefdes. Danksegging beteken NIE dat ons dankbaar is oor slegte omstandighede in ons lewens nie. Dankbaarheid is om raak te sien dat ek nie alleen staan binne my omstandighede nie. Met dankbaarheid draai jy jou fokus van jou omstandighede af weg sodat jy op God kan fokus deur raak te sien: God is hier, Hy het my nie verlaat nie.

Psalm 42 gee vir ons ook perspektief hierop. In Ps. 42:6 sing die Psalmdigter:

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God!

Dink maar aan die lied in Hab. 3:17-19

Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee

in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Geliefdes, wanneer jy jou fokus van jou omstandighede wegdraai en op God begin fokus gebeur daar ’n wonderwerk! Paulus praat uit ondervinding wanneer hy in Fil. 4:7 sê:

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Paulus verstaan dit nie en dit is so. Dit maak nie sin nie. Hoe kan mens vrede en gemoedsrus ervaar wanneer jou lewe onderstebo staan?

Geliefdes, God is groter as wat ons kan verstaan en daarom , vertrou God. Wanneer jy jou fokus van jou omstandighede wegdraai en op God jou Vader in Jesus Christus fokus sal jy vrede in jou gemoed ervaar.

Dan kan jy sê: “ek verstaan nie, maar God weet.” Om God te prys en dank midde in onmoontlike omstandighede is nie ontkenning van jou pyn nie. Dit is die geloofsdaad wat jou dra omdat jy in geloof vashou aan die enigste anker wat vir jou vastigheid en gemoedsrus kan gee binne die storm waarin jy is.

Geliefdes, wanneer jy in die skerpkant van die lewe se swaarkry vasloop, vind vrede midde in die storm deur gebed en danksegging en beleef die vrede en gemoedsrus wat net God kan gee.

Vind vrede en gemoedsrus binne swaarkry deur die Here te loof en prys met danksegging.

Amen