Wys tans plasings met die etiket sorge van die lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket sorge van die lewe. Wys alle plasings

12 Desember 2013

Vind rus by Jesus wanneer die sorge van die léwe jou vasdruk

3 Nov. 2013 Mat 11. Fokusgedeelte : Mat. 11:28-30
Lof-Psalm Ps. 92-1:1 & 6
Na Wet Ps. 25-2:5
Na Gebed Ps. 119-2:10 , 11 7 26
Slotsang Ps. 34-1:4 & 5

Inleiding
Verlede Sondag het ons gehoor dat die Sabbat van die Ou Testament ’n heenwysing is na die rus wat ons in Christus vind. Hierdie week gaan ons fokus op HOE ons in Christus moet rus. Om te verstaan hoe ons in Christus moet rus gaan ons in die eerste plek luister na hoekom ons rus nodig het. Daarna gaan ons net weer stilstaan by waar ware rus vandaan kom en laastens gaan ons spesifiek kyk hoe ons moet rus.

Hoekom het ons rus nodig?
Die mense aan wie Jesus hierdie uitnodiging oorspronklik gerig het was die Jode wat gebuk gegaan het onder die swaar las van die wet wat die Fariseërs op hulle neergelê het. Die Fariseërs het daarop aangedring dat mense met intense toewyding elke reël van die wet van Moses tot op die letter moes nakom. Die Fariseërs het ’n lys van 39 dinge opgestel wat op die Sabbat verbode was. Deur vir elke moontlike geval ’n gebod op te stel, wou hulle verseker dat elkeen sou weet wat geoorloof en wat nie geoorloof is nie. Daardie lys was gegrond op die Joodse tradisies en op hulle interpretasie van God se wet.

Volgens die leerstellings van die rabbi’s van daardie tyd moes jy deur die presiese nakoming van die reëls bewys dat jy goed genoeg is vir God. Daar was geen sprake van rus nie, inteendeel dit was BAIE harde werk! Hierdie juk van wettisisme het ’n ondraaglike swaar las om te presteer op die volk geplaas. Daarmee moes jy bewys dat jy goed genoeg is.

Ons is egter tog nie meer gekoppel aan al die Joodse reëls en wette nie, so wat het dit dan nou eintlik met ons te doen? Alhoewel ons nie meer aan die presiese reëls van daardie tyd gebonde is nie, is daar nog steeds ’n druk op ons om te presteer. Net soos die Fariseërs van destyds is daar vandag ook godsdienstige leiers wat ons probeer oortuig dat ons deur ons optrede moet bewys dat ons “goeie” mense is. Verder is dit ook ’n verwagting wat deur ons samelewing geskep word. Daar is nie tyd of plek vir sukkelaars nie. Mense wat nie die pas kan volhou nie word eenkant toe gestoot.

U weet hoe gejaag die lewe is. Selfs die kinders spring dit nie vry nie. Hulle tyd word deesdae so ingedeel dat hulle heel dikwels eers laataand tyd kry om huiswerk te doen. Die druk op kinders om te presteer neem al hoe meer toe. Ouers is ook so besig dat daar min tyd vir die gesin oor is. Man en vrou leef by mekaar verby. Dis nie om dowe neute dat die moderne lewe vergelyk word met ’n muis wat op ’n oefenwieletjie hardloop nie. Jy hardloop jou vrek en jy kom nêrens nie.

Die gejaagde lewe bring mee dat ons geestelik uitgeput raak want daar is nie meer tyd om by die Bron rus en vrede te vind nie. Ons lewens is so volgemaak met die daaglikse aktiwiteite dat daar nie tyd is vir Bybellees nie. Daar is nie tyd vir gebed nie. Dit is wat veroorsaak dat klein dingetjies in die lewe naderhand so oorweldigend raak dat ons nie weet watter kant nie. Wanneer daar dan ’n groot krisis oor ons pad kom word ons heeltemal op die grond neergegooi!

Ons het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie.

Waar kry ons rus?
Die Fariseërs was die slim en geleerde mense van daardie tyd, maar ten spyte daarvan kon hulle nie begryp wat die ware doel van die Sabbat was nie. Hulle het op die verkeerde manier probeer om die rus van die Sabbat te vind. Dit wat vir hulle rus moes gee het baie harde werk geword wat nog net meer uitputtend was.

Net soos die Fariseërs soek ons vandag ook maar op die verkeerde plek na rus. Ons soek dit in die najaag van geld en materiële besittings. Ons soek dit in status en erkenning. Wanneer iets in my lewe so belangrik raak dat dit alles anders oorheers is dit ’n gevaarteken dat ek my rus op ’n verkeerde plek soek.

Die ander gevaar is dat ek wel by die regte plek kom soek, maar dat ek dit op ’n verkeerde manier soek. Dit is waar die Fariseërs gestruikel het. Hulle het God met hulle verstand probeer uitredeneer en dit het nie gewerk nie. Wanneer ons beter as God probeer weet moet ons die gevaartekens raaksien. Al wat ons moet doen is om God te vertrou soos wat ’n klein kindjie sy vader en moeder vertrou om vir hom te sorg.

Hoe weet ek dat ek rus op die verkeerde manier soek? Wanneer dit vir my moeite word om God te dien. As dit vir my moeite is om die eredienste by te woon of betrokke te wees by die gemeente se aktiwiteite en ek dit nou maar net doen om die ouderling, eggenoot of ouers tevrede te probeer hou dan weet ek dat ek besig is om my rus op ’n verkeerde manier by God te soek. Die gevolg is natuurlik ook dat ek geen rus kry op die manier nie! Die langtermyn gevolg is dat ek wegraak. Hoeveel van ons broeders en susters is maar net in naam op die lidmaatregister deel van die gemeente? In terme van meelewing met die gemeente is hulle lankal nie meer deel van die kerk nie. As my meelewing met die gemeente vir my moeite is en ek nie werklik rus vind nie, moet ek weet dat die logiese uiteinde is dat ek wegdryf van die kerk af!

Nog ’n teken dat ek op die verkeerde manier rus soek is dat ek so bietjie trots daarop voel dat ek darem nog ’n “goeie” Christen is! Ek kyk so ’n bietjie neer op die ander sondaars. Ek moet so ’n bietjie self ondersoek gaan instel of ek nie ook maar soos die Fariseër bid wat saam met die tollenaar daar in die tempel gaan bid het nie. Klink my gebed dalk soos die Fariseër sin? (Luk. 18:11)
‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.

Dan moet ek maar weer bietjie mooi gaan luister na wat Jesus daaroor sê soos ons hoor in Luk 18:14 (Lees gerus weer die hele gedeelte Luk 18:9-14
“Ek sê vir julle: Hierdie tollenaar, en nie die Fariseër nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Daar is maar net een plek waar ons rus kan vind en dit is by Jesus Christus soos ons hoor in Mat 11:27:
“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

En dit bring ons nou by die vraag:
Hoe moet ons rus?
Met Jesus se uitnodiging: “
Kom  na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
sê Hy vir ons hoe ons dit moet doen.

Kom na My toe:
Begin elke dag met gebed waarin jy jouself en die dag se gebeure aan God se leiding toevertrou. Praat met God (gebed) en luister na Hom (Bybellees). Moenie van jou gebede ’n noodwiel maak waar jy net in tye van krisis van God onthou en dan dringend by Hom smeek om jou te red nie. Moet ook nie van jou gebed ’n inkopielys maak waar jy net vrae en vra dat God aan elke gril en gier van jou moet voldoen nie.

Kommunikeer met Hom. Wanneer mens in ’n ware verhouding met God leef vind jy rus. Dan hanteer jy jou besige dag met die Krag wat God vir jou gee. Dan is dit moontlik om die dinge wat oor jou pad kom (groot en klein) te hanteer met die wete dat God in beheer is. Dan bepaal jy jou prioriteite met God se wysheid en nie met jou eie gebrekkige selfsugtige wysheid nie.

leer van My
Vertrou dat die Here om jou lewe te bestuur. Baseer jou besluite op die beginsels en norme wat Hy in sy Woord vir ons gee. Wanneer jou dag nie presies loop soos beplan nie (wat nogal dikwels gebeur) vertrou die Here en vra na sy wysheid om die veranderde skedule te hanteer.

Ek is sagmoedig en nederig van hart
Baseer jou aksies op Jesus se voorbeeld. Wees sagmoedig en nederig en nie aggressief en arrogant nie. Moenie ongeduldig en gefrustreerd raak nie en moet veral nie jou frustrasie en ongeduld op ander uithaal nie! Wees nog steeds vriendelik, geduldig. Moenie boek hou van die kwaad wanneer ander moedswillig jou dag laat verkeerd loop en jou benadeel nie. Vergewe nog steeds en moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Bly by die waarheid in alles wat jy doen en sê.

Neem my juk, want My juk is sag en my las is lig
Weet dat jy ’n bevoorregte kind van God is wat nie nodig het om vir God en die wêreld te bewys dat jy goed genoeg is nie. Jy hoef nie voor te gee wat jy nie is nie. Jy kan maar net jy wees en weet dat dit goed genoeg is vir God.

Om Jesus se las te dra beteken dat ek weet dat ek ’n kind van God is omdat Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het. Dit beteken dat ek weet dat ek nou ’n nuwe herstelde mens is wat na die beeld van God geskep is en dat ek Hom kan eer met alles wat ek doen en sê. My las is lig want ek weet dat die Heilige Gees my dra en help om werklik die lewe te leef wat God vir my beplan het. My las is lig omdat ek God vertrou met die wete dat dit wat Hy oor my pad bring ten goede sal uitwerk en dat Hy in beheer is van my lewe.

Slot
Ons het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie. Ons kan net by Jesus Christus ware rus vind. Ons rus in Jesus Christus wanneer ons in ’n verhouding met Hom saamleef deur gereeld met Hom te praat (gebed) en gereeld na Hom te luister (Bybellees). Ons vind rus by Jesus Christus wanneer ons by Hom leer en luister na dit wat Hy vir ons in sy Woord leer. Ons vind rus by Jesus wanneer ons sy voorbeeld van sagmoedigheid en nederig navolg en dat ons nie aggressief en arrogant is nie. Ons vind rus by Jesus wanneer ons sy juk opneem met die wete dat dit sag is en die las lig is omdat ons God ten volle vertrou en die lewe te leef wat Hy vir ons beplan het.

Geliefdes kom ons vind ons rus by Jesus wanneer die sorge van die léwe ons vasdruk
Amen


18 Julie 2013

By Jesus vind ek rus vir my onrustige gemoed

19 Mei. 2013 Mat. 11:25 - 30 Fokusgedeelte : Mat 11:28
Lof-Psalm Ps. 18:1                  (OAB)
Na Wet Ps. 40:4                      (OAB)
Na Gebed Ps. 33:5                   (OAB)
Slotsang Ps. 84:2 & 6              (OAB)

Inleiding
Die een ding in die lewe waaroor ons seker kan wees is dat dit nie sonder sorge is nie. Niemand van ons kan sê dat hy geen bekommernisse het nie. Elkeen het een of ander bekommernis waaroor ons, ons kwel. Sommige se bekommernisse is groter as ander, maar elkeen het sy eie bekommernisse. Dit is hierdie sorge van die lewe wat ons van gemoedsrus beroof. Dit keer dat ons werklik ware vrede beleef.

By elke mens is daar ’n soeke om van hierdie onrus ontslae te raak. Sommige soek dit in geld en besittings. Ander soek dit drank of selfs dwelms. Party mense soek dit in aansien en roem of om so vêr as moontlik teen die korporatiewe leer te vorder. Ongelukkig bring nie een van hierdie metodes ware vrede vir die mens nie. Die enigste plek waar mens ware rus en vrede vind is by Jesus Christus.

Verlede week het ons gehoor dat die ware rus van die Sabbat in Jesus Christus is. Hierdie week luister ons na hoe mens rus vind in Jesus Christus want dit is net by Jesus waar ons rus vind vir ons onrustige gemoed.

Die sorge van die lewe
Ons teksvers beskryf vir ons wat die sorge van die lewe aan ’n mens doen
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, .....
Die sorge van die lewe maak mens uitgeput en dit oorlaai mens. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot worstelstryd. Dit beskryf daardie punt in mens se lewe waar jy moed opgee omdat jy nie kans sien om aan te gaan nie. Daardie punt waar die lewe vir jou net te veel word. En dit is omdat jy oorlaai is met bekommernisse en moeilike omstandighede.

Elkeen se bekommernisse is uniek en verskil van mekaar. Dit wat vir my na iets onbenulligs lyk is vir die volgende persoon ’n groot bekommernis en probleem. Die effek daarvan is egter dieselfde naamlik dat dit ’n mens eventueel uitput en oorlaai. Elkeen van ons dra die las van die sorge van die lewe. Vir party is dit ’n huweliksverhouding wat maar net nie wil uitwerk nie, vir ander finansiële oorlewing. Gaan ek more nog ’n werk hê? Of dalk is dit eensaamheid. Noem maar op. Elkeen van ons weet maar alte goed watter bekommernisse ons in die lewe het.

Daar is maar net een rede waarom die sorge en bekommernisse van die lewe so swaar op mens rus. Sonde! My eie sonde en ook die effek wat ander mense se sonde op my lewe het. Ons leef in ’n gebroke wêreld waar sonde ’n direkte en indirekte effek op elkeen van ons het. My sondige en selfsugtige optrede raak my negatief en dit raak die mense om my negatief. Die mense om my se sondige selfsug raak my negatief. Kom ons neem ’n eenvoudige voorbeeld om dit prakties te verduidelik. Wanneer ek van iemand skinder benadeel dit persoon van wie ek skinder. Dit benadeel my en diegene teenoor wie ek skinder. Wanneer iemand van my skinder word ek die slagoffer van ’n ander mens se selfsug en die hartseer is dat ek ook skuldig is om ander mense ongelukkig te maak. En so kan ons elk van ons sorge se oorsprong in die gebrokenheid van hierdie wêreld vind.

Die uiteinde van sonde is dat dit tussen mens en God kom staan. En dit is op die uiteinde die werklike rede van onvrede en onrus in ’n mens se lewe.

Wat is die oplossing vir die sorge van die lewe?
As geld of besittings of aansien of drank nie rus en vrede bring van die sorge van die lewe nie, wat dan? Daar is maar net een antwoord:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee.
In Mat 11:27 is dit duidelik dat dit net Jesus is wat hierdie gebroke verhouding met die Vader kan herstel en dit is eers wanneer hierdie verhouding met God herstel is dat ons ware vrede kan vind.

In Mat 11:26 sê die Here vir ons dat dit slegs uit God se genade is en in vers 25 sê Hy vir ons dat God se genade nie iets is wat mens met jou verstand kan uitredeneer of verdien nie. Dit is iets wat ons met kinderlike geloof moet aanvaar. God se genade word met Nagmaal dan ook op ’n sigbare wyse deur die brood en wyn vir ons uitgebeeld. Dis ’n misterie wat baie dieper is as die sigbare tekens van brood en wyn. Die Heilige Gees versterk hiermee ons geloof sodat ons die vrede en rus vir ons gemoed kan ervaar wat Christus vir ons in Mat 11:29 belowe.

Die troos wat ons ontvang is dat die lewe saam met Christus nie ’n sware las is wat mens moet dra nie. Die beeld wat hier gebruik word van ’n juk verduidelik dit mooi. ’n Juk is ’n swaar hout wat op ’n os wat ’n wa moes trek se nek gesit is wat ’n las en moeite was. Nou sê Jesus vir ons dat sy las lig is en glad nie so swaar is soos die juk wat op ’n os se nek gesit is nie. Die swaar juk verwys na die swaar las van die wet terwyl Jesus se juk verwys na ’n liefdevolle verhouding met God. Hiermee sê die Here vir ons dat ons nie nodig het om ’n klomp godsdienstige reëls na te kom om rus en vrede by Hom te vind nie. Jesus se uitnodiging is eenvoudig:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus gee.
Kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat ons kan deel in die enigste ware rus wat net by Jesus beskikbaar is.
Amen