18 Julie 2013

By Jesus vind ek rus vir my onrustige gemoed

19 Mei. 2013 Mat. 11:25 - 30 Fokusgedeelte : Mat 11:28
Lof-Psalm Ps. 18:1                  (OAB)
Na Wet Ps. 40:4                      (OAB)
Na Gebed Ps. 33:5                   (OAB)
Slotsang Ps. 84:2 & 6              (OAB)

Inleiding
Die een ding in die lewe waaroor ons seker kan wees is dat dit nie sonder sorge is nie. Niemand van ons kan sê dat hy geen bekommernisse het nie. Elkeen het een of ander bekommernis waaroor ons, ons kwel. Sommige se bekommernisse is groter as ander, maar elkeen het sy eie bekommernisse. Dit is hierdie sorge van die lewe wat ons van gemoedsrus beroof. Dit keer dat ons werklik ware vrede beleef.

By elke mens is daar ’n soeke om van hierdie onrus ontslae te raak. Sommige soek dit in geld en besittings. Ander soek dit drank of selfs dwelms. Party mense soek dit in aansien en roem of om so vêr as moontlik teen die korporatiewe leer te vorder. Ongelukkig bring nie een van hierdie metodes ware vrede vir die mens nie. Die enigste plek waar mens ware rus en vrede vind is by Jesus Christus.

Verlede week het ons gehoor dat die ware rus van die Sabbat in Jesus Christus is. Hierdie week luister ons na hoe mens rus vind in Jesus Christus want dit is net by Jesus waar ons rus vind vir ons onrustige gemoed.

Die sorge van die lewe
Ons teksvers beskryf vir ons wat die sorge van die lewe aan ’n mens doen
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, .....
Die sorge van die lewe maak mens uitgeput en dit oorlaai mens. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot worstelstryd. Dit beskryf daardie punt in mens se lewe waar jy moed opgee omdat jy nie kans sien om aan te gaan nie. Daardie punt waar die lewe vir jou net te veel word. En dit is omdat jy oorlaai is met bekommernisse en moeilike omstandighede.

Elkeen se bekommernisse is uniek en verskil van mekaar. Dit wat vir my na iets onbenulligs lyk is vir die volgende persoon ’n groot bekommernis en probleem. Die effek daarvan is egter dieselfde naamlik dat dit ’n mens eventueel uitput en oorlaai. Elkeen van ons dra die las van die sorge van die lewe. Vir party is dit ’n huweliksverhouding wat maar net nie wil uitwerk nie, vir ander finansiële oorlewing. Gaan ek more nog ’n werk hê? Of dalk is dit eensaamheid. Noem maar op. Elkeen van ons weet maar alte goed watter bekommernisse ons in die lewe het.

Daar is maar net een rede waarom die sorge en bekommernisse van die lewe so swaar op mens rus. Sonde! My eie sonde en ook die effek wat ander mense se sonde op my lewe het. Ons leef in ’n gebroke wêreld waar sonde ’n direkte en indirekte effek op elkeen van ons het. My sondige en selfsugtige optrede raak my negatief en dit raak die mense om my negatief. Die mense om my se sondige selfsug raak my negatief. Kom ons neem ’n eenvoudige voorbeeld om dit prakties te verduidelik. Wanneer ek van iemand skinder benadeel dit persoon van wie ek skinder. Dit benadeel my en diegene teenoor wie ek skinder. Wanneer iemand van my skinder word ek die slagoffer van ’n ander mens se selfsug en die hartseer is dat ek ook skuldig is om ander mense ongelukkig te maak. En so kan ons elk van ons sorge se oorsprong in die gebrokenheid van hierdie wêreld vind.

Die uiteinde van sonde is dat dit tussen mens en God kom staan. En dit is op die uiteinde die werklike rede van onvrede en onrus in ’n mens se lewe.

Wat is die oplossing vir die sorge van die lewe?
As geld of besittings of aansien of drank nie rus en vrede bring van die sorge van die lewe nie, wat dan? Daar is maar net een antwoord:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee.
In Mat 11:27 is dit duidelik dat dit net Jesus is wat hierdie gebroke verhouding met die Vader kan herstel en dit is eers wanneer hierdie verhouding met God herstel is dat ons ware vrede kan vind.

In Mat 11:26 sê die Here vir ons dat dit slegs uit God se genade is en in vers 25 sê Hy vir ons dat God se genade nie iets is wat mens met jou verstand kan uitredeneer of verdien nie. Dit is iets wat ons met kinderlike geloof moet aanvaar. God se genade word met Nagmaal dan ook op ’n sigbare wyse deur die brood en wyn vir ons uitgebeeld. Dis ’n misterie wat baie dieper is as die sigbare tekens van brood en wyn. Die Heilige Gees versterk hiermee ons geloof sodat ons die vrede en rus vir ons gemoed kan ervaar wat Christus vir ons in Mat 11:29 belowe.

Die troos wat ons ontvang is dat die lewe saam met Christus nie ’n sware las is wat mens moet dra nie. Die beeld wat hier gebruik word van ’n juk verduidelik dit mooi. ’n Juk is ’n swaar hout wat op ’n os wat ’n wa moes trek se nek gesit is wat ’n las en moeite was. Nou sê Jesus vir ons dat sy las lig is en glad nie so swaar is soos die juk wat op ’n os se nek gesit is nie. Die swaar juk verwys na die swaar las van die wet terwyl Jesus se juk verwys na ’n liefdevolle verhouding met God. Hiermee sê die Here vir ons dat ons nie nodig het om ’n klomp godsdienstige reëls na te kom om rus en vrede by Hom te vind nie. Jesus se uitnodiging is eenvoudig:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus gee.
Kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat ons kan deel in die enigste ware rus wat net by Jesus beskikbaar is.
Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking