18 Julie 2013

Ons situasie, ons gebede en ons verwagtings

25 Mei. 2013 Hand. 12:1-19 Fokusgedeelte : Hand. 12:12-17
Lof-Psalm Ps. 118:1                 (OAB)
Na Wet Ps. 130:1 & 4              (OAB)
Na Gebed Ps. 46:1                   (OAB)
Slotsang Ps. 89:1                     (OAB)

Inleiding
Geliefdes, glo u dat gebed werklik werk? U sal moontlik vir my vra: “Hoe kan jy so-iets vra ds.?” Voordat u egter dit vra, vra uself af:
Bid ek elke dag?
Maak ek werklik tyd om met die Here te praat?
Hoeveel tyd spandeer ek per dag in gebed?
Vyftien minute, of dalk tien of dalk minder as vyf? As ek hierdie vra vir myself beantwoord het, dan moet ek in die lig van my antwoorde weer ernstig besin of ek glo dat gebed werk! Hiermee saam moet ons ook vra: “Wat is ons verwagtings van die Here oor die beantwoording van ons gebede?”

in ons teksgedeelte word ʼn stukkie geskiedenis van die vroeë kerk aan ons oorvertel en daarmee gee die Here vir ons ’n beter insig waaroor gebed werklik gaan.

Agtergrond.
Petrus is in die tronk en gaan doodgemaak word. Dit was nou enkele jare na die stigting van die Nuwe Testamentiese kerk.  ʼn Kleinseun van die Herodus wat die klein seuntjies kort na Jesus se geboorte in Jerusalem doodgemaak het, was nou deur die Romeine aangestel as koning oor onder ander Judea en Jerusalem.  Hierdie Herodus wou graag in die goeie boekies van die Jode kom sodat hy vrede en stabiliteit in sy land kon hê. 

Wat sou ʼn makliker manier wees om die guns van die Jode te wen as om die Christene kwaad aan te doen – die Jode het immers die Christene gehaat!
Om hierdie rede het Herodus dus een van die sterkste leiers van die Christelike kerk (die apostel Jakobus) gevange laat neem en hom met die swaard laat doodmaak.  Hierdie wrede daad het byval gevind.  Herodus het gesien sy plan werk en het daarom ook die apostel Petrus gevange laat neem.  Petrus is kort voor die Paasfees gevange geneem en in die tronk gehou.

Herodus het sy tydsberekening fyn beplan sodat Petrus is onder streng bewaking in die tronk gedurende die Paasfees sou wees. Baie Jode was in Jerusalem vir die Paasfees en hulle het van Petrus se gevangeneming geweet en daaroor gepraat.  Sy vonnisoplegging – wat eintlik maar net ʼn formaliteit was – en beplande teregstelling is vir na die Paasfees geskeduleer.  Die rede hiervoor was ook sodat die Jode tydens die week van die Paasfees daaroor kon praat en Herodus maksimum publisiteit daaruit kon kry.

Petrus in die tronk - die gemeente bid
Wat het Petrus medegelowiges gedoen nadat hy gevange geneem is? In Hand. 12:5 sê die Here vir wat die gemeente gedoen het:
die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid.
Die Griekse woord wat met aanhoudend vertaal is beteken letterlik kontinue ernstige vurige, ywerige en baie spesifiek. Die hele tyd wat Petrus in die tronk was, was die gelowiges besig om hom aan die Here op te dra. Dit was ’n intense gebed wat nie maar net twee of drie minute lank aangehou het nie.

Die Bybel gee nie vir ons die spesifieke inhoud van hulle gebede nie. Ons kan egter aanvaar dat hulle heel waarskynlik gebid het dat die Here vir Petrus rustigheid sou gee en dit het die Here ook gedoen. Petrus het soveel gemoedsrus gehad dat hy vas geslaap het terwyl hy aan twee wagte vasgeboei was. Verder kan ons redelik seker wees dat hulle gebid het vir Petrus se vrylating.

En dan gebeur die wonder.  God verhoor die gebede van die gemeente!
Petrus word uit die tronk bevry.
Ons hoor hier hoe die Here op ’n wonderbaarlike wyse die gebede verhoor. Terwyl Petrus rustig lê en slaap is hy wakker gemaak deur ’n engel. Die boeie het van sy hande afgeval. Hy en die engel het binne die tronk by twee sekuriteitspunte verbygestap, en die yster buitedeur van die tronk het outomaties voor hulle oopgegaan. Aanvanklik het Petrus gedink hy sien ʼn visioen – dit gebeur nie regtig nie.  Eers nadat die engel hom verlaat het, het hy geweet dat dit regtig gebeur het.

Petrus is toe na die huis waar die gelowiges saam besig was om vir hom te bid en ook hulle was verbaas.  Rodé, die diensmeisie, was so verbyster en bly om Petrus se stem te hoor, dat sy nie eers die deur oopgemaak het nie, maar dadelik die gelowiges gaan vertel het.  Die gelowiges was so verras dat hulle haar nie wou glo nie.  Hulle kon nie glo dat dit regtig Petrus is wat voor die deur staan nie.

Toe Rodé volhou om te sê dat dit Petrus is, toe sê hulle dat dit sy gees is. Hoe ironies tog! Hulle het vir Petrus gebid.  Hulle het lang ure vir hom gebid.  Hulle het spesiale byeenkomste gereël om vir hom te bid.  Maar toe God hulle gebede verhoor, kon hulle nie glo dat die Here hom uit die tronk bevry het nie! Hulle was nie net so ligweg verbaas nie. Nee geliefdes, baie meer as dit. Die Griekse woord wat met verbaas vertaal is beteken letterlik, dat hulle absoluut stom geslaan was van verbasing. Hulle kon nie glo wat hulle sien nie! Dit was vir hulle net ʼn te onmoontlike gedagte!

Ons kan maklik die Jerusalemse gelowiges wat vir Petrus gebid het kritiseer. Maar voordat ons nou te krities oor hierdie gelowiges raak moet ons, onself afvra: “Is dit nie ook hoe ons so dikwels reageer nie?” Hierin sien ons God se genade. Hy was nie veroordelend teenoor die Jerusalem se gelowiges nie en Hy is ook nie teenoor ons veroordelend nie. Inteendeel, dit is sy liefde en nie sy oordeel wat hier uitstaan. Liefde wat Jesus aan die kruis vir ons bewys en daarom kan en mag ons bid met die wete dat God luister en dat Hy ons gebede antwoord. God se genade is nie van ons afhanklik nie. Hy gee dit op grond van sy liefde. Op grond van sy liefde leer Hy ons vandag uit hierdie teksgedeelte ’n paar baie belangrike sake oor gebed en wat dit vir ons beteken.

Die betekenis van hierdie Bybelse gebeure vir ons lewens van vandag
Die eerste saak wat ons kan leer is dat:
ons veel meer van gebed moet maak as wat ons meestal doen.
ʼn Kind wat se pa ver weg bly, mis op baie uit al stuur sy pa elke maand geld vir die kind se versorging.  Al sorg die Here vir ons in alles wat ons nodig het, maar ons praat nie daagliks met Hom nie, mis ons op baie uit. Die ironie is dat ons hemelse Vader nie ʼn veraf God is nie.  Hy is so naby aan ons.  Hy woon deur sy Gees in ons.  Ons kan enige tyd  -  dag of nag, waar ons ook al is – tussen mense of in afsondering, met Hom praat.

Hoekom moet ons, ons gebede tot Hom beperk tot bloot ʼn minuut of wat in die oggend, en ʼn minuut in die aand? Dit is nie nodig om net ’n rympie op te sê nie. Ons kan normaal met die Here praat sonder hoogdawerende woorde of sinne.  Hoekom kan ek nie te midde van my daaglikse roetine (in die kar, voor die lessenaar, in die kombuis, in die klas – waar ook al) in stilte met my hemelse Vader praat nie?

Die gemeente in Jerusalem het doelbewus tyd gemaak om te bid. Hulle het doelbewus geleenthede geskep om saam met mekaar te bid. As ons nie doelbewus tyd maak om met die Here te praat nie, en onsself nie voortdurend opskerp om dit te doen nie, mis ons op baie geleenthede uit om met Hom te praat. Maak ons werklik van die wonderlike geleentheid gebruik wat die Here ons gee om met Hom persoonlik te praat?

Die tweede saak wat ons by die Jerusalemse gemeente kan leer:
is dat ons doelbewus en ernstig vir mekaar moet bid.
Die gelowiges in Jerusalem het nie maar net elkeen individueel twee minute vir Petrus gebid en toe opgehou nie.  Nee, gedurende die hele tyd van sy gevangenskap het hulle doelbewus en aanhoudend en ernstig vir Hom gebid.

As daar ’n ernstige saak is wat op ons harte lê dan kan en mag en moet ons aanhoudend daaroor bid. Weens die liefde wat die hemelse Vader aan ons deur Jesus Christus betoon het, is ons wat in Jesus glo nou kinders van die hemelse Vader.  Ons verander van mense wat bloot op onsself ingestel is, na mense wat ingestel is op die mense rondom ons. Soos die gelowiges op Petrus ingestel was en niks anders kon as om vir hom te bid nie, so moet ons ook vir mekaar lief wees.  Ons moet mekaar help waar ons kan. Ons moet vir mekaar bid waar ons kan. Bid ons genoeg vir mekaar?

Die derde saak wat by die Jerusalemse gelowiges kan leer is dat:
God ons gebede verhoor.
God het die gelowiges in Jerusalem se gebede verhoor. Dit was dalk nie soos hulle verwag het nie, soos dit duidelik blyk uit hul reaksie, maar God het hul gebede verhoor. Daar is nie ʼn gebed wat Hy nie verhoor nie.  Ja, Hy antwoord nie altyd soos ons graag geantwoord wil wees nie, maar Hy antwoord.  Soms sê Hy:  “Wag eers”, ander kere: “Nee”, en ander kere “nie op hierdie manier nie, maar wel op hierdie manier”, en nog ander kere “ja!”

Verder leer ons uit hierdie gebeure dat God baie magtiger is as wat ons ooit kan dink.  Hy werk ook soms op baie anderster maniere as wat ons verwag.  Soms beantwoord Hy ons gebede op sulke maniere wat totaal en al bo ons verwagtings uitgaan.

En dit bring ons by die vierde saak wat ons by die Jerusalemse gelowiges kan leer:
Ons word deur gebed wonderbaarlik in ons geloof opgebou.
Hoe is die gelowiges nie deur Petrus se bevryding opgebou nie.  Hulle moes totaal uit die veld geslaan gewees het.  Hulle het Petrus se dood verwag, en hier is hulle toeskouers van ʼn ongelooflike wonderwerk! Wat is die doel van gebed? Is die doel van gebed om God te dwing om te doen wat ons graag gedoen wil hê?  Het die Jerusalemse gelowiges aanhoudend gebid om daardeur die Here te probeer dwing om Petrus te bevry? Nee, dit was nie hulle doel nie!  Die saak van Petrus was eenvoudig slegs van soveel erns dat dit die heeltyd in hulle gedagtes was en hulle nie anders kon as om daaroor en daarvoor te bid en Petrus aan die Here op te dra nie!

Ja, dit is verkeerd as ons kettinggebede of lang gebedsbyeenkomste reël en dink ons kan deur ons lang gebede die Here dwing om ons gebede te verhoor.  God laat Hom nie deur ons dwing nie. Maar wat is dan die doel van gebed? Gebed is om ons harte voor die Here oop te maak en met Hom te praat.  Ons dra nie ons laste alleen nie.  Hy dra ons en ons laste deur hierdie lewe.  Hy beskik oor ons en alles wat met ons gebeur.  Deur gebed raak ons opnuut bewus van sy sorg en sy versorging in die lewe! Hoe meer ons bid, hoe meer ons voorbidding doen, hoe meer begin ons God se werk raaksien, hoe meer begin ons ook God se almag raaksien.  Ja, en soms, juis as gevolg van gebed, word ons skoon uit die veld geslaan deur die wonderbaarlike wyse waarop God vandag nog werk.  As ons nie bid nie, gaan dit alles by ons verby.

Aanmoediging
Moet daarom nie net tevrede wees met twee of drie minute se gebed per dag nie. Geliefdes, kom ons streef daarna om elke oomblik van die dag biddend voor God te leef. Kom ons skerp onsself daartoe in, want ons is lui om dit te doen. Kom ons leef biddend voor God en beleef hoe Hy ons totale uitkyk op die lewe en wat gebeur, verander.  Ons sal leer dat ons nie alleen staan nie, want ons staan in die arms van die Here wat ons versorg en dra deur alles wat met ons gebeur.

Moenie bang wees om met opgewondenheid op die Here te wag om te sien hoe Hy ons gebede verhoor nie.

AMEN

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking