23 Julie 2013

Wie en wat is die kerk van Jesus Christus?

14 Jul 2013
Ef. 1 teksverse Ef. 1:18-19
Ps. 147:1 & 2
Ps. 19:4 & 5
Sb 7-2:1 & 2
Sb 1-1:1,2 & 7

Inleiding
Gelowiges maak so dikwels ’n onderskeid tussen kerk en hul eie lewens. Dit is egter ’n valse onderskeid omdat gelowiges nie los van die kerk kan wees nie, want ons is die kerk. Mense dink verkeerd oor wie en wat die kerk werklik is en daarom sien hulle die kerk as hierdie aparte organisasie waarby hulle betrokke kan raak of nie.

Teenoor hierdie verkeerde siening van die kerk, leer die Here ons wie en wat die kerk werklik is. In die briewe aan Efese en Kolosse leer die Here ons presies wie en wat sy kerk is. Die brief aan Kolosse fokus daarop dat Jesus die Hoof van sy kerk is terwyl die brief aan Efese daarop fokus dat die kerk die Liggaam van Christus is.

Verlede Sondag het ons gehoor dat daar ’n onderskeid is tussen die kerk en die wêreld. Vandag gaan ons meer spesifiek fokus op wie en wat die kerk is.

Eerstens: Wie is die kerk?
Ek dink een van die redes waarom daar so ’n verskeurdheid in die kerk is, is omdat gelowiges nie altyd mooi verstaan wie die kerk is nie. Baie gelowiges dink dat die kerk maar net ’n organisasie is waarby mens kan aansluit of nie. Net soos mens byvoorbeeld besluit of jy deel van die tennis of visvangklub wil wees. Jy besluit of jy daarby betrokke wil wees of nie en tot watter mate jy aktief gaan wees daarin. Sekere tennisklublede sluit aan net aan om so een of twee maal per maand ’n potjie tennis te gaan speel. Verder is hulle nie juis betrokke by die klub nie. Hulle betaal hul lidmaatskapfooie en verder moet jy hulle nie pla nie. Ander weer het ’n baie groter betrokkenheid en dien selfs op die bestuur van die klub.

Baie van ons tree op asof die kerk ook maar net so ’n menslike organisasie is waar ons besluit of ons deel daarvan wil wees of nie en hoe betrokke ons wil wees. Ek sal so dan en wan ’n erediens bywoon wanneer ek behoefte daaraan het, maar verder moet julle my nie met kerksake pla nie. Ons kry vandag ook al hoe meer mense wat redeneer dat hulle die Here kan dien los van die kerk. Die Here leer ons hier in Efesiërs dat sy kerk nie so werk nie. Dit is nie mense wat besluit of hul deel van die kerk wil wees of nie. Ons is deel van die kerk omdat God ons uitgekies het om deel van sy kerk te wees soos ons hoor in Ef. 1:4 & 5:
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

Jesus het ons gekoop en Hy het ’n duur prys betaal soos ons hoor in Ef. 1:7 & 8:
Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.
Hoe weet ek of ek deel het aan hierdie genade? In Ef.1:13 sê die Here vir ons dat ek deel het aan sy genade wanneer ek die goeie nuus glo dat Jesus Christus vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat die Heilige Gees vir my daardie geloof gee sodat ek kan weet dat ek uitgekies is om deel van sy kerk te wees. In Ef. 1:15 sê die Here vir ons hoe ek kan weet of ek deel van die kerk is of nie. As ek in Jesus Christus glo en ek is lief vir die gelowiges dan kan ek weet dat God my ook uitgekies het om deel van sy kerk te wees. Geliefdes, ons is deel van Jesus Christus se kerk omdat Hy ons uitgekies het en nie omdat ons so besluit het nie. As ek so optree asof dit my besluit en keuse is of ek deel van die kerk is of nie en hoe betrokke ek is, dan is ek ongehoorsaam aan God.

Wat is die kerk?
Hoekom het God ons uitgekies om sy kerk te wees? In ons teksvers Ef. 1:18 & 19 gee die Here vir ons drie redes:
Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Die Here het vir ons ’n roeping. Hy gee vir ons ’n erfenis en sy krag werk in ons wat glo.

Wat is sy roeping? Ons maak so dikwels die fout om te dink dat ons roeping in die lewe die beroep is wat ek beoefen. Dit is deel daarvan, maar dit maak net ’n klein onderdeel uit van my totale roeping. Ons roeping is baie groter as wat ons dink. In Ef. 1:17 hoor ons wat die totale omvang van God se roeping is in ons lewens:
Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
Ons roeping is om God en sy heerlikheid te leer ken. Ek moet God leer ken in elke aspek van my lewe. Ek moet God leer ken in my beroep. Ek moet Hom leer ken in my verhoudings met mense. Ek moet Hom leer ken in my ontspanning. Ek moet leer dat God 24/7 deel is van my lewe!

Wat is die erfnis wat ons van Hom ontvang? Die ewige lewe. Die ewige lewe is nie net iets wat eendag gaan kom nie maar dit begin nou reeds waar ons kan lewe as burgers van sy Koninkryk. ’n Verkeerde siening van die kerk bring mee dat ek dink dit gaan net oor my. Dan word ek vasgevang in my eie klein wêreldjie waar ek dinge so wil reël dat alles my moet dien. Dan raak ek kwaad as dinge nie na my smaak en sin verloop nie. Dan wil ek aan almal voorskryf hoe dinge moet gebeur en as dit nie volgens my smaak en beginsel gaan nie, is ek kwaad. Die kerkraad en die ds. moet sorg dat die kerk vir my ’n lekker plek is. Dan leef ek inderdaad nog as ’n burger van die duisternis waar alles net om my eie selfsugtige begeertes draai.

Wanneer ek besef wat die kerk van die Here werklik is en dat ek deel is daarvan, begin ek leef as ’n burger van God se koninkryk van die lig. Dan sien ek die groter prentjie raak waar dit nie net oor my gaan nie, maar waar ek deel is van God se weermag wat Hy gebruik om die bose te oorwin en dat ek op pad is na ’n heerlikheid waar die bose finaal oorwin sal wees. Dan besef ek dat nie ’n passasier op ’n vakansieskip is wat bedien moet word nie, maar dat ek ’n soldaat op ’n oorlogskip is wat in God se weermag teen die bose baklei. Die wapen wat God vir ons gee in hierdie stryd is die evangelie. Ons moet die goeie nuus van Jesus Christus aan die wêreld uitdra sodat God se lig al hoe helderder in ’n donker wêreld begin skyn.

Wat is God se krag wat in ons werk? Na Jesus se hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek gestuur om ewig met ons te bly. Die Heilige Gees is die krag in ons lewe wat dit vir ons moontlik maak om die uitdagings in die lewe aan te vat. Die Heilige Gees gee aan ons die krag om aan te gaan wanneer die lewe moeilik raak. Burgers van die duisternis se lewens word deur vrees en negatiwiteit gekenmerk. Die Heilige Gees gee vir ons die krag om die vrees te oorwin en die ewige lewe wat God vir ons gee te begin leef. Die krag om as soldaat in God se koninkryk te stry teen die bose. Ons leef nog in ’n wêreld wat ly as gevolg van die gevolge van die sonde. Die Heilige Gees gee aan ons die krag sodat die gevolge van die sonde ons nie onder kry nie en die krag om aan te gaan na ons einddoel waar die bose finaal oorwin sal word deur Jesus wederkoms.

Samevatting
Die kerk van die Here is nie ’n menslike organisasie waar mens self besluit of jy daarby wil aansluit of nie. Die kerk van die here is sy uitverkorenes wat Hy uitgekies het om deel van sy kerk te wees. Jesus het sy kerk uitgekies met die roeping om God werklik te leer ken. Om deel te hê aan die erfenis van God naamlik die ewige lewe wat Hy aan ons skenk en om die krag van die Heilige Gees te ondervind sodat ons werklik die lewe kan leef wat God vir ons bestem het.

Geliefdes, kom ons luister na God se stem wanneer Hy ons roep sodat ons geestesoë so kan verhelder dat ons weet watter hoop sy roeping vir ons inhou, watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir ons bestem het en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Amen

2 opmerkings:

  1. Is die enigste kerk van Jesus net vir sy Apostels bedoel wat vandag as die Apostoliese kerk bekend staan nl. OAK en geen ander kerke nie?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hierdie preek maak NêRENS die aanspraak dat NET OAK kerk van die Here is nie!

      Wie is die kerk van Jesus Christus?
      Elkeen wat die suiwer evangelie glo soos wat dit in die Bybel verkondig word. Elkeen wat glo dat Jesus Christus vir sy sondes aan die kruis gesterf het en die die dood oorwin het met sy opstanding is deel van die kerk van die Jesus Christus.

      Vee uit