28 Apr. 2013 Joh. 11:1-44;
Teksverse – Joh. 11:25 & 26
Lof-Psalm Ps. 33 v 1
& (OAB)
Na Wet Ps. 40 v 4 (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 5 (NAB)
Slotsang Ps. 46 v 1
& 6 (OAB)
Wat is lewe? Wat is ware
lewe? Wat is dood en wat veroorsaak die dood? Lewe, dood, twee begrippe wat
onlosmaaklik deel is van elke mens se bestaan. Met hierdie verhaal van Lasarus
verduidelik die Here vir ons wat dit beteken om waarlik te leef en wat
veroorsaak dood.
Jesus was besig om die
mense te leer toe Hy die onstellende berig ontvang dat sy goeie vriend Lasarus
siek is. By die aanhoor van die nuus tree Jesus baie vreemd op. Hy verklaar dat
die siekte nie op die dood sal uitloop nie, en Hy is ook nie juis haastig om na
Lasarus toe gaan nie! Wanneer Jesus uiteindelik by Lasarus en sy susters uitkom
groet Marta met so half verwytend: “Here, as U hier was, sou my broer nie
gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom
vra.” Sy glo, maar tog is dit nog net ’n teoretiese abstrakte geloof wat
nog nie werklik ’n impak op haar lewe het nie. Toe Jesus die graf wou oopmaak
waarsku sy: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Vir haar
is die opstanding van haar broer net ’n teoretiese geloofsaak wat nie praktiese
implikasies in haar lewe het nie.
Voel ons nie ook dikwels
so nie? Ons bid tot die Here en dan wag ons en ons wag. Dit is dan wanneer ons
die fout maak om te dink dat God nie omgee nie. Soms sê ons ook dat ons God
vertrou, maar dit bly maar net ’n teoretiese saak wat nie werklik ’n impak op
ons lewens het nie. Dit is dan wanneer ons moet verstaan dat God besig is met
iets wat beter is as wat ons nou vra en dat ons ook moet vertrou dat Hy wel
uitkoms sal gee. Ons moenie vra en dan dink dit sal nie gebeur nie. Soms moet
ons wag op die Here met die wete dat sy vertragings met sy seën gepaardgaan.
Toe Jesus die berig van Lasarus se siekte ontvang het Hy vir sy dissipels
gesê
“Hierdie
siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die
wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan
word.”
Hiermee verduidelik Jesus
dat die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van sy se eie opstanding uit
die dood. Sy dissipels het gehoor dat Lasarus se dood ’n groter doel gehad het,
maar Marta en Maria het nie geweet nie. Hulle moes net vertrou en geduldig op
die Here wag.
Wanneer Jesus by Marta kom
verstaan sy nog steeds nie toe Hy vir haar vertel dat Lasarus gaan opstaan uit
die dood nie. Sy glo in ’n opstanding wat eendag daar ver teen die einde gaan
plaasvind. Jesus sê vir haar egter vir haar dat dit nou gaan gebeur, maar nog
steeds verstaan sy nie. Dan sê Jesus vir haar:
“Ek is
die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen
wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Hierin lê ’n geweldige
troos vir elke gelowige met die versekering dat ek sal lewe al het ek gesterwe
as ek in Jesus Christus glo. Dit sê ook vir my dat as ek eers die ewige lewe
ontvang het, dat ek dit nooit in alle ewigheid weer sal verloor nie.
Jesus se “Ek is” uitspraak
is baie belangrik. Marta se stelling dat sy in die opstanding glo is vir haar
nog net ’n abstrakte begrip sonder dat dit nog werklik betekenis vir haar het.
Jesus stel dit as ’n feit wat met Hom as persoon geïdentifiseer word. Hy sê nie
dat Hy die dooies sal laat opstaan nie. Hy IS die opstanding want Hy is die
lewe. Hy beklemtoon dat die mens alleen onsterflik kan wees deur onlosmaaklik
in geloof aan Hom verbind te wees. Teenoor die Fariseërs wat die opstanding aan
die einde verkondig, kom sê Jesus nou ook dat ons deur Hom die opstanding en
lewe in die hede kan ervaar. Dit kan nie deur die dood vernietig kan word nie.
Lewe bly gebonde aan Jesus Christus deur geloof. Elkeen wat glo in Jesus,
betree die ewige lewe en sal geestelik in alle ewigheid nooit sterwe nie.
Voordat Jesus vir Lasarus
opwek gebeur daar egter eers iets baie belangriks. Jesus huil! Die Jode wat
daar was het gedink dat Jesus hartseer was omdat Lasarus gesterf het. Maar dit
is nie hoekom Jesus gehuil het nie. Hy het tog geweet dat Hy binnekort vir
Lasarus gaan opwek. Jesus se trane wys vir ons dat Hy omgee vir ons hartseer en
pyn in die lewe. Hy is nie ongevoelig vir ons swaarkry in die lewe nie. Jesus
huil oor die sonde wat soveel ellende in die lewe veroorsaak. Hy huil oor die
sonde wat ons so maklik in ’n doodloopstraat laat beland. Jesus huil oor my
sondes! Jesus huil omdat Hy mens geword het en dat Hy daarom weet wat se
hartseer ons in die lewe ervaar. Jesus huil vir en saam met ons!
Dan bewerk Jesus die
wonderwerk van Lasarus se opstanding toe Hy met ’n harde stem roep” “Lasarus
kom uit!” Die wonder lê nie daarin dat Hy Lasarus wat al vier dae dood was
weer lewend gemaak het nie want Lasarus sou tog weer liggaamlik sterf. Die
wonder is dat Jesus die mag het om die ewige lewe te gee aan elkeen wat in Hom
glo. Vir die ongelowige beteken die dood die einde, maar iemand wat in Jesus
glo, bly lewe al het hy ook fisiek gesterf.
Omdat Jesus vir ons sê “Ek
is die opstanding en die lewe” kan elkeen van ons sê:
·
Ek is vergewe
·
Ek is weer heel gemaak
·
Ek is weer herstel as God se kind
·
Ek is weer vry van die slawebande van die sonde
·
Ek is weer lewendig en ek lewe ’n lewe van oorvloed
·
Ek is beskerm
·
Ek is geliefd
·
Ek is voorspoedig
·
Ek is ’n oorwinnaar
·
Ek is geseënd en
·
Ek is ’n seën vir ander.
In die plek van
hopeloosheid het ek hoop vir die toekoms omdat ek weet dat die toekoms in God
se hand is. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet dat God my
nooit alleen sal laat nie. God sal my nooit eenkant gooi en van my vergeet nie.
Die tydelike hartseer wat ek in hierdie lewe ervaar sal verander in vreugde
omdat ek weet dat ek ewig saam met God is.
Die opwekking van Lasarus
wys op die betekenis van Jesus se eie opstanding uit die dood en die groot
betekenis wat dit vir ons het wat in Jesus Christus glo. By Jesus is dood nie
regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe. Solank as wat dit egter net ’n
teoretiese geloof is, hou dit nog nie veel troos in nie. Kom ons gryp Jesus se
verlossing met geloof aan sodat die lewe wat daar in Hom en sy opstanding is
prakties deel van my lewe kan word want by Jesus is dood nie regtig dood nie.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking