18 Julie 2013

Jesus is die enigste ware deur tot God

7 Apr. 2013 Joh. 10:1-21; Teksverse – Joh. 10:7 & 9

Lof-Psalm Ps. 100 v 1 & 4      (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 2                   (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11             (OAB)
Slotsang Ps. 23 v1                  (OAB)

Inleiding
Kan ons God sonder Jesus leer ken? Jesus gebruik hier in Joh. 10 die beeld van ’n skaapboerdery om hierdie vraag te beantwoord. God as Herder en sy volk as skape is ’n beeld wat baie in die Bybel gebruik word. Dink maar aan die geliefde Ps. 23. Die beeld van ’n herder en sy skape is ook die beeld wat Jesus gebruik om die groot verskil tussen Hom en die Joodse leiers te verduidelik. Hiermee verduidelik Jesus waarom dit noodsaaklik is dat ons in Hom moet glo. Verse een tot vyf is ’n storie wat Jesus vertel sodat die ons die beeld skaapboerdery sal verstaan wat Hy hier gebruik. Vanaf vers sewe pas Hy die beeld dan op Homself toe om aan ons te verduidelik dat Hy uniek is en dat daar geen ander alternatief is om weer met God versoen te word nie.

In Joh. 10:1 & 2 word twee groepe mense teenoor mekaar gestel, naamlik die rowers wat nie by die hek ingaan nie teenoor die herder wat wel daar ingaan. Die ingang tot die skaapkraal is die plek waar besluit word of iemand eg is of nie. In Joh. 10:3 vertel Jesus van die verhouding tussen die herder en sy skape is. Die skape luister net na die herder se stem en sal nie ’n vreemde volg nie. In Joh. 10:4&5 word ons vertel van die vertroue wat die skape in die herder het en die noue band wat daar tussen hulle is. In die hierdie teksgedeelte hoor ons dat Jesus die ingang en die Herder vir sy skape is. Vandag fokus ons op die ingang gedeelte waar Jesus met nog ’n “Ek is” uitspraak verduidelik wie en wat Hy werklik is. Met die volgende diens gaan ons op die Herder fokus.

Agtergrond
Om die beeld wat Jesus hier gebruik te verstaan moet ek net eers kortliks verduidelik hoe die skaapboerdery in die Bybelse tyd gewerk het. Elke trop skape het ’n spesifieke herder gehad wat hulle opgepas het. Bedags het die herder hulle na die weiveld geneem en snags het hy hulle weer terug gebring na die veiligheid van die skaapkraal. Hierdie krale het gewoonlik klipmure gehad wat hoog genoeg was sodat die skape nie oor dit kon klim nie.

Daar was net een opening wat dan as ingang tot die skaapkraal gedien het. Verder het hy ook gewoonlik doringtakke bo-op die mure gepak om die ongediertes uit te hou. Daar was dus net een manier om by die kraal in te kom, naamlik deur die opening wat as deur gedien het. In die nag het die herder dan ook binne daardie ingang geslaap. Die skape kon dus nie uitgaan sonder dat die herder dit geweet het nie en geen ongewenste persone of ongediertes kon sonder sy medewete inkom nie.

Wanneer Jesus dus sê “Ek is die ingang vir die skape” verduidelik Hy dat Hy die enigste ingang na die ewige lewe en God is. Hy is die Herder wat ingang daartoe bewaak en niemand kon sonder Hom inkom nie. In hierdie konteks het die beeld van ’n deur of ingang dan ook ’n baie spesifieke betekenis.

’n Deur bring skeiding.
In die eerste plek skei ’n deur die wat binne is af van die wat buite is. Diegene wat binne is lyk anders as hulle wat buite is. Uitverkore kinders van God leef anders as hulle wat God nie ken nie. Die wêreld se manier van doen en die wêreld se waardes lyk anders as die gelowiges se waardes en manier van doen. Gelowiges word baie maal verkleineer omdat hulle anders as die wêreld lewe. Dit moet ons weet dat ons nie gewild sal wees onder die wêreld nie en dat ons ook nie enigsins moet poog om deur die wêreld aanvaar te word nie. Wie werklik binne in Jesus se skaapkraal is moet verwag dat die wêreld hulle sal spot en verkleineer net soos Jesus ook bespot en verkleineer is.

’n Deur beteken ’n besluit om nie die waarheid vir die leuen te veruil nie
Ons leef vandag in ’n wêreld waar die leuen as waarheid voorgehou word en waarheid as leuen. Daar word verkondig dat elkeen sy eie waarheid het. Wat waar is vir een is nie noodwendig waar vir ’n ander nie. In wese kom dit daarop neer dat daar geen waarheid is nie! Hiermee word dan verkondig dat elkeen deur sy eie geloof by God uitkom. Die Christen deur sy geloof in Christus, die Hindoe deur sy geloof, die Moslem deur sy geloof in Mohammed, selfs al is al hierdie gelowe verskillend van mekaar. Jesus ontbloot die onwaarheid hiervan wanneer Hy in Joh. 10:9 sê:
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.

Die onsinnigheid van die post modernistiese siening word duidelik wanneer mens logies daaroor nadink. As daar gesê word dat daar geen waarheid is nie, hoe kan ons weet of die stelling dat daar geen waarheid is nie waar is? In ons dag tot dag lewe leef ons ook nie so nie. As ek iemand R100 skuld kan ek mos nie R10 betaal deur te redeneer dat vir my is ’n Rand eintlik R10 werd en daarom kan ek met R10 my skuld van R100 afbetaal nie!

Die waarheid is dat daar net een deur is na die ewige lewe saam met God, naamlik Jesus Christus. ’n Geloof wat nie Jesus Christus as die middelpunt het nie kan mens nie by God uitbring nie.

’n Deur beteken verlossing.
Jesus Christus beteken vir ons dat ons gered word en dit beteken dat ons lewe en daarom sê Jesus vir ons:
as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry
Ons gaan by die deur in wanneer ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het en dat Hy met sy opstanding aan ons die ewige lewe gee. Verlossing beteken dat al ons sondes vergewe is en dat ons daarom kinders van God is. Verlossing gee aan ons die sekerheid dat ons gered is. Ons hoef nie daaroor te twyfel nie. As ek in Jesus Christus glo kan ek verseker weet dat ek verlos is.

Verlossing beteken dat ons vry is. Vryheid beteken nie dat ons maar kan voortgaan om te sondig nie. Dis nie vryheid nie, want dan is ons nog slawe van die sonde! Vryheid beteken dat ons die voorreg het om Jesus Christus te volg en die lewe te leef tot Gods eer wat Hy van die begin af vir ons beplan het. Dan word ons deur waarheid beheer en deur liefde aangespoor. Dan is ons los van die negatiwiteit van ons sondige lewe. Dan het ons hoop en nie meer die wanhoop van ’n troostelose bestaan waar alles tot niks kom nie.

Verlossing beteken geluk en vrede selfs wanneer ons deur moeilike tye gaan. Dit beteken dat wanneer die storms van die lewe om my begin woed dat ek by God gaan skuiling soek met die wete dat Hy my deur dit sal dra.

Slot
Jesus is die deur wat vir ons toegang tot God en die ewige lewe gee. As ons deur die deur gegaan het is daar skeiding tussen ons en die wêreldse manier van doen. Ons voel anders en tree anders op. Jesus Christus as deur beteken vir ons die waarheid dat ons slegs deur sy soenverdienste met God versoen kan word. Jesus Christus as deur beteken dat ons waarlik lewe vanuit sy genade. Moenie deur ’n ander deur tot God probeer nader nie want Jesus Christus is die enigste ware deur tot God.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking