18 Julie 2013

Vertrou op God alleen

16 Jun. 2013 Hand. 20:17-38 Fokusgedeelte : Hand. 20:32
Lof-Psalm Ps. 48:1 & 12          (OAB)
Na Wet Ps. 25:4 & 4                (OAB)
Na Gebed Ps. 119:2                 (OAB)
Slotsang Ps. 42:1 & 5              (OAB)

Inleiding
Om totsiens te sê is nie altyd maklik nie. Wat sê mens by ’n afskeid? Watter afskeidswoorde kan ’n mens agterlaat wat blywende waarde sal hê? Ek wonder of Paulus ook met hierdie vrae gespook het toe hy die ouderlinge van Efese na Milete laat roep het om afskeid te neem. Of hy nou wel met hierdie vrae gespook het of nie, weet ons nie. Ek kan egter nietemin by dit wat Paulus vir die gemeente in Efese gelaat het vir die pad vorentoe antwoorde vind vir my vrae hierbo.

Efese was ’n belangrike handelstad en een van die drie invloedrykste stede in die oostelike deel van die Romeinse Ryk. Die tempel van Artemis, wat in Efese geleë was, was een van die wonders van die antieke wêreld en die vervaardiging van afgodsbeeldjies was ’n belangrike bron van inkomste vir die stad. Die gemeente in Efese is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig en Paulus het ongeveer drie jaar lank in Efese gewerk. Paulus is nou op pad na Jerusalem en daarom het hy die ouderlinge van Efese laat roep om te groet terwyl sy skip vir ’n paar dae in Milete oorlê (wat ongeveer 45km suid van efese was).

In hierdie afskeidsboodskap van Paulus aan die gemeente in Efese kom daar twee hoofsake na vore. Hy gee ’n terugblik op die verlede en ’n toekomsblik.

’n Terugblik op die verlede
Paulus herinner hulle aan die drie jaar wat hy by hulle vertoef het en dat hy die Here in nederigheid in die tyd gedien het. Hierin is daar vir ons ook ’n les. Ons moet die Here met nederigheid dien. Diens aan die Here gaan nie oor eie belang nie. Dit is onselfsugtige gehoorsaamheid aan die Here. Paulus het nie sy eie gerief of gemak voorop gestel nie, inteendeel hy is vervolg, met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Hy moes dikwels vir sy lewe vlug en tog het dit hom nie gekeer nie. Hy het nie die Here gedien om te wys hoe belangrik hy was nie, maar om maar net gehoorsaam te wees aan die wil van die Here.

Die voorbeeld wat Paulus hier gestel het is wat die Here vir ons voorhou. Dien die Here in nederigheid. Moenie toelaat dat eie gemak, gerief of aansien in die pad van die werk van die Here staan nie. Hou aan om die Here in nederigheid te dien en moenie toelaat dat die gewone menslike verskonings wat ons so maklik voorhou keer dat ons diensbaar is in sy gemeente nie.

In sy onderrig aan die gemeente het Paulus niks teruggehou nie, maar hy het die heilsplan van God in sy volle omvang aan hulle verkondig. Die kern van sy onderrig aan hulle was Jesus Christus soos ons in Hand. 20 :21 hoor
Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.
Dit moet ons onthou. Ons as kerk is die bruid van Jesus Christus en Hy moet die kern van ons kerkwees uitmaak soos Paulus ook aan die gemeente in Korintiërs geskryf het in 1 Kor. 1:23-24
Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.

Jesus Christus moenie verdring word deur allerlei menslike oorwegings en gebruike wat die kerk probeer binnedring nie. Hou vas aan die suiwer leer soos ons ook in ons belydenisskrifte bely.

’n Toekomsblik
Paulus vertel ook dat die Heilige Gees hom van swaarkry verseker op sy pad vorentoe (verse 22-24). Dit het hom egter nie afgeskrik of van koers af gebring nie, want hy het steeds vertrou dat God hom sou dra. Hiermee sê die Here vir ons dat ons geloofslewe nie net een lang suksesverhaal is nie. Partykeer is die pad van die geloof styl en vol struikelblokke, maar ons moenie toelaat dat dit ons van koers af bring nie. Ons moet steeds net op God alleen vertrou.

In verse 26 – 27 wys Paulus die gemeente op hul eie verantwoordelikheid. Ons moet nooit die fout maak om die skuld van ons foute op ander te probeer pak nie. In v 28 moedig Paulus hulle aan om na hul eie en mekaar se geestelike lewens om te sien. Mens kan nie na ander se geestelike lewens omsien as jou eie geestelike lewe nie reg is nie.

Paulus waarsku hulle ook om waaksaam te wees teen die gevaar van dwaalleer deur gebruik te maak van ’n beeld wat die boerdery gemeenskap hier baie goed sal verstaan soos ons hoor in Hand. 20:29
Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie.
Die ontstellende aspek hiervan is dat dit mense uit hulle eie geledere is wat hulle met leuens sal probeer verlei. Dit ervaar ons ook hier in Reddersburg. Mense wat hulself Christene noem, dit wil sê broers en susters in die geloof kom hier aan met allerlei valse leerstellings wat strydig is met dit wat die Here ons in sy Woord leer. Twee sake wat veral in die laaste tyd na vore gekom het, is die leer oor die sabatsonderhouding en dat mens NET grootgedoop mag word! Hier was so ’n paar maande gelede iemand wat ’n boekie versprei het waarin mense gewaarsku word om te bely dat kinderdoop sonde is en so word mense in verwarring gebring.

Ander kom weer en saai verwarring veral onder kinders deur daarop aan te dring dat mens ’n dag en ’n datum van bekering moet kan wys waarop jy bekeer is. Daarmee ignoreer hulle die waarheid van die Skrif wat vir ons leer dat mens wel op ’n spesifieke tyd ’n omkeer in jou lewe kan hê soos Paulus, maar hulle ignoreer dat die Skrif ons ook leer dat mens van kleins af in die geloof grootgemaak kan word soos wat dit met Timoteus die geval was. Dit wat hulle basies leer is dat is ’n Christus plus teologie. Christus plus sabatsonderhouding. Christus plus groot doop. Christus plus dag en datum van bekering.

Paulus wys die gemeente van Efese hoe hulle teen hierdie gevaar moet waak wat soos wolwe onder die skape kom maai soos ons hoor in Hand. 20:31
Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane.
Moenie net elke vreemde leer goedsmoeds aanvaar nie, maar toets dit aan die gesonde leer soos wat hier verkondig is en waarin die gemeente onderrig is.

In Hand. 20:32 wys Paulus hulle daarop waar hulle, hul anker moet vind vir die pad vorentoe waar daar soveel gevare lê en wag
Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.
God is nog altyd daar vir die gemeente en Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Sy ewige Woord is nog steeds daar om die gemeente op te bou en hul te laat deel kry aan sy seëninge wat Hy belowe.

Paulus sluit af deur die gemeente daarop te wys dat hulle nie net na mekaar se geestelike welstand moet omsien nie, maar dat hulle ook na mekaar se fisiese welstand moet omsien. Hou aan om aan die diakonie fondse te voorsien sodat hulle diegene wat swaarkry op materiële gebied kan versorg.

Samevatting
Geliefdes in hierdie afskeid van Paulus van die gemeente in Efese is daar ook vir Reddersburg ’n afskeidsboodskap. Dien die Here in nederigheid en moenie in jul dienswerk laat slaplê nie. Glo in Jesus Christus. Glo dat Hy vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir ons die ewige lewe verwerf het. Weet dat dit net God se genade is wat ons red en dat ons sleg deur geloof wat die Heilige Gees aan ons gee daaraan kan deel kry. Weet dat die pad vorentoe soms moeilik kan wees en dat ons in die Here alleen moet vertrou op daardie pad. Sien om na julle geestelike lewens en gee ook op mekaar ag. Wees waaksaam teen die dwaalleer wat so maklik in die kerk indring. Gee ook ag op mekaar se fisiese welstand. Vertrou op God alleen.

Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid.
Geliefdes, kom ons bid saam:

Gebed.
Ons troue Hemelse Vader
Op U almag alleen vertrou ons.
Ons bid dat U genade en U Woord ons sal dra op die pad vorentoe
Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking