18 Julie 2013

Hoe ons bid bepaal hoe ons verhouding met God is

9 Jun. 2013 Mat. 6:1-18 Fokusgedeelte : Mat. 6:1
Lof-Psalm Ps. 145:1 & 12       (OAB)
Na Wet Ps. 32:1                      (OAB)
Na Gebed Ps. 31:1                  (OAB)
Slotsang Ps. 30:1                    (OAB)

Inleiding
Hoe bid ons? In hierdie teksgedeelte leer ons dat die gesindheid waarmee ons bid vir ons wys hoe ons verhouding met God is. Dit wys vir ons of ons besig is met blote leë godsdienstige rituele en of ons werklik besig is om in ’n lewende verhouding met God te leef. Wanneer mens besig is met leë godsdienstige rituele, dan gaan dit daaroor oor watter voordeel jy uit die verhouding kan kry. Ons ken almal die mooiweersvriende wat mens net ken solank hulle iets uit die vriendskap kan kry sonder om ooit iets terug te gee. Ons herken dadelik die oppervlakkigheid van so ’n vriendskapsverhouding en tog trap ons so maklik in die strik om in so ’n verhouding met God te wil saamleef.

Hierdie gedeelte word ingelei met die motivering wat mens het om ander te help. ’n Verkeerde motivering is die simptoom van ’n dieper liggende probleem. Help ek ander om te wys hoe ’n goeie mens ek is? Elkeen moet maar weer eerlik gaan nadink oor wat sy werklike motiewe is wanneer hy goeddoen. As dit enigsins daaroor gaan dat ek darem vir die mense wil wys dat ek eintlik ’n goeie mens is, dan moet ons die gevaarligte begin raaksien.

Die tweede toets waarna ons moet kyk is na die manier waarop ons bid. Gebed is die kern van ons verhouding met God en in die Bybelse tyd het dit dikwels met vas gepaardgegaan. Die doel van vas is sodat mens meer ernstig op jou gebedslewe kan fokus sonder dat dit onderbreek word. Moenie dink dat vas net te doen het om nie te eet nie. Dit gaan daaroor om vir ’n tyd weg te bly van dinge wat jou aandag van God af wegneem wanneer jy tyd saam met Hom moet spandeer. Byvoorbeeld TV kyk, internet, selfone.

Jesus wys vir ons twee groot gevare hier uit. Die gevaar om mense te probeer beïndruk en die gevaar om God te probeer dwing om te doen wat ons wil hê.

Die gevaar om mense te probeer beïndruk
Jesus waarsku ons oor die gevaar om mense te probeer beïndruk soos ons hoor Mat 6:1:
“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
Mat 6:2:
“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat.
Mat 6:5
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien.
Mat 6:16
“As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas.

Wanneer ek godsdienstige handelinge uitvoer sodat mense kan sien hoe goed en heilig ek is dan is ek nie meer besig met ’n lewende verhouding met God nie. Dan gaan dit net oor myself. Dan dink ek dat as die mense kan raaksien hoe heilig ek is, MOET God dit ook raaksien en dan kan Hy nie anders as om my te seën nie! Met ander woorde ek probeer om God te manipuleer.

Die tweede gevaar is:
Om God te probeer dwing om te doen wat ons wil hê
soos ons hoor in Mat 6:7
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle, hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.
Ons moet versigtig wees wanneer ons oor iets bid dat ons nie in die strik van kettinggebede vasval nie soos byvoorbeeld: Iemand is ernstig siek en nou probeer ons soveel as moontlik mense bymekaarmaak om daarvoor te bid. Dit kom daarop neer dat mens naderhand dink dat as daar net genoeg mense vir die saak kan bid, dan MOET God luister en gee presies wat ons vra!

Ek sê nie dat ons nie moet voorbidding doen en of vra nie. Die Here sê ook nie hier dat ons nie voor ander moet bid nie. Dit gaan hier oor die gesindheid waarmee gebid word. Is ons gesindheid waar ons, ons nood in nederige afhanklikheid voor die Here lê, of is die gesindheid dat ons God wil dwing om te doen wat ons wil hê? My gebed moet ’n ware gesprek met God wees.

Wanneer ons bid moet dit nie ’n lang hoogdawerende gebed wees waarin ons oor en oor dieselfde ding vra deur dit elke slag net op ’n verskillende manier te stel nie. Die Here sê vir ons dat gebed ’n eenvoudige gesprek met Hom is soos Hy verduidelik met voorbeeld van die Onse Vader gebed wat Hy vir ons gee. Hiermee word ons nie oorweldig met ’n uitgebreide stel voorskrifte oor gebed nie. Met hierdie gebed wys die Here vir ons dat ons gebede twee hoofsake moet aanspreek, naamlik die essensie van Goddelike heerskappy en ons nood wat ons na die Here bring.

Met die drie U bedes en die drie ons bedes word God en mens verbind. Die Here leer ons dat ons Hom prys, vir sy werk in die wêreld moet bid, vir ons daaglikse behoeftes moet bid en vra vir hulp in ons daaglikse stryd. Dit gaan nie hier oor die presiese herhaling van die woorde in Mat. 6:9-13 nie, maar oor die inhoud van ons gebede. Wanneer ons die woorde van die Onse Vader bid, moet ons bogenoemde inhoud daarin raaksien.

In gebed gaan dit dus nie oor om vir mense te bewys hoe heilig ons is nie. Dit gaan oor ’n intieme gesprek met God.

Wat is die gevolge van bogenoemde gevare.
As ek in die slaggat van bogenoemde gevare trap wys dit vir my op die simptoom van ’n dieperliggende probleem met my verhouding met God. Ek wil nie God dien nie! Ek probeer my bes dat Hy my moet dien! As ek op hierdie spoor is, is daar vir my geen beloning nie.

Wat is die beloning waarvan hier gepraat word? Die beloning is om in ’n intieme verhouding met God te leef, om God werklik te ken as ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is (Art 1 NGB). As ek God probeer manipuleer dan mis ek uit op die geleentheid om die wonderlikste Wese in die heelal persoonlik te leer ken. Dan mis ek uit op sy liefde, sy goedheid, sy sorg, sy deernis. Dan sal ek nooit werklik die hart van God leer ken nie.

Dit is ook dan wanneer ek God beleef as kwaai en veroordelend en dan sien ek nie sy genade en liefde raak nie. ’n Liefde wat alle verstand te bowe gaan soos ons hoor in 1 Joh. 4:9-10:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Samevatting
Hoe ons bid bepaal hoe ons verhouding met God is. Daar is twee groot gevare waaraan ons onself kan blootstel: Die gevaar om mense te probeer beïndruk en die gevaar om God te probeer dwing om te doen wat ons wil hê. Hierdie gevare is die simptoom van ’n dieperliggende probleem met my verhouding met God. Ek wil nie God dien nie! Ek probeer my bes dat Hy my moet dien! Dan mis ek uit op die beloning om werklik die hart van God te leer ken en dan sien ek nie sy liefde en genade raak nie.

Moenie in die slaggat van bogenoemde twee gevare trap nie. Gryp vas aan sy genade en liefde in Jesus Christus met die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee. Kom ons leef in ’n werklike intieme verhouding met God saam.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking