23 Julie 2013

Christus is die krag en wysheid van God waarmee die kerk ʼn verskil in die wêreld maak

1 Kor 1 v 18 tot 31 tv 23 en 24
Intreepreek ds G. van der Walt – Gereformeerde Kerk Empangeni – 7 Jul 2013
Inleiding
Wanneer die onderskeid tussen kerk en wêreld verdwyn, is dit die begin van die einde vir die kerk. Die kerk werk anders as die wêreld en daarom is dit nodig dat ons hier aan die begin van ’n nuwe tydvak besin oor wat die doel en rol van die kerk in die wêreld is. Hoekom is ons kerk? Hoekom offer ons, ons tyd en geld op om vir die kerk te werk? Hoekom slaap ons nie laat op ’n Sondag of ontspan net nie? Hoekom woon ons eredienste by? Hoekom word hier vandag ’n nuwe predikant in die Gereformeerde Kerk Empangeni bevestig?

Agtergrond
Die gemeente in Korinte het ook met hierdie vrae gesukkel. Hulle het al hoe meer soos die wêreld begin word. Die gevolg was dat hulle ook begin sukkel het met probleme wat algemeen in die wêreld is, trots, hoogmoed, statusbewustheid en spoggerigheid. Verdeeldheid en losbandigheid het groot onmin in die gemeente veroorsaak. Hierdie probleme het die gemeente binnegesluip as gevolg van die wêreldse invloed wat in die kerk begin posvat het. Wanneer die kerk soos die wêreld word dan ervaar die mense nie meer die verlossing van God nie, maar struikel hulle oor die roem van mense.

Daarom begin Paulus dan ook hierdie brief aan die gemeente deur ’n duidelike onderskeid tussen kerk en wêreld te tref. Daar is ’n verskil tussen wêreldse wysheid wat eintlik dwaasheid is en die wysheid van God wat die wêreld as dwaasheid beskou.

Wêreldse wysheid/dwaasheid
Mense wat in die wêreld bo wil uitkom, maak van wêreldse wysheid gebruik en hulle dink dikwels dat hulle hierdeur vir God kan leer ken. Die Jode word beïndruk deur wondertekens en dit is wat hulle najaag. Ons vind dit vandag nog in die kerk. Mense wat soveel van wonderwerke maak en sommiges wat selfs aandring dat hulle lewens net deur wonderwerke gereël word. Jy mag nie dokter toe gaan as jy siek is nie, jy moet net bid en glo vir ’n wonderwerk en wanneer dit nie gebeur nie dan is jou geloof skynbaar nie sterk genoeg nie. So word die ware betekenis van wonderwerke in die Bybel geïgnoreer en word die boodskap van die kruis verander tot iets wat dit nie is nie.

Die nie-Jode (Grieke) het op geheime kennis wat net vir sekeres bedoel was, staatgemaak vir verlossing. So het daar ’n geloofs-snobisme in die gemeente ingesluip. Dit vind ons vandag nog in die kerk. Dit is veral ’n slaggat waarin ons as gereformeerdes maklik trap. Ons is so bietjie beter as die res en as jy nie saam met ons siening stem nie dan word jy veroordeel. Dink maar aan die debat binne die kerk oor Psalms, vrouens en kelkies. So word die kerk na binne gerig weg van sy roeping af om God se liefde na ’n stukkende wêreld te bring.

’n Ander aspek van wêreldse wysheid wat vandag sterk na vore kom is die rasionalistiese denkrigting van ons tyd. Dit wat die mens nie kan verklaar nie, kan nie wees nie. Alles moet deur middel van natuurlike prosesse verklaar en verduidelik word en per definisie sluit dit God en sy betrokkenheid by die wêreld uit. Hierdie denke sluip ook die kerk binne. Dit wat in die Bybel nie deur middel van hierdie natuurlike rasionalistiese denke verduidelik kan word nie, word afgemaak as mites en stories wat die produk is van ongesofistikeerde menslike denke. Die skeppingsverhaal is nie meer geldig nie. Jesus se maagdelike geboorte kan nie wees nie en Hy het ook nie werklik opgestaan nie. So word die krag van God se Woord tot niet gemaak en menslike prestasie en denke as enigste norm voorgehou. Hierdie sogenaamde wêreldse wysheid is vir God dwaasheid.

Goddelike wysheid en krag
Teenoor die wêreldse wysheid (wat eintlik ’n dwaasheid is) staan God se krag en wysheid wat Hy deur die boodskap van die kruis bekendmaak. Vir die wêreld is die boodskap van die kruis ’n aanstoot en onsin omdat menslike prestasie, kennis en vernuf daarin niks tel nie.

Maar vir hulle wat deur God uitgeroep is gee die boodskap van die kruis lewe. Dit gee aan hulle die krag om op te staan uit die doodsbestaan van die sonde en dit gee aan hulle die wysheid om die nuwe lewe te leef wat God gee.

Wat beteken die boodskap van die kruis? Dit stel jou saak met God reg. Sonde het ’n kloof veroorsaak tussen die mens en God. Die kruis en opstanding van Jesus Christus oorbrug daardie kloof. Die boodskap van die kruis maak dit vir mense moontlik om heilig te lewe, met ander woorde nie meer die selfsugtige doodsbestaan van die sonde en die wêreld nie, maar ’n lewe wat daarop gemik is om liefde na ’n verlore wêreld uit te dra. Die boodskap van die kruis gee aan die uitverkorenes ’n lewende hoop op die hiernamaals. Gelowiges hoef nie meer die dood te vrees nie. Gelowiges kry deel daaraan deur die boodskap van die kruis met geloof aan te neem wat die Heilige Gees gratis aan elke uitverkore kind van God skenk.

Wat beteken dit prakties vir die kerk en hiermee saam moet ons vra: “wat beteken dit prakties vir my?” Want ons IS die kerk? Christus is vir ons die krag van God, met ander woorde die Heilige Gees is met ons al die dae van ons lewe. Die Heilige Gees gee aan ons die wysheid om ons vyande lief te hê. Die wysheid om te weet dat ek my krag net by God moet soek wanneer die lewe vir my te moeilik raak. Die boodskap van die wêreld is om jou self te help en om sterk te wees, maak nie saak wat oor jou pad kom nie. Die vraag is net: “wat maak jy as jy nie meer kan sterk wees nie???” Waar kry ek die krag vandaan om met my lewe aan te gaan as my lewe deur ’n egskeiding uitmekaar geruk is? Waar kry ek krag om die verpletterende nuus van kanker in my lewe te hanteer? U ken die lewenskrisisse waarmee ons elke dag stoei.

God het die kerk geroep om die boodskap van die kruis aan ’n wêreld sonder hoop te bring sodat daar weer hoop kan wees vir ’n wêreld wat God nie ken nie. Reik ons as kerk nog uit na die stukkende mense daarbuite? Bring ons hoop of veroordeling aan die prostituut daar buite? Bring ons vertroosting vir die ou wat net nie meer weet watter kant toe nie en wat nou selfmoord as die laaste opsie oorweeg? Bring ons lig en nuwe lewe vir die mens wat die pad byster geraak het? Die mens se grootste krisis in die lewe is dat hy van God vervreem is. Die kerk is God se plan om verlore mense weer met Hom te versoen deur die boodskap van die kruis te verkondig. Daar is nie ’n plan B nie! Vir die wêreld is die kerk onsin, maar vir God se uitverkorenes is die kerk die voertuig wat God gebruik om weer hoop vir ’n verlore mensdom te bring. Die oes is groot en die arbeiders min.

Die oplossing van die wêreld bied geen hoop nie en as die kerk met wêreldse oplossing gevul raak verloor die kerk haar relevansie in die wêreld. As die kerk haar nie besig hou met die boodskap van die kruis nie, dan verval die hele rede en doel van die kerk om te bestaan. Kom ons besin net weer of die Gereformeerde Kerk in Empangeni steeds haar roeping vervul. Kom ons wees getrou aan ons naam steeds reformerend, dit wil sê weg te draai van die wêreld en terug te draai na die boodskap van die kruis. Kom ons draai opnuut weet terug na die kruis sodat ons met die krag en wysheid van God ’n verskil in ’n stukkende wêreld kan maak wat God nie ken.

Geliefdes, dit is nie toevallig dat hier in Empangeni ’n Gereformeerde Kerk is nie. God het ’n doel met ons. Kom ons rol ons moue op en pak die werk wat God vir ons gegee het met ywer aan.

Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking