2 Jun. 2013 Mat. 7:7-11 Fokusgedeelte
: Mat. 7:11
Lof-Psalm Ps. 89:1 &
3 (OAB)
Na Wet Ps. 1:1 (OAB)
Na Gebed Ps. 31:1 (OAB)
Slotsang Ps. 18:2
& 3 (OAB)
Verlede
week het ons gehoor dat ons elke dag biddend voor God moet leef. Tog gebeur dit
soms dat dit soms vir ons voel of God nie luister wanneer ons bid nie. Ons bid
worstelend en smeek die Here en dan voel dit asof die Here nie doen wat ons vra
nie!
Hoe moet ons dit dan verstaan as Jesus ons in Matteus 7:7-8 leer dat
ons moet bid en dat die Here dan ons gebed sal verhoor? Op ses verskillende maniere dra Jesus hierdie
waarheid oor. Hy sê:
“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry;
klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen
wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”
In
Jesus se tyd is die woorde “vra”, “soek” en “klop” as alternatiewe maniere
gebruik om te dui op bid.
- In gebed vra jy immers.
- As jy meer ernstig bid, dan soek jy die aangesig van
die Here.
- As jy op jou ernstigste en in groot nood tot die Here
roep, dan klop jy by wyse van spreke aan die poorte van die hemel.
§
Nou leer Jesus dat as jy biddend vra, jy sal
ontvang.
§
As jy ernstig die aangesig van die Here soek, sal
jy Hom vind.
§
En as jy aan die poorte van die hemel klop, sal
daar vir jou oopgemaak word.
As
hierdie dinge wat Jesus leer waar is, waarom voel dit soms asof die Here ons
nie gee wat ons vra nie, en nie hoor as ons klop nie?
Sommige
predikers het ʼn antwoord op hierdie probleem.
Hulle sê dat ons nie ontvang nie, omdat ons nie sterk genoeg glo nie, of
nie hard genoeg bid nie. Voorbeelde van
hierdie tipe denke is legio:
§
Iemand kan byvoorbeeld terminaal siek wees. Nou leer hierdie predikers dat daardie
persoon tot die Here moet bid om genesing.
Daar moet opreg en ernstig gebid word.
Volgens hierdie predikers sál daardie persoon nou gesond word, want God
gee aan almal wat in geloofsvertroue vra.
Word daardie persoon nie gesond nie, dan het daardie persoon óf nie hard
genoeg gebid nie, óf daardie persoon het nie sterk genoeg geglo nie.
Dink net hoe moedeloos en ontnugterd so ʼn persoon
is as sy gebed nie verhoor word nie? Hy
dink dan dat hy nie reg bid nie, of dat hy nie hard genoeg glo nie. Dan begin so ʼn persoon twyfel of hy regtig ʼn
kind van die Here is, en selfs of die Here regtig bestaan.
Wat
hierdie twyfel nog erger kan maak, is dat mens soms sulke wonderbaarlike
stories van gebedsverhoring hoor.
Stories soos:
§
Iemand vertel dat hy dringend X-bedrag geld nodig
gehad het. Sonder om enigiemand iets
daarvan te sê, het hy ernstig tot die Here hieroor gebid. Die volgende oggend was daardie bedrag tot op
die sent na in sy rekening gedeponeer deur iemand wat hy nie ken nie.
God
is almagtig en kan so iets laat gebeur.
Meeste van ons ervaar nie hierdie dinge nie. Ons hoor egter hierdie stories en dan begin ons
wonder:
Ø
“Hoekom gebeur hierdie dinge nie as óns bid
nie?”
Ø
“Bid ons verkeerd?”
Ø
“Glo ons nie sterk genoeg nie?”
Ons
kan ontnugterd raak in ons geloof. Ons
kan moedeloos raak in ons geloof en gebedslewe.
Dit lyk dan immers nie of God sy beloftes aangaande gebedverhoring aan
ons nakom nie!
Weet
julle – dit is so onnodig om ontnugterd te raak in ons geloof! Want predikers wat Matteus 7:7-11 uitlê op
die manier wat nou net genoem is, is besig om Matteus 7:7-11 verkeerd te lees,
verkeerd uit te lê en ʼn dwaal voorspoedsevangelie te verkondig.
Teenoor
hierdie wanhoop en twyfel wat deur hierdie dwalings in ons gewek kan word, skep
ʼn regte verstaan van ons teks ʼn ongelooflike troos en bemoediging in ons
binneste – selfs wanneer dit vir ons voel dat
§
ons vra, en niks ontvang nie,
§
soek en niks vind nie,
§
klop en daar nie vir ons oopgemaak word nie.
Ja,
ʼn regte verstaan van ons teks toon aan ons dat al voel dit asof ons vra en niks
ontvang nie, soek en niks vind nie, klop en daar nie oopgemaak word nie, ons
juis die rykste seëninge van ons Vader in die hemel ontvang...
Hoe moet ons, ons teksverse
reg lees om hierdie bemoediging te ontvang?
Geliefdes,
in verse 9 en 10 kry ons die sleutel om ons teks te verstaan. In hierdie verse vra Jesus twee voor die hand
liggende vrae: “Watter mens onder julle
sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, 10of ’n slang as hy vis vra?”
§ ’n Seun wat honger is en sy pa brood vra, sal nie ’n onteetbare klip (wat
dalk selfs soos ’n stuk brood kan lyk) ontvang nie. Sy pa weet dat sy seun honger is en kos nodig
het. Sy pa sal hom iets gee om sy honger te stil.
§ ’n Seun wat honger is en sy pa ’n stuk vis vra, sal ook nie ’n slang van sy
pa kry nie. Sy pa weet dat sy seun
honger is en kos nodig het. Sy pa sal
hom iets gee om sy honger te stil.
In
opvolging op hierdie twee opmerkings, maak Jesus dan die volgende stelling: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle
kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel
is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
Let op die
herhaaldelike gebruik van die woordjie “goed” in ons teksvers:
o
Eers word gesê dat aardse
vaders weet om “goeie dinge” vir hul kinders te gee.
Wat is
hierdie goeie dinge?
Hierdie goeie
dinge is dit wat die kinders nodig het!
Let op hoe
word die aardse vaders getipeer: “Julle
wat sleg is”
Hiermee bedoel Jesus dat aarde vaders
(wat in hierdie sondige wêreld leef en self onvolmaak is) weet wat hul kinders
nodig het en vir hulle kinders gee wat
hul nodig het.
o
Hierna maak Jesus ʼn
vergelyking: As (sondige, onvolmaakte) aardse vaders weet om vir hulle kinders
te gee wat hulle nodig het, hoeveel te meer weet ons (sondelose en volmaakte)
hemelse Vader nie wat ons nodig het nie.
Hy weet wat ons nodig het en sal ook daarin voorsien!
Hierdie is
die sleutel wat ons nodig het om te verstaan hoe ons kan vra en ontvang, soek
en vind, klop en vir ons oopgemaak sal word.
Wanneer ons
bid, sal die Here (as ons volmaakte hemelse Vader) op een van drie maniere ons
bede antwoord. (Hy sal ons op een van
drie maniere laat ontvang, vind en vir ons oopmaak.)
Die een
manier waarop die Here op ons gebed kan reageer is, om dat
Hy kan “nee” sê vir dit wat ons vra.
Soms vra ons
dinge wat nie goed is vir ons nie. ʼn
Seun vra soms iets van sy pa en die pa weet dat dit wat die seun vra nie goed
is vir die seun nie. Deur “nee” te sê,
doen die pa wat die beste is vir die seun, al hou die seun nie van die antwoord
nie.
Kom ek
gebruik ʼn voorbeeld. ʼn Seuntjie van 4
jaar kom by sy pa en vra vir ʼn skeermes.
Sal die pa vir die vier-jarige seuntjie ʼn skeermes gee? Hoekom?
Nee, die pa
sal nie die skeermes gee nie, want ten eerste sal die seuntjie homself daarmee
seermaak – hy weet immers nog nie hoe om dit te gebruik nie. Ten tweede het die seuntjie dit ook nog nie
nodig nie.
As die pa nie
vir die seuntjie die skeermes gee nie, het die pa nie die seuntjie se versoek
gehoor nie?
Nee, die pa
het gehoor. Die pa het egter geweet dat dit nie goed is om sy seun se versoek
te beantwoord nie. Tog, die pa kon dalk
agterkom dat die seuntjie behoefte het aan ʼn speelding, en dan kon hy ʼn ander
speelding vir die seun gee...
Soms vra ons
dinge van die Here, en as hemelse Vader weet Hy dat dit wat ons vra nie vir ons
goed is nie. Dan moet ons tevrede wees as Hy nie ons versoek toestaan nie. Ons moet ons berus in die wete dat Hy die
beste weet.
As die Here
nie gee wat ons vra nie, beteken dit dus nie dat ons geloof te swak is, of dat
die Here Hom nie aan ons steur nie. Nee,
die Here weet dat dit wat ons vra, nie die beste vir ons is nie – dit kan dalk
self tot ons eie nadeel wees. Nou gee Hy
nie aan ons wat ons vra nie.
ʼn Tweede
manier waarop die Here ons gebede kan antwoord, is dat
Hy kan “ja” sê vir dit wat ons vra.
Soms vra ons dinge wat ons
regtig nodig het. Wanneer ʼn dogter met ʼn
billike versoek na haar ma kom vir iets wat sy regtig benodig, sal die ma die
versoek toestaan. Die ma weet wat die
beste vir haar dogter is en deur “ja” te sê, doen sy wat die beste vir haar
dogter is.
Terug na die voorbeeld van
die skeermes. Gestel ʼn seun van so 14-15 kom by sy pa en vra vir ʼn
skeermes. Sal die pa hom ʼn skeermes gee?
Na alle waarskynlikheid,
ja! Hoekom?
Want die seun het die
skeermes nou nodig en sal ook weet hoe om dit te hanteer sodat hy homself nie
seermaak nie.
As ons moet ʼn billike
versoek na die Here kom vir iets wat ons regtig nodig het, sal die Here as ons
hemelse Vader ons versoek toestaan en gee wat ons vra as Hy weet ons dit regtig
nodig het!
Let egter op, dit hang nie
van ons af om te bepaal wat ons waarlik nodig het nie. Ons hemelse Vader weet wat ons waarlik nodig
het! Dinge wat ons dink ons waarlik
nodig het, is dalk nie regtig so nodig het nie.
Ons troos is dat ons op
ons hemelse Vader kan vertrou. Hy weet
wat ons regtig nodig het. Hy sal ons gee
wat ons regtig nodig het.
ʼn Derde manier waarop die
Here op ons gebede kan antwoord, is dat
Hy kan sê “wag” as ons iets vra.
Soms vra ons dinge wat nie
goed is om nou dadelik te kry nie. Ons
moet dalk eers ryper word of ander perspektiewe in die lewe verkry.
Daardie seuntjie van
4-jaar wat ʼn skeermes wou gehad het, moes 10-jaar wag. Hy moes eers grootword en ryp word.
Soms laat die Here ons ook
wag as ons van Hom iets vra. Ons moet
eers grootword en ryp word vir dit wat ons wil hê. ʼn Jong, onervare vlieënier wat pas maar
geleer het om ʼn klein vliegtuigie te vlieg, kan immers nie dadelik ʼn groot
passasierstraler vlieg nie. Hy moet wag,
leer, ervaring opdoen en ryp word voor dit kan gebeur.
Soms vra ons dinge van die
Here wat ons nodig het, maar waarvoor ons nog nie ryp genoeg is nie. Dan hoor die Here, maar as alwyse Vader laat
Hy ons wag tot die tyd ryp is...
Samevatting
Geliefdes, wat het ons
vanoggend weer gehoor?
Ons het gehoor dat ons met
vrymoedigheid tot die Here kan bid. Ons
mag en moet tot Hom bid. Ons mag
vra. Ons moet soek. Ons mag in gebed aan die poorte van die hemel
klop.
God sal ʼn antwoord hierop
gee. God sal ons laat vind. God sal vir ons oopmaak.
As alwyse Vader sal Hy ons
egter nie altyd gee en laat vind wat ons wil hê nie. Goddank nie!
Nee, veel beter: Hy is ons hemelse Vader en weet wat ons nodig het.
- Hy sal ons gee wat
ons regtig nodig het.
- Hy sal ons laat vind
wat die beste vir ons is.
- Hy sal vir ons die
beste seëninge oopmaak wat Hy as hemelse Vader vir ons kan gee.
Bid daarom met
vrymoedigheid.
Weet God hoor.
§ Berus met
vreugde in sy beswil as Hy sê “nee” of “wag”.
§ Prys Hom as
Hy dadelik “ja” sê!
AMEN
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking