Wys tans plasings met die etiket God antwoord. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God antwoord. Wys alle plasings

18 Julie 2013

God antwoord gebede op 3 maniere

2 Jun. 2013 Mat. 7:7-11 Fokusgedeelte : Mat. 7:11
Lof-Psalm Ps. 89:1 & 3           (OAB)
Na Wet Ps. 1:1                        (OAB)
Na Gebed Ps. 31:1                  (OAB)
Slotsang Ps. 18:2 & 3              (OAB)

Verlede week het ons gehoor dat ons elke dag biddend voor God moet leef. Tog gebeur dit soms dat dit soms vir ons voel of God nie luister wanneer ons bid nie. Ons bid worstelend en smeek die Here en dan voel dit asof die Here nie doen wat ons vra nie!

Hoe moet ons dit dan verstaan as Jesus ons in Matteus 7:7-8 leer dat ons moet bid en dat die Here dan ons gebed sal verhoor?  Op ses verskillende maniere dra Jesus hierdie waarheid oor.  Hy sê:

 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

In Jesus se tyd is die woorde “vra”, “soek” en “klop” as alternatiewe maniere gebruik om te dui op bid. 
  • In gebed vra jy immers. 
  • As jy meer ernstig bid, dan soek jy die aangesig van die Here. 
  • As jy op jou ernstigste en in groot nood tot die Here roep, dan klop jy by wyse van spreke aan die poorte van die hemel.
§      Nou leer Jesus dat as jy biddend vra, jy sal ontvang.
§      As jy ernstig die aangesig van die Here soek, sal jy Hom vind.
§      En as jy aan die poorte van die hemel klop, sal daar vir jou oopgemaak word.
As hierdie dinge wat Jesus leer waar is, waarom voel dit soms asof die Here ons nie gee wat ons vra nie, en nie hoor as ons klop nie?
Sommige predikers het ʼn antwoord op hierdie probleem.  Hulle sê dat ons nie ontvang nie, omdat ons nie sterk genoeg glo nie, of nie hard genoeg bid nie.  Voorbeelde van hierdie tipe denke is legio:
§      Iemand kan byvoorbeeld terminaal siek wees.  Nou leer hierdie predikers dat daardie persoon tot die Here moet bid om genesing.  Daar moet opreg en ernstig gebid word.  Volgens hierdie predikers sál daardie persoon nou gesond word, want God gee aan almal wat in geloofsvertroue vra.  Word daardie persoon nie gesond nie, dan het daardie persoon óf nie hard genoeg gebid nie, óf daardie persoon het nie sterk genoeg geglo nie.
Dink net hoe moedeloos en ontnugterd so ʼn persoon is as sy gebed nie verhoor word nie?  Hy dink dan dat hy nie reg bid nie, of dat hy nie hard genoeg glo nie.  Dan begin so ʼn persoon twyfel of hy regtig ʼn kind van die Here is, en selfs of die Here regtig bestaan.
Wat hierdie twyfel nog erger kan maak, is dat mens soms sulke wonderbaarlike stories van gebedsverhoring hoor.  Stories soos:
§      Iemand vertel dat hy dringend X-bedrag geld nodig gehad het.  Sonder om enigiemand iets daarvan te sê, het hy ernstig tot die Here hieroor gebid.  Die volgende oggend was daardie bedrag tot op die sent na in sy rekening gedeponeer deur iemand wat hy nie ken nie.
God is almagtig en kan so iets laat gebeur.  Meeste van ons ervaar nie hierdie dinge nie.  Ons hoor egter hierdie stories en dan begin ons wonder:
Ø      “Hoekom gebeur hierdie dinge nie as óns bid nie?”  
Ø      “Bid ons verkeerd?” 
Ø      “Glo ons nie sterk genoeg nie?” 
Ons kan ontnugterd raak in ons geloof.  Ons kan moedeloos raak in ons geloof en gebedslewe.  Dit lyk dan immers nie of God sy beloftes aangaande gebedverhoring aan ons nakom nie!
Weet julle – dit is so onnodig om ontnugterd te raak in ons geloof!  Want predikers wat Matteus 7:7-11 uitlê op die manier wat nou net genoem is, is besig om Matteus 7:7-11 verkeerd te lees, verkeerd uit te lê en ʼn dwaal voorspoedsevangelie te verkondig.
Teenoor hierdie wanhoop en twyfel wat deur hierdie dwalings in ons gewek kan word, skep ʼn regte verstaan van ons teks ʼn ongelooflike troos en bemoediging in ons binneste – selfs wanneer dit vir ons voel dat
§      ons vra, en niks ontvang nie,
§      soek en niks vind nie,
§      klop en daar nie vir ons oopgemaak word nie.
Ja, ʼn regte verstaan van ons teks toon aan ons dat al voel dit asof ons vra en niks ontvang nie, soek en niks vind nie, klop en daar nie oopgemaak word nie, ons juis die rykste seëninge van ons Vader in die hemel ontvang...
Hoe moet ons, ons teksverse

reg lees om hierdie bemoediging te ontvang?

Geliefdes, in verse 9 en 10 kry ons die sleutel om ons teks te verstaan.  In hierdie verse vra Jesus twee voor die hand liggende vrae: “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, 10of ’n slang as hy vis vra?”
§      ’n Seun wat honger is en sy pa brood vra, sal nie ’n onteetbare klip (wat dalk selfs soos ’n stuk brood kan lyk) ontvang nie.  Sy pa weet dat sy seun honger is en kos nodig het. Sy pa sal hom iets gee om sy honger te stil.
§      ’n Seun wat honger is en sy pa ’n stuk vis vra, sal ook nie ’n slang van sy pa kry nie.  Sy pa weet dat sy seun honger is en kos nodig het.  Sy pa sal hom iets gee om sy honger te stil.
In opvolging op hierdie twee opmerkings, maak Jesus dan die volgende stelling: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
Let op die herhaaldelike gebruik van die woordjie “goed” in ons teksvers:
o        Eers word gesê dat aardse vaders weet om “goeie dinge” vir hul kinders te gee. 
Wat is hierdie goeie dinge?
Hierdie goeie dinge is dit wat die kinders nodig het!
Let op hoe word die aardse vaders getipeer: “Julle wat sleg is”
Hiermee bedoel Jesus dat aarde vaders (wat in hierdie sondige wêreld leef en self onvolmaak is) weet wat hul kinders nodig het  en vir hulle kinders gee wat hul nodig het.
o        Hierna maak Jesus ʼn vergelyking: As (sondige, onvolmaakte) aardse vaders weet om vir hulle kinders te gee wat hulle nodig het, hoeveel te meer weet ons (sondelose en volmaakte) hemelse Vader nie wat ons nodig het nie.  Hy weet wat ons nodig het en sal ook daarin voorsien! 
Hierdie is die sleutel wat ons nodig het om te verstaan hoe ons kan vra en ontvang, soek en vind, klop en vir ons oopgemaak sal word.
Wanneer ons bid, sal die Here (as ons volmaakte hemelse Vader) op een van drie maniere ons bede antwoord.  (Hy sal ons op een van drie maniere laat ontvang, vind en vir ons oopmaak.)
Die een manier waarop die Here op ons gebed kan reageer is, om dat
Hy kan “nee” sê vir dit wat ons vra.
Soms vra ons dinge wat nie goed is vir ons nie.  ʼn Seun vra soms iets van sy pa en die pa weet dat dit wat die seun vra nie goed is vir die seun nie.  Deur “nee” te sê, doen die pa wat die beste is vir die seun, al hou die seun nie van die antwoord nie.
Kom ek gebruik ʼn voorbeeld.  ʼn Seuntjie van 4 jaar kom by sy pa en vra vir ʼn skeermes.  Sal die pa vir die vier-jarige seuntjie ʼn skeermes gee?  Hoekom?
Nee, die pa sal nie die skeermes gee nie, want ten eerste sal die seuntjie homself daarmee seermaak – hy weet immers nog nie hoe om dit te gebruik nie.  Ten tweede het die seuntjie dit ook nog nie nodig nie.
As die pa nie vir die seuntjie die skeermes gee nie, het die pa nie die seuntjie se versoek gehoor nie?
Nee, die pa het gehoor. Die pa het egter geweet dat dit nie goed is om sy seun se versoek te beantwoord nie.  Tog, die pa kon dalk agterkom dat die seuntjie behoefte het aan ʼn speelding, en dan kon hy ʼn ander speelding vir die seun gee...
Soms vra ons dinge van die Here, en as hemelse Vader weet Hy dat dit wat ons vra nie vir ons goed is nie. Dan moet ons tevrede wees as Hy nie ons versoek toestaan nie.  Ons moet ons berus in die wete dat Hy die beste weet.
As die Here nie gee wat ons vra nie, beteken dit dus nie dat ons geloof te swak is, of dat die Here Hom nie aan ons steur nie.  Nee, die Here weet dat dit wat ons vra, nie die beste vir ons is nie – dit kan dalk self tot ons eie nadeel wees.  Nou gee Hy nie aan ons wat ons vra nie.
ʼn Tweede manier waarop die Here ons gebede kan antwoord, is dat
Hy kan “ja” sê vir dit wat ons vra.
Soms vra ons dinge wat ons regtig nodig het.  Wanneer ʼn dogter met ʼn billike versoek na haar ma kom vir iets wat sy regtig benodig, sal die ma die versoek toestaan.  Die ma weet wat die beste vir haar dogter is en deur “ja” te sê, doen sy wat die beste vir haar dogter is.
Terug na die voorbeeld van die skeermes. Gestel ʼn seun van so 14-15 kom by sy pa en vra vir ʼn skeermes.  Sal die pa hom ʼn skeermes gee?
Na alle waarskynlikheid, ja!  Hoekom?
Want die seun het die skeermes nou nodig en sal ook weet hoe om dit te hanteer sodat hy homself nie seermaak nie.
As ons moet ʼn billike versoek na die Here kom vir iets wat ons regtig nodig het, sal die Here as ons hemelse Vader ons versoek toestaan en gee wat ons vra as Hy weet ons dit regtig nodig het!
Let egter op, dit hang nie van ons af om te bepaal wat ons waarlik nodig het nie.  Ons hemelse Vader weet wat ons waarlik nodig het!  Dinge wat ons dink ons waarlik nodig het, is dalk nie regtig so nodig het nie.
Ons troos is dat ons op ons hemelse Vader kan vertrou.  Hy weet wat ons regtig nodig het.  Hy sal ons gee wat ons regtig nodig het. 
ʼn Derde manier waarop die Here op ons gebede kan antwoord, is dat
Hy kan sê “wag” as ons iets vra.
Soms vra ons dinge wat nie goed is om nou dadelik te kry nie.  Ons moet dalk eers ryper word of ander perspektiewe in die lewe verkry. 
Daardie seuntjie van 4-jaar wat ʼn skeermes wou gehad het, moes 10-jaar wag.  Hy moes eers grootword en ryp word.
Soms laat die Here ons ook wag as ons van Hom iets vra.  Ons moet eers grootword en ryp word vir dit wat ons wil hê.  ʼn Jong, onervare vlieënier wat pas maar geleer het om ʼn klein vliegtuigie te vlieg, kan immers nie dadelik ʼn groot passasierstraler vlieg nie.  Hy moet wag, leer, ervaring opdoen en ryp word voor dit kan gebeur.
Soms vra ons dinge van die Here wat ons nodig het, maar waarvoor ons nog nie ryp genoeg is nie.  Dan hoor die Here, maar as alwyse Vader laat Hy ons wag tot die tyd ryp is...

Samevatting

Geliefdes, wat het ons vanoggend weer gehoor?
Ons het gehoor dat ons met vrymoedigheid tot die Here kan bid.  Ons mag en moet tot Hom bid.  Ons mag vra.  Ons moet soek.  Ons mag in gebed aan die poorte van die hemel klop.
God sal ʼn antwoord hierop gee.  God sal ons laat vind.  God sal vir ons oopmaak.
As alwyse Vader sal Hy ons egter nie altyd gee en laat vind wat ons wil hê nie.  Goddank nie!  Nee, veel beter: Hy is ons hemelse Vader en weet wat ons nodig het. 
  • Hy sal ons gee wat ons regtig nodig het.
  • Hy sal ons laat vind wat die beste vir ons is.
  • Hy sal vir ons die beste seëninge oopmaak wat Hy as hemelse Vader vir ons kan gee.
Bid daarom met vrymoedigheid. 
Weet God hoor. 
§      Berus met vreugde in sy beswil as Hy sê “nee” of “wag”. 
§      Prys Hom as Hy dadelik “ja” sê!

AMEN