Lees: Jona 1 & 2
Teksverse Jona 2
8 Okt 2017 GKE
Sing:
Sb 14-2
Jona en die
vis is seker een van die bekendste verhale in die Bybel. En tog gaan die
verhaal nie eintlik oor die vis nie. Wanneer daar oor die verhaal gepraat word
land die gesprek so maklik op ’n syspoor van watse tipe vis was dit nou
eintlik? Was dit dalk ’n walvis, maar ’n walvis kan nie ’n mens insluk nie. Is
dit ’n ware verhaal of is dit net ’n gelykenis? En met al hierdie gesprekke
word die hele boodskap van hierdie verhaal gemis! Dit gaan nie hier oor die vis
nie, maar wel oor hoe groot God se genade is!
Hierdie
verhaal beskryf vir ons hoe God se kinders deur middel van krisisse in hul
lewens op daardie punt kom waar hulle net nie meer kan aangaan nie. Dit vertel
vir ons van God se liefde en sorg en dat sy verbintenis om sy beloftes na te
kom groter is as die sonde van sy kinders.
Ons hoor hier
die verhaal van ’n profeet wat eerder van God af wou wegvlug as om Hom te
gehoorsaam. Die Here gee aan Jona die opdrag om die Assiriërs, Israel se
grootse vyande, te waarsku oor God se komende oordeel. Jona wil egter nie want
hy is bang dat die Assiriërs hulself gaan bekeer en dat God dan genade aan
hulle gaan betoon. Daarom besluit hy om van God af weg te vlug.
Ons hoor die
refrein in die verhaal, weg van die Here af wat herhaal word en dan ook hoe
Jona afgaan het. Eers af na Joppe toe waar hy op ’n skip probeer wegvaar van
die Here af en dan oorboord weer verder af in die vis tot op die bodem van die
see, by die fondamente van die berge.
Hier waar
Jona op sy laagste is beskryf vir ons die swaarkry, die pyn en lyding, die
verwarring wat pyn en lyding in ’n mens se lewe verteenwoordig. Dit is wat Jona
daar in die maag van die vis met die seegrasse om sy kop beleef het. In sommige
gevalle, soos met Jona is dit deur jou eie toedoen, maar in ander gevalle is
deur die toedoen van ander of die omstandighede in die lewe wat maak dat jy
jouself onder in die vis se maag met die seegrasse om jou kop daar by die
fondamente van die berge bevind.
Hierdie
verhaal gee vir ons hoop want wanneer Jona daar diep in die see binne in die
vis van die maag is nadat hy sover as moontlik van die Here af probeer wegvlug
het vind ons dat die Here juis daar teenwoordig is! Met hierdie verhaal sê die
Here vir elkeen van ons dat Hy veral in die moeilike omstandighede in ons
lewens teenwoordig is.
Die gebed van
Jona gee vir ons die bril waardeer ons na die donker plekke in ons lewens moet
kyk. Of dit nou deur ons eie toedoen is of deur die toedoen van ander of a.g.v.
omstandighede waaroor ons geen beheer het nie wys die Here vir ons met Jona hoe
ons perspektief kan kry daaroor.
Deur gebed beleef
jy op ’n besondere manier hoe jou verhouding met die Here jou dra in tye van
swaarkry. In Jona 2 v 2 hoor ons hoe Jona in sy nood tot die Here roep toe hy
nie meer geweet het waarnatoe nie. Soms raak jou lewe so buite beheer dat jy
nie meer weet watter kant toe nie en al wat jy kan doen is om in jou nood uit
te roep “Help my!”
En dan hoor
ons die wonderlike troos “Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het
ek hulp gevra,en U, Here, het my gehoor.” Die ironie, daar waar Jona
veronderstel is om op sy verste van die Here te wees, is die Here intens
teenwoordig. Ons dink so maklik dat God ons verlaat het wanneer ons swaarkry en
dat Hy nie oor ons omgee nie. Hier bevestig God opnuut weer dat Hy jou nooit
alleen laat nie. Hy luister wanneer jy in nood na Hom roep en Hy weet presies
waar jy is. Jy is nie alleen nie!
In Jona 2v3
hoor ons die verbasende waarheid, ons kan amper sê die ontstellende waarheid!
U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my
omring. U het golf na golf oor my laat gaan.
Dit is deur
die Here se toedoen dat Jona in die vis se maag is. Is dit God se skuld dat ons
swaarkry? Straf Hy ons met swaarkry?
Nee
geliefdes, God is nie besig met straf nie, dit is juis sy genade wat so helder
skyn. Hier sien ons dat selfs die moeilikste en onmoontlikste omstandighede nie
buite God se beheer is nie. Hy is nie afwesig nie, maar anders as wat ons sou
verwag weerhou Hy nie altyd die swaarkry van ons af nie. Soms gebruik die Here
swaarkry juis om ons weer by daai punt te bring sodat ons kan besef hoe
afhanklik ons van Hom is en dat ons nie sonder Hom kan wees nie.
In Jona 2 v 4
hoor ons dan juis hoe Jona se swaarkry hom opnuut weer laat besef hoe nodig hy
God het.
Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige
tempel aanskou.
Jona wou vry
van God wees en hy het aanvanklik gedink dit sal baie lekker wees. Want dan kan
hy doen wat hy wil en is hy nie meer gepla met al die moets en moenies wat sy
pret bederf nie. Nou besef hy dat dit wat hy so graag wou gehad het baie sleg
en nie lekker is nie! Hy besef nou eers hoe nodig hy God werklik het.
Is dit nie
ook maar dikwels ons probleem nie? Ons wil tog maar net so bietjie vry van God
se gesag wees. Moet ek al weer Sondag gaan luister na al die dinge wat ek nie
mag doen nie? Ek wil tog net so bietjie wegkom van die kerk dinge. Dan kom ek
op ’n stadium agter dat om sonder God te wees nie so lekker is nie! Dit is net
God wat lewe gee en nie een van ons kan sonder Hom bestaan nie.
Verder in die
gebed hoor ons hoe Jona besef dat dit nie net is dat hy God nodig het nie, maar
dat God al is wat hy nodig het soos ons hoor in Jona 2:5&6:
Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om
my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde
het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered.
Hy het niks
meer nodig gehad nie. Daar waar hy in die maag van die vis was het hy in
homself niks gehad wat hom uit sy situasie kon red nie. Dit is net God wat hom
kon red en God het ook soos Jona bevestig met die woorde “Maar U, Here my
God, het my van die dood gered.”
Hier besef
Jona dat dit beter is om saam met God in die vis se maag te wees as wat dit sou
wees om sonder God in Tarsis te wees. Dit is beter om saam met God in die
moeilikste omstandighede te wees as wat dit sonder God sal wees in die mees
gunstigste omstandighede. Dit is juis deur swaarkry wat ons intens weer die
liefde en trou van God ervaar en dat ons dan weereens besef dat ons niks anders
as God nodig het nie.
In Jona 2 v 7
hoor ons hoe Jona onthou wat God alles in sy lewe al vir hom gedoen het. Hy het
weer onthou hoe spesiaal dit is om in ’n verhouding met God te leef.
Geliefdes,
onthou u wat het God al alles in u lewe beteken? Onthou u hoe spesiaal u vir
Hom is? So spesiaal dat Hy bereid was om Homself so te verneder om ’n
eenvoudige mens te word. Dat Hy bereid was om die vernedering van ’n vervloekte
kruisdood in u plek te dra! Dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe en dat
Hy dit gedoen het uit liefde sodat jy weer in ’n verhouding met Hom kan leef.
Onthou hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek sodat jy
weer heeltemal met die volheid van God vervul kan word. Onthou dat dit nie saak
maak wat met jou gebeur nie want daar is niks wat jou van die liefde van God
kan skei nie.
In Jona 2 v 8
hoor ons hoe Jona besef dat die afgod van die eie ek net ellende bring. Toe
Jona weggevlug het van die Here af, het hy op die afgod van self staat gemaak.
Nou hoor ons hoe hy tot die besef kom dat die afgod van die eie ek niks anders
as ellende bring nie. En dit bring hom om in aanbidding tot die Here te nader
soos ons hoor in Jona 2v9:
Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het,
sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.”
En in Jona
2v10 hoor ons die wonderlike belofte dat tye van swaarkry nie vir altyd aanhou
nie. Dit word beter, nie net in hierdie lewe nie, maar ons sien uit na die tyd
wanneer ons ewig saam met God sal wees sonder al die swaarkry van hierdie lewe.
Soms bring
die lewe jou op ’n plek waar jy niks anders kan doen as om in jou nood na die
Here te roep nie. Dit is dan wanneer jy besef dat die Here in die grootste
swaarkry en onmoontlikste omstandighede intens teenwoordig is. Dit is dan
wanneer jy besef dat niks buite God se beheer is nie. Dit is dan wanneer jy
werklik begin verstaan dat jy God nodig het en dat jy niks anders as God nodig
het nie. Wanneer jy in gebed in jou nood tot die Here roep onthou wat God alles
vir jou gedoen het. Onthou dat Hy sy Seun gestuur het om aan ’n vervloekte
kruishout vir jou sondes te sterf sodat jy in ’n verhouding met Hom kan leef.
Onthou dat daar niks is wat jou van sy liefde kan skei nie. Onthou dat die
afgod van die eie ek net ellende bring en buig in aanbidding tot God om werklik
die grootheid van sy liefde in jou lewe te ervaar.
Roep in gebed
tot God in tye van nood.
Amen