Wys tans plasings met die etiket Jona. Jona en die vis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jona. Jona en die vis. Wys alle plasings

08 Oktober 2017

Roep in gebed tot God in tye van nood

Lees: Jona 1 & 2 
Teksverse Jona 2
8 Okt 2017 GKE
Sing:
Ps. 46-1 v 1 & 6
Ps. 102-2 v 1 & 9
Ps. 130-1 v 1 - 4

Sb 14-2








Jona en die vis is seker een van die bekendste verhale in die Bybel. En tog gaan die verhaal nie eintlik oor die vis nie. Wanneer daar oor die verhaal gepraat word land die gesprek so maklik op ’n syspoor van watse tipe vis was dit nou eintlik? Was dit dalk ’n walvis, maar ’n walvis kan nie ’n mens insluk nie. Is dit ’n ware verhaal of is dit net ’n gelykenis? En met al hierdie gesprekke word die hele boodskap van hierdie verhaal gemis! Dit gaan nie hier oor die vis nie, maar wel oor hoe groot God se genade is!

Hierdie verhaal beskryf vir ons hoe God se kinders deur middel van krisisse in hul lewens op daardie punt kom waar hulle net nie meer kan aangaan nie. Dit vertel vir ons van God se liefde en sorg en dat sy verbintenis om sy beloftes na te kom groter is as die sonde van sy kinders.

Ons hoor hier die verhaal van ’n profeet wat eerder van God af wou wegvlug as om Hom te gehoorsaam. Die Here gee aan Jona die opdrag om die Assiriërs, Israel se grootse vyande, te waarsku oor God se komende oordeel. Jona wil egter nie want hy is bang dat die Assiriërs hulself gaan bekeer en dat God dan genade aan hulle gaan betoon. Daarom besluit hy om van God af weg te vlug.

Ons hoor die refrein in die verhaal, weg van die Here af wat herhaal word en dan ook hoe Jona afgaan het. Eers af na Joppe toe waar hy op ’n skip probeer wegvaar van die Here af en dan oorboord weer verder af in die vis tot op die bodem van die see, by die fondamente van die berge.

Hier waar Jona op sy laagste is beskryf vir ons die swaarkry, die pyn en lyding, die verwarring wat pyn en lyding in ’n mens se lewe verteenwoordig. Dit is wat Jona daar in die maag van die vis met die seegrasse om sy kop beleef het. In sommige gevalle, soos met Jona is dit deur jou eie toedoen, maar in ander gevalle is deur die toedoen van ander of die omstandighede in die lewe wat maak dat jy jouself onder in die vis se maag met die seegrasse om jou kop daar by die fondamente van die berge bevind.

Hierdie verhaal gee vir ons hoop want wanneer Jona daar diep in die see binne in die vis van die maag is nadat hy sover as moontlik van die Here af probeer wegvlug het vind ons dat die Here juis daar teenwoordig is! Met hierdie verhaal sê die Here vir elkeen van ons dat Hy veral in die moeilike omstandighede in ons lewens teenwoordig is.

Die gebed van Jona gee vir ons die bril waardeer ons na die donker plekke in ons lewens moet kyk. Of dit nou deur ons eie toedoen is of deur die toedoen van ander of a.g.v. omstandighede waaroor ons geen beheer het nie wys die Here vir ons met Jona hoe ons perspektief kan kry daaroor.

Deur gebed beleef jy op ’n besondere manier hoe jou verhouding met die Here jou dra in tye van swaarkry. In Jona 2 v 2 hoor ons hoe Jona in sy nood tot die Here roep toe hy nie meer geweet het waarnatoe nie. Soms raak jou lewe so buite beheer dat jy nie meer weet watter kant toe nie en al wat jy kan doen is om in jou nood uit te roep “Help my!”

En dan hoor ons die wonderlike troos “Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra,en U, Here, het my gehoor.” Die ironie, daar waar Jona veronderstel is om op sy verste van die Here te wees, is die Here intens teenwoordig. Ons dink so maklik dat God ons verlaat het wanneer ons swaarkry en dat Hy nie oor ons omgee nie. Hier bevestig God opnuut weer dat Hy jou nooit alleen laat nie. Hy luister wanneer jy in nood na Hom roep en Hy weet presies waar jy is. Jy is nie alleen nie!

In Jona 2v3 hoor ons die verbasende waarheid, ons kan amper sê die ontstellende waarheid!
U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan.
Dit is deur die Here se toedoen dat Jona in die vis se maag is. Is dit God se skuld dat ons swaarkry? Straf Hy ons met swaarkry?

Nee geliefdes, God is nie besig met straf nie, dit is juis sy genade wat so helder skyn. Hier sien ons dat selfs die moeilikste en onmoontlikste omstandighede nie buite God se beheer is nie. Hy is nie afwesig nie, maar anders as wat ons sou verwag weerhou Hy nie altyd die swaarkry van ons af nie. Soms gebruik die Here swaarkry juis om ons weer by daai punt te bring sodat ons kan besef hoe afhanklik ons van Hom is en dat ons nie sonder Hom kan wees nie.

In Jona 2 v 4 hoor ons dan juis hoe Jona se swaarkry hom opnuut weer laat besef hoe nodig hy God het.
Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.
Jona wou vry van God wees en hy het aanvanklik gedink dit sal baie lekker wees. Want dan kan hy doen wat hy wil en is hy nie meer gepla met al die moets en moenies wat sy pret bederf nie. Nou besef hy dat dit wat hy so graag wou gehad het baie sleg en nie lekker is nie! Hy besef nou eers hoe nodig hy God werklik het.

Is dit nie ook maar dikwels ons probleem nie? Ons wil tog maar net so bietjie vry van God se gesag wees. Moet ek al weer Sondag gaan luister na al die dinge wat ek nie mag doen nie? Ek wil tog net so bietjie wegkom van die kerk dinge. Dan kom ek op ’n stadium agter dat om sonder God te wees nie so lekker is nie! Dit is net God wat lewe gee en nie een van ons kan sonder Hom bestaan nie.

Verder in die gebed hoor ons hoe Jona besef dat dit nie net is dat hy God nodig het nie, maar dat God al is wat hy nodig het soos ons hoor in Jona 2:5&6:
Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered.
Hy het niks meer nodig gehad nie. Daar waar hy in die maag van die vis was het hy in homself niks gehad wat hom uit sy situasie kon red nie. Dit is net God wat hom kon red en God het ook soos Jona bevestig met die woorde “Maar U, Here my God, het my van die dood gered.”

Hier besef Jona dat dit beter is om saam met God in die vis se maag te wees as wat dit sou wees om sonder God in Tarsis te wees. Dit is beter om saam met God in die moeilikste omstandighede te wees as wat dit sonder God sal wees in die mees gunstigste omstandighede. Dit is juis deur swaarkry wat ons intens weer die liefde en trou van God ervaar en dat ons dan weereens besef dat ons niks anders as God nodig het nie.

In Jona 2 v 7 hoor ons hoe Jona onthou wat God alles in sy lewe al vir hom gedoen het. Hy het weer onthou hoe spesiaal dit is om in ’n verhouding met God te leef.

Geliefdes, onthou u wat het God al alles in u lewe beteken? Onthou u hoe spesiaal u vir Hom is? So spesiaal dat Hy bereid was om Homself so te verneder om ’n eenvoudige mens te word. Dat Hy bereid was om die vernedering van ’n vervloekte kruisdood in u plek te dra! Dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe en dat Hy dit gedoen het uit liefde sodat jy weer in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek sodat jy weer heeltemal met die volheid van God vervul kan word. Onthou dat dit nie saak maak wat met jou gebeur nie want daar is niks wat jou van die liefde van God kan skei nie.

In Jona 2 v 8 hoor ons hoe Jona besef dat die afgod van die eie ek net ellende bring. Toe Jona weggevlug het van die Here af, het hy op die afgod van self staat gemaak. Nou hoor ons hoe hy tot die besef kom dat die afgod van die eie ek niks anders as ellende bring nie. En dit bring hom om in aanbidding tot die Here te nader soos ons hoor in Jona 2v9:
Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.”

En in Jona 2v10 hoor ons die wonderlike belofte dat tye van swaarkry nie vir altyd aanhou nie. Dit word beter, nie net in hierdie lewe nie, maar ons sien uit na die tyd wanneer ons ewig saam met God sal wees sonder al die swaarkry van hierdie lewe.

Soms bring die lewe jou op ’n plek waar jy niks anders kan doen as om in jou nood na die Here te roep nie. Dit is dan wanneer jy besef dat die Here in die grootste swaarkry en onmoontlikste omstandighede intens teenwoordig is. Dit is dan wanneer jy besef dat niks buite God se beheer is nie. Dit is dan wanneer jy werklik begin verstaan dat jy God nodig het en dat jy niks anders as God nodig het nie. Wanneer jy in gebed in jou nood tot die Here roep onthou wat God alles vir jou gedoen het. Onthou dat Hy sy Seun gestuur het om aan ’n vervloekte kruishout vir jou sondes te sterf sodat jy in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou dat daar niks is wat jou van sy liefde kan skei nie. Onthou dat die afgod van die eie ek net ellende bring en buig in aanbidding tot God om werklik die grootheid van sy liefde in jou lewe te ervaar.

Roep in gebed tot God in tye van nood.
Amen