Wys tans plasings met die etiket nood. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket nood. Wys alle plasings

19 Januarie 2021

Die HERE hoor jou hulpgeroep

 Ps. 40 v 2

Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.

 This devotion is also available in English



Psalm 40 is 'n gebed om redding in 'n tyd van nood. In sy nood draai die Psalmdigter na die HERE toe en hy onthou hoe die HERE hom in die verlede gehelp het. Dit is die basis waarop hy ook nou in sy nood na die HERE roep.

 Onthou wat die HERE vir jou gedoen het. God het sy Seun gestuur om mens te word sodat Hy vir jou sondes aan die kruis kon sterf. Dink net bietjie. As Hy bereid was om dit te doen, sal Hy dan jou ook nie nou help nie? Jesus Christus is die grond waarop ons die Naam van die HERE aanroep.

 Kyk bietjie terug oor jou lewe en onthou hoe die HERE jou in die verlede gehelp het. Hy sal na jou toe afbuig en luister na jou hulpgeroep.

Amen

16 Desember 2018

God is ʼn toevlug in die nood


Ps. 46 Teksvers Ps. 46 v 2 & 12
16 Des 2018 GKE Geloftediens




Sing:
Ps. 48-1 v 1, 4 & 5
Sb. 4-8 v 1 & 2
Ps. 34-1 v 1, 5 & 6
Ps. 46-1 v 1 & 6


Honderd en tagtig jaar gelede is daar ’n Gelofte uit nood gebore wat as ’n smeekgebed aan God gerig is. Op 16 Des. 1838 het ongeveer 470 boere krygers ʼn oormag van tussen 12 000 tot 15 000 Zoeloes in die gesig gestaar. Menslik gesproke was die oormag te groot.

Op Saterdag 15 Des. 1838 bereik die manne ʼn plek wat perfek was om die laer op te slaan. Die posisie van die laer sou die Zoeloes dwing om hoofsaaklik uit die noordweste aan te val aangesien die rivier aan die oostekant en die sloot aan die suidekant die laer beskerm het. Die aand was baie donker en boonop het 'n digte mis oor die gebied getrek. Daardie nag het geen aanval plaasgevind nie.

Die bekende fisikus, Prof. Lotz Strauss, het vasgestel dat Maandag, 17 Desember 1838 nuwemaan was en dit bevestig dat die nag van 16 Desember donkermaan was. Nie een van die vegtende partye kon vooraf die tyd van ontmoeting bepaal nie, tog was hulle bestem om mekaar op 16 Desember te ontmoet met donkermaan.

Die Zoeloes het reeds geweet dat vogtige lug die ontvlamming van buskruit kan verhinder, en het gedink hulle sou die Voortrekkers maklik in die vroeë oggend kon doodsteek. Anders as wat normaalweg gebeur, het die mis voordag opgeklaar en was Sondag, 16 Desember 1838 'n helder, sonnige dag.
Ten spyte van verwoede pogings kon geeneen van die Zulu krygers die waens bereik nie. Na omtrent drie uur se geveg het die Zoeloes tou opgegooi en het Pretorius 'n paar berede aanvalle buitentoe onderneem om die Zoeloes te dwing om weer te probeer of om hulle te verjaag. Pretorius self en nog twee Trekkers het assegaaiwonde opgedoen, maar kon voortgaan met die geveg. Geeneen van die boeremagte het omgekom nie.

Kan u insien dat die uitkoms in die hand van die Almagtige Drie-Enige God duidelik sigbaar was? Te midde van doodsgevaar het ons voorvaders hul skuilplek by God gesoek. Dit is ook wat Ps. 46 bevestig.
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.


Die vraag is of ons ook weet dat God is ʼn toevlug in die nood? Weet ons hoekom ons kan sê “God is ʼn toevlug in die nood?” Die enigste gronde waarop enige iemand kan sê “God is ʼn toevlug in die nood,” is Jesus Christus. Is jou geloof geanker in die evangelie van Jesus Christus? Wat herdenk jy met Kersfees? ʼn vrolike feestyd of die geboorte van Jesus Christus?

Glo jy dat Jesus Christus, wat God is Homself ter wille van jou verneder het om as ʼn eenvoudige mens gebore te word? Glo jy dat Jesus Christus vir jou sondes aan ʼn vervloekte kruishout gesterf het? Glo jy dat Jesus Christus die dood oorwin het? Is die nuwe lewe wat Hy vir jou gegee het in jou lewe sigbaar? Geliefdes, as die evangelie van Jesus Christus nie ʼn werklikheid in jou lewe is nie, kan jy nie saam met die Psalmdigter daarop reken dat God ʼn toevlug in die nood is nie!

Ps. 46 begin met die verklaring dat God ʼn toevlug is in die nood en dan maak die Psalmdigter van kontras gebruik om sy verklaring te beklemtoom. Midde in die onstuimigheid van berge wat tot in die see skuif en die aardbewings wat daarmee gepaard gaan is God se kalmte en rustigheid.

In Ps. 46 v 5 kry ons die beeld van ʼn rustige standhoudende rivier wat in kalmte rustig voortvloei teenoor die onstuimigheid van see waarvan ons in vers 4 hoor. God is die bron van die rustigheid wat hier in Ps. 46 vir ons beskryf word. Wanneer jy jou in die ewige en onveranderbare karakter van God anker, neem die rustigheid van God jou lewe oor. Net soos die rustigheid van die rivier wat hier beskryf word, is die Heilige Gees soos ʼn konstante rustige rivierstroom wat vir jou rustigheid gee midde in die onstuimigheid van die lewe.

Die Voortrekkers wat deelgeneem het in die slag van Bloedrivier het hulle toevlug by God gesoek en Hy het hulle gedra deur die geveg. Hy het nie die geveg weggeneem nie, maar midde in die geveg het Hy hulle die rustigheid gegee om doelgerig te doen wat hulle moes doen. God neem gewoonlik nie die onstuimigheid van die lewe weg nie, maar as jy jou toevlug by God soek gee Hy vir jou die kalmte en rustigheid om te doen wat jy moet doen in die geveg wat om jou woed.

In die gelofte wat ons voorvaders afgelê het, het hulle onderneem dat hulle die gebeure as ʼn rusdag sal herdenk en dat hulle hul nageslag daarvan sal vertel. Wat hulle dus onderneem het, is dat hulle aan hul nageslag sal oordra om hul rus in God te soek. Om rus te vind binne die onstuimigheid van die lewe. Die essensie van die gelofte is dat ons dit wat ons voorvaders gedoen het ook moet vorentoe vat na die volgende geslag sodat hulle ook kan weet:
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

In Ps. 46 v 12 hoor ons hoe lyk die karakter van God in wie die Psalmdigter en ook ons voorvaders hul vertroue gestel het:
Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.
Die Here, die Almagtige wat ook as die Here van die leërskare vertaal kan word. Die leërskare verwys aan die een kant na die weermag van Israel wat in sy Naam die vyand aangedurf het, maar ook verwys dit na die engele weermag tot sy beskikking. Dit is die Here, die Almagtige wat die vyande van Israel en ook die vyande van ons voorvaders verslaan het.

Die Psalmdigter praat ook van die God van Jakob. Dit is die Verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob. Die Verbondsgod wat van sy kant die verbond gemaak het om na sy volk, dit wil sê sy uitverkore kinders om te sien en vir hulle te sorg. Dit is die God by wie die Psalmdigter sy toevlug gesoek het en dit is ook die God by wie ons voorvaders hulle toevlug gesoek het.

Ons voorvaders het ʼn oormag vyand in die gesig gestaar wat hulle wou uitwis. Ons staar vandag ook vyande in die gesig wat dreig om ons uit te wis. Hulle lyk miskien nie soos die vyande van die Psalmdigter of ons voorvaders nie, maar hulle is net so ʼn groot gevaar vir ons. Die vyande wat hulself as onsekerheid oor ons toekoms verbloem. Die onstabiliteit en onsekerhede wat ons in die gesig staar, die radikales wat dreig om ons dood te maak, die rowers wat nie skroom om jou dood te maak nie. Die vyande van ouderdom en siekte wat dreig om ons te oorweldig.


Geliefdes, die Psalmdigter en ook ons voorvaders het hul toevlug by God gesoek. Waar soek jy jou toevlug? Anker jouself in die evangelie van Jesus Christus sodat jy ook jou toevlug by God kan soek wanneer die gevare van die lewe jou bedreig. God is ʼn toevlug in die nood.                

Amen







08 Oktober 2017

Roep in gebed tot God in tye van nood

Lees: Jona 1 & 2 
Teksverse Jona 2
8 Okt 2017 GKE
Sing:
Ps. 46-1 v 1 & 6
Ps. 102-2 v 1 & 9
Ps. 130-1 v 1 - 4

Sb 14-2








Jona en die vis is seker een van die bekendste verhale in die Bybel. En tog gaan die verhaal nie eintlik oor die vis nie. Wanneer daar oor die verhaal gepraat word land die gesprek so maklik op ’n syspoor van watse tipe vis was dit nou eintlik? Was dit dalk ’n walvis, maar ’n walvis kan nie ’n mens insluk nie. Is dit ’n ware verhaal of is dit net ’n gelykenis? En met al hierdie gesprekke word die hele boodskap van hierdie verhaal gemis! Dit gaan nie hier oor die vis nie, maar wel oor hoe groot God se genade is!

Hierdie verhaal beskryf vir ons hoe God se kinders deur middel van krisisse in hul lewens op daardie punt kom waar hulle net nie meer kan aangaan nie. Dit vertel vir ons van God se liefde en sorg en dat sy verbintenis om sy beloftes na te kom groter is as die sonde van sy kinders.

Ons hoor hier die verhaal van ’n profeet wat eerder van God af wou wegvlug as om Hom te gehoorsaam. Die Here gee aan Jona die opdrag om die Assiriërs, Israel se grootse vyande, te waarsku oor God se komende oordeel. Jona wil egter nie want hy is bang dat die Assiriërs hulself gaan bekeer en dat God dan genade aan hulle gaan betoon. Daarom besluit hy om van God af weg te vlug.

Ons hoor die refrein in die verhaal, weg van die Here af wat herhaal word en dan ook hoe Jona afgaan het. Eers af na Joppe toe waar hy op ’n skip probeer wegvaar van die Here af en dan oorboord weer verder af in die vis tot op die bodem van die see, by die fondamente van die berge.

Hier waar Jona op sy laagste is beskryf vir ons die swaarkry, die pyn en lyding, die verwarring wat pyn en lyding in ’n mens se lewe verteenwoordig. Dit is wat Jona daar in die maag van die vis met die seegrasse om sy kop beleef het. In sommige gevalle, soos met Jona is dit deur jou eie toedoen, maar in ander gevalle is deur die toedoen van ander of die omstandighede in die lewe wat maak dat jy jouself onder in die vis se maag met die seegrasse om jou kop daar by die fondamente van die berge bevind.

Hierdie verhaal gee vir ons hoop want wanneer Jona daar diep in die see binne in die vis van die maag is nadat hy sover as moontlik van die Here af probeer wegvlug het vind ons dat die Here juis daar teenwoordig is! Met hierdie verhaal sê die Here vir elkeen van ons dat Hy veral in die moeilike omstandighede in ons lewens teenwoordig is.

Die gebed van Jona gee vir ons die bril waardeer ons na die donker plekke in ons lewens moet kyk. Of dit nou deur ons eie toedoen is of deur die toedoen van ander of a.g.v. omstandighede waaroor ons geen beheer het nie wys die Here vir ons met Jona hoe ons perspektief kan kry daaroor.

Deur gebed beleef jy op ’n besondere manier hoe jou verhouding met die Here jou dra in tye van swaarkry. In Jona 2 v 2 hoor ons hoe Jona in sy nood tot die Here roep toe hy nie meer geweet het waarnatoe nie. Soms raak jou lewe so buite beheer dat jy nie meer weet watter kant toe nie en al wat jy kan doen is om in jou nood uit te roep “Help my!”

En dan hoor ons die wonderlike troos “Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra,en U, Here, het my gehoor.” Die ironie, daar waar Jona veronderstel is om op sy verste van die Here te wees, is die Here intens teenwoordig. Ons dink so maklik dat God ons verlaat het wanneer ons swaarkry en dat Hy nie oor ons omgee nie. Hier bevestig God opnuut weer dat Hy jou nooit alleen laat nie. Hy luister wanneer jy in nood na Hom roep en Hy weet presies waar jy is. Jy is nie alleen nie!

In Jona 2v3 hoor ons die verbasende waarheid, ons kan amper sê die ontstellende waarheid!
U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan.
Dit is deur die Here se toedoen dat Jona in die vis se maag is. Is dit God se skuld dat ons swaarkry? Straf Hy ons met swaarkry?

Nee geliefdes, God is nie besig met straf nie, dit is juis sy genade wat so helder skyn. Hier sien ons dat selfs die moeilikste en onmoontlikste omstandighede nie buite God se beheer is nie. Hy is nie afwesig nie, maar anders as wat ons sou verwag weerhou Hy nie altyd die swaarkry van ons af nie. Soms gebruik die Here swaarkry juis om ons weer by daai punt te bring sodat ons kan besef hoe afhanklik ons van Hom is en dat ons nie sonder Hom kan wees nie.

In Jona 2 v 4 hoor ons dan juis hoe Jona se swaarkry hom opnuut weer laat besef hoe nodig hy God het.
Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.
Jona wou vry van God wees en hy het aanvanklik gedink dit sal baie lekker wees. Want dan kan hy doen wat hy wil en is hy nie meer gepla met al die moets en moenies wat sy pret bederf nie. Nou besef hy dat dit wat hy so graag wou gehad het baie sleg en nie lekker is nie! Hy besef nou eers hoe nodig hy God werklik het.

Is dit nie ook maar dikwels ons probleem nie? Ons wil tog maar net so bietjie vry van God se gesag wees. Moet ek al weer Sondag gaan luister na al die dinge wat ek nie mag doen nie? Ek wil tog net so bietjie wegkom van die kerk dinge. Dan kom ek op ’n stadium agter dat om sonder God te wees nie so lekker is nie! Dit is net God wat lewe gee en nie een van ons kan sonder Hom bestaan nie.

Verder in die gebed hoor ons hoe Jona besef dat dit nie net is dat hy God nodig het nie, maar dat God al is wat hy nodig het soos ons hoor in Jona 2:5&6:
Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered.
Hy het niks meer nodig gehad nie. Daar waar hy in die maag van die vis was het hy in homself niks gehad wat hom uit sy situasie kon red nie. Dit is net God wat hom kon red en God het ook soos Jona bevestig met die woorde “Maar U, Here my God, het my van die dood gered.”

Hier besef Jona dat dit beter is om saam met God in die vis se maag te wees as wat dit sou wees om sonder God in Tarsis te wees. Dit is beter om saam met God in die moeilikste omstandighede te wees as wat dit sonder God sal wees in die mees gunstigste omstandighede. Dit is juis deur swaarkry wat ons intens weer die liefde en trou van God ervaar en dat ons dan weereens besef dat ons niks anders as God nodig het nie.

In Jona 2 v 7 hoor ons hoe Jona onthou wat God alles in sy lewe al vir hom gedoen het. Hy het weer onthou hoe spesiaal dit is om in ’n verhouding met God te leef.

Geliefdes, onthou u wat het God al alles in u lewe beteken? Onthou u hoe spesiaal u vir Hom is? So spesiaal dat Hy bereid was om Homself so te verneder om ’n eenvoudige mens te word. Dat Hy bereid was om die vernedering van ’n vervloekte kruisdood in u plek te dra! Dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe en dat Hy dit gedoen het uit liefde sodat jy weer in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek sodat jy weer heeltemal met die volheid van God vervul kan word. Onthou dat dit nie saak maak wat met jou gebeur nie want daar is niks wat jou van die liefde van God kan skei nie.

In Jona 2 v 8 hoor ons hoe Jona besef dat die afgod van die eie ek net ellende bring. Toe Jona weggevlug het van die Here af, het hy op die afgod van self staat gemaak. Nou hoor ons hoe hy tot die besef kom dat die afgod van die eie ek niks anders as ellende bring nie. En dit bring hom om in aanbidding tot die Here te nader soos ons hoor in Jona 2v9:
Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.”

En in Jona 2v10 hoor ons die wonderlike belofte dat tye van swaarkry nie vir altyd aanhou nie. Dit word beter, nie net in hierdie lewe nie, maar ons sien uit na die tyd wanneer ons ewig saam met God sal wees sonder al die swaarkry van hierdie lewe.

Soms bring die lewe jou op ’n plek waar jy niks anders kan doen as om in jou nood na die Here te roep nie. Dit is dan wanneer jy besef dat die Here in die grootste swaarkry en onmoontlikste omstandighede intens teenwoordig is. Dit is dan wanneer jy besef dat niks buite God se beheer is nie. Dit is dan wanneer jy werklik begin verstaan dat jy God nodig het en dat jy niks anders as God nodig het nie. Wanneer jy in gebed in jou nood tot die Here roep onthou wat God alles vir jou gedoen het. Onthou dat Hy sy Seun gestuur het om aan ’n vervloekte kruishout vir jou sondes te sterf sodat jy in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou dat daar niks is wat jou van sy liefde kan skei nie. Onthou dat die afgod van die eie ek net ellende bring en buig in aanbidding tot God om werklik die grootheid van sy liefde in jou lewe te ervaar.

Roep in gebed tot God in tye van nood.
Amen