’n
Gelofte uit nood gebore en wat as ’n smeekgebed aan God gerig is. In die
uitkoms is die hand van die Almagtige Drie-Enige God duidelik sigbaar. Daarom
wil ons vanoggend ook hierdie gedenkdiens alleen tot eer van God hou in
erkenning dat ons net van Hom afhanklik is en dat Hy ons nooit sal verlaat nie.
Die gelofte van Bloedrivier - 1838
"Hier
staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen
Voorwaarde
dat as Hy
ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,
Belofte
1) ons die
dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring,
2) en dat
ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,
3) en dat
ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis
ook vir die opkomende geslagte
Doel:- om aan God alleen die eer
te gee
want
die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning
aan hom te gee."
Alleen aan God die eer
Die geskiedenis van die
slag van Bloedrivier
Agtergrond
Die verhaal van Bloedrivier is nie volledig
sonder die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het nie. Shaka die broer van Dingane
wat voor hom koning van die Zoeloes was het begin met die uitdelgingsoorloë wat
as die Mfecana tydperk bekendstaan. Dit was die oorsaak dat duisende inheemse
volke uitgewis of verdryf is. Baie stamme het by Shaka aangesluit, terwyl
diegene wat nie wou aansluit nie, uitgemoor is. Dit was die oorsaak dat die
hele Natal, suid van die Tugela, ontvolk geraak het.
Drie van sy generaals het weggeloop, hul
eie koers ingeslaan en meegedoen aan die uitdelging op dieselfde patroon:
Soshangana het die Shangaan-nasie
in Mosambiek laat ontstaan en in Transvaal ingetrek.
Zwangendaba het tot in Malawi
gevorder.
Die ergste was Mzilikazi wat met sy
Ndebele-nasie die grootste dele van die later Transvaal en Vrystaat domineer en
laat ontvolk het.
In dieselfde tyd het Moshweshwe aan
vlugtende Sotho's asiel gebied by Thaba-Bosiu waar Lesotho vandag nog bestaan.
Die Voortrekkers verdien die eer dat hulle
die Mfecana beëindig het. Eers is Mzilikazi verslaan en verdryf tot in die
huidige Zimbabwe en Dingane van die Zoeloes is na die Bloedrivier-veldslae
verdryf na Swaziland waar hy vermoor is. Na 1838 kon duisende Tswanas uit die
Kalahari terugtrek en hulle lewens vervat in die gebiede waaruit hulle verdryf
was.
Die Groot Trek
Die Groot Trek het in 1835 al begin,
hoofsaaklik as gevolg van die onsimpatieke houding van die Britse regering
teenoor die grensboere in die Oos-Kaap. Die Britse sendelinge (filantrope) in
die Kaapland het bygedra tot hierdie hatige gesindheid teenoor die grensboere.
Die Xhosas het die grensboere herhaaldelik geteister met moorde en strooptogte
en is nooit behoorlik gestraf nie.
Al die Voortrekkers is nie in een groep weg
nie. Hoewel Louis Trichardt in 1835 en Hans van Rensburg vroeg in 1836 weg is,
het groter groepe, onder leiers soos Hendrik Potgieter, Piet Retief en Piet Uys
later die jaar eers oor die Oranjerivier getrek. In totaal het omtrent 10 000
mense, bestaande uit omtrent 2300 gesinne, uit Kaapland getrek.
Die Voortrekker-gemeenskap het verskillende
groepe gevorm onder leiding van Piet Retief en Hendrik Potgieter. Retief wou
Natal toe trek terwyl Potgieter verder Noord oor die Vaalrivier wou trek.
Die ontmoeting met Dingane
en die Moord op Retief
Retief het in Oktober 1837 al Natal toe
gereis waar hy in Port Natal die Engelse handelaars ontmoet het. Toe het hy
noordwaarts oor die Tugela na Mgungundlovu (Dingaanstat) gereis en Dingane,
koning van die Zoeloes, in November 1837, versoek om die onbewoonde gebied
tussen die Tugela en Umzimvuburivier tot aan die Drakensberg, aan die Trekkers
as woongebied af te staan.
Dingane het Piet Retief vriendelik ontvang,
maar hom beskuldig dat die Voortrekkers 'n trop beeste van hom gesteel het en
dat hy nie voor Retief die vee terugbesorg het, die woongebied sou afstaan nie.
Retief is dus terug na die laers wes van die Drakensberg. Die Trekkers het
geweet dat die beesdief 'n Tlokwa- kaptein Sikonyela was, wat in die omgewing
van die latere Harrismith gewoon het. Hulle het maklik die gesteelde beeste
gekry en ook beslag gelê op 'n klomp Tlokwa-beeste as skadevergoeding aan
Dingane. Retief en 'n gevolg van 70 man en 30 agterryers het op 25 Januarie
1838 weer na Mgungundlovu gereis en op 3 Februarie 1838 die beeste aan Dingane
afgelewer.
Op 4 Februarie 1838 het Dingane die kontrak
(traktaat) onderteken wat die oordrag van grond aan die Trekkers beskryf het.
Baie vriendelik het Dingane die Retief-groep genooi om op 6 Februarie 'n
Zoeloe-dansvertoning en onthaal by te woon voor hulle vertrek. Tydens die
vertoning het Dingane eenkant toe gestap en hard geroep: "Bulalani
abathakati!" (dit beteken: "maak dood die towenaars!"). Die
Voortrekkers is vinnig oorval, met rieme vasgebind en noordoos van die stat
gesleep tot op die klipkoppie genaamd "Kwa Matiwana" aan die kant van
die paradegrond, wat genoem word "Hlom'amabutho". Hier is almal met
kieries doodgeslaan, Retief laaste.
Dis verstaanbaar dat die Trekkers na langer
as 'n jaar se kamplewe nie kon rus om Natal, suid van die Tugela in te trek
nie. Boonop het almal geglo dat Retief se tweede besoek aan Dingane 'n blote
formaliteit sou wees, want hy het die gesteelde beeste teruggeneem soos hy
belowe het. Ongelukkig wou verskeie gesinne ook nie in Natal in laers staan
nie, en het ooswaarts uitgesprei aan die walle van die Bloukrans- en
Boesmansriviere. Daar het hulle die terugkoms van Retief en sy gevolg verwag,
maar is in stede aangeval deur duisende moordlustige Zoeloekrygers. Die
bloedbad van 17 Februarie 1838 het die dood van 'n verdere 282 Trekkers gekos:
41 mans, 56 vrouens en 185 kinders is vermoor. Daarbenewens is 250 bediendes
vermoor en ook duisende stuks vee geroof.
Die Strafekspedisie
Na die moord op die Trekkers het Hendrik
Potgieter Natal toe gekom om sy volksgenote te kom help. Op 6 April 1838 het
twee berede kommando's, een onder leiding van Potgieter en een onder Piet Uys
na Zoeloeland vertrek. Ongelukkig wou nie een van die genoemde here onder die
ander een dien nie. Op 10 April was die kommando's aan die hange van die
Italeni-berg, waar hulle in hinderlae gelok is. Piet Uys en sy seun Dirkie en
nog vyf ander het geval, maar die res moes vlug vir hul lewe. Die kommando by
die Slag van Italeni het toe die naam van die Vlugkommando gekry. Potgieter is
spoedig terug oor die Drakensberg, want hy is ten onregte deur baie mense
beskuldig van lafhartigheid.
Die volgende aanval deur die Zoeloes het
plaasgevind op 3 Augustus 1838, maar die laer aan Boesmansreivier was goed
verskans en met doringtakke dig gemaak. Na drie dae se vrugtelose pogings het
die Zoeloes die beleg opgegee, maar weereens baie vee saamgejaag na Zoeloeland.
Kort na die laasgenoemde aanval, op 23
Oktober 1838, is Gerrit Maritz oorlede. Die Trekkers in Natal was nou
leierloos, daarom is 'n afvaardiging na Oos-Kaapland gestuur om Andries
Pretorius te versoek om sy volksgenote te kom help. Op sy advies het die
afvaardiging onderneem om veghekke van hout te maak, sodat die laer elke aand
tydens die tog na Umgungundlovu doeltreffend en vinnig dig gemaak kon word.
Boonop moes die vrouens linnesakkies maak, tien of twaalf lopers daarin toewerk
en in gesmelte vet week, sodat die kommando's vinniger sou kon laai tydens 'n
geveg.
Op 22 November 1838 het Andries Pretorius
by die laers in Natal opgedaag. Alhoewel hy versoek was om as leier te dien,
het hy vereis dat daar eers gestem sal word om seker te maak dat almal met sy
leiding tevrede is. Daarbenewens het Andries Pretorius an die bestaande
kommandante van Natal aanvaar: Karel Pieter Landman is as tweede-in-bevel
bevestig, met Pieter Daniël Jacobs, Koos Potgieter, Hans de Lange en Stephanus
Erasmus as offisiere. Die kommando van bykans 470 man met 64 waens kon vertrek
na Zoeloeland, vanaf Schietdrift in die Tugela op 3 desember 1838.
Dit is verstaanbaar dat elkeen in die
kommando met groot kommer vervul moes wees oor hul dierbares wat agtergebly
het. As die kommando verslaan sou word, sou die Natalse Trekgemeenskap ook geen
kans op oorlewing hê nie. Almal was reeds verarm en daar was ook nie genoeg
waens en osse oor om terug te trek oor die Drakensberg nie. Daar was wel 'n
aantal manne by die laers, maar die wapens en kruit sou nie lank hou as verdere
aanvalle op die laers sou plaasvind nie. Die naam Sooilaer, soos een van die
laers bekend was, dui ook aan dat die waens in die laer te min was om dit te
beveilig.
Die eer kom Charl (Sarel) Cilliers toe dat
hy die eerste gedagte aan 'n gelofte aan die Here uitgespreek het.
Geskiedkundiges verskil oor die presiese tyd en plek waar die Gelofte die
eerste keer afgelê is. Dit wissel van 7 Desember naby Danskraal aan die
Kliprivier tot 10 Desember aan die Wasbankrivier. Wat wel belangrik is, is dat
die Voortrekkers die Gelofte sedertdien elke aand herhaal het tydens die
gebruiklike aandgodsdiens, tot en met die aand van 15 Desember.
Die Gelofte
Die gelofte, deur Charl (Sarel) Cilliers
opgestel, bestaan uit 'n versoek en drie beloftes wat nagekom sou word:
1. Ter ere van die Here, waar dit Hom sal
behaag, 'n kerk bou.
2. Die datum van die oorwinning jaarliks
soos 'n Sabbat van die Here deurbring.
3. Ons sal ons kinders daarvan vertel sodat
ons nageslagte die Gelofte kan onderhou en die roem en die eer aan Hom daarvoor
te gee.
Die roete tot by
Bloedrivier
Die kommando van Andries Pretorius het
vanaf die laers, in die huidige Estcourt- Colenso-gebied, noordwaarts getrek
tot deur die Kliprivier (by die huidige Ladysmith) toe noordoos geswaai deur
die Sondagsrivier en Wasbankrivier tot by Endumeni-berg, suid van die huidige
Dundee. Aan die voet van hierdie berg het die Engelse handelaar, Alexander
Biggar se skotskar gebreek nadat dit in 'n gat geval het en moontlik is hy ook
deur die voorval beseer. Die plaas waarop dit gebeur het heet vandag nog
Biggarssgat en die berg is genoem Biggarsberg. Sedertdien heet die hele
voetheuwelgebied vanaf Dundee tot aan die Drakensberg die Biggarsberge.
Die noord-ooswaartse trekrigting is
voortgesit tot aan die Buffelsrivier, waar 'n geskikte drif gevind is wat
sedertdien Kommandodrif heet. Die plaas oorkant die Buffelsrivier aan die
Utrecht-kant, waar die drif is, heet nog steeds Kommandodrif.
Hans de Lange, algemeen bekend as Hans
Dons, het tydens die tog opgetree as verkenner. Hy het elke dag vooruitgery om
te verseker dat die kommando nie onverhoeds op trek deur die Zoeloemag oorval
word nie.
Toe die kommando deur Kommandodrif trek,
het Hans Dons hulle laat weet dat die wêreld vorentoe uit oop grasvlaktes
bestaan en dat hulle eers by Doringberg (naby die huidige De Jagersdrift) moet
gaan hout kap en saamneem vir daaglikse gebruik.
Van Doringberg af het die kommando in 'n
suid-ooswaartse rigting getrek. Omtrent 20 kilometer verder is daar 'n sytak van
die Buffelsrivier (wat ons vandag ken as Bloedrivier, toe bekend as die Ncome).
Die Trekkers was reeds deur die rivier toe die dringende boodskap die kommando
bereik dat die Zoeloemag op die rante, omtrent 2 uur te perd, of 10 kilometer
vorentoe, in aantog is. Dadelik het Andries Pretorius besef dat hulle pas by 'n
strategiese plek vir die laer verby was. Aan die wesoewer van die rivier het 'n
diep droë sloot reghoekig by 'nlang seekoeigat aangesluit. ('n Seekoeigat is 'n
diep kuil water waardeur mens slegs kon swem). Die waens is dadelik deur die
rivier terug na die wesoewer geneem.
Bloedrivier
Dit was Saterdag, 15 Desember toe laer
getrek is. Voorbereidings vir die geveg is getref en die bykans 900 osse en 500
perde was onder beheer in die laer. Die posisie van die laer sou die Zoeloes
dwing om hoofsaaklik uit die noordweste aan te val aangesien die rivier aan die
oostekant en die sloot aan die suidekant die laer beskerm het.
Voor donker het van die Zoeloemagte reeds
deur dieselfde drif gekom, terwyl andere aan die noordekant bokant die kuil
deurgekom het. Die Zoeloeregiment wat eerste aan die geveg sou deelneem, was
die Abafana (seuns) met swart skilde toegerus. Die Swartskilde regiment was
sedert Shaka se tyd die jong krygers wat nie mag trou voordat hulle
assegaailemme bloed getrek het nie. Op hulle versoek is hulle juis om die rede
toegelaat om die geveg in te lei.
Die Zoeloe opperbevelhebbers, Ndlela en
Tambuza, met ander hooggeplaastes, byvoorbeeld twee "prinse" (jonger
broers van Dingane) het aan die ooste-kant van die seekoeigat saam met die
Witskilde regiment gesit om die geveg dop te hou.
Die aand van Saterdag, 15 Desember was baie
donker en boonop het 'n digte mis oor die gebied getrek. Daardie nag het geen
aanval plaasgevind nie en dit het gelei tot verskillende verklarings,
byvoorbeeld: Die Voortrekker-lanterns het 'n spookagtige skynsel in die
miswolke tot gevolg gehad. (Die lanterns was nie soos ons dit vandag ken en
soos die wat nou aan die sweepstokke hang nie. Dit was 'n blikkie wat soos 'n
groenterasper lyk met 'n kersie binne-in. In die museums in Bloemfontein en
Pretoria is voorbeelde van die lanterns). Die Zoeloes het reeds geweet dat
vogtige lug die ontvlamming van buskruit kan verhinder, en het gedink hulle sou
die Voortrekkers maklik in die vroeë more kon doodsteek.
Die bekende fisikus, Prof Lotz Strauss, het
op skrywer se versoek vasgestel dat Maandag, 17 Desember 1838 nuwemaan was en
dit bevestig dat die nag van 16 Desember donkermaan was. Nie een van die
vegtende partye kon vooraf die tyd van ontmoeting bepaal nie, tog was dit
bestem om mekaar op 16 Desember te ontmoet met donkermaan.
Anders as wat normaalweg gebeur, het die
mis voordag opgeklaar en was Sondag, 16 Desember 1838 'n helder, sonnige dag.
Die eerste aanval, vroeg na sonop, is deur
sarsies geweerskote en kanonvuur afgeslaan. Nog verskeie verwoede pogings deur
die swartskilde het gevolg, maar geeneen kon ide waens bereik nie. Later het
ook die Witskilde bokant die kuil deurgekom en hard probeer om die laers te
bereik, maar ook hulle kon nie die laaste 40 meter na die laer indring nie.
Die presiese plek waar die laer opgerig is,
is in 1971, voor die oprigting van die pragtige brons walaer bevestig. Volgens
meneer George Chadwick van die N.O.D, is deur middel van infrarooi fotografie
bepaal dat die middelpunt van die laer, wat omstreeks 1860 deur 'n klipstapel
gepak deur oudstryders aangedui is, hoogstens 10 meter na eenkant toe aangedui.
Die diep sloot is vandag nog duidelik - nou baie vlak waar die sloot in die
kuil eindig. Die waens het daar suidwaarts deurgetrek en +- 200 meter verder
deur die rivier getrek deur 'n drif "Izibuku Labafazi" (Vrouedrif).
Die laer was minstens 400 tot 500 meter wes van die seekoeigat; die vorm
daarvan soos 'n reuse letter D met sy reguit sy teen die diep sloot.
Strategies was dit vir bykans 470
geweerskutters meet moontlik om uit 'n verspreide gebied sterk vuurkrag te
lewer, terwyl die beskikbare frontwydte vir die naderkomende Zoeloes al nouer
geword het. Slegs 'n klein aantal, moontlik 20 geweerskutters, was nodig om die
aanvallers, wat op 'n stadium in die diep sloot langs probeer het om die laer
te bereik, te verhinder op die wal uit te klouter.
'n Skeepskanon, een van 2 of 3 kanonne wat
saamgeneem was, is deur Pretorius aangewend in 'n oostelike rigting teen die
hooggeplaastes oorkant die kuil. Een is deur 'n kanonkoeël getref en nog andere
beseer. Hierdie kanon het slegs "Canon Balls" gevuur, want
brisantbomme wat ontplof as dit die teiken of die grond tref, is eers later
uitgevind. Hierdie aksie het veroorsaak dat die witskilde ook aan die geveg kom
deelneem het.
Na omtrent drie uur se geveg het die
Zoeloes tou opgegooi en het Pretorius 'n paar berede aanvalle buitentoe
onderneem om die Zoeloes te dwing om weer te probeer of om hulle te verjaag.
Pretorius self en nog twee Trekkers het assegaaiwonde opgedoen, maar kon
voortgaan met die geveg.
Teen elf- of twaalfuur die dag was die slag
gelewer. Rondom die laer het 'n wal dooies gelê. Elke geweerskoot was egter nie
'n doodskoot nie en baie bloeiende gewondes het die kuil ingevlug en probeer om
deur te swem en koers te kry "huis toe". Gevolglik het die kuil
spoedig bloedrooi geword van die bloed en so aanleiding gegee dat die rivier sy
naam gekry het: BLOEDRIVIER. Baie gewonde Zoeloes het ook geslaag om deur die
rivier te kom, maar beswyk op die lang oop vlakte aan die oostekant. Vandag nog
noem Zoeloes die bult oorkant "Ukhalo lamathambo" (bult van
doodsbeendere).
Bron: www.Bloedrivier.org
die amptelike webblad van die Bloedrivier Gelofte-herdenkingskomitee.