Datum: 2 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds.
George van der Walt
Skriflesing: Gen. 2 v 18 – 3:24
Teksvers: Gen. 3 v
20
Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:
1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni
- volledige erediens
2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni
- Preek alleen
Ons begin vandag met 'n reeks preke oor vroue van die
Bybel. Vroue word so maklik deur die samelewing as tweederangse burgers met 'n
laer status beskou en eenkant toe gestoot. Die fokus in hierdie preek reeks is
om vas te stel wat God se bedoeling is met vroue in die samelewing.
Die eerste vrou waarvan ons in die Bybel hoor, is Eva. Eva
word dikwels blameer dat dit haar skuld was dat die hele mensdom in sonde
gedompel was. Sy het immers vir die slang geluister en van die verbode vrug
geëet. Hiermee saam kom die foutiewe gedagte dat die man minder skuldig was aan
die sondeval en dat die man derhalwe so bietjie beter as die vrou is.
Wat ons egter moet onthou is dat God die opdrag om nie
van die verbode vrug te eet nie vir die man gegee het. Hy was egter absoluut
passief in daardie hele episode met slang. Hy het nie 'n woord gesê nie en het
daarmee sy plig versaak om sy vrou te beskerm.
Hy kon haar beskerm het, want hy was reg langs haar
terwyl die episode met die slang afgespeel het. Ons hoor in Gen. 3 v 6b:
Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.
Sonder om 'n woord te sê, het hy saam met haar geëet aan
die verbode vrug. Die waarheid is dat albei ewe skuldig is en mans het geen
rede om meerderwaardig teenoor 'n vrou te voel nie.
Wat is die skeppingsdoel van 'n vrou? In Gen. 2 v 18 hoor
ons:
Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die
mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
God het nie die mens geskep om alleen te wees nie. Hy het
die vrou gemaak uit die man se ribbebeen uit. Sy is dus net soos hy, een uit
homself. Haar doel is om die man se helper te wees.
Ons moenie die fout maak om te dink dat sy 'n handlanger
is nie. Nee sy is sy helper want sonder haar, sal die man nie reggekom het nie.
Die Here sê baie duidelik hier dat Hy die vrou gemaak het as die man se gelyke.
Dink so daaraan. Daar is byvoorbeeld 'n trommel wat te
groot en swaar is vir een mens om te dra. Daar is dus 'n helper nodig om die
trommel te dra. Albei die persone is ewe belangrik in die proses. Die een is
nie belangriker as die ander nie en nie een sou sonder die ander regkom om die
trommel te dra nie.
Die verbrokkeling in die verhouding tussen man en vrou
raak reeds sigbaar direk na hul sondeval. Daar tree 'n vreemdheid tussen man en
vrou in en hulle probeer dit wegsteek deur vir hulself klere van vyeblare te
maak.
Dit was egter tevergeefs, want ons hoor hoe hul
verhouding verder verbrokkel wanneer hulle deur God gekonfronteer word. Die man
beskuldig sy vrou en hy gooi haar as te ware vir die wolwe. Waar hy vantevore
'n liefdeslied vir haar sing: (“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos
ek”) beskuldig hy haar en verwys na haar as ‘die vrou.’ Nie meer my vrou nie,
maar ‘die vrou!’. Daar is duidelik 'n verwydering tussen hulle.
Uit dit word die verskriklike gevolge van die sonde
duidelik sigbaar soos God dit ook aan hulle voorhou wanneer Hy vir die vrou sê: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor
jou heers.”
Hierdie is nie 'n straf wat God teenoor die vrou
uitgespreek het nie. Die straf vir sonde is die dood soos ons Gen. 2 v 17 hoor.
God het hier vir haar vertel wat die gevolge van die sonde wat sy en haar man
gepleeg het, is, naamlik die sondige oorheersing van vrouens deur mans. Dit is
dus die sonde; waarvoor beide die man en die vrou verantwoordelik is; wat veroorsaak
dat mans vrouens as minderwaardig beskou en behandel.
Die verdere gevolge is dat die aarde deur hulle toedoen
vervloek is en derhalwe het dit nou moeisame arbeid meegebring om 'n bestaan te
maak. God se skeppingsopdrag aan die mens was om die aarde te bewoon en dit te
bewerk soos ons in Gen. 1 v 28 hoor. Die gevolge van die sonde is dat hierdie
arbeid nou in hartverskeurende moeitevolle arbeid verander is.
As die verhaal hier geëindig het, sou dit 'n baie droewige
hopelose verhaal gewees het. Maar die verhaal het nie hier geëindig nie. Ten
spyte van die donker gebeure van die sondeval in hierdie verhaal, is dit 'n verhaal
van hoop. Ons hoor hier hoe groot God se genade is.
In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die vrou nou ook 'n persoonlike
naam kry:
Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al
die mense.
Ons hoor hier van God se genade, want die naam Eva,
beteken lewe. In teenstelling met die swaard van die dood wat oor hulle koppe
hang, is daar die hoop van lewe.
God se genade is dat Hy die finaliteit van die doodstraf
uitstel. Daar is hoop vir lewe. Die doodstraf is uitgestel totdat Jesus
Christus dit in ons plek kom dra het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige
lewe kan kry en daardeur kan ontsnap van die vloek van die sonde. Mans het dus
geen rede om op grond van Gen. 3 v 16 “ Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou
heers.” te dink dat hulle beter as vrouens is nie.
Toe Adam die naam Eva, wat hy vir die vrou gegee het,
kwalifiseer met: “sy was die moeder van al die mense,” erken hy ook daarmee sy
afhanklikheid van Eva vir die voortplanting van 'n nageslag en Eva is ook van Adam
afhanklik daarvoor.
Hierin is God se genade ook duidelik sigbaar, want
Christus is uit die nageslag wat deur Adam en Eva voortgebring is, gebore.
Buiten die rol as helper en metgesel, gee God ook vir die
vrou 'n baie spesiale rol as moeder om te koester. God het bepaal dat die
mensdom bestaan uit mans en vrouens en dat 'n man as vader vir sy nageslag sal
wees tesame met sy vrou as moeder. Dis die basis van gesonde gesinsverhoudings,
die bousteen van die samelewing.
Deur die sonde is dit krom en skeefgetrek, maar Christus
het gekom om dit te herstel. Dit is slegs deur jou geloof in Jesus wat mans en
vroue hul rol in die samelewing kan vervul soos God dit bedoel het in 'n gesamentlike
gelyke verhouding met mekaar in afhanklikheid van God.
Jesus Christus maak dit vir ons moontlik om weg te breek van
die gevolge van sonde, omdat Hy die mag daarvan gebreek het aan die kruis en Hy
die dood oorwin het deur sy opstanding. In Jesus Christus kan mans en vrouens
hulle verhouding met mekaar bou en uitleef soos God dit oorspronklik bedoel
het.
Daarom moet die mans hulle vroue liefhê en nie die lewe
vir hulle bitter maak nie. Sy is nie 'n vloerlap nie. Vrouens, weet dat God vir
julle 'n baie spesiale rol in die lewe bepaal het as jou man se helper en
metgesel. Net soos wat 'n mens twee bene nodig het om te loop, het God mans en
vrouens geskep as gelyke medewerkers in sy Koninkryk.
Amen