18 Julie 2013

Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is

14 Apr. 2013 Joh. 10:1-21; Teksverse – Joh. 10:14 & 15

Lof-Psalm Ps. 136 v 1 & 2      (OAB)
Na Wet Ps. 84 v 1 & 3            (OAB)
Na Gebed Ps. 23 v 1 - 3          (OAB)
Slotsang Ps. 119 v63               (OAB)

Inleiding
Besef ons werklik hoe kosbaar ons vir God is? Met die beeld van ’n Herder teenoor sy skape verduidelik die Here vir ons hoe kosbaar ons werklik is. Verlede week het ons stilgestaan by die “Ek is die deur vir die skape” uitspraak van Jesus waar Hy vir ons verduidelik het dat Hy die enigste ingang tot God is. Hierdie week fokus ons op sy “Ek is die goeie Herder” uitspraak waar Hy aan ons verduidelik hoe kosbaar ons vir Hom is.

Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie herder” dan verduidelik Hy met hierdie beeld van ’n skaapboerdery hoe kosbaar ons vir Hom is. In die teks kom daar vyf aspekte van ’n goeie Herder na vore naamlik:
1) Die liefde van die Herder vir sy skape
2) Elke skaap het ’n naam en is daarom spesiaal
3) Skape ken die stem van die Herder
4) Diewe en rowers wil die skape van koers af bring
5) Jesus se bedoeling vir ons is ’n lewe in oorvloed
Ons kan dit saamvat deur te sê:
Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

1 Die liefde van die Herder vir die skape – bereid om sy lewe af te lê
Die omstandighede waarin skape in Israel moes oorleef is weerbarstig, droog en hard. Daar is baie gevare wat hulle bedreig soos byvoorbeeld dat hulle kan verdwaal en in ’n rotsskeur val of deur wilde diere oorval word. Daarom kan die kudde nie sonder ’n herder oorleef nie. Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie Herder” dan sê Hy vir ons dat net soos die skape ’n herder nodig het om na hulle om te sien het ons ook ’n Herder nodig om na ons om te sien sodat ons nie verlore gaan nie.

’n Skaap wat in die sorg van ’n goeie herder is, beleef geborgenheid en vrede. Net so beleef ons vrede en geborgenheid in die sorg van Jesus. Jesus sorg vir ons deur middel van die Heilige Gees wat na ons toe gestuur is na Jesus se hemelvaart. Wanneer Jesus my Herder is, is ek nie meer in die mag van die ou duiwel nie omdat ek nou die eiendom van my Herder is soos ons ook in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely:
My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Omdat Jesus my Herder is beteken dit dat Hy wil hê dat dit met my goed sal gaan omdat Hy deel van my lewe is. Omdat Jesus my Herder is weet ek dat Hy my nooit in die steek sal laat nie. Hy sal ons nie verlore laat gaan nie en sal die 99 skape wat veilig is los om na my wat verlore is te gaan soek. As ek op een van die afdwaalpaaie in die lewe beland wat mens weg van God af lei, sal Jesus my kom soek omdat Hy my oneindig baie lief het. Ek is so spesiaal dat Jesus bereid was om sy lewe vir my af te lê soos ons hoor in Joh. 10:17
Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af.

2 Elke skaap is so spesiaal dat hy/sy persoonlik op die naam geroep word
In Joh. 10:3b hoor ons:
Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
Dit sê vir ons dat Jesus elkeen van sy skape persoonlik ken soos ons hoor in Joh. 10:14
Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken
Die diep verbondenheid tussen Herder en skape weerspieël die verbondenheid tussen Vader en Seun. Die verhouding tussen Vader en Seun is ’n volmaakte verhouding.

Omdat Jesus my Herder is, is daar ook ’n verhouding tussen my en die Vader en dit bring vir my die wonderlike troos dat die Vader vir my persoonlik omgee en kan ek ook getroos word met woorde van Jes. 43:1-3:
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Die Here gee vir my om!

3. Skape ken die stem van die Herder – volg Hom. Loop ons op sy spoor?
’n Mens sou dink dit is onmoontlik om uit al die stemme wat vandag op ons afkom en ons van alles belowe, om daarin die stem van die Goeie Herder te herken. Die wonder van God se genade is egter dat Jesus se skape sy stem tussen al die verwarring uitken. Ons het ’n verantwoordelikheid om na die Herder se stem te luister.

Hoe weet ons wanneer is dit Jesus se stem? Jesus praat met ons deur sy Woord. As dit wat ons hoor strydig is met die Woord, dan is dit nie Jesus se stem nie. Ons hoor sy stem deur suiwere Woordverkondig. Ons sien sy stem in die suiwere bediening van die sakramente soos Hy dit in sy Woord aan ons openbaar. Ons voel sy stem in die toepassing van die tug en daarom is dit dan ook die kenmerke van die ware kerk.

Net soos die skape nooit ’n vreemde sal volg nie en van Hom af sal weghardloop, moet ons net na Jesus se stem luister en weghardloop van die vreemde stemme van die wêreld. Onthou hoe Josef van Potifar se vrou af weggehardloop het toe sy hom wou verlei. Daar is in ons tyd baie vreemde stemme wat in stryd is met God se Woord. Om werklik te weet of ons Jesus se stem hoor, moet ons die stem wat ons hoor aan sy woord gaan toets.

4 Pas op vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring
In Joh. 10:11-13 hoor ons:
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ’n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
Daar is mense wat hulself as herders voordoen en voorgee dat hulle na die skape omsien. Hulle gee egter nie werklik vir die skape om nie en stel die skape aan gevaar bloot. Wanneer die gevaar dreig hardloop hulle weg.

Wanneer Jesus en sy opoffering aan die kruis nie sentraal staan in ’n predikant of pastoor se boodskap nie, is hy soos ’n huurling wat die skape aan die gevaar bloot stel. Moenie agter hulle aanloop nie. As Jesus nie sentraal in ons lewe staan nie, is ons op die verkeerde pad, want dit is slegs Jesus wat werklik vir sy skape omgee.

5 Jesus se bedoeling: lewe, en dit in oorvloed.
In Joh. 10:9-10 hoor ons:
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Net soos ’n goeie Jesus se doel is om sy skape by die beste weiding uit te bring, is Jesus se doel dat ons ’n lewe in oorvloed kan hê.

Ons moet egter nie die oorvloed met die wêreldse definisie daarvan verwar nie. Oorvloed in diè sin verwys nie na ’n oorvloed materiële besittings en rykdom nie. Geld kan nie geluk en vrede koop nie. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die oorvloed van God se genade. Sy eindelose geduld met ons en dat Hy ons elke slag weer optel wanneer ons geval het. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die voorreg om God persoonlik te ken en om sy liefde te ervaar deur die soenverdienste van Jesus Christus.

Slot
Wanneer Jesus vir ons sê “Ek is die goeie Herder”, dan vertel Hy vir ons:
1) van sy liefde vir sy skape en dat Hy bereid is om sy lewe vir hulle af te lê;
2) dat elke skaap so spesiaal is dat Hy hom/haar persoonlik op die naam roep;
3) die skape die stem van die Herder ken en dat hulle net vir Hom volg.
4) om op te pas vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring en
5) dat sy bedoeling met ons die lewe is en dit in oorvloed!

Kom ervaar die vrede en geborgenheid van ons goeie Herder want Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking