Wys tans plasings met die etiket Ek is. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ek is. Wys alle plasings

04 Desember 2020

Waar sal my hulp vandaan kom?

 This devotional is also available in English


Waar sal my hulp vandaan kom?

Psalm 121 v 1 & 2

’n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Waar gaan soek jy hulp wanneer die lewe te moeilik word?

 Die pelgrims wat op pad was na Jerusalem was bang vir die gevare langs die pad. Hierdie Psalm is 'n gebed wat uiting gee aan die vaste hoop en vertroue dat God hulle dag en nag sal beskerm.

 Hulle kyk hemelwaarts na God vir hulp in hul benoudheid en dan verklaar hulle met vaste sekerheid: “My hulp kom van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.”

 Die pelgrims vestig hulle hoop op die HERE. Die Naam “HERE” is 'n persoonlike naam van God wat beteken “EK IS” soos ons in Eks. 3 v 14 hoor: Toe sê God vir Moses: “EK IS WAT EK IS. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘EK IS’ het my na julle toe gestuur.”

 Die Naam van God “EK IS” (YHWH in Hebreeus, uitgespreek as Yaweh) beteken:

1. Hy is die ewige God wat van altyd af bestaan.
Hy is die begin en die einde, die Alfa en die Omega.

2. Hy is 'n God van verhoudings.
Hierdie Naam van God word net in die Bybel gebruik wanneer God se persoonlike verhouding met sy mense ter sprake is

3. Hy is altyd met ons.
God is persoonlik betrokke in mense se lewens. Hy is nie 'n veraf God nie.

4. Hy is die onveranderlike God wat altyd dieselfde is.

5. Hy is volkome heilig en verhewe bo die mensdom.

6. Hy is getrou aan sy ewige verbond.
Toe God sy verbond (Ek sal vir jou 'n God wees en jy en jou nageslag moet my volk wees) met Abraham gesluit het, het Hy homself as Yahweh voorgestel en daarmee het Hy beloof dat Hy altyd getrou sal wees aan sy beloftes.

7. Hy is vol misterie wat nooit te volle geken kan word nie.
Ons kan God nooit ten volle ken nie, maar wat ons nodig het om van Hom te weet, openbaar Hy deur sy Gees in sy Woord vir ons. Alhoewel ons Hom nooit ten volle kan ken nie, kan ons groei in ons verhouding met Hom.

In die Nuwe Testament hoor ons nog verder wat “EK IS” beteken. Jesus stel Homself voor as “EK IS”.

Die sewe “EK IS” uitsprake van Jesus:

1.  Ek is die brood van die lewe. Joh. 6 v 35
Net soos wat brood jou liggaam voed, is Jesus die Brood wat jou geestelik voed.

2.  Ek is die lig vir die wêreld. Joh. 8 v 12
Jesus is die Lig wat die duisternis van die sonde verdryf. Hy bring hoop en ewige lewe vir elkeen wat in Hom glo.

3.  Ek is die deur vir die skape. Joh. 10 v 7
Jesus is die enigste weg na God toe.

4.  Ek is die goeie herder. Joh. 10 v 11
Jesus is die herder van sy skape, sy eiendom. Hy sorg vir sy skape en maak seker dat hulle alles kry wat hulle nodig het. Hy dra die belange van sy kudde op die hart en Hy dra die volle verantwoordelikheid van hulle. Hy lê sy lewe vir sy skape af. Christus het sy lewe opgeoffer sodat elkeen wat in Hom glo kan lewe.

5.  Ek is die opstanding en die lewe. Joh. 11 v 25
Jesus het die mag van die dood met sy opstanding gebreek. Met ander woorde Hy is magtig om ook aan elke sondaar lewe uit die dood te gee.

6.  Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Joh. 14 v 6
Jesus is die weg na die ware ewige lewe. Werklik lewe kan net by Jesus gevind word.

7.  Ek is die ware wingerdstok. Joh. 15 v 1
Ons is die lote wat voortspruit uit hierdie wynstok en word gesnoei sodat ons vrug kan dra. Deur die swaarkry in die lewe waar jy deur die skerp lem van die snoeiskêr gesnoei word laat Hy dit wat seer is ook ten goede meewerk in jou lewe.

Waar gaan soek jy hulp wanneer die lewe te moeilik word? Gaan soek jou hulp by “EK IS” wat jou oneindig liefhet.

Hy het sy Seun, (die waaragtige God wat ter wille van jou mens geword het) gestuur, sodat jy kan lewe omdat Hy jou so lief het

Amen


18 Julie 2013

By Jesus is dood nie regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe

28 Apr. 2013 Joh. 11:1-44; Teksverse – Joh. 11:25 & 26

Lof-Psalm Ps. 33 v 1 &           (OAB)
Na Wet Ps. 40 v 4                             (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 5                (NAB)
Slotsang Ps. 46 v 1 & 6           (OAB)

Wat is lewe? Wat is ware lewe? Wat is dood en wat veroorsaak die dood? Lewe, dood, twee begrippe wat onlosmaaklik deel is van elke mens se bestaan. Met hierdie verhaal van Lasarus verduidelik die Here vir ons wat dit beteken om waarlik te leef en wat veroorsaak dood.

Jesus was besig om die mense te leer toe Hy die onstellende berig ontvang dat sy goeie vriend Lasarus siek is. By die aanhoor van die nuus tree Jesus baie vreemd op. Hy verklaar dat die siekte nie op die dood sal uitloop nie, en Hy is ook nie juis haastig om na Lasarus toe gaan nie! Wanneer Jesus uiteindelik by Lasarus en sy susters uitkom groet Marta met so half verwytend: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Sy glo, maar tog is dit nog net ’n teoretiese abstrakte geloof wat nog nie werklik ’n impak op haar lewe het nie. Toe Jesus die graf wou oopmaak waarsku sy: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Vir haar is die opstanding van haar broer net ’n teoretiese geloofsaak wat nie praktiese implikasies in haar lewe het nie.

Voel ons nie ook dikwels so nie? Ons bid tot die Here en dan wag ons en ons wag. Dit is dan wanneer ons die fout maak om te dink dat God nie omgee nie. Soms sê ons ook dat ons God vertrou, maar dit bly maar net ’n teoretiese saak wat nie werklik ’n impak op ons lewens het nie. Dit is dan wanneer ons moet verstaan dat God besig is met iets wat beter is as wat ons nou vra en dat ons ook moet vertrou dat Hy wel uitkoms sal gee. Ons moenie vra en dan dink dit sal nie gebeur nie. Soms moet ons wag op die Here met die wete dat sy vertragings met sy seën gepaardgaan. Toe Jesus die berig van Lasarus se siekte ontvang het Hy vir sy dissipels
gesê
“Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
Hiermee verduidelik Jesus dat die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van sy se eie opstanding uit die dood. Sy dissipels het gehoor dat Lasarus se dood ’n groter doel gehad het, maar Marta en Maria het nie geweet nie. Hulle moes net vertrou en geduldig op die Here wag.

Wanneer Jesus by Marta kom verstaan sy nog steeds nie toe Hy vir haar vertel dat Lasarus gaan opstaan uit die dood nie. Sy glo in ’n opstanding wat eendag daar ver teen die einde gaan plaasvind. Jesus sê vir haar egter vir haar dat dit nou gaan gebeur, maar nog steeds verstaan sy nie. Dan sê Jesus vir haar:
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Hierin lê ’n geweldige troos vir elke gelowige met die versekering dat ek sal lewe al het ek gesterwe as ek in Jesus Christus glo. Dit sê ook vir my dat as ek eers die ewige lewe ontvang het, dat ek dit nooit in alle ewigheid weer sal verloor nie.

Jesus se “Ek is” uitspraak is baie belangrik. Marta se stelling dat sy in die opstanding glo is vir haar nog net ’n abstrakte begrip sonder dat dit nog werklik betekenis vir haar het. Jesus stel dit as ’n feit wat met Hom as persoon geïdentifiseer word. Hy sê nie dat Hy die dooies sal laat opstaan nie. Hy IS die opstanding want Hy is die lewe. Hy beklemtoon dat die mens alleen onsterflik kan wees deur onlosmaaklik in geloof aan Hom verbind te wees. Teenoor die Fariseërs wat die opstanding aan die einde verkondig, kom sê Jesus nou ook dat ons deur Hom die opstanding en lewe in die hede kan ervaar. Dit kan nie deur die dood vernietig kan word nie. Lewe bly gebonde aan Jesus Christus deur geloof. Elkeen wat glo in Jesus, betree die ewige lewe en sal geestelik in alle ewigheid nooit sterwe nie.

Voordat Jesus vir Lasarus opwek gebeur daar egter eers iets baie belangriks. Jesus huil! Die Jode wat daar was het gedink dat Jesus hartseer was omdat Lasarus gesterf het. Maar dit is nie hoekom Jesus gehuil het nie. Hy het tog geweet dat Hy binnekort vir Lasarus gaan opwek. Jesus se trane wys vir ons dat Hy omgee vir ons hartseer en pyn in die lewe. Hy is nie ongevoelig vir ons swaarkry in die lewe nie. Jesus huil oor die sonde wat soveel ellende in die lewe veroorsaak. Hy huil oor die sonde wat ons so maklik in ’n doodloopstraat laat beland. Jesus huil oor my sondes! Jesus huil omdat Hy mens geword het en dat Hy daarom weet wat se hartseer ons in die lewe ervaar. Jesus huil vir en saam met ons!

Dan bewerk Jesus die wonderwerk van Lasarus se opstanding toe Hy met ’n harde stem roep” “Lasarus kom uit!” Die wonder lê nie daarin dat Hy Lasarus wat al vier dae dood was weer lewend gemaak het nie want Lasarus sou tog weer liggaamlik sterf. Die wonder is dat Jesus die mag het om die ewige lewe te gee aan elkeen wat in Hom glo. Vir die ongelowige beteken die dood die einde, maar iemand wat in Jesus glo, bly lewe al het hy ook fisiek gesterf.

Omdat Jesus vir ons sê “Ek is die opstanding en die lewe” kan elkeen van ons sê:
·        Ek is vergewe
·        Ek is weer heel gemaak
·        Ek is weer herstel as God se kind
·        Ek is weer vry van die slawebande van die sonde
·        Ek is weer lewendig en ek lewe ’n lewe van oorvloed
·        Ek is beskerm
·        Ek is geliefd
·        Ek is voorspoedig
·        Ek is ’n oorwinnaar
·        Ek is geseënd en
·        Ek is ’n seën vir ander.
In die plek van hopeloosheid het ek hoop vir die toekoms omdat ek weet dat die toekoms in God se hand is. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet dat God my nooit alleen sal laat nie. God sal my nooit eenkant gooi en van my vergeet nie. Die tydelike hartseer wat ek in hierdie lewe ervaar sal verander in vreugde omdat ek weet dat ek ewig saam met God is.

Die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van Jesus se eie opstanding uit die dood en die groot betekenis wat dit vir ons het wat in Jesus Christus glo. By Jesus is dood nie regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe. Solank as wat dit egter net ’n teoretiese geloof is, hou dit nog nie veel troos in nie. Kom ons gryp Jesus se verlossing met geloof aan sodat die lewe wat daar in Hom en sy opstanding is prakties deel van my lewe kan word want by Jesus is dood nie regtig dood nie.

Amen

Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is

14 Apr. 2013 Joh. 10:1-21; Teksverse – Joh. 10:14 & 15

Lof-Psalm Ps. 136 v 1 & 2      (OAB)
Na Wet Ps. 84 v 1 & 3            (OAB)
Na Gebed Ps. 23 v 1 - 3          (OAB)
Slotsang Ps. 119 v63               (OAB)

Inleiding
Besef ons werklik hoe kosbaar ons vir God is? Met die beeld van ’n Herder teenoor sy skape verduidelik die Here vir ons hoe kosbaar ons werklik is. Verlede week het ons stilgestaan by die “Ek is die deur vir die skape” uitspraak van Jesus waar Hy vir ons verduidelik het dat Hy die enigste ingang tot God is. Hierdie week fokus ons op sy “Ek is die goeie Herder” uitspraak waar Hy aan ons verduidelik hoe kosbaar ons vir Hom is.

Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie herder” dan verduidelik Hy met hierdie beeld van ’n skaapboerdery hoe kosbaar ons vir Hom is. In die teks kom daar vyf aspekte van ’n goeie Herder na vore naamlik:
1) Die liefde van die Herder vir sy skape
2) Elke skaap het ’n naam en is daarom spesiaal
3) Skape ken die stem van die Herder
4) Diewe en rowers wil die skape van koers af bring
5) Jesus se bedoeling vir ons is ’n lewe in oorvloed
Ons kan dit saamvat deur te sê:
Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

1 Die liefde van die Herder vir die skape – bereid om sy lewe af te lê
Die omstandighede waarin skape in Israel moes oorleef is weerbarstig, droog en hard. Daar is baie gevare wat hulle bedreig soos byvoorbeeld dat hulle kan verdwaal en in ’n rotsskeur val of deur wilde diere oorval word. Daarom kan die kudde nie sonder ’n herder oorleef nie. Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie Herder” dan sê Hy vir ons dat net soos die skape ’n herder nodig het om na hulle om te sien het ons ook ’n Herder nodig om na ons om te sien sodat ons nie verlore gaan nie.

’n Skaap wat in die sorg van ’n goeie herder is, beleef geborgenheid en vrede. Net so beleef ons vrede en geborgenheid in die sorg van Jesus. Jesus sorg vir ons deur middel van die Heilige Gees wat na ons toe gestuur is na Jesus se hemelvaart. Wanneer Jesus my Herder is, is ek nie meer in die mag van die ou duiwel nie omdat ek nou die eiendom van my Herder is soos ons ook in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely:
My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Omdat Jesus my Herder is beteken dit dat Hy wil hê dat dit met my goed sal gaan omdat Hy deel van my lewe is. Omdat Jesus my Herder is weet ek dat Hy my nooit in die steek sal laat nie. Hy sal ons nie verlore laat gaan nie en sal die 99 skape wat veilig is los om na my wat verlore is te gaan soek. As ek op een van die afdwaalpaaie in die lewe beland wat mens weg van God af lei, sal Jesus my kom soek omdat Hy my oneindig baie lief het. Ek is so spesiaal dat Jesus bereid was om sy lewe vir my af te lê soos ons hoor in Joh. 10:17
Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af.

2 Elke skaap is so spesiaal dat hy/sy persoonlik op die naam geroep word
In Joh. 10:3b hoor ons:
Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
Dit sê vir ons dat Jesus elkeen van sy skape persoonlik ken soos ons hoor in Joh. 10:14
Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken
Die diep verbondenheid tussen Herder en skape weerspieël die verbondenheid tussen Vader en Seun. Die verhouding tussen Vader en Seun is ’n volmaakte verhouding.

Omdat Jesus my Herder is, is daar ook ’n verhouding tussen my en die Vader en dit bring vir my die wonderlike troos dat die Vader vir my persoonlik omgee en kan ek ook getroos word met woorde van Jes. 43:1-3:
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Die Here gee vir my om!

3. Skape ken die stem van die Herder – volg Hom. Loop ons op sy spoor?
’n Mens sou dink dit is onmoontlik om uit al die stemme wat vandag op ons afkom en ons van alles belowe, om daarin die stem van die Goeie Herder te herken. Die wonder van God se genade is egter dat Jesus se skape sy stem tussen al die verwarring uitken. Ons het ’n verantwoordelikheid om na die Herder se stem te luister.

Hoe weet ons wanneer is dit Jesus se stem? Jesus praat met ons deur sy Woord. As dit wat ons hoor strydig is met die Woord, dan is dit nie Jesus se stem nie. Ons hoor sy stem deur suiwere Woordverkondig. Ons sien sy stem in die suiwere bediening van die sakramente soos Hy dit in sy Woord aan ons openbaar. Ons voel sy stem in die toepassing van die tug en daarom is dit dan ook die kenmerke van die ware kerk.

Net soos die skape nooit ’n vreemde sal volg nie en van Hom af sal weghardloop, moet ons net na Jesus se stem luister en weghardloop van die vreemde stemme van die wêreld. Onthou hoe Josef van Potifar se vrou af weggehardloop het toe sy hom wou verlei. Daar is in ons tyd baie vreemde stemme wat in stryd is met God se Woord. Om werklik te weet of ons Jesus se stem hoor, moet ons die stem wat ons hoor aan sy woord gaan toets.

4 Pas op vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring
In Joh. 10:11-13 hoor ons:
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ’n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
Daar is mense wat hulself as herders voordoen en voorgee dat hulle na die skape omsien. Hulle gee egter nie werklik vir die skape om nie en stel die skape aan gevaar bloot. Wanneer die gevaar dreig hardloop hulle weg.

Wanneer Jesus en sy opoffering aan die kruis nie sentraal staan in ’n predikant of pastoor se boodskap nie, is hy soos ’n huurling wat die skape aan die gevaar bloot stel. Moenie agter hulle aanloop nie. As Jesus nie sentraal in ons lewe staan nie, is ons op die verkeerde pad, want dit is slegs Jesus wat werklik vir sy skape omgee.

5 Jesus se bedoeling: lewe, en dit in oorvloed.
In Joh. 10:9-10 hoor ons:
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Net soos ’n goeie Jesus se doel is om sy skape by die beste weiding uit te bring, is Jesus se doel dat ons ’n lewe in oorvloed kan hê.

Ons moet egter nie die oorvloed met die wêreldse definisie daarvan verwar nie. Oorvloed in diè sin verwys nie na ’n oorvloed materiële besittings en rykdom nie. Geld kan nie geluk en vrede koop nie. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die oorvloed van God se genade. Sy eindelose geduld met ons en dat Hy ons elke slag weer optel wanneer ons geval het. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die voorreg om God persoonlik te ken en om sy liefde te ervaar deur die soenverdienste van Jesus Christus.

Slot
Wanneer Jesus vir ons sê “Ek is die goeie Herder”, dan vertel Hy vir ons:
1) van sy liefde vir sy skape en dat Hy bereid is om sy lewe vir hulle af te lê;
2) dat elke skaap so spesiaal is dat Hy hom/haar persoonlik op die naam roep;
3) die skape die stem van die Herder ken en dat hulle net vir Hom volg.
4) om op te pas vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring en
5) dat sy bedoeling met ons die lewe is en dit in oorvloed!

Kom ervaar die vrede en geborgenheid van ons goeie Herder want Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

Amen

Jesus is die enigste ware deur tot God

7 Apr. 2013 Joh. 10:1-21; Teksverse – Joh. 10:7 & 9

Lof-Psalm Ps. 100 v 1 & 4      (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 2                   (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11             (OAB)
Slotsang Ps. 23 v1                  (OAB)

Inleiding
Kan ons God sonder Jesus leer ken? Jesus gebruik hier in Joh. 10 die beeld van ’n skaapboerdery om hierdie vraag te beantwoord. God as Herder en sy volk as skape is ’n beeld wat baie in die Bybel gebruik word. Dink maar aan die geliefde Ps. 23. Die beeld van ’n herder en sy skape is ook die beeld wat Jesus gebruik om die groot verskil tussen Hom en die Joodse leiers te verduidelik. Hiermee verduidelik Jesus waarom dit noodsaaklik is dat ons in Hom moet glo. Verse een tot vyf is ’n storie wat Jesus vertel sodat die ons die beeld skaapboerdery sal verstaan wat Hy hier gebruik. Vanaf vers sewe pas Hy die beeld dan op Homself toe om aan ons te verduidelik dat Hy uniek is en dat daar geen ander alternatief is om weer met God versoen te word nie.

In Joh. 10:1 & 2 word twee groepe mense teenoor mekaar gestel, naamlik die rowers wat nie by die hek ingaan nie teenoor die herder wat wel daar ingaan. Die ingang tot die skaapkraal is die plek waar besluit word of iemand eg is of nie. In Joh. 10:3 vertel Jesus van die verhouding tussen die herder en sy skape is. Die skape luister net na die herder se stem en sal nie ’n vreemde volg nie. In Joh. 10:4&5 word ons vertel van die vertroue wat die skape in die herder het en die noue band wat daar tussen hulle is. In die hierdie teksgedeelte hoor ons dat Jesus die ingang en die Herder vir sy skape is. Vandag fokus ons op die ingang gedeelte waar Jesus met nog ’n “Ek is” uitspraak verduidelik wie en wat Hy werklik is. Met die volgende diens gaan ons op die Herder fokus.

Agtergrond
Om die beeld wat Jesus hier gebruik te verstaan moet ek net eers kortliks verduidelik hoe die skaapboerdery in die Bybelse tyd gewerk het. Elke trop skape het ’n spesifieke herder gehad wat hulle opgepas het. Bedags het die herder hulle na die weiveld geneem en snags het hy hulle weer terug gebring na die veiligheid van die skaapkraal. Hierdie krale het gewoonlik klipmure gehad wat hoog genoeg was sodat die skape nie oor dit kon klim nie.

Daar was net een opening wat dan as ingang tot die skaapkraal gedien het. Verder het hy ook gewoonlik doringtakke bo-op die mure gepak om die ongediertes uit te hou. Daar was dus net een manier om by die kraal in te kom, naamlik deur die opening wat as deur gedien het. In die nag het die herder dan ook binne daardie ingang geslaap. Die skape kon dus nie uitgaan sonder dat die herder dit geweet het nie en geen ongewenste persone of ongediertes kon sonder sy medewete inkom nie.

Wanneer Jesus dus sê “Ek is die ingang vir die skape” verduidelik Hy dat Hy die enigste ingang na die ewige lewe en God is. Hy is die Herder wat ingang daartoe bewaak en niemand kon sonder Hom inkom nie. In hierdie konteks het die beeld van ’n deur of ingang dan ook ’n baie spesifieke betekenis.

’n Deur bring skeiding.
In die eerste plek skei ’n deur die wat binne is af van die wat buite is. Diegene wat binne is lyk anders as hulle wat buite is. Uitverkore kinders van God leef anders as hulle wat God nie ken nie. Die wêreld se manier van doen en die wêreld se waardes lyk anders as die gelowiges se waardes en manier van doen. Gelowiges word baie maal verkleineer omdat hulle anders as die wêreld lewe. Dit moet ons weet dat ons nie gewild sal wees onder die wêreld nie en dat ons ook nie enigsins moet poog om deur die wêreld aanvaar te word nie. Wie werklik binne in Jesus se skaapkraal is moet verwag dat die wêreld hulle sal spot en verkleineer net soos Jesus ook bespot en verkleineer is.

’n Deur beteken ’n besluit om nie die waarheid vir die leuen te veruil nie
Ons leef vandag in ’n wêreld waar die leuen as waarheid voorgehou word en waarheid as leuen. Daar word verkondig dat elkeen sy eie waarheid het. Wat waar is vir een is nie noodwendig waar vir ’n ander nie. In wese kom dit daarop neer dat daar geen waarheid is nie! Hiermee word dan verkondig dat elkeen deur sy eie geloof by God uitkom. Die Christen deur sy geloof in Christus, die Hindoe deur sy geloof, die Moslem deur sy geloof in Mohammed, selfs al is al hierdie gelowe verskillend van mekaar. Jesus ontbloot die onwaarheid hiervan wanneer Hy in Joh. 10:9 sê:
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.

Die onsinnigheid van die post modernistiese siening word duidelik wanneer mens logies daaroor nadink. As daar gesê word dat daar geen waarheid is nie, hoe kan ons weet of die stelling dat daar geen waarheid is nie waar is? In ons dag tot dag lewe leef ons ook nie so nie. As ek iemand R100 skuld kan ek mos nie R10 betaal deur te redeneer dat vir my is ’n Rand eintlik R10 werd en daarom kan ek met R10 my skuld van R100 afbetaal nie!

Die waarheid is dat daar net een deur is na die ewige lewe saam met God, naamlik Jesus Christus. ’n Geloof wat nie Jesus Christus as die middelpunt het nie kan mens nie by God uitbring nie.

’n Deur beteken verlossing.
Jesus Christus beteken vir ons dat ons gered word en dit beteken dat ons lewe en daarom sê Jesus vir ons:
as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry
Ons gaan by die deur in wanneer ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het en dat Hy met sy opstanding aan ons die ewige lewe gee. Verlossing beteken dat al ons sondes vergewe is en dat ons daarom kinders van God is. Verlossing gee aan ons die sekerheid dat ons gered is. Ons hoef nie daaroor te twyfel nie. As ek in Jesus Christus glo kan ek verseker weet dat ek verlos is.

Verlossing beteken dat ons vry is. Vryheid beteken nie dat ons maar kan voortgaan om te sondig nie. Dis nie vryheid nie, want dan is ons nog slawe van die sonde! Vryheid beteken dat ons die voorreg het om Jesus Christus te volg en die lewe te leef tot Gods eer wat Hy van die begin af vir ons beplan het. Dan word ons deur waarheid beheer en deur liefde aangespoor. Dan is ons los van die negatiwiteit van ons sondige lewe. Dan het ons hoop en nie meer die wanhoop van ’n troostelose bestaan waar alles tot niks kom nie.

Verlossing beteken geluk en vrede selfs wanneer ons deur moeilike tye gaan. Dit beteken dat wanneer die storms van die lewe om my begin woed dat ek by God gaan skuiling soek met die wete dat Hy my deur dit sal dra.

Slot
Jesus is die deur wat vir ons toegang tot God en die ewige lewe gee. As ons deur die deur gegaan het is daar skeiding tussen ons en die wêreldse manier van doen. Ons voel anders en tree anders op. Jesus Christus as deur beteken vir ons die waarheid dat ons slegs deur sy soenverdienste met God versoen kan word. Jesus Christus as deur beteken dat ons waarlik lewe vanuit sy genade. Moenie deur ’n ander deur tot God probeer nader nie want Jesus Christus is die enigste ware deur tot God.

Amen