Skriflesing Mat. 11:25-30 tv 28
25Daardie tyd het Jesus gesê:
“Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en
geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja,
Vader, so was dit u genadige bedoeling.
27“My Vader het alles aan My toevertrou, en
niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie,
behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.
28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai
is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My,
want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle
gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”
Die een ding in die lewe waaroor ons seker kan wees is dat dit nie sonder sorge is nie. Niemand van ons kan sê dat hy geen bekommernisse het nie. Elkeen van ons het een of ander bekommernis waaroor ons, ons kwel.
Sommige se
bekommernisse is groter as ander, maar elkeen het sy eie bekommernisse. Dit is
hierdie sorge van die lewe wat ons van gemoedsrus beroof. Dit keer dat ons
werklik ware vrede beleef.
By elke mens is daar
’n soeke om van hierdie onrus ontslae te raak. Sommige soek dit in geld en
besittings. Ander soek dit drank of selfs dwelms. Party mense soek dit in
aansien en roem of om so vêr as moontlik teen die korporatiewe leer te vorder. Ongelukkig
bring nie een van hierdie metodes ware vrede vir die mens nie. Die enigste plek
waar mens ware rus en vrede vind is by Jesus Christus.
Die sorge van die
lewe
Ons teksvers beskryf
vir ons wat die sorge van die lewe aan ’n mens doen:
“Kom
na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is
Die sorge van die
lewe maak mens uitgeput en dit
oorlaai jou. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken
letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot worstelstryd.
Dit gaan hier oor
meer as net fisiese uitputting. Dis daardie emosionele en geestelike uitputting
wat die lewe op jou plaas wanneer dinge net nie meer sin maak nie. Wanneer die
lewe net te veel word en jy weet nie watter kant toe nie.
Dit beskryf daardie
punt in mens se lewe waar jy moed opgee omdat jy nie kans sien om aan te gaan
nie. Daardie punt waar die lewe vir jou net te veel word. En dit is omdat jy
oorlaai is met bekommernisse en moeilike lewensomstandighede.
Elkeen se
bekommernisse is uniek en verskil van mekaar. Dit wat vir my na iets
onbenulligs lyk is vir die volgende persoon ’n groot bekommernis en probleem.
Die effek daarvan is egter dieselfde naamlik dat dit ’n mens eventueel uitput
en oorlaai.
Daar is maar net een
rede waarom die sorge en bekommernisse van die lewe so swaar op mens rus.
Sonde! My eie sonde en ook die effek wat ander mense se sonde op my lewe het.
Ons leef in ’n gebroke wêreld waar sonde ’n direkte en indirekte effek op
elkeen van ons het. My sondige en selfsugtige optrede raak my negatief en dit
raak die mense om my negatief. Die mense om my se sondige selfsug raak my
negatief.
Die oorsprong van ons
sorge vind ons in die gebrokenheid van hierdie wêreld. Die uiteinde van sonde
is dat dit tussen jou en God kom staan. En dit is op die uiteinde die werklike
rede van onvrede en onrus in ’n jou lewe.
Wat is die oplossing
vir die sorge van die lewe?
Geld, besittings,
aansien, drank of die ander alternatiewe wat die wêreld bied, bring nie rus en
vrede van die sorge van die lewe nie.
Ons kan alleen ware
rus by Jesus vind.
“Kom
na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal
julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en
nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my
las is lig.”
Wanneer Jesus sê: “Kom
na My toe” is dit meer as om net te glo. Dit is ’n uitnodiging om Hom te
ken en deur Hom God te vind.
Wanneer Jesus sê: “Ek
sal julle rus gee” dan is dit baie meer as net fisiese rus. Dit is ’n
uitnodiging vir iemand wat geestelik vermoeid is, om innerlike vrede,
verlossing van sonde, en herstel van die siel te vind. Jesus bied verligting vir
elkeen wat onder die las van sonde, skuld, en wettisisme gebuk gaan.
Die Sabbat van die Ou
Testament is ’n heenwysing na die volheid van die rus wat gelowiges in Jesus
Christus vind. Christus roep ons om op te hou werk vir verlossing en rus te
vind in God se genade deur die voltooide werk van Christus te vind.
Jesus se uitnodiging
is om volledig in elke aspek van jou lewe aan Hom te behoort soos wat ons ook
in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely: “My
enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel in lewe en in
sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus
behoort”
Jesus nooi ons uit om
die vervulling van ons diepste behoefte by Hom te vind. Dit is om in gemeenskap
met God te leef.
Wanneer Jesus sê: “Neem My juk op julle…” dan gebruik Hy die voorbeeld van die houtraam wat twee osse verbind het.
Die
juk het verseker dat die osse saamwerk en dat hulle in lyn in dieselfde rigting
getrek het. Wanneer jy Jesus se juk opneem, dan bring jy jou siel in lyn met
Christus se leer en karakter en jy beweeg in dieselfde rigting as Hy.
Die
juk het gesorg dat die twee diere ewe swaar trek. Wanneer jy Jesus se juk
opneem dan dra Hy die swaarste las. Jesus neem nie die swaarkry van die lewe
weg nie, maar Hy maak dit draaglik omdat Hy dit saam met jou dra.
Die
trekosse moes hulle aan die juk onderwerp. Jesus se juk vra van jou nederigheid
en dat jy gewillig moet wees om van Hom te leer en wanneer jy dit doen word jy
geestelik vervul met rus en vrede en wat alle verstand te bowe gaan.
Wanneer
Jesus sê dat sy juk ‘sag’ is, dan sê Hy dat dit goed vir jou sal wees en dat jy
vrede daarin sal vind om aan iemand goed, liefdevol en geduldig verbind te
wees.
Wanneer Jesus sê: “kom
leer van My” dan bedoel Hy nie net kennis nie. Hy nooi ons uit om Hom te
volg en sy dissipels te wees.
Dit is nie moeilik om
Jesus se volgeling te wees nie, want Hy is nie hardhandig nie, maar sagmoedig
en nederig van hart.
Samevatting
Wanneer jou lewenspad
te swaar word. Wanneer die lewe nie meer sin maak nie, kom vind jou rus by
Jesus, want om by Jesus rus te vind en Hom te volg verander jou lewe. Jesus se
juk is nie ’n las nie, maar ’n lewenspad onder sy leiding.
Dit beteken:
• Jy loop saam met Hom, nie alleen nie.
•
Jy onderwerp jou aan sy wysheid, nie aan
die wêreld se eise nie.
•
Sy juk is draaglik omdat Hy dit saam met
jou dra.
Deur die tekens van
brood en wyn wys die Here vir ons op ’n besonderse wyse hoe om na Jesus toe te
kom om rus te vind.
Die heilige Nagmaal
is ’n misterie wat baie dieper is as die sigbare tekens van brood en wyn. Met
Nagmaal troos die Here ons op ’n sigbare wyse met die wete dat jy deel in die
lewe wat Christus met sy lyde, sterwe en opstanding verwerf het.
Deur die Nagmaal
versterk die Heilige Gees ons geloof sodat ons die vrede en rus vir ons gemoed
kan ervaar wat Christus vir ons in
Kom na Jesus toe
almal wat uitgeput en oorlaai is, want by Jesus is daar rus vir jou onrustige
gemoed.
Amen