19 Mei. 2013 Mat. 11:25 - 30 Fokusgedeelte : Mat 11:28
Lof-Psalm Ps. 18:1 (OAB)
Na Wet Ps. 40:4 (OAB)
Na Gebed Ps. 33:5 (OAB)
Slotsang Ps. 84:2
& 6 (OAB)
Inleiding
Die een ding in die lewe waaroor
ons seker kan wees is dat dit nie sonder sorge is nie. Niemand van ons kan sê
dat hy geen bekommernisse het nie. Elkeen het een of ander bekommernis waaroor
ons, ons kwel. Sommige se bekommernisse is groter as ander, maar elkeen het sy
eie bekommernisse. Dit is hierdie sorge van die lewe wat ons van gemoedsrus
beroof. Dit keer dat ons werklik ware vrede beleef.
By elke mens is daar ’n soeke om
van hierdie onrus ontslae te raak. Sommige soek dit in geld en besittings.
Ander soek dit drank of selfs dwelms. Party mense soek dit in aansien en roem
of om so vêr as moontlik teen die korporatiewe leer te vorder. Ongelukkig bring
nie een van hierdie metodes ware vrede vir die mens nie. Die enigste plek waar
mens ware rus en vrede vind is by Jesus Christus.
Verlede week het ons gehoor dat
die ware rus van die Sabbat in Jesus Christus is. Hierdie week luister ons na
hoe mens rus vind in Jesus Christus want dit is net by Jesus waar ons rus vind
vir ons onrustige gemoed.
Die sorge van die lewe
Ons teksvers beskryf vir ons wat
die sorge van die lewe aan ’n mens doen
“Kom na My toe,
almal wat uitgeput en oorlaai is, .....
Die sorge van die lewe maak mens
uitgeput en dit oorlaai mens. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is
beteken letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot
worstelstryd. Dit beskryf daardie punt in mens se lewe waar jy moed opgee omdat
jy nie kans sien om aan te gaan nie. Daardie punt waar die lewe vir jou net te
veel word. En dit is omdat jy oorlaai is met bekommernisse en moeilike
omstandighede.
Elkeen se bekommernisse is uniek
en verskil van mekaar. Dit wat vir my na iets onbenulligs lyk is vir die
volgende persoon ’n groot bekommernis en probleem. Die effek daarvan is egter
dieselfde naamlik dat dit ’n mens eventueel uitput en oorlaai. Elkeen van ons
dra die las van die sorge van die lewe. Vir party is dit ’n huweliksverhouding
wat maar net nie wil uitwerk nie, vir ander finansiële oorlewing. Gaan ek more
nog ’n werk hê? Of dalk is dit eensaamheid. Noem maar op. Elkeen van ons weet
maar alte goed watter bekommernisse ons in die lewe het.
Daar is maar net een rede waarom
die sorge en bekommernisse van die lewe so swaar op mens rus. Sonde! My eie
sonde en ook die effek wat ander mense se sonde op my lewe het. Ons leef in ’n
gebroke wêreld waar sonde ’n direkte en indirekte effek op elkeen van ons het.
My sondige en selfsugtige optrede raak my negatief en dit raak die mense om my
negatief. Die mense om my se sondige selfsug raak my negatief. Kom ons neem ’n
eenvoudige voorbeeld om dit prakties te verduidelik. Wanneer ek van iemand
skinder benadeel dit persoon van wie ek skinder. Dit benadeel my en diegene
teenoor wie ek skinder. Wanneer iemand van my skinder word ek die slagoffer van
’n ander mens se selfsug en die hartseer is dat ek ook skuldig is om ander
mense ongelukkig te maak. En so kan ons elk van ons sorge se oorsprong in die
gebrokenheid van hierdie wêreld vind.
Die uiteinde van sonde is dat dit
tussen mens en God kom staan. En dit is op die uiteinde die werklike rede van onvrede
en onrus in ’n mens se lewe.
Wat is die oplossing vir die sorge
van die lewe?
As geld of besittings of aansien
of drank nie rus en vrede bring van die sorge van die lewe nie, wat dan? Daar
is maar net een antwoord:
“Kom na My toe,
almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
In Mat 11:27 is dit duidelik dat
dit net Jesus is wat hierdie gebroke verhouding met die Vader kan herstel en
dit is eers wanneer hierdie verhouding met God herstel is dat ons ware vrede
kan vind.
In Mat 11:26 sê die Here vir ons
dat dit slegs uit God se genade is en in vers 25 sê Hy vir ons dat God se
genade nie iets is wat mens met jou verstand kan uitredeneer of verdien nie.
Dit is iets wat ons met kinderlike geloof moet aanvaar. God se genade word met
Nagmaal dan ook op ’n sigbare wyse deur die brood en wyn vir ons uitgebeeld.
Dis ’n misterie wat baie dieper is as die sigbare tekens van brood en wyn. Die
Heilige Gees versterk hiermee ons geloof sodat ons die vrede en rus vir ons
gemoed kan ervaar wat Christus vir ons in Mat 11:29 belowe.
Die troos wat ons ontvang is dat
die lewe saam met Christus nie ’n sware las is wat mens moet dra nie. Die beeld
wat hier gebruik word van ’n juk verduidelik dit mooi. ’n Juk is ’n swaar hout
wat op ’n os wat ’n wa moes trek se nek gesit is wat ’n las en moeite was. Nou
sê Jesus vir ons dat sy las lig is en glad nie so swaar is soos die juk wat op
’n os se nek gesit is nie. Die swaar juk verwys na die swaar las van die wet
terwyl Jesus se juk verwys na ’n liefdevolle verhouding met God. Hiermee sê die
Here vir ons dat ons nie nodig het om ’n klomp godsdienstige reëls na te kom om
rus en vrede by Hom te vind nie. Jesus se uitnodiging is eenvoudig:
“Kom na My toe,
almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Kom ons gaan sit nou aan by die
tafel van die Here sodat ons kan deel in die enigste ware rus wat net by Jesus
beskikbaar is.
Amen