3 Nov. 2013 Mat 11. Fokusgedeelte
: Mat. 11:28-30
Lof-Psalm Ps. 92-1:1
& 6
Na Wet Ps. 25-2:5
Na Gebed Ps. 119-2:10
, 11 7 26
Slotsang Ps. 34-1:4
& 5
Inleiding
Verlede
Sondag het ons gehoor dat die Sabbat van die Ou Testament ’n heenwysing is na
die rus wat ons in Christus vind. Hierdie week gaan ons fokus op HOE ons in
Christus moet rus. Om te verstaan hoe ons in Christus moet rus gaan ons in die
eerste plek luister na hoekom ons rus nodig het. Daarna gaan ons net weer
stilstaan by waar ware rus vandaan kom en laastens gaan ons spesifiek kyk hoe
ons moet rus.
Hoekom
het ons rus nodig?
Die
mense aan wie Jesus hierdie uitnodiging oorspronklik gerig het was die Jode wat
gebuk gegaan het onder die swaar las van die wet wat die Fariseërs op hulle
neergelê het. Die Fariseërs het daarop aangedring dat mense met intense
toewyding elke reël van die wet van Moses tot op die letter moes nakom. Die
Fariseërs het ’n lys van 39 dinge opgestel wat op die Sabbat verbode was. Deur
vir elke moontlike geval ’n gebod op te stel, wou hulle verseker dat elkeen sou
weet wat geoorloof en wat nie geoorloof is nie. Daardie lys was gegrond op die
Joodse tradisies en op hulle interpretasie van God se wet.
Volgens
die leerstellings van die rabbi’s van daardie tyd moes jy deur die presiese
nakoming van die reëls bewys dat jy goed genoeg is vir God. Daar was geen
sprake van rus nie, inteendeel dit was BAIE harde werk! Hierdie juk van
wettisisme het ’n ondraaglike swaar las om te presteer op die volk geplaas.
Daarmee moes jy bewys dat jy goed genoeg is.
Ons
is egter tog nie meer gekoppel aan al die Joodse reëls en wette nie, so wat het
dit dan nou eintlik met ons te doen? Alhoewel ons nie meer aan die presiese
reëls van daardie tyd gebonde is nie, is daar nog steeds ’n druk op ons om te
presteer. Net soos die Fariseërs van destyds is daar vandag ook godsdienstige
leiers wat ons probeer oortuig dat ons deur ons optrede moet bewys dat ons
“goeie” mense is. Verder is dit ook ’n verwagting wat deur ons samelewing
geskep word. Daar is nie tyd of plek vir sukkelaars nie. Mense wat nie die pas
kan volhou nie word eenkant toe gestoot.
U
weet hoe gejaag die lewe is. Selfs die kinders spring dit nie vry nie. Hulle
tyd word deesdae so ingedeel dat hulle heel dikwels eers laataand tyd kry om
huiswerk te doen. Die druk op kinders om te presteer neem al hoe meer toe.
Ouers is ook so besig dat daar min tyd vir die gesin oor is. Man en vrou leef
by mekaar verby. Dis nie om dowe neute dat die moderne lewe vergelyk word met
’n muis wat op ’n oefenwieletjie hardloop nie. Jy hardloop jou vrek en jy kom
nêrens nie.
Die
gejaagde lewe bring mee dat ons geestelik uitgeput raak want daar is nie meer
tyd om by die Bron rus en vrede te vind nie. Ons lewens is so volgemaak met die
daaglikse aktiwiteite dat daar nie tyd is vir Bybellees nie. Daar is nie tyd
vir gebed nie. Dit is wat veroorsaak dat klein dingetjies in die lewe naderhand
so oorweldigend raak dat ons nie weet watter kant nie. Wanneer daar dan ’n groot
krisis oor ons pad kom word ons heeltemal op die grond neergegooi!
Ons
het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie.
Waar
kry ons rus?
Die
Fariseërs was die slim en geleerde mense van daardie tyd, maar ten spyte daarvan
kon hulle nie begryp wat die ware doel van die Sabbat was nie. Hulle het op die
verkeerde manier probeer om die rus van die Sabbat te vind. Dit wat vir hulle
rus moes gee het baie harde werk geword wat nog net meer uitputtend was.
Net
soos die Fariseërs soek ons vandag ook maar op die verkeerde plek na rus. Ons
soek dit in die najaag van geld en materiële besittings. Ons soek dit in status
en erkenning. Wanneer iets in my lewe so belangrik raak dat dit alles anders
oorheers is dit ’n gevaarteken dat ek my rus op ’n verkeerde plek soek.
Die
ander gevaar is dat ek wel by die regte plek kom soek, maar dat ek dit op ’n
verkeerde manier soek. Dit is waar die Fariseërs gestruikel het. Hulle het God
met hulle verstand probeer uitredeneer en dit het nie gewerk nie. Wanneer ons
beter as God probeer weet moet ons die gevaartekens raaksien. Al wat ons moet
doen is om God te vertrou soos wat ’n klein kindjie sy vader en moeder vertrou
om vir hom te sorg.
Hoe
weet ek dat ek rus op die verkeerde manier soek? Wanneer dit vir my moeite word
om God te dien. As dit vir my moeite is om die eredienste by te woon of
betrokke te wees by die gemeente se aktiwiteite en ek dit nou maar net doen om
die ouderling, eggenoot of ouers tevrede te probeer hou dan weet ek dat ek besig
is om my rus op ’n verkeerde manier by God te soek. Die gevolg is natuurlik ook
dat ek geen rus kry op die manier nie! Die langtermyn gevolg is dat ek wegraak.
Hoeveel van ons broeders en susters is maar net in naam op die lidmaatregister
deel van die gemeente? In terme van meelewing met die gemeente is hulle lankal
nie meer deel van die kerk nie. As my meelewing met die gemeente vir my moeite
is en ek nie werklik rus vind nie, moet ek weet dat die logiese uiteinde is dat
ek wegdryf van die kerk af!
Nog
’n teken dat ek op die verkeerde manier rus soek is dat ek so bietjie trots
daarop voel dat ek darem nog ’n “goeie” Christen is! Ek kyk so ’n bietjie neer
op die ander sondaars. Ek moet so ’n bietjie self ondersoek gaan instel of ek
nie ook maar soos die Fariseër bid wat saam met die tollenaar daar in die
tempel gaan bid het nie. Klink my gebed dalk soos die Fariseër sin? (Luk.
18:11)
‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is
nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.
Dan
moet ek maar weer bietjie mooi gaan luister na wat Jesus daaroor sê soos ons
hoor in Luk 18:14 (Lees gerus weer die hele gedeelte Luk 18:9-14
“Ek sê vir julle: Hierdie tollenaar, en nie die
Fariseër nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen
wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”
Daar
is maar net een plek waar ons rus kan vind en dit is by Jesus Christus soos ons
hoor in Mat 11:27:
“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand
ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe
die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.
En
dit bring ons nou by die vraag:
Hoe
moet ons rus?
Met
Jesus se uitnodiging: “
“Kom na
My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer
van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus
kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
sê
Hy vir ons hoe ons dit moet doen.
Kom na My toe:
Begin
elke dag met gebed waarin jy jouself en die dag se gebeure aan God se leiding
toevertrou. Praat met God (gebed) en luister na Hom (Bybellees). Moenie van jou
gebede ’n noodwiel maak waar jy net in tye van krisis van God onthou en dan
dringend by Hom smeek om jou te red nie. Moet ook nie van jou gebed ’n
inkopielys maak waar jy net vrae en vra dat God aan elke gril en gier van jou
moet voldoen nie.
Kommunikeer
met Hom. Wanneer mens in ’n ware verhouding met God leef vind jy rus. Dan
hanteer jy jou besige dag met die Krag wat God vir jou gee. Dan is dit moontlik
om die dinge wat oor jou pad kom (groot en klein) te hanteer met die wete dat
God in beheer is. Dan bepaal jy jou prioriteite met God se wysheid en nie met
jou eie gebrekkige selfsugtige wysheid nie.
leer van My
Vertrou
dat die Here om jou lewe te bestuur. Baseer jou besluite op die beginsels en
norme wat Hy in sy Woord vir ons gee. Wanneer jou dag nie presies loop soos
beplan nie (wat nogal dikwels gebeur) vertrou die Here en vra na sy wysheid om
die veranderde skedule te hanteer.
Ek is sagmoedig en nederig van hart
Baseer
jou aksies op Jesus se voorbeeld. Wees sagmoedig en nederig en nie aggressief
en arrogant nie. Moenie ongeduldig en gefrustreerd raak nie en moet veral nie
jou frustrasie en ongeduld op ander uithaal nie! Wees nog steeds vriendelik,
geduldig. Moenie boek hou van die kwaad wanneer ander moedswillig jou dag laat
verkeerd loop en jou benadeel nie. Vergewe nog steeds en moenie kwaad met kwaad
vergeld nie. Bly by die waarheid in alles wat jy doen en sê.
Neem my juk, want My juk is sag en my las is lig
Weet
dat jy ’n bevoorregte kind van God is wat nie nodig het om vir God en die
wêreld te bewys dat jy goed genoeg is nie. Jy hoef nie voor te gee wat jy nie
is nie. Jy kan maar net jy wees en weet dat dit goed genoeg is vir God.
Om
Jesus se las te dra beteken dat ek weet dat ek ’n kind van God is omdat
Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het. Dit beteken dat ek weet dat
ek nou ’n nuwe herstelde mens is wat na die beeld van God geskep is en dat ek
Hom kan eer met alles wat ek doen en sê. My las is lig want ek weet dat die
Heilige Gees my dra en help om werklik die lewe te leef wat God vir my beplan
het. My las is lig omdat ek God vertrou met die wete dat dit wat Hy oor my pad
bring ten goede sal uitwerk en dat Hy in beheer is van my lewe.
Slot
Ons
het rus nodig omdat ons nie in eie krag die sorge van die lewe kan oorkom nie.
Ons kan net by Jesus Christus ware rus vind. Ons rus in Jesus Christus wanneer
ons in ’n verhouding met Hom saamleef deur gereeld met Hom te praat (gebed) en
gereeld na Hom te luister (Bybellees). Ons vind rus by Jesus Christus wanneer
ons by Hom leer en luister na dit wat Hy vir ons in sy Woord leer. Ons vind rus
by Jesus wanneer ons sy voorbeeld van sagmoedigheid en nederig navolg en dat
ons nie aggressief en arrogant is nie. Ons vind rus by Jesus wanneer ons sy juk
opneem met die wete dat dit sag is en die las lig is omdat ons God ten volle
vertrou en die lewe te leef wat Hy vir ons beplan het.
Geliefdes
kom ons vind ons rus by Jesus wanneer die sorge van die léwe ons vasdruk
Amen