Wys tans plasings met die etiket Matteus 11:28. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Matteus 11:28. Wys alle plasings

17 Augustus 2025

By Jesus is daar rus vir jou onrustige gemoed

 

Skriflesing Mat. 11:25-30 tv 28

 25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Die een ding in die lewe waaroor ons seker kan wees is dat dit nie sonder sorge is nie. Niemand van ons kan sê dat hy geen bekommernisse het nie. Elkeen van ons het een of ander bekommernis waaroor ons, ons kwel.

Sommige se bekommernisse is groter as ander, maar elkeen het sy eie bekommernisse. Dit is hierdie sorge van die lewe wat ons van gemoedsrus beroof. Dit keer dat ons werklik ware vrede beleef.

By elke mens is daar ’n soeke om van hierdie onrus ontslae te raak. Sommige soek dit in geld en besittings. Ander soek dit drank of selfs dwelms. Party mense soek dit in aansien en roem of om so vêr as moontlik teen die korporatiewe leer te vorder. Ongelukkig bring nie een van hierdie metodes ware vrede vir die mens nie. Die enigste plek waar mens ware rus en vrede vind is by Jesus Christus.

Die sorge van die lewe

Ons teksvers beskryf vir ons wat die sorge van die lewe aan ’n mens doen:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is

Die sorge van die lewe maak mens uitgeput        en dit oorlaai jou. Die Griekse woord wat met “uitgeput” vertaal is beteken letterlik om emosioneel afgemat te wees as gevolg van ’n groot worstelstryd.

Dit gaan hier oor meer as net fisiese uitputting. Dis daardie emosionele en geestelike uitputting wat die lewe op jou plaas wanneer dinge net nie meer sin maak nie. Wanneer die lewe net te veel word en jy weet nie watter kant toe nie.

Dit beskryf daardie punt in mens se lewe waar jy moed opgee omdat jy nie kans sien om aan te gaan nie. Daardie punt waar die lewe vir jou net te veel word. En dit is omdat jy oorlaai is met bekommernisse en moeilike lewensomstandighede.

Elkeen se bekommernisse is uniek en verskil van mekaar. Dit wat vir my na iets onbenulligs lyk is vir die volgende persoon ’n groot bekommernis en probleem. Die effek daarvan is egter dieselfde naamlik dat dit ’n mens eventueel uitput en oorlaai.

Daar is maar net een rede waarom die sorge en bekommernisse van die lewe so swaar op mens rus. Sonde! My eie sonde en ook die effek wat ander mense se sonde op my lewe het. Ons leef in ’n gebroke wêreld waar sonde ’n direkte en indirekte effek op elkeen van ons het. My sondige en selfsugtige optrede raak my negatief en dit raak die mense om my negatief. Die mense om my se sondige selfsug raak my negatief.

Die oorsprong van ons sorge vind ons in die gebrokenheid van hierdie wêreld. Die uiteinde van sonde is dat dit tussen jou en God kom staan. En dit is op die uiteinde die werklike rede van onvrede en onrus in ’n jou lewe.

Wat is die oplossing vir die sorge van die lewe?

Geld, besittings, aansien, drank of die ander alternatiewe wat die wêreld bied, bring nie rus en vrede van die sorge van die lewe nie.

Ons kan alleen ware rus by Jesus vind.

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Wanneer Jesus sê: “Kom na My toe” is dit meer as om net te glo. Dit is ’n uitnodiging om Hom te ken en deur Hom God te vind.

Wanneer Jesus sê: “Ek sal julle rus gee” dan is dit baie meer as net fisiese rus. Dit is ’n uitnodiging vir iemand wat geestelik vermoeid is, om innerlike vrede, verlossing van sonde, en herstel van die siel te vind. Jesus bied verligting vir elkeen wat onder die las van sonde, skuld, en wettisisme gebuk gaan.

Die Sabbat van die Ou Testament is ’n heenwysing na die volheid van die rus wat gelowiges in Jesus Christus vind. Christus roep ons om op te hou werk vir verlossing en rus te vind in God se genade deur die voltooide werk van Christus te vind.

Jesus se uitnodiging is om volledig in elke aspek van jou lewe aan Hom te behoort soos wat ons ook in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely: “My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort”

Jesus nooi ons uit om die vervulling van ons diepste behoefte by Hom te vind. Dit is om in gemeenskap met God te leef.

Wanneer Jesus sê: “Neem My juk op julle…” dan gebruik Hy die voorbeeld van die houtraam wat twee osse verbind het.

Jesus gebruik hier ’n voorbeeld uit die landbou van sy tyd. Die juk het twee osse verbind sodat hulle gesamentlik die las kon dra en saamtrek. Jesus gebruik dit as voorbeeld om te verduidelik dat Hy saam met jou die laste van die lewe deel. Jy hoef nie die swaarkry in die lewe alleen te dra nie, want Jesus dra dit saam met jou.

Die juk het verseker dat die osse saamwerk en dat hulle in lyn in dieselfde rigting getrek het. Wanneer jy Jesus se juk opneem, dan bring jy jou siel in lyn met Christus se leer en karakter en jy beweeg in dieselfde rigting as Hy.

Die juk het gesorg dat die twee diere ewe swaar trek. Wanneer jy Jesus se juk opneem dan dra Hy die swaarste las. Jesus neem nie die swaarkry van die lewe weg nie, maar Hy maak dit draaglik omdat Hy dit saam met jou dra.

Die trekosse moes hulle aan die juk onderwerp. Jesus se juk vra van jou nederigheid en dat jy gewillig moet wees om van Hom te leer en wanneer jy dit doen word jy geestelik vervul met rus en vrede en wat alle verstand te bowe gaan.

Wanneer Jesus sê dat sy juk ‘sag’ is, dan sê Hy dat dit goed vir jou sal wees en dat jy vrede daarin sal vind om aan iemand goed, liefdevol en geduldig verbind te wees.

Wanneer Jesus sê: “kom leer van My” dan bedoel Hy nie net kennis nie. Hy nooi ons uit om Hom te volg en sy dissipels te wees.

Dit is nie moeilik om Jesus se volgeling te wees nie, want Hy is nie hardhandig nie, maar sagmoedig en nederig van hart.

Samevatting

Wanneer jou lewenspad te swaar word. Wanneer die lewe nie meer sin maak nie, kom vind jou rus by Jesus, want om by Jesus rus te vind en Hom te volg verander jou lewe. Jesus se juk is nie ’n las nie, maar ’n lewenspad onder sy leiding.

Dit beteken:

•   Jy loop saam met Hom, nie alleen nie.

•   Jy onderwerp jou aan sy wysheid, nie aan die wêreld se eise nie.

•   Sy juk is draaglik omdat Hy dit saam met jou dra.

Deur die tekens van brood en wyn wys die Here vir ons op ’n besonderse wyse hoe om na Jesus toe te kom om rus te vind.

Die heilige Nagmaal is ’n misterie wat baie dieper is as die sigbare tekens van brood en wyn. Met Nagmaal troos die Here ons op ’n sigbare wyse met die wete dat jy deel in die lewe wat Christus met sy lyde, sterwe en opstanding verwerf het.

Deur die Nagmaal versterk die Heilige Gees ons geloof sodat ons die vrede en rus vir ons gemoed kan ervaar wat Christus vir ons in Mat 11:29 belowe.

Kom na Jesus toe almal wat uitgeput en oorlaai is, want by Jesus is daar rus vir jou onrustige gemoed.

Amen