07 Junie 2015

Die Heilige Gees dra ons met gebed deur die donker tye van swaarkry

Rom. 8:18-30 teksverse 26 & 27

3 Mei 2015
Ps. 48-1 : 1, 4 & 5
Ps. 68-1 : 1 & 3
Ps. Ps. 63-2 : 1
Ps. 46-1 : 1 & 6

Hoekom is die lewe so swaar? Hoekom moet ons so sukkel? Ek staan verbyster as ek so na die verwoesting op die foto’s van die aardbewing in Nepal kyk. Ek voel geskok oor die nuus dat die onderwyseres wat in Port Elisabeth vermoor is se verloofde moontlik agter ’n komplot kan sit wat vir haar dood verantwoordelik was. Soveel boosheid om ons. Hoekom? As ons so na ons eie lewens kyk dan is daar net soveel hoekoms. Hoekom veroorsaak siekte soveel lyding? Hoekom moet ons so swoeg om ’n bestaan te maak? Hoekom, hoekom .................?

Een ding is seker, swaarkry en lyding is deel van ons daaglikse bestaan en die rede daarvoor hoor ons in Rom. 8:20a
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.
As gevolg van die mens se rebelse opstand teen God se gesag waarvan ons in Gen. 3 hoor is die skepping onderwerp aan ’n sinlose bestaan soos die Prediker ook bevestig met sy uitroep “Alles tevergeefs, Alles kom tot niks, ’n gejaag na wind” wat soos ’n refrein deur die boek loop. Die gebeure wat in Gen. 3 beskryf is, hou verreikende gevolge vir die hele mensdom in en die skepping sug oor die gevolge.

Wanneer ons so na die slegte dinge in die wêreld om ons en in ons eie lewens kyk moet ons nie moedeloos raak nie soos ons in Rom. 8:18 hoor
Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.
Want dit is nie ’n hopelose saak nie soos ons hoor in Rom. 8:20b & 21
Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid , om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

Ons hoop op iets beter omdat ons gered is soos wat ons Rom. 8:24a hoor.
Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.
Christus het die straf vir die mens se opstand teen God gedra en daarom kan elkeen wat in Jesus Christus glo vashou aan die hoop op iets beters. Al lyk dit nou donker om my weet ek dat God daar is en dat Hy my deur hierdie donkerte sal dra.

Ons is nou in ’n tyd wat mens kan beskryf as ’n reeds en ’n nog nie. Met sy kruisiging en opstanding het Christus die vloek van die sonde gebreek, maar ons sien dit nog nie ten volle nie. Ons ly nog steeds onder die gevolge van die sonde. Ten spyte daarvan hoop ons op ’n tyd dat ook die gevolge van die sonde nie meer sal wees nie soos ons hoor in Rom. 8:24b & 25
Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.
Dit gebeur egter soms dat mens moedeloos word. Die lewe het ’n geneigdheid om vir ’n mens ’n dwarsklap van agter te gee wat jou hele wêreld omkeer. Dit is dan wanneer dit moeilik raak om aan die hoop vas te hou. Dan sien mens nie verby die hier en die nou nie. Jy sien net die donkerte van die huidige omstandighede raak. Dit is gebed wat ons deur hierdie donker tye dra, maar dit gebeur ook soms dat die omstandighede maak dat mens nie kan bid nie. Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie. Ons het gebed so broodnodig, maar ons kan nie bid nie!

Dit is in hierdie tye wat God se genade soos ’n helder lig in die donker skyn. Ons moet vashou aan die troos wat ons in Rom. 8:26 & 27 hoor:
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Wanneer die lewe vir jou te veel word moet jy weet dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker tye van swaarkry dra. Die hoop waaraan ons vashou is nie iets wat daar ver in die toekoms lê nie. Dit is ’n hoop vir die hier en nou. As die hoop maar net daar ver in die toekoms was, sou die belofte van Rom. 8:18 ons moeilik getroos het.
Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.
Want ons beleef al reeds so ’n stukkie van die heerlikheid wat kom wanneer ons sien hoe God ons deur die moeilike tye dra. Ek sien dit dalk nie wanneer ek binne in die storm is nie, maar wanneer ek terugkyk dan sien ek hoe God se genade my deur die storm gedra het.

Wanneer ek terugkyk na my lewensreis saam met God, dan sien ek twee rye voetspore daar waar die pad maklik was. Daar waar die pad bitter moeilik was, is daar egter net een ry spore. God se spore, want dit is waar Hy my gedra het. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ek voor ’n donkerte staan waarvoor ek nie kans sien nie. Daardie groot operasie wat vir my voorlê. Ek is bang en ek weet nie hoe gaan ek deur dit kom nie. Die troos is dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker tye van swaarkry dra. Wanneer ek terugkyk na daardie tye in my lewe besef ek hoe God my gedra het en dat Hy my nooit verlaat het nie.

Dit is eers wanneer ek besef hoe God my deur die donker tye in my lewe gedra het dat Rom. 8:28 werklik sin maak.
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Wanneer ek binne in die storm is dan sien ek nie altyd hoe God dit gebruik om te keer dat die bose sy doel daarmee bereik nie. Wanneer ek terugkyk dan sien ek dat ek nie alleen was nie, maar dat God daar was en dat Hy my nooit alleen gelos het nie. Ware vrede kom nie van die gebrek aan teenspoed nie, maar wel van die teenwoordigheid van God in my lewe.

Wat is die ergste wat met ’n mens kan gebeur in hierdie lewe? Dit is dat mens jou lewe verloor. Wat meer kan van jou gevat word as jou lewe? Die verdere troos wat ons hieruit put is dat selfs met ons dood die bose se nie sy doelwit bereik nie. In Gen. 2:17 hoor ons dat die dood die straf is vir die sonde. Jesus Christus het met sy opstanding die angel uit die dood gehaal soos ons in 1 Kor. 15:54b & 55 hoor
“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Die dood wat die finale straf vir die sonde was gebruik God nou ten goede om elkeen wat in Jesus Christus glo finaal van die gevolge te verlos. Die dood hou vir die gelowige geen verskrikking in nie, maar is slegs ’n deurgang na ’n ewige heerlikheid saam met God.

Geliefdes, moenie moedeloos word oor al die swaarkry in hierdie lewe nie. Kyk terug en sien hoe God se genade u deur die swaar tye gedra het. Kyk vorentoe met verwagting na die teenwoordigheid van God in u lewe en na ’n ewigheid saam met God waar die gevolge van die sonde verby is. Doen dit met die verwagting dat die Heilige Gees ons met gebed deur die donker tye van swaarkry dra.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking