07 Junie 2015

Jy is die man! Ware verootmoediging laat my die werklike vreugde van God se genade ervaar

24 Mei 2015 GKE
2 Sam 12 : 1 – 14 en Ps. 51
Teksverse Ps. 51: 14 en 19

Ps. 84-1 v 1 tot 3
Ps. 119-1 v 1 & 2
Ps. 89 v 1 & 6
Sb 9-3 v 1 & 2

Ons leef in ’n wêreld waar die mens nie skuldig voel oor hul eie sondige optrede nie. Ons is baie vinnig om ander se foute uit te wys, maar ons eie foute ignoreer ons! Daar is deesdae ’n kultuur in die samelewing waar mense die standpunt huldig dat “solank ek nie uitgevang word nie, is dit nie sonde nie.” As ek uitgevang word, dan is dit nooit my skuld nie.

Dawid het ook gedink hy kan met sy sonde wegkom. In 2 Sam 11 hoor ons hoe hy owerspel pleeg en daarna moord om te keer dat hy uitgevang word vir sy owerspel.

Op ’n dag het hy op die dak van sy paleis gaan rondstap. Sy paleis was hoog geleë en hy kon afkyk op die stad daar onder, ook op die huis van Urija die Hetiet. In daardie tyd het die huise nie badkamers met krane en lopende water gehad soos vandag nie. Die huise het plat dakke gehad en die badkamer was gewoonlik bo op die dak sodat dit privaatheid kon verskaf. Van die straat af kon mens glad nie sien wanneer iemand daar op die dak bad nie. Omdat die paleis egter hoër as die omliggende gebied was kon Dawid mooi afkyk op die huise hier om hom.

Terwyl hy daar op die dak was het hy gesien hoe Urija se vrou bad en dit is net daar waar die moeilikheid begin het. Haar man was nie by die huis nie omdat hy besig was om teen die Ammoniete te veg. Dawid het haar laat haal en die uiteinde daarvan was dat hulle saam geslaap het. Sonde het egter altyd gevolge. Die gevolg vir Dawid was dat die vrou swanger geword het en sy het vir Dawid laat weet. Wanneer haar man teruggekom het van die oorlog en uitgevind het sy is swanger was sy in GROOT moeilikheid! Dawid moes nou help.

Dawid het dadelik ’n plan gemaak. Hy het vir Urija laat terugkom van die gevegsfront af met die verwagting dat hy by sy vrou sou slaap en dan sal niemand geweet het dat Dawid skuldig was nie. Dinge wou egter nie so uitwerk nie, want Urija se pligsbesef het gekeer dat hy by sy vrou gaan slaap terwyl sy makers besig was om te veg. Soos dit maar gaan ly die een verkeerde optrede tot ’n volgende. Urija moes nou uit die weg geruim word.

Dawid het vir die leer se bevelvoerder Joab laat weet dat hy Urija in die eerste linies van die gevegsfront moes laat veg en dat hy op ’n strategiese tyd sy manskappe moes terugtrek sodat Urija onbeskermd agtergelaat word. So gebeur dit toe dat Urija ook in die geveg dood is. Dawid het gedink dat sy probleme nou op ’n end is. Urija was dood en kon dus nie sê dat hy nie sy vrou swanger gemaak het nie.

Na ’n gepaste tyd van rou het Dawid met Urija se vrou getrou. Dawid het gedink dat niemand sou weet wat regtig gebeur het nie. Hy het egter vergeet dat God alwetend is en ons hoor in 2 Sam 11:26b
Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here

Die Here stuur vir Natan na Dawid toe met ’n storie oor ’n ryk man en ’n arm man wat naby mekaar gewoon het. Die ryk man het groot troppe beeste en skape gehad terwyl die arm man net een ooilammetjie gehad het wat so kosbaar vir die arm man was dat hy haar soos ’n kind in sy huis groot gemaak het. Die ooilammetjie het selfs uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap.

Alhoewel Dawid ’n groot sin vir regverdigheid gehad het is hy maar ook net soos alle mense wat moeilik objektief oor hulle eie sonde dink. Daarom vertel Natan vir Dawid hierdie storie op so ’n manier dat Dawid nie besef dat dit hyself is wat hier in die beskuldigingsbank staan nie. Dawid se reaksie wys dat hy verskriklik ontsteld was oor die onreg wat in hierdie storie uitgebeeld is. Die onreg moet gestraf word!

Is ons nie ook maar so nie? Ons sien die onreg in ons samelewing maklik raak. Ons sien die onsedelikheid, haat, naywer, onverdraagsaamheid en die inhaligheid en korrupsie en al die ander slegte dinge in ons samelewing raak. Luister maar net na die nuus. Daar is genoeg voorbeelde van onreg in ons samelewing. Ons reaksie is tereg ook dat die onreg gestraf moet word. Reg en geregtigheid moet geskied.

Die vraag is egter geliefdes: Wat sal my reaksie wees wanneer ek soos Dawid moet aanhoor: JY IS DIE MAN? In Dawid se geval gee die here vir ons ’n voorbeeld van wat egte berou is soos ons hoor in 2 Sam 12:13
Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”
Hy soek nie verskonings nie. Hy blameer nie ander nie. Dawid toon opregte berou, maar nogtans bly hy nie onaangeraak deur die gevolge van die sonde nie.

Sonde is nie maar net iets wat ek per ongeluk verkeerd gedoen het nie. In hierdie verhaal hoor ons dat enige oortreding van die wil van God, minagting van God self is! Wanneer ons optrede nie met dit wat ons bely ooreenstem nie, gee dit daartoe aanleiding dat God se Naam belaster word soos ons hoor in 2 Sam 12:13
Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”

Dink maar daaraan hoe my optrede ander mense se persepsie van Christene raak. Wanneer mense my lewe sien, is hulle reaksie “ek wil ook so wees” of is hulle reaksie “as dit is hoe Christene lewe wil ek nooit ’n Christen wees nie?”

Sonde dra geweldige gevolge. Nie net vir myself nie, maar ook vir ander. Dink byvoorbeeld daaraan as ek ’n bord laat val op die harde teëlvloer. Die gevolg is ’n stukkende bord. Nou sê ek vir die eienaar van die bord ek is jammer en ek bedoel dit opreg. Die bord se eienaar vergewe my. Maak dit dat die bord nou weer reg is? Selfs al is die breek van so ’n aard dat ek weer die stukke aanmekaar kan plak sal daardie bord nooit weer dieselfde wees nie. Sonde dra gevolge! Dit is eers wanneer daardie bord vervang word met ’n nuwe bord dat die skade herstel word.

Dawid se sonde het onder andere daartoe aanleiding gegee dat ’n onskuldige kind gesterf het. Ons sonde het daartoe aanleiding gegee dat ’n onskuldige Man aan ’n vervloekte kruishout gesterf het. Met sy sterwe en opstanding het Jesus ons weer ’n kans gegee om nuut te begin. Hoe kry ek deel in die nuwe lewe wat Christus vir my aan die kruis en met sy opstanding verwerf het?

Dit begin met ware berou en verootmoediging. Dit vra geloof dat die offer wat Christus vir my gebring het voldoende is om vir my sondeskuld te betaal. Dit vra ’n opregte begeerte om hiervandaan die nuwe lewe wat Christus vir my kom gee het te leef.

Ons vier DV volgende week weer die Heilige Nagmaal. In die aanloop daartoe begin ons met voorbereiding. Voorbereiding behels opregte berou en verootmoediging soos ons hoor in Ps. 51:18 &19
’n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ’n brandoffer wil U nie hê nie.
Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging:
U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.
Die Here vra nie allerlei rituele en optredes nie. Hy vra ’n opregte hart en gesindheid.

Dit begin met gebed en daarom is gebed so ’n belangrike deel van ons geloofslewe. En daarom moet ons fokus ook wees om ’n biddende gemeente te wees. In Ps. 51 gee die Here vir ons ’n voorbeeld van hoe opregte berou en verootmoediging lyk. Dit is ’n gebed, dit wil sê ’n gesprek met God.

Waaroor moet ons met God praat? Wanneer ek werklik berou het erken ek teenoor God: “ek is ’n sondaar.” Wanneer die Here vir my in sy Woord wys “JY IS DIE MAN”, moet ek opreg vir Hom vertel hoe jammer ek is. Daar moet ’n gesindheid van opregte berou by my wees. Ek moet besef wat my sonde is. Dit is ’n baie persoonlike saak tussen my en God. Nie net ’n vae algemene rympie van “vergeef my sonde nie.” Nee, dit moet baie spesifiek wees!

In Dawid se geval was dit owerspel en moord. Wat is dit in my geval? Miskien dat ek sukkel om my humeur te beteuel. Dalk sukkel ek om te vergewe. Elkeen van ons weet wat is die sonde wat tussen my en die Here staan. As jy nie weet nie, vra die Here dat Hy deur sy Gees jou sal ly om dit te ontdek. Praat met die Here. Verduidelik vir Hom waarmee jy sukkel en hoekom jy daarmee sukkel. Daar moet by my ’n innige verlange en begeerte wees om te verander en ek moet besef dat ek nie sonder God se hulp kan verander nie.

Wanneer ek God so in ootmoed en berou benader sal ek ook volgende week die ryke troos van vergifnis in volgende week se Nagmaal beleef. Dan sal ons ook saam met Dawid kan sê (vgl. Ps. 51v14)
Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is,
laat my U weer met toewyding dien.

Geliefdes kom ons gaan bid in hierdie komende week. Kom ons praat met God oor ware berou en verootmoediging oor die sonde wat tussen my en God staan sodat ons ook die vreugde van sy vergifnis en vernuwing kan beleef wanneer ons volgende week by sy tafel kom aansit.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking