05 April 2020

Vind God in die skuilte van die storm

Datum: . 2020 GKE
Skriflesing: Jona 1 & 2
Teksvers: Jona 1 v 4

Sing
Ps. 148-1 v 1




Die beeld van 'n storm word redelik wyd gebruik om vir ons te beskryf hoe hierdie pandemie van die Covid19 virus ons raak en hoe ons daarop moet reageer. In hierdie verhaal van Jona in die storm vind ons heelwat riglyne om ons te help in hierdie tyd van inperking.

Voordat ons begin net die volgende. In die eerste plek: die verhaal gaan nie oor 'n groot vis nie. Die vis word slegs twee maal genoem en maak net 'n klein element van die verhaal uit. Die Bybel bied die verhaal as 'n geskiedkundige gebeurtenis en ons aanvaar dit as sulks omdat die Bybel God se Woord is. Om in argumente betrokke te raak of dit moontlik was vir Jona om in die vis se maag te oorleef lei mens op 'n syspoor weg van die boodskap wat hierdie verhaal vir ons vertel.

Tweedens moet mens versigtig wees om die gebeure in die verhaal net so van toepassing op die gebeure wat ons tans beleef van toepassing te maak. Mens kan nie die gebeure as 'n direkte oorsaak en gevolg op ons van toepassing maak nie.

In die verhaal binne die historiese konteks waarin dit afspeel vind ons sekere beginsels wat ons kan gebruik om sin te maak van ons huidige situasie waarin ons tans is.

Derdens moet mens ook onthou dat hierdie verhaal so 'n ryke inhoud het dat dit onmoontlik is om al die detail daarvan in een preek te dek. Ons fokus vir vandag is:
hoe vind jy God en sy vrede wanneer jy binne in die onstuimigheid van 'n storm is?

Die tema van vandag se preek is: “Vind God in die skuilte van die storm.”

Julle mag nou dalk wonder, hoe kan daar 'n skuilplek binne in 'n onstuimige storm wees en hoe kan jy God daarbinne vind?

Die antwoord vind ons in hierdie verhaal van Jona.
Die verhaal begin waar Jona 'n opdrag van die Here ontvang om in Nineve te gaan preek. Hierdie opdrag maak nie vir Jona sin nie en daarom besluit hy om net mooi die teenoorgestelde te doen as wat die Here van hom vra.  Die Here beveel hom om na Ninive in die ooste te gaan, maar hy besluit om na Tarsis in die weste te vlug.

Dit herinner my aan die verhaal van Adam en Eva waar hulle ook gedink het hulle weet beter as God. Dit het droewige gevolge vir die hele mensdom veroorsaak. Dit het tot vervreemding tussen God en die mens gelei.

Jona het besluit om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af! Die eerste beginsel wat ons hier na vore kom, is dat ongehoorsaamheid aan God vervreemding tussen jou en God bring. Mense wat van God vervreem is, is die grootste nood van die mensdom.

Ten spyte daarvan dat Jona probeer om te vlug weg van die Here af, laat Hy dit nie toe nie. Hierin sien ons God se genade. Nadat Adam en Eva teen God gerebeleer het, het hulle weggekruip vir Hom. Tog kom God na hulle toe en vra “waar is jy?”

Ons hoor hier in die verhaal van Jona dat die Here letterlik 'n groot wind agter Jona en die skip waarop hy gevlug het gegooi het soos mens 'n spies sal gooi. Daardie wind het 'n GROOT storm veroorsaak. Ons hoor dat die gesoute seemanne wat sekerlik al baie storms op see deurleef het, absoluut vreesbevange was. Dit was nie maar net 'n gewone storm nie.

Die tweede beginsel wat ons hier op gaan fokus, is dat God selfs 'n storm sal gebruik wanneer Hy vra “waar is jy?” om jou aandag te kry.

Verder moet ons ook kennis neem dat die storm nie 'n strafmaatreël was nie. Dis BAIE belangrik dat ons dit raaksien. Die storm is deel van God se genade! God se genade is dat Hy jou nie maar net aan jou lot oorlaat nie. As Hy Jona maar net gelos het, sou Jona vir ewig van Hom vervreem gewees het.

Dan hoor ons hoe die mense op daardie skip reageer het. Die seemanne wat die Here nie geken het nie, het alles in hul vermoë gedoen om die storm te oorleef, maar dit het niks gehelp nie.

Aan die ander kant was Jona wat die Here geken het. Mens sou verwag dat hy sy toevlug tot God sou neem, maar hy doen nie. Hy het onder in die boot gaan lê en slaap. Dis ironies dat die skeepskaptein wat God nie geken het nie, vir Jona moes wakker skud en beveel om te bid, maar weereens doen Jona dit nie!

Die beginsel wat hier na vore kom, is dat selfs al ken jy die Here dan gaan dit jou niks help wanneer jy in 'n storm is, as jy afsydig teenoor Hom is nie. Dan is jy nog net so verlore soos die persoon wat Hom glad nie ken nie.

Verder hoor ons dat die Here vir Jona gebruik om Homself aan die ongelowige skeepsbemanning bekend te maak. Dis ironies dat Jona wat gevlug het omdat hy nie vir God aan die heidene in Nineve wou verkondig nie, tog deur God gebruik word om Homself aan die skeepsbemanning wat Hom nie geken het nie, bekend te maak.

Verder hoor ons ook dat die Here nie opgehou het met Jona totdat hy tot inkeer gekom het nie. Dit het tot gevolg gehad dat die skeepsbemanning Jona oorboord moes gooi en dit het meegebring dat hulle tot 'n diepe besef van die almag van die Here gekom het. Soveel so dat hulle tot Hom geoffer het en geloftes afgelê het.

Hulle wat die Here nie geken het nie, het Hom nou aanbid. Die beginsel wat hier na vore kom is dat die Here storms gebruik om ongelowiges na Hom toe te bring. In hierdie storm het die Here al die dinge waarop hulle gewoonlik staat gemaak het, weggeneem. Hulle vernuf as seemanne het hulle nie gehelp nie. Dit het niks gehelp dat hulle al hulle vrag oorboord gegooi het nie. Hulle gebede tot hul eie gode het hulle niks gehelp nie. Op die uiteinde was dit net hulle en God in die storm en dit het geverg dat hulle God moes vertrou.

Hulle het God binne in die storm gevind want die storm het dit wat hulle van God sou weghou vir hulle verskuil. Binne die skuilte van die storm het hulle die Here gevind.

Intussen is Jona oorboord gegooi. Weereens is dit duidelik dat die doel daarvan nie was om te straf nie. Dit was die Here se genade sodat Jona tot inkeer sou kom. Hy stuur 'n vis om te keer dat Jona nie verdrink nie.

Binne in die vis is Jona van alles gestroop wat tussen hom en die Here gestaan het. Daar het hy tot inkeer gekom. Daar het hy tot die besef gekom dat hy 'n sondaar was. Daar het hy besef dat hy volkome van God afhanklik was. In Jona 2 v 9 hoor ons hoe hy erken , “hulp kom net van die Here af.”

Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis se maag. Dit is 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus. Ons hoor in Mat. 12 v 40:
Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.
Ons vind God se genade in Jesus Christus wat met sy lewe betaal het sodat die vervreemding wat sonde tussen jou en God veroorsaak het tot niet gemaak kan word sodat jy weer met God versoen kan word.

Nou kom ons by die vraag: “Wat leer hierdie verhaal van Jona ons oor die Corona storm waarin ons tans vasgekeer is?”

Die eerste beginsel is dat ons in 'n wêreld leef wat in opstand is teen God se gesag en dat daar selfs mense is wat Hom ken wat opstandig is teenoor Hom.

Die tweede beginsel is dat hierdie virus deel is van God se skepping en dat Hy dit gebruik om mense wat in opstand teen Hom is, terug te bring na Hom toe. Ons moenie hierdie pandemie sien as God se straf nie.

Die derde beginsel is dat daar baie sogenaamde kerkmense wat sê dat hulle God ken, maar tog afsydig teenoor Hom staan. As jy nog afsydig teenoor die Here staan moet jy tot inkeer kom.

Die vierde beginsel is dat God ook binne hierdie omstandighede sy kerk gebruik om Hom aan mense wat Hom nie ken nie, bekend te stel. Wereldwyd het daar nuwe deure oopgegaan vir kerke om die evangelie te verkondig.

Hy het kerkgeboue gesluit, maar tog bereik kerke nou baie meer mense met die evangelie as die wat Sondae in die kerkgebou bymekaar gekom het. Baie meer mense wat in normale omstandighede nie 'n erediens in 'n kerkgebou sou bywoon nie, word nou deur middel van die internet bereik.

Gebruik hierdie geleentheid wat die Here vir ons gegee het. Nooi mense uit om Sondae om 9h00 by ons aan te sluit. Stuur vir hulle die FaceBook skakel na ons blad of sê vir hulle dat hulle op Facebook moet soek na “Gereformeerde Kerk Empangeni.” Nooi hulle uit om die blad te “Like”. As u dit nog nie gedoen het nie, doen dit vandag nog. Sodoende ontvang jy kennisgewings van die dagstukkies en nuus wat op die blad geplaas word.

Die vyfde beginsel is dat die Here hierdie omstandighede gebruik om mense na Hom toe terug te bring. Ons sal nooit weet hoeveel mense wat God nie geken het nie tot geloof gekom het as gevolg van hierdie Corona storm.

Die laaste beginsel is dat jy slegs deur Jesus Christus tot God kan nader. Erken dat jou sonde tussen jou en God staan en dat jy totaal van Hom afhanklik is om jou te red. Glo dat Jesus vir jou aan die kruis gesterf het sodat jy weer met God versoen kan word.

Samevatting
Geliefdes, die meeste van ons is in afsondering by die huis. Dit laat my nogal dink dat ons binne die vis se maag is. Gebruik hierdie tyd om te besef hoe afhanklik jy van God is en dat jy net by Hom rus vir jou gemoed kan vind. Ons is gestroop van baie van dit wat ons as selfsprekend ervaar. Dalk doen die Here dit juis sodat ons aandag van al die normale dinge ;wat so maklik tussen ons en Hom staan; weggetrek kan word sodat ons Hom weer raak kan sien. Hierdie storm beskerm ons van die dinge wat ons aandag van God af wegtrek. Wanneer Jesus al is wat jy oor het, besef jy dat Jesus al is wat jy nodig het.

Ons staan midde in hierdie Corona storm. Gebruik die geleentheid wat die Here vir jou daarmee gee. Vind God in die skuilte van die storm.
Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking