Wys tans plasings met die etiket God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God. Wys alle plasings

05 April 2020

Vind God in die skuilte van die storm

Datum: . 2020 GKE
Skriflesing: Jona 1 & 2
Teksvers: Jona 1 v 4

Sing
Ps. 148-1 v 1




Die beeld van 'n storm word redelik wyd gebruik om vir ons te beskryf hoe hierdie pandemie van die Covid19 virus ons raak en hoe ons daarop moet reageer. In hierdie verhaal van Jona in die storm vind ons heelwat riglyne om ons te help in hierdie tyd van inperking.

Voordat ons begin net die volgende. In die eerste plek: die verhaal gaan nie oor 'n groot vis nie. Die vis word slegs twee maal genoem en maak net 'n klein element van die verhaal uit. Die Bybel bied die verhaal as 'n geskiedkundige gebeurtenis en ons aanvaar dit as sulks omdat die Bybel God se Woord is. Om in argumente betrokke te raak of dit moontlik was vir Jona om in die vis se maag te oorleef lei mens op 'n syspoor weg van die boodskap wat hierdie verhaal vir ons vertel.

Tweedens moet mens versigtig wees om die gebeure in die verhaal net so van toepassing op die gebeure wat ons tans beleef van toepassing te maak. Mens kan nie die gebeure as 'n direkte oorsaak en gevolg op ons van toepassing maak nie.

In die verhaal binne die historiese konteks waarin dit afspeel vind ons sekere beginsels wat ons kan gebruik om sin te maak van ons huidige situasie waarin ons tans is.

Derdens moet mens ook onthou dat hierdie verhaal so 'n ryke inhoud het dat dit onmoontlik is om al die detail daarvan in een preek te dek. Ons fokus vir vandag is:
hoe vind jy God en sy vrede wanneer jy binne in die onstuimigheid van 'n storm is?

Die tema van vandag se preek is: “Vind God in die skuilte van die storm.”

Julle mag nou dalk wonder, hoe kan daar 'n skuilplek binne in 'n onstuimige storm wees en hoe kan jy God daarbinne vind?

Die antwoord vind ons in hierdie verhaal van Jona.
Die verhaal begin waar Jona 'n opdrag van die Here ontvang om in Nineve te gaan preek. Hierdie opdrag maak nie vir Jona sin nie en daarom besluit hy om net mooi die teenoorgestelde te doen as wat die Here van hom vra.  Die Here beveel hom om na Ninive in die ooste te gaan, maar hy besluit om na Tarsis in die weste te vlug.

Dit herinner my aan die verhaal van Adam en Eva waar hulle ook gedink het hulle weet beter as God. Dit het droewige gevolge vir die hele mensdom veroorsaak. Dit het tot vervreemding tussen God en die mens gelei.

Jona het besluit om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af! Die eerste beginsel wat ons hier na vore kom, is dat ongehoorsaamheid aan God vervreemding tussen jou en God bring. Mense wat van God vervreem is, is die grootste nood van die mensdom.

Ten spyte daarvan dat Jona probeer om te vlug weg van die Here af, laat Hy dit nie toe nie. Hierin sien ons God se genade. Nadat Adam en Eva teen God gerebeleer het, het hulle weggekruip vir Hom. Tog kom God na hulle toe en vra “waar is jy?”

Ons hoor hier in die verhaal van Jona dat die Here letterlik 'n groot wind agter Jona en die skip waarop hy gevlug het gegooi het soos mens 'n spies sal gooi. Daardie wind het 'n GROOT storm veroorsaak. Ons hoor dat die gesoute seemanne wat sekerlik al baie storms op see deurleef het, absoluut vreesbevange was. Dit was nie maar net 'n gewone storm nie.

Die tweede beginsel wat ons hier op gaan fokus, is dat God selfs 'n storm sal gebruik wanneer Hy vra “waar is jy?” om jou aandag te kry.

Verder moet ons ook kennis neem dat die storm nie 'n strafmaatreël was nie. Dis BAIE belangrik dat ons dit raaksien. Die storm is deel van God se genade! God se genade is dat Hy jou nie maar net aan jou lot oorlaat nie. As Hy Jona maar net gelos het, sou Jona vir ewig van Hom vervreem gewees het.

Dan hoor ons hoe die mense op daardie skip reageer het. Die seemanne wat die Here nie geken het nie, het alles in hul vermoë gedoen om die storm te oorleef, maar dit het niks gehelp nie.

Aan die ander kant was Jona wat die Here geken het. Mens sou verwag dat hy sy toevlug tot God sou neem, maar hy doen nie. Hy het onder in die boot gaan lê en slaap. Dis ironies dat die skeepskaptein wat God nie geken het nie, vir Jona moes wakker skud en beveel om te bid, maar weereens doen Jona dit nie!

Die beginsel wat hier na vore kom, is dat selfs al ken jy die Here dan gaan dit jou niks help wanneer jy in 'n storm is, as jy afsydig teenoor Hom is nie. Dan is jy nog net so verlore soos die persoon wat Hom glad nie ken nie.

Verder hoor ons dat die Here vir Jona gebruik om Homself aan die ongelowige skeepsbemanning bekend te maak. Dis ironies dat Jona wat gevlug het omdat hy nie vir God aan die heidene in Nineve wou verkondig nie, tog deur God gebruik word om Homself aan die skeepsbemanning wat Hom nie geken het nie, bekend te maak.

Verder hoor ons ook dat die Here nie opgehou het met Jona totdat hy tot inkeer gekom het nie. Dit het tot gevolg gehad dat die skeepsbemanning Jona oorboord moes gooi en dit het meegebring dat hulle tot 'n diepe besef van die almag van die Here gekom het. Soveel so dat hulle tot Hom geoffer het en geloftes afgelê het.

Hulle wat die Here nie geken het nie, het Hom nou aanbid. Die beginsel wat hier na vore kom is dat die Here storms gebruik om ongelowiges na Hom toe te bring. In hierdie storm het die Here al die dinge waarop hulle gewoonlik staat gemaak het, weggeneem. Hulle vernuf as seemanne het hulle nie gehelp nie. Dit het niks gehelp dat hulle al hulle vrag oorboord gegooi het nie. Hulle gebede tot hul eie gode het hulle niks gehelp nie. Op die uiteinde was dit net hulle en God in die storm en dit het geverg dat hulle God moes vertrou.

Hulle het God binne in die storm gevind want die storm het dit wat hulle van God sou weghou vir hulle verskuil. Binne die skuilte van die storm het hulle die Here gevind.

Intussen is Jona oorboord gegooi. Weereens is dit duidelik dat die doel daarvan nie was om te straf nie. Dit was die Here se genade sodat Jona tot inkeer sou kom. Hy stuur 'n vis om te keer dat Jona nie verdrink nie.

Binne in die vis is Jona van alles gestroop wat tussen hom en die Here gestaan het. Daar het hy tot inkeer gekom. Daar het hy tot die besef gekom dat hy 'n sondaar was. Daar het hy besef dat hy volkome van God afhanklik was. In Jona 2 v 9 hoor ons hoe hy erken , “hulp kom net van die Here af.”

Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis se maag. Dit is 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus. Ons hoor in Mat. 12 v 40:
Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.
Ons vind God se genade in Jesus Christus wat met sy lewe betaal het sodat die vervreemding wat sonde tussen jou en God veroorsaak het tot niet gemaak kan word sodat jy weer met God versoen kan word.

Nou kom ons by die vraag: “Wat leer hierdie verhaal van Jona ons oor die Corona storm waarin ons tans vasgekeer is?”

Die eerste beginsel is dat ons in 'n wêreld leef wat in opstand is teen God se gesag en dat daar selfs mense is wat Hom ken wat opstandig is teenoor Hom.

Die tweede beginsel is dat hierdie virus deel is van God se skepping en dat Hy dit gebruik om mense wat in opstand teen Hom is, terug te bring na Hom toe. Ons moenie hierdie pandemie sien as God se straf nie.

Die derde beginsel is dat daar baie sogenaamde kerkmense wat sê dat hulle God ken, maar tog afsydig teenoor Hom staan. As jy nog afsydig teenoor die Here staan moet jy tot inkeer kom.

Die vierde beginsel is dat God ook binne hierdie omstandighede sy kerk gebruik om Hom aan mense wat Hom nie ken nie, bekend te stel. Wereldwyd het daar nuwe deure oopgegaan vir kerke om die evangelie te verkondig.

Hy het kerkgeboue gesluit, maar tog bereik kerke nou baie meer mense met die evangelie as die wat Sondae in die kerkgebou bymekaar gekom het. Baie meer mense wat in normale omstandighede nie 'n erediens in 'n kerkgebou sou bywoon nie, word nou deur middel van die internet bereik.

Gebruik hierdie geleentheid wat die Here vir ons gegee het. Nooi mense uit om Sondae om 9h00 by ons aan te sluit. Stuur vir hulle die FaceBook skakel na ons blad of sê vir hulle dat hulle op Facebook moet soek na “Gereformeerde Kerk Empangeni.” Nooi hulle uit om die blad te “Like”. As u dit nog nie gedoen het nie, doen dit vandag nog. Sodoende ontvang jy kennisgewings van die dagstukkies en nuus wat op die blad geplaas word.

Die vyfde beginsel is dat die Here hierdie omstandighede gebruik om mense na Hom toe terug te bring. Ons sal nooit weet hoeveel mense wat God nie geken het nie tot geloof gekom het as gevolg van hierdie Corona storm.

Die laaste beginsel is dat jy slegs deur Jesus Christus tot God kan nader. Erken dat jou sonde tussen jou en God staan en dat jy totaal van Hom afhanklik is om jou te red. Glo dat Jesus vir jou aan die kruis gesterf het sodat jy weer met God versoen kan word.

Samevatting
Geliefdes, die meeste van ons is in afsondering by die huis. Dit laat my nogal dink dat ons binne die vis se maag is. Gebruik hierdie tyd om te besef hoe afhanklik jy van God is en dat jy net by Hom rus vir jou gemoed kan vind. Ons is gestroop van baie van dit wat ons as selfsprekend ervaar. Dalk doen die Here dit juis sodat ons aandag van al die normale dinge ;wat so maklik tussen ons en Hom staan; weggetrek kan word sodat ons Hom weer raak kan sien. Hierdie storm beskerm ons van die dinge wat ons aandag van God af wegtrek. Wanneer Jesus al is wat jy oor het, besef jy dat Jesus al is wat jy nodig het.

Ons staan midde in hierdie Corona storm. Gebruik die geleentheid wat die Here vir jou daarmee gee. Vind God in die skuilte van die storm.
Amen


31 Julie 2016

God is een enige Wese in wie drie Persone is



24 Jul 2016 GKE
Ef. 1 .  Heidelbergse Kategismus Sondag 8
Teksvers Ef. 1v3
Sing       Lofsang: Ps. 111-2 v 1 & 4
              Na wet:    Sb 9-1 v 1 & 11
              Na gebed Sb 15-7 v 1 & 4
              Slotsang   Ps. 48-1 v 1

Sondag 8

24  Vraag:  Hoe word hierdie artikels ingedeel?
Antwoord:  In drie dele:  die eerste handel oor God die Vader en ons skepping;  die tweede oor God die Seun en ons verlossing;  die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
25  Vraag:  Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?
Antwoord:  Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.
(a) Deut 6:4;  Ef 4:6;  Jes 44:6;  45:5;  1 Kor 8:4, 6.  (b) Jes 61:1;  Luk 4:18;  Gen 1:2, 3;  Ps 33:6;  Jes 48:16;  Matt 3:16, 17;  28:19;  1 Joh 5:7;  Jes 6:1, 3;  Joh 14:26;  15:26;  2 Kor 13:13;  Gal 4:6;  Ef 2:l8;  Tit 3:5, 6.

Inleiding

Hoe beskryf mens die onbeskryflike? Hoe verduidelik mens dit wat jy self nie eens verstaan nie? Terwyl daar tog maar net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat ons van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees? Daar is maar net een antwoord op die vraag: Ons glo dit omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is. Kan ons ooit werklik die Drie-Eenheid van God begryp? Nee, geliefdes. Ons verstaan dit nie, maar ons glo dit omdat God Homself so in sy ewige Woord aan ons openbaar soos Hy byvoorbeeld ook in Ef. 1v3 doen:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

God is een enige Wese in wie drie Persone is, God die Vader, sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Die drie persone is onderskeie, nie gedeel nie en ook nie vermeng nie. Die Vader is nie die Seun nie, Die Seun is nie die Vader nie en die Heilige Gees is nie die Vader en ook nie die Seun nie. Hierdie onderskeiding van die drie persone verander niks aan die feit dat Hy slegs een enige God is nie soos die Hy ook vir ons sê in Deut. 6v4:
Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.

Verder is dit ook uit die Skrif duidelik dat God in elk van die drie onderskeie persone ’n unieke werk doen en daarom bely ons ook in die kategismus soos volg oor die drie Persone van God: God die Vader en ons skepping, God die Seun en ons verlossing, God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Vanweë die sondeval het daar ’n skeiding tussen die mens en God gekom en daarom is daar ook soveel elende in die wêreld teenwoordig. Uit homself kan die mens niks doen om weer met God versoen te word nie, maar in sy genade verlos God Drie-Enig ons uit die godverlatenheid waarin die sondeval ons gedompel het. Vader, Seun en Heilige Gees werk saam om ons te bring tot die ewige heerlikheid.

Ons bely God die Vader en ons skepping:
God die Vader bestem ons vir die ewige heerlikheid nog voordat Hy die wêreld geskep het Ef. 1v4:
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.

Ons bely God die Seun en ons verlossing:
In Jesus Christus het God ons verlos van die greep van die sonde Ef. 1v5-7:
In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God

Ons bely God die Heilige Gees en ons heiligmaking:
Die Heilige Gees gee aan ons hierdie verlossing wat Jesus Christus vir ons verwerf het Ef. 1v3 & 13b-14:
3 Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.
13b In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Die Drie-Enigheid van God is ’n geheimenis waarin ons dikwels verstrik raak as ons dit met ons verstand probeer uitredeneer. Iemand het eendag gesê rakende die Drie-Eenheid van God:
Probeer dit verstaan en jy raak van jou verstand af. Ontken dit en jy verloor die ewige lewe.
Ons is so dikwels geneig om te probeer om die verhouding tussen die drie Persone van God te probeer ontrafel dat ons nie by die werklike doel uitkom naamlik om God werklik te leer ken nie soos ook duidelik is uit Paulus se gebed vir die kerk Ef. 1v17:
bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.

In plaas daarvan om die geheimenis van die Drie-Eenheid te probeer ontrafel, moet ons eerder fokus op ons verhouding met die Drie-Enige God. Die verhouding wat ons met God die Vader het as ons Skepper. Hy is die bron, oorsprong en draer van alles. Hy het ons geskape en laat lewe. Ons is die maaksel van sy hande. Hy is ons Skepper en ook ons Vader. En soos ’n vader sorg vir sy kinders, so sorg Hy vir ons (Ps. 103:13):
Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.
Hy dra ons deur die lewe en voorsien in wat ons nodig het. Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het (Rom. 8:28):
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Die verhouding wat ons met God die Seun het. Deur die sonde het daar ’n kloof tussen God en ons gekom en ons het die dood oor onsself gebring. Maar deur Jesus Christus is die wêreld met God versoen en is die dood oorwin. Hy was bereid om Homself te verneder deur ’n mens te word sodat Hy ons straf vir die Sondes aan die kruis kon dra. Deur sy opstanding uit die dood het Hy vir ons die ewige lewe verwerf.
Ef. 1v7-8
7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

Die verhouding wat ons met God die Heilige Gees het. Die Heilige Gees gee aan ons deur die gawe van geloof hierdie ewige lewe wat Christus vir ons verwerf het. Ef. 2v8:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

In Ef. 1v17-19 sê die Here vir ons watter groot waarde dit inhou om in ’n verhouding met die Drie-Enige God te leef:
Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag

In die eerste plek beteken dit dat ons ’n heerlike hoop as gelowige het. Hiermee kry ons die versekering dat ons vir ewig aan God behoort en dat niks ons van sy liefde kan skei nie.

In die tweede plek beteken dit dat ons nou al weet watter heerlike rykdom dit inhou om ’n kind van God te wees. Ons is nou reeds deel van Jesus Christus se kerk en daarom deel ons nou reeds in die heerlikheid om God te ken. Die ewige lewe wat God aan ons uit genade skenk is nou reeds ons deel en dit hou tot in alle ewigheid aan.

In die derde plek beteken dit dat die Here ’n geweldige groot krag in ons uitoefen. Die Heilige Gees wek ons op tot ’n nuwe lewe en stel ons in staat om te begin leef uit die genade van God. Wanneer ons uit die Gees leef dan kan ons werklik die nuwe lewe wat God vir ons bestem het begin beleef.

God is een enige Wese  in wie drie Persone is, God die Vader, sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Die drie persone is onderskeie, nie gedeel nie en ook nie vermeng nie. Daarom bely ons soos volg oor God Drie-Enig: God die Vader en ons skepping, God die Seun en ons verlossing, God die Heilige Gees en ons heiligmaking. Vader, Seun en Heilige Gees werk saam om ons te bring tot die ewige heerlikheid om weer die skeiding te oorbrug wat deur die sondeval veroorsaak is. Die Here is ons God, Hy is die enigste Here onderskei in drie Persone. Ons verstaan dit nie maar ons glo dit, want dit is God Homself in sy Woord openbaar.
Amen