10 April 2020

Τετέλεσται - Dit is volbring!


Datum: Goeie Vrydag 10 April 2020 GKE – Live Stream
Skriflesing: Joh. 19 v 28 – 30 ; Gen. 3 v 15
Teksvers: Joh. 19 v 30



 Hoekom vier Christene wêreldwyd Paasfees? Met Paasfees dink ons weer terug aan die gebeure so bietjie meer as 2 000 jaar gelede toe die Romeine 'n onskuldige Man gekruisig het.

In ons teks hoor ons van die gebeure net kort voordat Hy gesterf het. Kruisiging was 'n pynlike marteldood waar die slagoffer van uitputting en blootstelling gesterf het. Sy liggaam het heeltemal ontwater en op die uiteinde het die persoon versmoor omdat hy te moeg was om homself met sy bene op te stoot sodat hy kon asemhaal. Soos die persoon daar gehang het, het sy gewig sy longe toegedruk. Om te kon asemhaal moes hy homself opstoot teen die spyker waarmee sy voete aan die kruishout vasgespyker was. Naderhand is die persoon net te moeg om aan te gaan.

Dit is die situasie waarin Jesus is hier in Joh. 19 v 28 net enkele minute voor sy dood. Ons hoor hoe Hy sê “Ek is dors.” Die rede hoekom Jesus dit sê is sodat die Skrif vervul kan word.

Van die begin af vind ons in die beloftes in die Ou Testament van 'n Verlosser wat sal kom om die mensdom te verlos. Met hierdie woorde haal Jesus Ps. 69 v 22 aan:
Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.
Hiermee bevestig Jesus dat al die beloftes wat ons in die Ou Testament vind in Hom nagekom is.

Die eerste belofte vind ons reeds Gen. 3 v 15. Dit is net kort na die skepping. Alles was mooi en goed en toe gebeur daar iets verskrikliks. Adam en Eva het in opstand teen God se gesag gekom en daarmee het hulle hulself en die hele mensdom verdoem. Die straf vir hierdie rebelsheid is die ewige dood.

In Gen. 3 v 15 hoor ons 'n boodskap van hoop. God beloof dat daar 'n Verlosser sal kom om die mensdom van die ewige verdoemenis te verlos.
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

Uit die nageslag van die vrou sal 'n Verlosser kom wat die slang se kop gaan vermorsel, dit wil sê 'n oorwinning oor die bose behaal.

Ons hoor egter ook dat die slang die Verlosser in die hakskeen gaan byt. Die Hebreeuse woord wat hier in Afrikaans met “byt” vertaal is beteken letterlik “dodelik tref.” Om die bose te oorwin moet die Verlosser met sy lewe betaal.

Dis hierdie profesie wat nou hier aan die kruis volbring word. Dit klink of dit teen alle logika in is, maar dis hoe God dit beplan het.

In gehoorsaamheid aan God die Vader het sy Seun, Jesus williglik die vernedering ondergaan om mens te word en ons is by die diepte punt van sy vernedering waar Hy die vonnis van die doodstraf vir die sonde, wat vir die mens toegekom het, op Homself neem.

Van die laaste woorde wat Jesus uitroep voordat Hy sterf is “Tetelestai” wat beteken “dit is volbring!” Hierdie enkele woord in Grieks, is 'n woord wat vol betekenis is. Dis 'n triomfantlike oorwinningskreet.

In die Griekse grammatika is hierdie woord in die perfektum tydvorm. Dit beteken dat dit verwys na 'n gebeurtenis wat voltooi is, maar dat daardie betekenis besliste gevolge dra vir die huidige tydsbedeling.

Dit sê vir ons dat Jesus se dood 'n groot invloed het op die pad vorentoe en dat dit inderdaad 'n draaipunt in die geskiedenis van die mensdom was.

Tetelestai het 'n ryke betekenis. In die eerste plek is dit 'n woord wat in sake transaksies gebruik was om aan te dui dat die uitstaande skuld nou ten volle betaal is.

Verder is dit ook 'n term wat gebruik was om aan te dui dat 'n slaaf vry is. Die verpligtinge wat hy gehad is nou volbring. Hy is nou vrygekoop en daarom is hy nou vry van die slawebande wat hom vasgebind het.

Dit was ook 'n woord wat 'n bevelvoerder as 'n oorwinningskreet gebruik het om aan almal te verkondig dat hy die vyand verslaan het.

Toe Jesus Tetelestai uitgeroep het net voor Hy gesterf het, het Hy dit in die volle betekenis daarvan gebruik.

ð  Dit is volbring! Ek het die skuld van die mensdom se sonde ten volle betaal.
ð  Dit is volbring! Julle is nou vrygekoop van die slawebande van die sonde wat julle so vasgebind het.
ð  Dit is volbring! Die mag van satan, sonde en die dood is vir ewig gebreek. Die vyand is oorwin.

Wat beteken Jesus se oorwinning vir ons?

Dit beteken dat jy vry is van skuld. Jou sondes is vergewe want Jesus het met sy bloed daarvoor betaal. Jy hoef nie meer vir God bang te wees nie.

Dit beteken dat jy vry is van die verslawende mag van sonde is. Die satan is nie meer in beheer van jou lewe nie. Die negatiewe dinge soos twis, haat, onmin en al sulke dergelike dinge reël nie meer jou lewe.

Die vrug van die Heilige Gees; liefde; is nou die kenmerk van jou lewe. vreugde, Vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Dit beteken dat jou lewe nie meer deur vrees en onrus gedryf word nie, maar dat dit jy rustigheid en kalmte in jou lewe beleef.

Dit die dood hou nie meer vir jou verskrikking in nie, want Jesus het die mag van die dood met sy opstanding verbreek.

Hoe deel jy in hierdie oorwinning van Jesus?

Jy glo. Jy moet glo dat toe Jesus uitgeroep het Tetelestai, dat Hy dit vir jou gedoen het. Hy het vir jou die oorwinning behaal. Toe Jesus in triomf uitgeroep het, “dit is volbring” het Hy dit gedoen sodat jy vrygekoop kan word en dat jy nou in sy oorwinning deel.

Jy is nie meer 'n slaaf van die sonde nie want jy is 'n Koningskind. Jesus het die mag van die sonde gebreek en sy oorwinning is ook jou oorwinning.
Dit is volbring! Jy is vry!
Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking