Datum: Goeie Vrydag 10 April 2020 GKE – Live Stream
Skriflesing: Joh. 19 v 28 – 30 ; Gen. 3 v 15
Teksvers: Joh. 19 v 30
In ons teks hoor ons van die gebeure net kort voordat Hy
gesterf het. Kruisiging was 'n pynlike marteldood waar die slagoffer van
uitputting en blootstelling gesterf het. Sy liggaam het heeltemal ontwater en
op die uiteinde het die persoon versmoor omdat hy te moeg was om homself met sy
bene op te stoot sodat hy kon asemhaal. Soos die persoon daar gehang het, het
sy gewig sy longe toegedruk. Om te kon asemhaal moes hy homself opstoot teen
die spyker waarmee sy voete aan die kruishout vasgespyker was. Naderhand is die
persoon net te moeg om aan te gaan.
Dit is die situasie waarin Jesus is hier in Joh. 19 v 28
net enkele minute voor sy dood. Ons hoor hoe Hy sê “Ek is dors.” Die rede
hoekom Jesus dit sê is sodat die Skrif vervul kan word.
Van die begin af vind ons in die beloftes in die Ou
Testament van 'n Verlosser wat sal kom om die mensdom te verlos. Met hierdie
woorde haal Jesus Ps. 69 v 22 aan:
Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek
dors was, wou hulle my asyn laat drink.
Hiermee bevestig Jesus dat al die beloftes wat ons in die
Ou Testament vind in Hom nagekom is.
Die eerste belofte vind ons reeds Gen. 3 v 15. Dit is net
kort na die skepping. Alles was mooi en goed en toe gebeur daar iets
verskrikliks. Adam en Eva het in opstand teen God se gesag gekom en daarmee het
hulle hulself en die hele mensdom verdoem. Die straf vir hierdie rebelsheid is
die ewige dood.
In Gen. 3 v 15 hoor ons 'n boodskap van hoop. God beloof
dat daar 'n Verlosser sal kom om die mensdom van die ewige verdoemenis te
verlos.
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou
nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in
die hakskeen byt.”
Uit die nageslag van die vrou sal 'n Verlosser kom wat
die slang se kop gaan vermorsel, dit wil sê 'n oorwinning oor die bose behaal.
Ons hoor egter ook dat die slang die Verlosser in die
hakskeen gaan byt. Die Hebreeuse woord wat hier in Afrikaans met “byt” vertaal
is beteken letterlik “dodelik tref.” Om die bose te oorwin moet die Verlosser
met sy lewe betaal.
Dis hierdie profesie wat nou hier aan die kruis volbring
word. Dit klink of dit teen alle logika in is, maar dis hoe God dit beplan het.
In gehoorsaamheid aan God die Vader het sy Seun, Jesus
williglik die vernedering ondergaan om mens te word en ons is by die diepte
punt van sy vernedering waar Hy die vonnis van die doodstraf vir die sonde, wat
vir die mens toegekom het, op Homself neem.
Van die laaste woorde wat Jesus uitroep voordat Hy sterf
is “Tetelestai” wat beteken “dit is volbring!” Hierdie enkele woord in Grieks,
is 'n woord wat vol betekenis is. Dis 'n triomfantlike oorwinningskreet.
In die Griekse grammatika is hierdie woord in die
perfektum tydvorm. Dit beteken dat dit verwys na 'n gebeurtenis wat voltooi is,
maar dat daardie betekenis besliste gevolge dra vir die huidige tydsbedeling.
Dit sê vir ons dat Jesus se dood 'n groot invloed het op
die pad vorentoe en dat dit inderdaad 'n draaipunt in die geskiedenis van die
mensdom was.
Tetelestai het 'n ryke betekenis. In die eerste plek is
dit 'n woord wat in sake transaksies gebruik was om aan te dui dat die
uitstaande skuld nou ten volle betaal is.
Verder is dit ook 'n term wat gebruik was om aan te dui
dat 'n slaaf vry is. Die verpligtinge wat hy gehad is nou volbring. Hy is nou
vrygekoop en daarom is hy nou vry van die slawebande wat hom vasgebind het.
Dit was ook 'n woord wat 'n bevelvoerder as 'n
oorwinningskreet gebruik het om aan almal te verkondig dat hy die vyand
verslaan het.
Toe Jesus Tetelestai uitgeroep het net voor Hy gesterf
het, het Hy dit in die volle betekenis daarvan gebruik.
ð Dit is volbring! Ek het die skuld van die mensdom se
sonde ten volle betaal.
ð Dit is volbring! Julle is nou vrygekoop van die
slawebande van die sonde wat julle so vasgebind het.
ð Dit is volbring! Die mag van satan, sonde en die dood is
vir ewig gebreek. Die vyand is oorwin.
Wat beteken Jesus se oorwinning vir ons?
Dit beteken dat jy vry is van skuld. Jou sondes is
vergewe want Jesus het met sy bloed daarvoor betaal. Jy hoef nie meer vir God bang
te wees nie.
Dit beteken dat jy vry is van die verslawende mag van
sonde is. Die satan is nie meer in beheer van jou lewe nie. Die negatiewe dinge
soos twis, haat, onmin en al sulke dergelike dinge reël nie meer jou lewe.
Die vrug van die Heilige Gees; liefde; is nou die kenmerk
van jou lewe. vreugde, Vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Dit beteken dat jou lewe nie meer deur vrees en onrus
gedryf word nie, maar dat dit jy rustigheid en kalmte in jou lewe beleef.
Dit die dood hou nie meer vir jou verskrikking in nie,
want Jesus het die mag van die dood met sy opstanding verbreek.
Hoe deel jy in hierdie oorwinning van Jesus?
Jy glo. Jy moet glo dat toe Jesus uitgeroep het
Tetelestai, dat Hy dit vir jou gedoen het. Hy het vir jou die oorwinning
behaal. Toe Jesus in triomf uitgeroep het, “dit is volbring” het Hy dit gedoen
sodat jy vrygekoop kan word en dat jy nou in sy oorwinning deel.
Jy is nie meer 'n slaaf van die sonde nie want jy is 'n
Koningskind. Jesus het die mag van die sonde gebreek en sy oorwinning is ook
jou oorwinning.
Dit is volbring! Jy is vry!
Amen