24 Mei 2020

Jesus is jou Anker in die lewe


Datum: 24 Mei 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt
Skriflesing: Joh. 14 v 1 – 14
Teksvers: Joh. 14 v 6a

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:


Sing
Ps. 147-1 v 1
Ps. 46-1 v 1

Waar kry jy 'n anker wanneer die wêreld om jou in 'n onsekere deurmekaarspul verander? Wat gee vir jou koers en sekerheid in tye van onsekerheid? Wat dra jou wanneer die lewe moeilik word?

In ons teksgedeelte sê die Here vir ons waar om ankers te soek in 'n deurmekaar wêreld.

In ons teks is Jesus besig om sy dissipels voor te berei vir sy kruisiging, opstanding en hemelvaart. Dit is 'n onsekere ontstellende tyd wat vir hulle voorlê. Jesus gaan nie meer saam met hulle wees nie. Hulle Leermeester gaan doodgemaak word!

Die dissipels het nog nie presies verstaan hoekom dit moes gebeur nie en daarom troos en bemoedig Jesus sy dissipels. In Joh. 14 v 1 hoor ons dat Jesus vir sy dissipels sê: “Julle moet nie ontsteld wees nie.”

Jesus kom nie hier met 'n vae flouerig bemoediging vorendag nie. Hy is nie besig met 'n “toemaar, alles sal regkom” tipe boodskappie nie. Jesus gee vir hulle 'n vaste sekerheid wat hulle in staat sal stel dit wat in die lewe vir hulle wag te kan hanteer.

Die vaste anker wat Jesus vir sy dissipels gee is God. Die sleutel om vas te hou aan hierdie anker is geloof. Glo in God. Die sleutel tot hierdie geloof is die evangelie. Die Goeie Nuus van Jesus Christus. Daarom sê Jesus vir sy dissipels direk daarna: “Glo ook in My.”

Dan begin Jesus verduidelik hoekom die kruisgebeure moet plaasvind. Jesus begin hier met sy verduideliking deur hulle te troos dat Hy 'n plek gaan voor berei sodat hulle saam met God kan wees. Op grond van die werk wat Jesus en die Heilige Gees gaan doen sal daar weer genoeg plek by God die Vader wees vir al die uitverkorenes.

In hierdie gedeelte en hoofstukke 15 en 16 wat hierop volg verduidelik Jesus dat dit wat soos 'n ramp lyk in werklikheid 'n seën sal wees soos wat Hy ook in Joh. 16 v 7 bevestig:
Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

Dit is Jesus se doel. Sonder sy dood sal daar geen plek by God wees nie. Sonder sy hemelvaart sal hulle nie die Heilige Gees ontvang nie. Die troos is dat die Heilige Gees vir hulle die geloof sal gee om vas te hou aan die Anker, Jesus Christus wat hulle weer met God sal versoen.

Verder gaan die Heilige Gees hulle ook voorberei om saam met God te wees. Dit word in meer detail in Joh. 14 v 15 – 31 verduidelik.

In Joh. 14 v 3 belowe Jesus dat Hy weer sal kom nadat Hy opgevaar het om elke gelowige saam met Hom te neem sodat hulle in sy heerlikheid kan deel en in 'n verhouding met Hom te staan. In wese sê Hy vir hulle dat hulle nie vir die dood hoef bang te wees nie.

In Joh. 14 v 4 sê Jesus vir hulle dat die pad na die woonplek by God nie 'n onbekende pad is nie. Omdat hulle Jesus ken, ken hulle die pad daarna toe.

Hiermee sê Jesus dat nie niemand 'n permanente blyplek in hierdie wêreld het nie. Ons uiteindelike bestemming is die ewigheid saam met God.

In Tomas se vraag is dit duidelik dat die dissipels nog nie mooi verstaan nie. Daarom verduidelik Jesus nog verder in Joh. 14 v 6:
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

Jesus sê nie hier dat Hy vir hulle die pad sal wys nie. Hy IS die weg. Hy gee nie net padaanwysings nie. Ons weet hoe maklik jy met padaanwysing kan verdwaal. Ek is gewoonlik na die derde draai links en dan regs weer verlore. In plaas van padaanwysings sê Jesus: “Ek sal jou soontoe vat.”

Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” Wanneer Jesus sê:
a.  “Ek is die weg,” sê Hy daarmee dat God deur sy Seun Jesus Christus na die mensdom toe uit reik en daarom moet elkeen wat na die Vader toe wil kom deur sy Seun kom.
b.  “Ek is die waarheid,” sê Hy dat Hy die waarheid praat oor die weg van verlossing. Daar is nie 'n ander pad as deur die kruis nie. Jesus se kruisiging en opstanding is die enigste grond waarop jy verlos kan word om weer met die Vader versoen te word.
c.   “Ek is die lewe,” sê Hy dat Hy die pad van die dood na die lewe is. Om sonder God te wees is dood. Om in 'n verhouding met God te staan is lewe en dat die enigste manier hoe om by daardie lewe uit te kom is om in Jesus Christus te glo.

In Joh. 14 v 7 sê Jesus: “As julle my ken sal julle My Vader ook ken.” In Jesus leer ons die hart van die Vader ken. Liefde. Uit sy liefde het God deur sy Seun vir die mens kom doen wat die mens nie self kon doen nie. God reik in liefde na jou toe uit. Hy het die hoogste prys betaal sodat jy kan lewe. Die anker en sekerheid vir jou om die lewe te ontvang is om in Jesus Christus te glo.

In Joh. 14 v 12 verduidelik Jesus wat die lewe behels wat ons van God ontvang:
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.”
Dit beteken nie dat ons nou groter wonderwerke as Jesus gaan verrig nie. Dit gaan hier daaroor dat ons wat die lewe ontvang het moet uitgaan in die wêreld om die wêreld van God se liefde te vertel. Dit gaan hier oor die uitbreiding van God se koninkryk. Om die evangelie te verkondig sodat elke uitverkore kind van God die evangelie kan hoor om daardeur met die Vader versoen te word.

Die werk wat Jesus in Israel begin het met sy dissipels moet nou deur hulle en die volgelinge van Jesus wat na hulle kom na die hele wêreld versprei word.

En dan gee Jesus 'n belofte wat ons nie moet misverstaan nie. Dit is nie 'n belofte dat ons nou gewaarborg is dat ons enige iets wat harte begeer sal ontvang nie. As jy hierdie belofte wil gebruik om 'n nuwe BMW te kry gaan dit nie werk nie!

As ons iets in Jesus se Naam vra, is die doel sodat die Vader verheerlik sal word. Binne die konteks van hierdie gedeelte gaan dit daaroor dat mense wat verlore is weer met God versoen kan word.

In hierdie gedeelte hoor ons dat dit nodig was vir Jesus om gekruisig te word sodat Hy die dood kon oorwin. Sy opstanding is die bewys daarvoor. Verder hoor ons ook dat Jesus moes opvaar na die regterhand van God sodat ons die Heilige Gees kon ontvang om vir ons die geloof te gee sodat jy deur jou geloof in Jesus Christus weer met God versoen kan word.

Jesus se tyd op aarde was die oorgang van die Ou Testamentiese kerk na die Nuwe Testamentiese kerk waarvan ons deel is. Sy hemelvaart het die bedeling van die Nuwe Testamentiese kerk ingelei.

Hierdie bedeling van die Nuwe Testamentiese kerk is inderdaad nie maklik nie soos Jesus ook gewaarsku het. In Joh. 16 v 32 en 33 waarsku Hy sy dissipels dat hulle uitmekaar gejaag sal word en dat hierdie wêreld moeilik sal wees. Ons kan almal getuig dat dit inderdaad die waarheid is.

Die troos wat Jesus vir sy dissipels gegee het is die evangelie. Die goeie nuus dat geloof in Jesus Christus jou weer met die Vader versoen.

Die troos wat Jesus vandag ook vir ons gee is die evangelie. Dit is die enigste ware troos wat daar is, want jy het die evangelie nodig om met God versoen te word en jy het God in jou lewe nodig om deur die swaarkry van hierdie lewe te kom. Daarmee saam moet jy ook hierdie troos gaan uitdeel.

Jesus Christus is jou anker in die lewe. Die vaste sekerheid wat jy nodig het sodat God deel van jou lewe kan wees.

Glo in Jesus Christus
Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking