17 Mei 2020

Lewende hoop dra jou van lyding na heerlikheid


Datum: 17 Mei 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt
Skriflesing: Rom. 8 v 16 - 25
Teksvers: Rom. 8 v 18




Sing
Ps. 146-1 v 1 & 8
Ps. 130-1 v 1 & 4

Hoekom moet daar lyding in hierdie wêreld wees? Dis een van die tergende vra waarmee die mensdom worstel. Hoekom is daar ten spyte van ons moderne wetenskap siektes wat die hele wêreld lamlê? Hoekom moet ons swaarkry? Hoekom is daar soveel armoede ten spyte van die wêreld se gesofistikeerde ekonomiese stelsels? Hoekom is daar steeds verval en agteruitgaan? Hoekom is daar lyding?

Die Here gee vir ons 'n verbasende antwoord op hierdie vraag in Rom. 8. In ons teksgedeelte Rom. 8 v 16 – 25 hoor ons hoe ons huidige lyding gekoppel is aan ons toekomstige heerlikheid.

In hierdie gedeelte hoor ons van 'n konsep wat ons moet begryp om te verstaan wat die Here vir ons in hierdie teksgedeelte sê. Die konsep van die ‘reeds’ en ‘nog nie.’ Die ‘nou’ en die ‘wat nog moet kom.’

Die ‘nou’ is die bedeling waarin ons leef totdat Christus weer kom, dit wil sê die in sonde gevalle wêreld waarin ons leef. ‘Wat nog moet kom’ is die herstelde wêreld sonder sonde wat vir ons wag na die wederkoms. Die ‘nou’ in jou lewe is onlosmaaklik deel van ‘dit wat nog moet kom.’

In Rom. 8 v 16 & 17 hoor ons van die hoop wat ons dra deur die lewe. Dit wat jy nou ontvang het om jou te dra na dit wat nog moet kom. Die hoop is die versekering dat jy 'n kind van God is.

Jy kry die versekering deurdat die Heilige Gees saam met jou gees getuig dat jy 'n kind van God is en dat jy daarom ook 'n erfgenaam is. God gee vir jou meer as net blote redding. Hy belowe 'n erfenis waar jy deel sal hê aan die heerlikheid van Christus.

Die Heilige Gees gee vir jou die versekering dat God besluit het om jou uit die ewige verdoemenis te red deurdat God sy Seun, Jesus Christus gestuur het om vir jou sondes te sterf.

In sy genade neem God ons as sy kinders aan en in sy oneindige liefde verseker die Heilige Gees ons daarvan. Met ander woorde die Heilige Gees werk die geloof in jou om die evangelie te glo.

Dis wonderlike nuus! Maar dan hoor ons ook in Rom. 8 v 17b iets wat ons eintlik nie graag wil hoor nie. Daar is ook lyding betrokke. Christus het gely en ons deel in daardie lyding. Met ander woorde, jy het die geskenk van geloof ontvang sodat jy kan weet dat jy aan Christus behoort, maar jy ontvang ook die geskenk om saam met Christus te ly.

Jou lyding is ook getuienis dat jy 'n kind van God is. Hiermee saam is daar iets wat ons baie goed moet verstaan. Die feit dat jy 'n kind van God is, beteken NIE dat jy nie gaan ly nie. Inteendeel, die Bybel waarsku ons op verskeie plekke dat ons wel gaan ly in die ‘nou’ van hierdie lewe.

Die rede waarom ons ly is omdat ons steeds in 'n gevalle wêreld bly. Die verskriklike gevolge van die sondeval is steeds met ons. God is egter steeds in beheer, want Hy gebruik ook ons lyding om die ou in sonde gevalle skepping van die ‘nou’ te verander na die nuwe skepping wat Hy as erfenis vir ons beplan.

Jou lyding is 'n harde werklikheid en wanneer dit vir jou voel jy nie meer kan nie, gee die Here vir ons die troos van Rom. 8 v 18. Daar is geen vergelyking tussen die lyding wat jy nou verduur en die ewige heerlikheid wat kom nie. As ons 'n lyn sou trek wat die breedte van die heelal strek, dan is hierdie lewe soos 'n enkele potloodpunt op daardie lyn.

Dit beteken nie dat ons die ‘nou’ moet ontken om in die toekoms te ontsnap nie. Dit beteken NIE dat hierdie lewe nie saak maak nie. Dit is juis om jou toe te rus om die lewe waarin ons nou is te kan leef, want hierdie lewe maak saak.

God gebruik ook jou lyding in hierdie lewe om jou te verander sodat jy meer en meer soos Christus word. Om jou te verander na dit wat jy altyd moes gewees het, die beeld van God.

Ons as mense ly egter nie alleen nie. Die skepping ly ook omdat dit aan die verydeling onderwerp is as gevolg van die sondeval. Daarom sien die skepping met gespanne verwagting daarna uit om te sien wat die eindresultaat sal wees van God se werk met die mens.

Die beeld van die pyn wat 'n vrou verduur wanneer sy geboorte skenk word hier gebruik. Die geboorte pyne is nie pyn wat dood meebring nie. Dit is pyn wat 'n nuwe lewe voorafgaan. Die pyne van die verganklikheid van die skepping en die lyding van die mens is pyne van 'n nuwe lewe waarmee God besig is.

Die skepping kyk saam met jou uit om te sien wat God met jou en in jou gedoen het omdat dit beteken dat die skepping ook bevry sal word van sy verslawing aan die verganklikheid. Die heerlikheid waar die skepping en die mens sal wees soos dit wat God oorspronklik beplan het.

Dit is waarvoor ons hoop om te sien hoe die verganklike in die onverganklike herskep word. Ons hoop, want dit is nog nie hier nie. Dit wat ons hoop gaan ons nie in hierdie lewe sien nie. Ons mag wel 'n voorsmakie daarvan proe, maar dit is nie naastenby soos die heerlikheid waarheen ons op pad is nie.

Hierdie hoop waaraan ons vashou, is nie maar net 'n wens vir iets wat moontlik nie sal realiseer nie. Dit is 'n vaste hoop met die sekere wete dat dit wat ons hoop gaan gebeur.

Ons hoop is nie gerig op hierdie lewe nie. In 1 Kor. 15 v 19 hoor ons dat as ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense, want hierdie lewe is onvergelykbaar met die heerlikheid wat kom.

Die Christin se lewe is 'n lewe van uithouvermoë en dit is net 'n lewende hoop wat dit moontlik maak om te oorleef. Dit beteken NIE dat jy nie omgee vir die ‘nou’ nie. Inteendeel, dit beteken juis dat jou huidige lewe saak maak omdat dit sin het. Wanneer jy jou lewe in die nou anker, maak dit, dit vir jou moontlik om lyding in hierdie lewe te deurstaan.

God is besig om jou deur jou lewenservaring van hierdie lewe, insluitende jou lyding, jou voor te berei vir die heerlikheid wat wag waar jy gaan wees soos wat God oorspronklik beplan het dat jy moet wees.

Hou vas aan die lewende hoop wat jou dra van lyding na heerlikheid.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking