17
Apr. 2016 GKE
Mar 4:35-41
teksvers 37
Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die
skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.
Sing:
Ps.
147-1: 1 & 2
Sb.
9-1 : 1 & 11
Sb.
15-7:4
Ps.
31-1 v 1 - 3
Jesus het ’n lang dag
agter die rug waarin hy die skare deur gelykenisse geleer het. Aan die einde
van die dag versoek Jesus sy dissipels om na die oorkant van die meer te vaar.
Hy was heel waarskynlik moeg na die lang dag en daarom het Hy agter in die
skuit aan die slaap geraak terwyl hulle na die oorkant toe gevaar het. In die
ligte laatmiddag briese het hulle daar weg weggevaar. Toe hulle ongeveer in die
middel van die meer was het daar skielik ’n storm opgesteek.
Die see van Galilea is
daarvoor bekend dat storms skielik sonder waarskuwing opsteek. Die rede
daarvoor is omdat dit in die skeurvallei waarin die Jordaanrivier afvloei geleë
is. Die meer is ongeveer 213m onder seevlak met berge aan weerskante van die
meer wat tot 600m hoog is aan die oostekant. Die koel droë lug van bo-op die
bergtoppe sak dan af in die vallei waar dit met die warm vogtige lug van die
meer in kontak kom. Dit veroorsaak lugdruk verskille en omdat die berge
weerskante ’n tregter effek het kan daar baie vinnig ’n baie sterk windstorm
oor die see opsteek. Die meer is ongeveer 21 km lank en 13 km breed. Dit is dus
’n groot wateroppervlak waar die wind groot golwe kan opwek. En dit is wat
daardie dag gebeur het.
Hierdie storm gee vir die
dissipels die geleentheid om toets of hulle dit wat hulle van Jesus geleer het kan
toepas in hulle lewens? Die laaste gelykenis wat Jesus daardie dag vertel het
was die gelykenis van die mosterdsaad. Die Koninkryk van God word in die
gelykenis voorgestel as ’n klein mosterdsaadjie wat groei tot dit ’n groot boom
is. Met ander woorde dit is die klein groepie dissipels wat die begin is van
die koninkryk wat die magtigste op aarde gaan word. Nou kry die dissipels die geleentheid
om te toets of hulle glo dat die Here hul gaan bewaar om hierdie belofte te
verwesentlik, want daar is ’n storm wat sê “nee, dit is nie so nie.”
Ons hoor in die verhaal wie
Jesus werklik is en wat Hy vir sy volgelinge kan doen. Die verhaal begin met ’n
groot storm. Daarna volg daar ’n groot stilte en die verhaal eindig met ’n
groot ontsag.
Die groot storm.
Ons hoor hoe Jesus ’n
groot storm gebruik om ons geloof te toets. in Mar. 4:35 hoor ons hoe Jesus vir
sy dissipels sê: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het in die storm
beland omdat Jesus vir hulle gesê het om weg te vaar. As Jesus nie dit vir
hulle gesê het nie, sou hulle nooit in die storm beland het nie. Die dissipels
het in die storm beland omdat hulle gehoorsaam was. Hulle het nie in die storm
beland omdat hulle iets verkeerd gedoen het nie! Nee, hulle het daar beland
juis omdat hulle iets reg gedoen het!
In Mar. 4: 37 hoor ons:
Skielik
het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat
die skuit al begin vol word het.
Hierdie was nie maar net
’n gewone storm nie. Die Griekse woord wat as groot vertaal word is “mega”. Dit
is ’n woord wat in Afrikaans en Engels ook al gebruik word om die grootsheid
van iets te beskryf. Dit beskryf iets meer as net groot. As ons storms op ’n
skaal moet plaas van gewoon aan die onderkant en baie hewig aan die bokant, dan
beskryf “mega” die bopunt van daardie skaal. Dit was ’n storm wat meer was as
wat hulle kon hanteer. In Luk 4:23 hoor ons dat hulle lewens inderdaad in
gevaar was. Toe hulle weggevaar het was daar geen teken dat daar ’n storm sou
wees nie. Toe hulle in die middel van die meer kom het daar skielik ’n storm
opgesteek.
In Mar 4:40 vra Jesus die
vraag “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” M.a.w.
hierdie storm is ’n gelooftoets vir die dissipels en in die verhaal hoor ons
wat die eienskappe van so ’n gelooftoets is.
Die eerste eienskap
vir so ’n geloofstoets is ’n situasie wat menslik gesproke onmoontlik is om te
hanteer. ’n Megastorm. Jesus plaas jou in ’n situasie wat jy nie alleen kan
hanteer nie. ’n Situasie waar jy nie uitkoms van kan sien nie. Dit is nogal
iets waarmee ons, ons kan vereenselwig want ervaring het ons geleer dat ons nie
vrygeskeld word van die storms in die lewe nie. Christene beland in onmoontlike
storms juis omdat hulle christene is! Jesus het sy dissipels beveel om weg te
vaar.
Net soos daardie storm op
die see van Galilea onstaan ons storms net so skielik uit die bloute. Die een
oomblik is alles nog reg en dan ontvang jy die oproep, daar was ’n ongeluk.
Alles verloop nog glad by die werk, dan word daar afgekondig dat die maatskappy
herstruktureer moet word om koste te bespaar. Die gesprek met die dokter: “die
resultate van die biopsie het positief vir kanker getoets.” Die ekonomie is nog
redelik en dan word daar ’n politieke aankondiging gemaak wat veroorsaak dat daar
in die loop van die naweek R500 biljoen se waarde op die aandelebeurs vernietig
word en dat die wisselkoers van die rand teenoor buitelandse geldeenhede met
25% verswak. Dit tesame met die voortslepende droogte raak net te veel en
besighede word gedwing om deure toe te maak.
Dit is die tipe situasies
waarin ons beland. Die skuit is besig om vol water te word, die wind is
oorweldigend. Al wat ons sien is die golwe wat bokant die skuit uittoring.
Hierdie storm is besig om die oorhand te kry en dit lyk of ons dit nie gaan
maak nie.
Christene word nie vrygeskeld
van die storms in die lewe nie. Die Here plaas ons in hierdie storms om ons
geloof te toets. Jesus het die dissipels beveel om te gaan, maar Hy het hulle
nie alleen laat gaan nie. Hy het saam gegaan. Jesus was saam met die dissipels
in die skuit en net so is die Heilige Gees saam met ons, ook wanneer ons midde
in die megastorms van die lewe beland.
Die eerste eienskap van ’n
geloofstoets is ’n onmoontlike situasie, maar daar is ook ’n tweede eienskap,
naamlik Jesus wat stilbly. Ek bevind myself in ’n onmoontlike situasie en
wanneer ek omdraai is Jesus aan die slaap agter in die boot! Wat moet ek doen
wanneer ek in die storm van lewe is en die Here antwoord my nie? Is dit nie hoe
ons dikwels voel nie? Ek bid en daar is nie antwoorde nie. Ek bid en my
geliefde word nie gesond nie. Ek bid en ek kry nie die werk nie. Ek bid en die
persoon vir wie ek bid word nie gelowig nie. Dan begin mens wonder, Here waarom
slaap U?
Geloof word nie getoets
wanneer dit mooiweer is nie. Vertrou jy Jesus in die storm? Vertrou jy sy
stilte? Vertrou jy wanneer jy nie die antwoorde ontvang wat jy verwag nie? Vertrou
jy wanneer die omstandighede nie is soos wat jy dink dit behoort te wees nie?
Vertrou jy wanneer jy net die oorweldigende golwe om jou sien? Vertrou jy
wanneer jou boot vol water begin word en Jesus is aan die slaap agter in die
boot? Vertrou jy dat die Here vir jou omgee wanneer dit lyk of alles in die
lewe teen jou is?
Let op wat die dissipels
gesê het. Die megastorm tesame met Jesus se stilte het die ware toestand van
die dissipels se geloof blootgelê. Die dissipels gaan nie Jesus en vra, Here
doen iets nie. Nee in Mar. 4:38 hoor ons:
“Meester,
gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”
Die dissipels bevraagteken
nie die mag van Jesus nie. Nee, hulle bevraagteken sy liefde!
Dit is die dieptepunt van
’n geloofskrisis. Ons glo dat die Here in staat is om te help, maar ons
bevraagteken of Hy wil help! Gee Hy werklik om? Sien die Here ooit raak waardeur
ek gaan? Ek dien die Here al solank. Ek bid gereeld. Ek probeer werklik om na
die beste van my vermoë volgens die wil van God te leef. Het die Here van my
vergeet?
Luister hoe beantwoord
Jesus hierdie aantyging van die dissipels “Waarom is julle bang? Het julle dan
nie geloof nie?” Met ander woorde “hoe is dit dat julle My nog nie vertrou nie?
Hoe is dit dat julle My liefde bevraagteken? Dink julle werklik dat Ek nie
omgee nie?” Geloof is die vaste vertroue dat die Here werklik vir my omgee en
dat Hy my onvoorwaardelik liefhet.
Ons moet verstaan dat die
Here aan geloofstoetse onderwerp omdat Hy ons liefhet. In Jak 1:2-4 hoor ons
dat ons aan geloofstoetse onderwerp word sodat ons tot volle geestelike rypheid
kom sonder enige tekortkominge. Net soos ’n spier sterk word wanneer jy dit
oefen word ons geloof sterker deur gelooftoetse. God het ons te lief om jou met
’n twyfelende geloof te los. Hy wil hê dat jy deur jou geloof die werklike
diepte van sy liefde leer ken. Hy wil hê dat ons in geloof moet groei sodat ons
kan leer wie Hy werklik is.
Die groot stilte
Na die groot storm kom die
groot stilte. Dieselfde woord wat gebruik word om die groot storm word in vers
39 gebruik om die groot stilte te omskryf. ’n Megastorm en nou ’n Megastilte.
Dit is nie net ’n gewone stilte of kalmte nie. Dit is ’n buitengewone kalmte
wat daar na die storm neerdaal.
Dit is belangrik om te
verstaan dat die storm dadelik gekalmeer het. Jesus het die storm beveel “Hou
op! Bedaar!” en dadelik het die wind gaan lê en die golwe kalmeer. Dit was nie
’n geleidelik afskaal van die storm nie. Dit wys vir ons op die almag van
Jesus. As die storm maar net natuurlik bedaar het sou dit nog ’n lang ruk
geduur het. Die golwe het egter dadelik bedaar en dit is net God wat dit kan
doen. Dit bevestig absoluut dat Jesus God is.
Die groot ontsag.
En dit het sy dissipels
met ’n groot ontsag vervul. Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat hierdie
magsvertoon nie net is om te bewys dat Jesus God is nie. Dit is ’n magsvertoon
na aanleiding van die dissipel se vraag: “Meester, gee U dan nie om dat ons
vergaan nie?” Jesus word nie wakker en bestraf die dissipels nie. Hy
bestraf die wind as ’n antwoord op hulle vraag, “ja Ek gee om vir julle.” Hy
gebruik sy almag om vir sy dissipels te wys hoeveel Hy werklik vir hulle omgee
om hulle te verlos. Hiermee wys Hy nie net vir sy dissipels hoe groot sy mag is
nie, maar hoe groot sy liefde is. Later het Hy die grote van sy liefde aan die
kruis bevestig en die grote van sy mag met sy oorwinning oor die dood. Dit is
die evangelie, die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons te red uit die
grootste storm wat daar in ’n mens se lewe kan wees. Die storm van God se toorn
en wraak oor ons sonde.
In hierdie verhaal sê Jesus
vir jou:
“Ek is lief vir jou.
Glo jy dit?”
Amen