Wys tans plasings met die etiket slaaf. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket slaaf. Wys alle plasings

23 Februarie 2020

Jou geloof maak jou vry

Datum: 23 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:     Gal. 5 v 1 – 26
Teksverse:     Gal. 5 v 5 & 6 & 19 - 22


Wat is die verskil tussen om vry te wees teenoor om 'n slaaf te wees? Maar voordat ons dit beantwoord moet ons net eers uitmaak wat beteken vryheid.

In ons teks verduidelik die Here vir ons wat is ware vryheid en wat is valse vryheid. Valse vryheid kan na een van twee kante toe draai. Aan die een kant beteken dit dat jy nie van iemand afhanklik wil wees nie.

Dit is die probleem wat hier in die gemeentes in Galasië teenwoordig was. Daar was dwaalleraars wat as Judaïste bekend gestaan het. Hulle het geleer dat Christus se genade nie genoeg is nie.

Volgens hulle moes jy buiten Christus se genade die wet ten volle nakom om gered te word. Paulus maak dit egter hier duidelik dat daar nie so iets is soos Christus se genade en jou eie verdienste nie. Dis of die een of die ander. As jy die pad kies om deur eie verdienste gered te word dan verwerp jy Christus se genade. Hulle wou dus vry wees van hul afhanklikheid van Christus af om gered te word.

Met die wet het hulle dan ook bedoel al die reëls en regulasie wat die Joodse rabbi's opgestel het. Daar was meer as 600 sulke reëls en regulasies. Byvoorbeeld, jy mag nie op die Sabbat 'n stok gedra het nie, want dalk net dalk sleep die stok per ongeluk op die grond en maak 'n slootjie wat sou beteken dat geploeg het. Om te ploeg is werk en jy mag nie op die Sabbat werk nie.

Hulle het verder vereis dat jy besny moet word, want dit het jou in die Joodse volk ingelyf wat dan ook beteken het dat jy dan ook verplig was om al hierdie Rabbynse wette moes nakom om gered te word.

Wat ten diepste hier na vore kom is die mens se rebelse opstand teen God. Ons wil onafhanklik wees, dit wil sê ons wil nie van God afhanklik wees nie en dit is hierdie rebelse opstand wat ook by die Judaïste teenwoordig was.

Die ironie hiervan is egter dat in hulle strewe na vryheid deur onafhanklikheid het hulle nie vry geword nie. Hulle het slawe geword van mensgemaakte godsdienstige reëls.

Geliefdes, is jy 'n slaaf van mensgemaakte godsdienstige reëls? Die Galasiërs het hulself vasgebind aan die reëls en regulasies van die Joodse Rabbi’s. Dink bietjie daaroor na oor watter wettiese reëls en regulasies jy vir jouself opgemaak het. Is jy 'n slaaf daarvan?

In Gal. 5 v 5 hoor ons wat dit beteken werklik vry te wees.
Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.
Dit is slegs deur Christus dat jy waarlik vry kan wees.

Jy kan slegs in Christus waarlik vry wees wanneer jy van God se genade afhanklik is. God se genade in Jesus Christus wat sy lewe aan die kruis opgeoffer en wat die dood oorwin het om vir jou 'n nuwe lewe van vryheid te gee. Dit is die Goeie Nuus, die Evangelie van Jesus Christus. Al wat God vra is dat jy dit glo en God se genade is so groot dat die Heilige Gees vir jou die geloof gee wat Hy vra.

Daar is egter ook 'n ander valse vryheid wat Paulus hier uitlig. In Gal. 5 v 13 hoor ons:
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
Dit is verkeerde siening van vryheid dat jy kan doen net wat jy wil. Ek is mos gered, dus kan ek nou doen net wat ek wil!

Kom ons gebruik 'n praktiese voorbeeld om te verduidelik hoekom dit verkeerd is om so te dink, want as jy net doen wat jy wil is jy nie vry nie. Jy is nog steeds 'n slaaf.

'n Vis wat in 'n dam swem is vry om te swem waar hy wil in die water. Nou kom die vis in opstand, want hy wil nie gebind wees aan die grense van die water nie. Hy wil vry wees om te doen net wat hy wil. As hy buite die water wil wees, dan wil hy vry wees om buite die water te gaan.

Wat gaan gebeur wanneer daardie vis buite die water gaan? Hy gaan doodgaan! Daar is grense waarby jy nie kan beweeg nie. Die grens waarby jy nie kan beweeg nie is God se liefde. In Christus is jy vry om binne God se liefde te leef.

In Gal. 5 v 13 hoor ons dat ons mekaar in liefde moet dien en
in Gal. 5 v 22 & 23 hoor wat liefde in praktyk is. Hoe dit prakties is in jou dag tot dag lewe tot uiting kom:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Jy is vry om in vrede met jou medemens saam te leef. Jy is vry om geduldig te wees. Jy is vry om vriendelik te wees. Jy is vry om God se liefde in jou lewe uit te leef en wanneer jy dit doen dan sal ware vreugde en vrede in jou lewe ervaar.

Aan die ander kant is daar geen vryheid in die praktyke van die sondige natuur nie. In Gal. 5 v 15 hoor dat vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid veral 'n probleem in die gemeente was:
Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

Wanneer jy die praktyke van jou sondige natuur uitleef dan sal jy geen vreugde en vrede in jou lewe ervaar nie, want dan is jy maar nog steeds 'n slaaf van jou sondige natuur.

As jy op jou eie onafhanklik van God binne die grense van sy liefde wil bly sal jy vind dat dit onmoontlik is en daarom sê die Here vir ons in Gal. 5 v 16:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Jy laat jou lewe deur die Gees beheer wanneer jy die evangelie glo soos ons in Gal. 3 v 2 hoor:
Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo?

In Gal. 5 v 6 hoor ons dat net jou geloof in Jesus Christus is wat vir jou ware vryheid gee.
In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Geliefdes, jou strewe na ware vryheid kan slegs bereik word wanneer jy in 'n lewende verhouding met God het. Dit is alleen moontlik deur jou geloof in die evangelie en jy kan slegs deur Jesus Christus ware vryheid smaak.

Geliefdes, is jy waarlik vry of is jy nog 'n slaaf? Jy is 'n slaaf wanneer jou godsdiens deur jou eie reëls en regulasies beperk word. Wanneer jy meer waarde daaraan heg om godsdienstige rituele en gebruike na te kom as om te glo en vertrou in die genade van Jesus Christus.

Dan sal jy ook vind dat godsdiens vir jou moeite is. Dis moeite om op Sondagoggend op te staan om 'n erediens by te woon. Dis moeite om jou Christenskap uit te leef. In die week is die praktyke van jou sondige natuur baie duideliker sigbaar as die liefdesvrug van die Gees. Dan sal jy ook vind dat jy uitgeput en oorlaai is.

Soek jou ware vryheid in Jesus Christus en aanvaar sy uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Amen

12 Desember 2013

God is met ons wanneer dit goed gaan en Hy dra ons wanneer ons swaarkry

Gen. 39; teksverse Gen. 39 v 2 ; 20 en 21
13 Okt. 2013 GKE
Lof-Psalm Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 34 v 1 , 2 & 5 (OAB)

Inleiding

Dinge werk in hierdie lewe werk nie altyd uit soos ons wil hê dit moet nie. Soms droom ons groot drome van wat ons in die lewe wil bereik en baie gevalle werk daardie droom nie uit nie. Hoe bly mens staande wanneer jou drome in skerwe by jou voete lê?

Wat het van Josef se drome geword? Hy het hierdie visie gekry dat hy ’n heerser gaan wees en waar staan hy nou? ’n Slaaf![1] Wat het hy nou eintlik gedoen om dit te verdien? Hy was wel bietjie grootpraterig en ja, hy het sekerlik sy broers geïrriteer met sy klikbek, maar is dit dan nou so erg? Elkeen van ons wat met boeties of sussies te doen het sal weet dat dit is wat boeties of sussies doen. Op ’n stadium dra hulle stories by ma of pa aan wat maar kon gebly het.

As ons mooi na die saak kyk dan sal ons sien dat Josef nie so sleg was nie. Hy was ’n gehoorsame seun wat sonder teenpraat sy pa se opdragte uitgevoer het. Verder was hy pligsgetrou ook. Sy pa het vir hom gesê om sy broers by Sigem te besoek. Toe hy hulle nie daar kry nie, het hy moeite gedoen om uit te vind waar hulle is. Hy het nie tou opgegooi nie. En wat het daarvoor gekry? Hy is as ’n slaaf verkoop. Ons kan ons maar net indink hoe bang en benoud hy moes gewees het. Dink maar net hoe dit vir ’n sewentienjarige seun moes gevoel het om alleen daar op die slawemark as slaaf verkoop te word. In Gen. 42 v 21 hoor ons hoe benoud hy was:
“Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie.

Tog gaan dit nie net sleg met Josef nie. In Gen. 39 v 2 hoor ons:
2 Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly. 3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag
Dit het so goed gegaan dat Josef die hoofslaaf geword het in Potifar se huis. Josef was in beheer van die hele huishouding en die Here het die huishouding geseën. Ek skat as mens ’n slaaf moet wees dan is dit nogal waar mens wil wees.

En net toe dit begin goed gaan met Josef kom die volgende probleem. Potifar se vrou begin by hom aanlê. Ten spyte daarvan dat hy op ’n mooi manier vir haar gesê het dat dit verkeerd is, het sy aangehou daarmee. (Vgl. Gen. 39v10)
Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.
Arme Josef. Hy is al weer onskuldig in die moeilikheid want die uiteinde daarvan is dat Potifar se vrou hom aangekla het. Weereens het sy kleed hom in die moeilikheid laat beland net soos die vorige keer wat sy jas wat sy pa vir hom gegee het hom in die moeilikheid by sy broers laat beland het, het sy jas wat Potifar se vrou gegryp het, weereens gesorg dat hy in die moeilikheid is.

Genadiglik spring hy weereens die dood vry, want vir so ’n oortreding het ’n slaaf in daardie tyd die doodstraf gekry. Tog word Josef net in die tronk gegooi. Wat ’n droewige situasie is dit nie geliefdes? Hier sit Josef in die tronk. Net toe dit lyk of dit beter begin gaan tref die ongeluk hom ten spyte daarvan dat hy alles in sy vermoë gedoen het om reg op te tree. Hierdie teks gedeelte word dikwels voorgehou as ’n voorbeeld hoe om seksuele versoekings te weerstaan. Moenie toegee nie, vlug weg daarvan. En ja, ons moenie toegee aan seksuele versoekings nie, maar wat het dit vir Josef in die sak gebring? Tronkstraf en amper weer doodgemaak!

Hoe dikwels gaan dit nie maar met ons ook so nie geliefdes? Hoeveel keer het dit nie al gebeur dat ’n persoon wat ongerymdhede aan die lig bring sy werk verloor nie. Die eerlike persoon word gestraf en die oneerlikes leef maar net lekker voort! Ek is seker dat elkeen van ons al ’n soortgelyke ondervinding gehad het. Ek tree reg op en op die uiteinde word ek as die skuldige gebrandmerk. Potifar se vrou kom skotvry daarvan af en arme Josef moet in die tronk gaan sit! Hy kon homself nie verdedig nie. Onthou hy was ’n slaaf en slawe het geen regte gehad nie. Dit sal nie eens gehelp dat hy sy onskuld probeer bewys nie, want wie gaan nou die woord van ’n slaaf glo? Dit was sy woord teen die vrou van die hoof van die koninklike lyfwag. Hy het nie eens ’n kans gekry om sy kant van die saak te stel nie. Hy is summier net in die tronk gegooi!

En dan hoor ons die wonderlike troos van die Here in Gen. 39 v 20 en 21:
20 ........... Terwyl Josef daar in die tronk was, 21 was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind
Toe hy ’n slaaf was het ons ook gehoor dat die Here by Josef was (Gen. 39 v 2). Nou kom daar ’n ekstra versekering by. “Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind.” Dit is moeilik om die Hebreeuse woord wat met troue liefde vertaal is ten volle in een woord in Afrikaans uit te druk. In die ou Afrikaanse vertaling is dit met goedertierenheid vertaal. Dit kan ook met troue verbondsliefde vertaal word omdat dit daarop dui dat dit liefde is wat die Here Homself voorgeneem het om te betoon. Dis ’n verpligting wat Hy op homself geneem het en dat Hy vasbeslote is om na te kom. Dit is voorwaar ’n besondere liefde en sorg wat die Here hier aan Josef bewys.

Hier in Gen. 39 kry ons tot vier keer die versekering dat die Here by Josef was. Dit is egter belangrik dat ons moet let daarop dat die Here hom nie uit die omstandighede geneem het nie. Hy was nog steeds ’n slaaf en nadat hy in die tronk gegooi was het hy steeds in die tronk gebly. Wat God wel gedoen het was om die omstandighede draaglik te maak. Josef het die hoofslaaf geword en in die tronk het die tronkbewaarder hom in beheer geplaas van al die gevangenes. As ons na die uiteinde van die verhaal kyk dan sien ons hoe God Josef se omstandighede gebruik het om Josef op te lei vir die groot taak wat vir hom voorgelê het. As slaaf daar in Potifar se huishouding en daar in die tronk het Josef die nodige vaardighede aangeleer sodat hy in staat kon wees om Egipte onder die Farao te regeer.

Die Here was met Josef. Die Here is met ons ook. In Mat. 1 v 23 sê die Here vir ons:
“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
Jesus Christus het as mens aarde toe gekom. Hy het ’n vervloekte kruisdood gesterf en bange Godverlatenheid verduur sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Na sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek as Trooster en Helper gestuur sodat ons nooit weer alleen sal wees nie.

Soms beland ons ook onverdiend in die tronke van die lewe. Ek sit in ’n doodloopstraat by my werk. My drome lê aan skerwe en niks wil uitwerk nie. ’n Huwelik wat nie wou werk nie. Hier sit ek eensaam en alleen op my oudag met my kinders wat ver van my af is. Die Here is met ons geliefdes. Hy neem ons nie noodwendig uit die omstandighede uit, maar Hy dra ons daardeur. Alhoewel Josef in beheer geplaas is van die gevangenis, was hy nog steeds in die tronk. Hy is as sewentienjarige seun vir ’n slaaf verkoop toe en hy het eers op dertigjarige ouderdom uit die tronk gekom.

Die Here haal ons nie noodwendig uit slegte omstandighede uit nie, maar Hy dra ons daardeur na iets beter. Soms kan dit ’n lang tyd neem, maar ons weet dat God besig is om ons voor te berei vir iets beter. In sommige gevalle is die iets beter eers in die volgende bedeling wanneer ons ewig saam met God gaan wees sonder hartseer, trane pyn of dood. Daarom geliefdes, hou vas aan die hoop want ons weet dat God met ons is wanneer dit goed gaan en dat Hy ons dra wanneer ons swaarkry.
Amen




[1] (Gen. 39v1) Potifar, ’n amptenaar van die Farao en hoof van die lyfwag, ’n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het.