Wys tans plasings met die etiket vryheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vryheid. Wys alle plasings

23 Februarie 2020

Jou geloof maak jou vry

Datum: 23 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:     Gal. 5 v 1 – 26
Teksverse:     Gal. 5 v 5 & 6 & 19 - 22


Wat is die verskil tussen om vry te wees teenoor om 'n slaaf te wees? Maar voordat ons dit beantwoord moet ons net eers uitmaak wat beteken vryheid.

In ons teks verduidelik die Here vir ons wat is ware vryheid en wat is valse vryheid. Valse vryheid kan na een van twee kante toe draai. Aan die een kant beteken dit dat jy nie van iemand afhanklik wil wees nie.

Dit is die probleem wat hier in die gemeentes in Galasië teenwoordig was. Daar was dwaalleraars wat as Judaïste bekend gestaan het. Hulle het geleer dat Christus se genade nie genoeg is nie.

Volgens hulle moes jy buiten Christus se genade die wet ten volle nakom om gered te word. Paulus maak dit egter hier duidelik dat daar nie so iets is soos Christus se genade en jou eie verdienste nie. Dis of die een of die ander. As jy die pad kies om deur eie verdienste gered te word dan verwerp jy Christus se genade. Hulle wou dus vry wees van hul afhanklikheid van Christus af om gered te word.

Met die wet het hulle dan ook bedoel al die reëls en regulasie wat die Joodse rabbi's opgestel het. Daar was meer as 600 sulke reëls en regulasies. Byvoorbeeld, jy mag nie op die Sabbat 'n stok gedra het nie, want dalk net dalk sleep die stok per ongeluk op die grond en maak 'n slootjie wat sou beteken dat geploeg het. Om te ploeg is werk en jy mag nie op die Sabbat werk nie.

Hulle het verder vereis dat jy besny moet word, want dit het jou in die Joodse volk ingelyf wat dan ook beteken het dat jy dan ook verplig was om al hierdie Rabbynse wette moes nakom om gered te word.

Wat ten diepste hier na vore kom is die mens se rebelse opstand teen God. Ons wil onafhanklik wees, dit wil sê ons wil nie van God afhanklik wees nie en dit is hierdie rebelse opstand wat ook by die Judaïste teenwoordig was.

Die ironie hiervan is egter dat in hulle strewe na vryheid deur onafhanklikheid het hulle nie vry geword nie. Hulle het slawe geword van mensgemaakte godsdienstige reëls.

Geliefdes, is jy 'n slaaf van mensgemaakte godsdienstige reëls? Die Galasiërs het hulself vasgebind aan die reëls en regulasies van die Joodse Rabbi’s. Dink bietjie daaroor na oor watter wettiese reëls en regulasies jy vir jouself opgemaak het. Is jy 'n slaaf daarvan?

In Gal. 5 v 5 hoor ons wat dit beteken werklik vry te wees.
Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.
Dit is slegs deur Christus dat jy waarlik vry kan wees.

Jy kan slegs in Christus waarlik vry wees wanneer jy van God se genade afhanklik is. God se genade in Jesus Christus wat sy lewe aan die kruis opgeoffer en wat die dood oorwin het om vir jou 'n nuwe lewe van vryheid te gee. Dit is die Goeie Nuus, die Evangelie van Jesus Christus. Al wat God vra is dat jy dit glo en God se genade is so groot dat die Heilige Gees vir jou die geloof gee wat Hy vra.

Daar is egter ook 'n ander valse vryheid wat Paulus hier uitlig. In Gal. 5 v 13 hoor ons:
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
Dit is verkeerde siening van vryheid dat jy kan doen net wat jy wil. Ek is mos gered, dus kan ek nou doen net wat ek wil!

Kom ons gebruik 'n praktiese voorbeeld om te verduidelik hoekom dit verkeerd is om so te dink, want as jy net doen wat jy wil is jy nie vry nie. Jy is nog steeds 'n slaaf.

'n Vis wat in 'n dam swem is vry om te swem waar hy wil in die water. Nou kom die vis in opstand, want hy wil nie gebind wees aan die grense van die water nie. Hy wil vry wees om te doen net wat hy wil. As hy buite die water wil wees, dan wil hy vry wees om buite die water te gaan.

Wat gaan gebeur wanneer daardie vis buite die water gaan? Hy gaan doodgaan! Daar is grense waarby jy nie kan beweeg nie. Die grens waarby jy nie kan beweeg nie is God se liefde. In Christus is jy vry om binne God se liefde te leef.

In Gal. 5 v 13 hoor ons dat ons mekaar in liefde moet dien en
in Gal. 5 v 22 & 23 hoor wat liefde in praktyk is. Hoe dit prakties is in jou dag tot dag lewe tot uiting kom:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Jy is vry om in vrede met jou medemens saam te leef. Jy is vry om geduldig te wees. Jy is vry om vriendelik te wees. Jy is vry om God se liefde in jou lewe uit te leef en wanneer jy dit doen dan sal ware vreugde en vrede in jou lewe ervaar.

Aan die ander kant is daar geen vryheid in die praktyke van die sondige natuur nie. In Gal. 5 v 15 hoor dat vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid veral 'n probleem in die gemeente was:
Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

Wanneer jy die praktyke van jou sondige natuur uitleef dan sal jy geen vreugde en vrede in jou lewe ervaar nie, want dan is jy maar nog steeds 'n slaaf van jou sondige natuur.

As jy op jou eie onafhanklik van God binne die grense van sy liefde wil bly sal jy vind dat dit onmoontlik is en daarom sê die Here vir ons in Gal. 5 v 16:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Jy laat jou lewe deur die Gees beheer wanneer jy die evangelie glo soos ons in Gal. 3 v 2 hoor:
Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo?

In Gal. 5 v 6 hoor ons dat net jou geloof in Jesus Christus is wat vir jou ware vryheid gee.
In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Geliefdes, jou strewe na ware vryheid kan slegs bereik word wanneer jy in 'n lewende verhouding met God het. Dit is alleen moontlik deur jou geloof in die evangelie en jy kan slegs deur Jesus Christus ware vryheid smaak.

Geliefdes, is jy waarlik vry of is jy nog 'n slaaf? Jy is 'n slaaf wanneer jou godsdiens deur jou eie reëls en regulasies beperk word. Wanneer jy meer waarde daaraan heg om godsdienstige rituele en gebruike na te kom as om te glo en vertrou in die genade van Jesus Christus.

Dan sal jy ook vind dat godsdiens vir jou moeite is. Dis moeite om op Sondagoggend op te staan om 'n erediens by te woon. Dis moeite om jou Christenskap uit te leef. In die week is die praktyke van jou sondige natuur baie duideliker sigbaar as die liefdesvrug van die Gees. Dan sal jy ook vind dat jy uitgeput en oorlaai is.

Soek jou ware vryheid in Jesus Christus en aanvaar sy uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Amen