1 Nov. 2015
GKE
Gen. 3 - Teksvers Gen. 3v15
Sing
Lofsang: Ps. 118-1 v 1
Na
wet: Sb. 9-1 v 1 , 2 & 11
Na
gebed Ps. 130-1
v 1 tot 4
Slotsang Ps. 86 v 3
& 6
Gister 31 Okt. het ons weer
herdenk dat Luther op 31 Okt. 1517 sy 95 stellings teen die kerkdeur van
Wittenberg vasgespyker het. Sy doel was om die dwaalleer wat in die Rooms
Katolieke Kerk ingeslyp het, aan te spreek. Ons herdenk elke jaar hierdie dag
want dit herinner ons dat ons gedurig moet reformeer. Met ander woorde moet
terugdraai na die waarheid van God se Woord. Hoekom dwaal ons so gedurig af van
die waarheid? Die rede vind ons heel aan die begin van die Bybel daar in
Genesis 3.
In Genesis 3 hoor ons die
verhaal van ’n ramp wat wêreldwyd die mensdom in ellende gedompel het. Daarin
hoor ons hoe die mens se rebelse opstand teen God tot gevolg gehad het dat elke
mens op aarde daagliks in ’n dodelike stryd teen die bose betrokke is. Dit het
tot gevolg dat ’n eens perfekte wêreld nou verander het in een waar mens slegs
met moeite ’n bestaan kan maak. Pyn het ’n harde werklikheid geword.
Waar daar eens harmonie en
vrede tussen mense was, is daar nou ’n magstryd wat selfs die intiemste
verhouding tussen man en vrou versuur. In die plek van gelukkige samesyn is
daar nou beskuldigings wat heen en weer geslinger word. Onmin in plaas van
vrede is nou die kenmerk van verhoudings. In die plek van liefde, vreugde,
vrede, geduld en vriendelikheid heers daar nou vyandskap, haat, naywer, woede,
rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns. ’n Eens mooi perfekte wêreld het nou
’n lelike onperfekte wêreld geword.
Sonde bepaal nou die
toekoms van die mens. Die mens is as te ware vasgevang in die dodelike
tentakels van die sonde waaruit hy op sy eie nie kan loskom nie. Die effek
daarvan is so erg dat wanneer die mens voor die keuse gestel word tussen goed
en sleg, dan kies die mens elke keer net dit wat sleg is. Hy kan nie meer die
goeie kies nie. Die omvang van hierdie ramp was so erg dat dit nie net die
mense wat daar teenwoordig was beïnvloed het nie, maar dit het ook hulle
nageslag beïnvloed. Elke mens wat daarna gebore is, word deur die geweldige
nagevolge van daardie ramp beïnvloed.
As dit nie vir God se
genade was nie, sou die gevolge van hierdie ramp vir ewig deel van ons bestaan
gewees het. God los egter nie die mens in hierdie ellende nie, Hy tree op. Hy
stel vyandskap tussen die mens en die bose. Op die oog af lyk dit of God se
optrede die mens straf, maar eintlik doen Hy dit vir die mens se eie beswil.
Daarmee maak God seker dat Sy seën die
mens se toekoms bepaal en nie die mens se sonde nie.
In Gen. 3:15 hoor ons:
Ek stel
vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar
nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Uit hierdie optrede van
God skyn sy genade soos ’n helder lig. Die ewige stryd tussen die mens en die
slang word dan ook ’n simbool van die stryd tussen die mens en die kwaad.
Vyandskap, met ’n dodelike stryd tussen die mens en die bose lyk op die oog af
of God hiermee net straf. Daagliks is die mens in ’n dodelike stryd met die
bose gewikkel. Vermorsel en byt is dieselfde woord in Hebreeus en dit beteken
letterlik dodelik tref. Hierdie stryd is nie maar net ’n ligte skermutseling
nie. Nee geliefdes, dit is ’n stryd tot die dood toe!
Hoekom is die mens
onderwerp aan hierdie stryd? Hoekom moet ons in daaglikse vyandskap met die
kwaad betrokke wees? Dit is om die mens te beskerm. Vyande leef tog nie hand om
die lyf saam met mekaar nie. Dit is om te keer dat die mens absoluut onder die
invloed van die kwaad kom. As dit sou gebeur sou daar geen hoop vir ons wees
nie.
Wanneer ons met sonde
deurmekaar raak (soos ons tog so lief is om te doen) ontstaan daar ’n geweldige
spanning by ’n mens. Daar is hierdie geweldige tweestryd. Aan die een kant is
daar die hunkering agter sonde aan, want dis asof ons vasgebind is aan die
sonde, maar aan die ander is daar die wete dat dit wat ek nou doen verkeerd is.
Rom. 7:21-23 spel
hierdie stryd so duidelik uit.
So vind
ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die
slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my
doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my
’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.
Die vyandskap wat God
tussen die mens en die bose ingestel het, is die rede vir hierdie tweestryd.
Die gevolg hiervan is dat mens so vasgevang word dat jou sondige lewe die
bepalende faktor van jou lewe is.
Die mens self kan hierdie
stryd nooit wen nie. As gevolg van God se genade is daar egter vir die mens
hoop, want uit sy nageslag kom daar ’n Mens voort wat ook Goddelike krag het om
die bose te oorwin. In Heb. 2:14-15 hoor ons:
Aangesien
hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens
geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit
is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele
lewe lank in slawerny was, te bevry.
Christus oorwin die bose
en daarmee bevry Hy ons van die slawekettings van die sonde. Die oorwinning
word egter op ’n radikale wyse verkry—nie deur mag en geweld nie, maar deur te
ly en te sterwe; nie deur ’n magsdaad nie, maar deur ’n liefdesdaad van
gehoorsaamheid en skynbare swakheid.
Wanneer ons aan die
reformasie dink, dan gebeur dit maklik dat ons vinger wys na ander. Julle beter
sorg dat julle wegdraai van julle verkeerde weë af. Die reformasie gaan egter ten
diepste daaroor dat ek na my eie lewe moet kyk. Waar het ek van die waarheid
afgedwaal? Waar is ek besig om op ’n verkeerde pad te loop?
Ons wys maklik die vinger
na ander, want dit is bitter moeilik om werklik krities oor myself en my lewe
te wees. Inteendeel, as ek dit in eie krag probeer doen, is dit absoluut
onmoontlik! Die belofte wat ek in Gen. 3:15 ontvang is dat ek nie alleen die
stryd teen die bose in my lewe hoef aan te durf nie.
As mens werklik eerlik na
jou lewe kyk dan is dit maklik om moedeloos te word en die fatalistiese houding
in te neem: “dit is nou maar eenmaal soos ek is. Ek kan nie verander nie” Ek is ’n reguit mens. Mense moet dit maar so
aanvaar. Wat ek eintlik hiermee sê is dat ek mense seer maak en as jy nie
daarvan hou nie, is dit jou probleem, nie myne nie.
Die troos wat God se Woord
vandag vir ons bring is dat ek nie meer deur my verlede vasgebind word nie. My
verlede is wel die wegspringplek waarvandaan ek in die toekoms ingaan, maar dit
bepaal nie my toekoms nie! My verlede bepaal nie wie en wat ek in die toekoms
gaan wees nie. Al die slegte dinge in my verlede het nie meer ’n houvas op my
nie. My humeur beheer nie meer my gedrag nie. Ek is nie onlosmaaklik daaraan
vasgebind nie.
In Jesus Christus het ek
’n blink toekoms wat vir my voorlê. My toekoms word nie bepaal deur dit wat in
my verlede gebeur het nie. My verlede bepaal nie my eindbestemming nie. Jesus
Christus bepaal my toekoms!
Wanneer mens in ’n motor
ry kyk jy deur die vooruit om by jou bestemming uit te kom. Jy kyk nie deur die
agteruit om te sien waarheen jy op pad is nie. Net so kyk ek nie terug na my
verlede om te sien waarheen ek op pad is nie. Ek kyk vooruit na ’n toekoms saam
met Jesus Christus. Wanneer ek byvoorbeeld in ’n situasie beland waar ek my
humeur gewoonlik verloor, gee ek die situasie in gebed aan God oor. Vra vir die
Heilige Gees om oor te neem en laat die eie ek terugstaan.
Hoe reformeer ek my lewe? Wanneer
ek terugkyk na my sondes dan kan ek weet, dat alhoewel ek self nie die stryd
teen die sonde kan wen nie, Christus reeds die stryd vir my gewen het. Om
daardie oorwinning my eie te maak moet ek in geloof vashou aan Christus se
oorwinning. Ek moet weet dat ek vorentoe toe kan kyk na ’n eindbestemming saam
met God en dat ek nie alleen op pad is daarnatoe nie omdat God self saam met my
die pad loop. Die Heilige Gees is altyd saam met my om my te help om die oorwinning
wat Christus reeds oor die bose en die sonde behaal het my eie te maak sodat ek
die pad vorentoe met vertroue kan aanpak met oë gerig op Jesus Christus.
Deur God se genade het Hy
vyandskap tussen my en die bose ingestel. Jesus Christus het die bose oorwin en
deur God se genade laat die Heilige Gees my deel in daardie oorwinning. Daarom
geliefdes, moenie vasgevang word deur jou sondige verlede nie. Jou verlede
bepaal nie jou eindbestemming nie. Kyk vorentoe na ’n toekoms saam met God,
want God se genade en seën bepaal ons toekoms en nie ons sondige verlede nie!
Amen