Lees Daniel 3 - teksverse Dan. 3 v 17 & 18
Vertrou jy die Here? Dit is 'n vraag wat maklik is om te antwoord wanneer alles goed gaan in jou lewe. Dit is egter moeiliker om hierdie vraag te beantwoord wanneer dit nie so goed gaan nie.
'n Vraag wat nog moeiliker is wat hiermee saamgaan is hoekom vertrou jy op
die Here? In hierdie verhaal van Daniel se drie vriende maak die Here dit vir
ons duidelik dat ons Hom kan vertrou en ook hoekom ons op Hom moet vertrou.
Koning Nebukadneser van Babilonië was 'n baie magtige koning. In Dan. 2 v
38 hoor ons dat hy oor die hele bewoonde wêreld geheers het. Babel was 'n groot
en ryk stad en die koning het hoë aansien gehad. In sy droom van die beeld wat
Daniel vir hom uitgelê het word hy verteenwoordig deur die beeld se goue kop.
Van al die liggaamsdele van die beeld in sy droom is hy dan ook die
belangrikste.
In ons teksgedeelte Daniel 3 hoor ons verder dat hy 'n massiewe goue beeld
laat oprig het wat sy onderdane moes aanbid. Dit is nogal ironies as ons in ag
neem dat hy in
Dan. 2:47 erken het dat die God wat Daniel en sy vriende aanbid
het, die grootste oor al die gode.
Ons moet egter mooi verstaan wat hier met Nebukadneser gebeur het. Hy het
God ontmoet deurdat Daniel sy droom uitgelê het, maar hy het homself nie aan
God toegewy nie. God was nie vir hom die enigste God nie, maar net nog een van
die gode. Hy het nie verwag dat net sy beeld aanbid moes word nie, maar hy het
wel verwag dat sy beeld ook aanbid moes word.
Verder is dit duidelik dat daar ook 'n bietjie hoogmoed by hom aanwesig
was. Hy is tog immers as die belangrikste deel van die beeld in sy droom. Daarom
het hy ook besluit om 'n beeld te laat oprig wat as 'n god aanbid en vereer
moes word deur sy onderdane. Daardeur sou hy as skepper van die beeld dan ook
vereer word.
Dit is ook belangrik dat ons let op hoe hy sy onderdane gemotiveer het om
die beeld te aanbid. Aan die een kant d.m.v. oorreding. Musiek is gewoonlik
iets aangenaam en vrolik en dit is wat hy as positiewe motivering gebruik het
soos ons hoor in Dan. 3 v 5. Aan die ander kant het hy hulle met vrees dwing om
die beeld te aanbid. Wie die beeld nie aanbid nie, sou in 'n vuuroond verbrand
word.
Daniel se drie vriende het egter ten spyte van die positiewe en negatiewe
motivering vas bly staan en nie die beeld aanbid nie. Dit is ook belangrik dat
ons oplet hoe hulle die saak hanteer het. Hulle het nie probeer om die beeld af
te breek en die res van die bevolking probeer dwing om hulle standpunt na te
volg nie. Hulle het bloot net nie met die praktyk saamgegaan nie. Deur hulle
voorbeeld het hulle 'n sterker getuienis uitgedra. Die mense het dit ook
raakgesien en daarom is hulle aangekla by die koning.
Verder het hulle ook vas by hul oortuiging bly staan. Ten spyte daarvan dat
die koning met oorreding en vrees hulle wou oorreed om tog sy bevel te
gehoorsaam, het hulle dit nie gedoen nie. In hulle antwoord aan die koning sien
ons hoekom hulle dit kon regkry om vas te staan by hul oortuigings soos ons
hoor in Dan 3 v 17 & 18:
Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die
brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie,
moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig
het, nie sal aanbid nie.”
Hulle bely aan wie hulle gehoorsaam is, die enigste ware God. Hulle vertrou
op Hom. Hulle glo dat Hy hulle sal red. Hulle vertroue is so groot dat hulle
sal bly glo in Hom en op Hom vertrou, selfs al gee Hy nie die uitkoms wat hulle
graag sou wou hê nie.
Dan hoor ons ook in hierdie verhaal dat hulle geloof en vertroue in God nie
ongegrond was nie. Hulle was nie alleen in die oond nie. God het hulle bewaar.
Hulle het God nie vertrou vir dit wat hulle verwag het Hy sou gee nie. Hulle
het Hom vertrou omdat Hy die enigste ware God is waarop hulle kon vertrou om na
hulle beste belang om te sien op die manier wat Hy bepaal het.
Die rede hoekom hulle God kon glo en vertrou is omdat Hy sy Seun gestuur
het. Jesus het in 'n vuuroond van die kruis beland. Anders as Daniel se vriende
was daar nie saam met Hom iemand wat Hom beskerm het nie. Jesus het alleen
daardeur gegaan sodat ons kan weet dat God sy enigste Seun gegee het, sodat dié
wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Maak nie saak in watter vuuroond jy beland nie, jy is nie alleen nie. God
is daar. Die Heilige Gees is elke oomblik van elke dag saam met jou. Jy staan
nie alleen in die lewe nie.
In die optrede van Nebukadneser sien ons ook 'n ander belangrike saak wat
ons kennis van moet neem. Sy optrede het verreikende gevolge gehad vir die
mense wat naaste aan Hom was.
In sy woede het hy beveel dat die oond sewe maal warmer gemaak moes word as
gewoonlik. Dit het tot gevolg gehad dat die sterkste manne in sy lyfwag wat
Daniel se drie vriende in die oond moes gooi ook doodgebrand het.
Sy lyfwagte het sy veiligheid verseker. En nou het sy optrede veroorsaak
dat hulle wat die belangrikste was vir daardie taak, naamlik die sterkste
manne, doodgebrand het. Nie net het sy optrede die wat naaste aan hom was
benadeel nie, maar dit het homself ook benadeel.
Verder het dit ook 'n groot effek op die mense om hom gehad. Daniel se drie
vriende wat belangrike manne in sy administrasie was, is aan gevaar
blootgestel. Verder het sy opdrag om die beeld te aanbid ook in die pad gestaan
dat sy onderdane die enigste ware God kon leer ken.
Wanneer ons na hierdie bekende verhaal van Daniel se drie vriende luister
dan is ons geneig onsself met hulle te vereenselwig. Die “goeie manne” en ons
moet hulle voorbeeld navolg.
En tog is dit nodig dat ons nadink of ons nie ook maar in 'n sekere mate
soos Nebukadneser is nie. Ons hoor van God. Ons sien sy almag raak, maar tog
het dit nie 'n blywende effek nie. Dit bring nie 'n verandering in ons lewens
nie en daarom kring dit ook daarop uit dat die mense naaste aan ons in gevaar
gestel word.
Dit benadeel ook die groter gemeenskap om ons omdat ons nie ligdraers is
nie. Die mense om my sien nie dat ek anders as die wêreld is nie, omdat ek maar
net soos die wêreld om my lyk.
Dan kan ons ook die alternatief sien wat deur Daniel se drie vriende
uitgebeeld word. Hoe kan ek anders lyk in die wêreld? Hoe kan ek 'n ligdraer
wees? Daniel se drie vriende het in God geglo. Hulle het vertrou dat Hy hulle
beste belang op die hart dra en dat Hy lief is vir hulle.
Jy kan alleen soos Daniel se drie vriende word wanneer jy God glo en
vertrou. Wanneer jy glo dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gegee
het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal
hê. Dan kan jy vertrou dat God jou sal bewaar en dat jou vertroue so groot is
dat self al gee God nie die uitkoms wat jy graag sou wou hê nie, dat Hy jou
nooit alleen sal laat wanneer jy in die vuuroond van die lewe beland nie.
Glo in God. Vertrou dat Hy jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur
het sodat jy nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal kry. Vertrou dat
Hy jou nooit alleen sal laat wanneer in die vuuroond van die lewe beland nie.
Vertrou Hom nie vir dit wat jy verwag Hy vir jou moet gee nie. Vertrou Hom
omdat Hy die enigste ware God is waarop jy kan vertrou om na jou beste belang
om te sien op die manier wat Hy bepaal het.
Amen