Wys tans plasings met die etiket Abednego. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Abednego. Wys alle plasings

10 Augustus 2025

Vertrou jy die Here?


Lees Daniel 3 - teksverse Dan. 3 v 17 & 18 

Vertrou jy die Here? Dit is 'n vraag wat maklik is om te antwoord wanneer alles goed gaan in jou lewe. Dit is egter moeiliker om hierdie vraag te beantwoord wanneer dit nie so goed gaan nie.

'n Vraag wat nog moeiliker is wat hiermee saamgaan is hoekom vertrou jy op die Here? In hierdie verhaal van Daniel se drie vriende maak die Here dit vir ons duidelik dat ons Hom kan vertrou en ook hoekom ons op Hom moet vertrou.

Koning Nebukadneser van Babilonië was 'n baie magtige koning. In Dan. 2 v 38 hoor ons dat hy oor die hele bewoonde wêreld geheers het. Babel was 'n groot en ryk stad en die koning het hoë aansien gehad. In sy droom van die beeld wat Daniel vir hom uitgelê het word hy verteenwoordig deur die beeld se goue kop. Van al die liggaamsdele van die beeld in sy droom is hy dan ook die belangrikste.

In ons teksgedeelte Daniel 3 hoor ons verder dat hy 'n massiewe goue beeld laat oprig het wat sy onderdane moes aanbid. Dit is nogal ironies as ons in ag neem dat hy in
Dan. 2:47 erken het dat die God wat Daniel en sy vriende aanbid het, die grootste oor al die gode.

Ons moet egter mooi verstaan wat hier met Nebukadneser gebeur het. Hy het God ontmoet deurdat Daniel sy droom uitgelê het, maar hy het homself nie aan God toegewy nie. God was nie vir hom die enigste God nie, maar net nog een van die gode. Hy het nie verwag dat net sy beeld aanbid moes word nie, maar hy het wel verwag dat sy beeld ook aanbid moes word.

Verder is dit duidelik dat daar ook 'n bietjie hoogmoed by hom aanwesig was. Hy is tog immers as die belangrikste deel van die beeld in sy droom. Daarom het hy ook besluit om 'n beeld te laat oprig wat as 'n god aanbid en vereer moes word deur sy onderdane. Daardeur sou hy as skepper van die beeld dan ook vereer word.

Dit is ook belangrik dat ons let op hoe hy sy onderdane gemotiveer het om die beeld te aanbid. Aan die een kant d.m.v. oorreding. Musiek is gewoonlik iets aangenaam en vrolik en dit is wat hy as positiewe motivering gebruik het soos ons hoor in Dan. 3 v 5. Aan die ander kant het hy hulle met vrees dwing om die beeld te aanbid. Wie die beeld nie aanbid nie, sou in 'n vuuroond verbrand word.

Daniel se drie vriende het egter ten spyte van die positiewe en negatiewe motivering vas bly staan en nie die beeld aanbid nie. Dit is ook belangrik dat ons oplet hoe hulle die saak hanteer het. Hulle het nie probeer om die beeld af te breek en die res van die bevolking probeer dwing om hulle standpunt na te volg nie. Hulle het bloot net nie met die praktyk saamgegaan nie. Deur hulle voorbeeld het hulle 'n sterker getuienis uitgedra. Die mense het dit ook raakgesien en daarom is hulle aangekla by die koning.

Verder het hulle ook vas by hul oortuiging bly staan. Ten spyte daarvan dat die koning met oorreding en vrees hulle wou oorreed om tog sy bevel te gehoorsaam, het hulle dit nie gedoen nie. In hulle antwoord aan die koning sien ons hoekom hulle dit kon regkry om vas te staan by hul oortuigings soos ons hoor in Dan 3 v 17 & 18:

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Hulle bely aan wie hulle gehoorsaam is, die enigste ware God. Hulle vertrou op Hom. Hulle glo dat Hy hulle sal red. Hulle vertroue is so groot dat hulle sal bly glo in Hom en op Hom vertrou, selfs al gee Hy nie die uitkoms wat hulle graag sou wou hê nie.

Dan hoor ons ook in hierdie verhaal dat hulle geloof en vertroue in God nie ongegrond was nie. Hulle was nie alleen in die oond nie. God het hulle bewaar. Hulle het God nie vertrou vir dit wat hulle verwag het Hy sou gee nie. Hulle het Hom vertrou omdat Hy die enigste ware God is waarop hulle kon vertrou om na hulle beste belang om te sien op die manier wat Hy bepaal het.

Die rede hoekom hulle God kon glo en vertrou is omdat Hy sy Seun gestuur het. Jesus het in 'n vuuroond van die kruis beland. Anders as Daniel se vriende was daar nie saam met Hom iemand wat Hom beskerm het nie. Jesus het alleen daardeur gegaan sodat ons kan weet dat God sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Maak nie saak in watter vuuroond jy beland nie, jy is nie alleen nie. God is daar. Die Heilige Gees is elke oomblik van elke dag saam met jou. Jy staan nie alleen in die lewe nie.

In die optrede van Nebukadneser sien ons ook 'n ander belangrike saak wat ons kennis van moet neem. Sy optrede het verreikende gevolge gehad vir die mense wat naaste aan Hom was.

In sy woede het hy beveel dat die oond sewe maal warmer gemaak moes word as gewoonlik. Dit het tot gevolg gehad dat die sterkste manne in sy lyfwag wat Daniel se drie vriende in die oond moes gooi ook doodgebrand het.

Sy lyfwagte het sy veiligheid verseker. En nou het sy optrede veroorsaak dat hulle wat die belangrikste was vir daardie taak, naamlik die sterkste manne, doodgebrand het. Nie net het sy optrede die wat naaste aan hom was benadeel nie, maar dit het homself ook benadeel.

Verder het dit ook 'n groot effek op die mense om hom gehad. Daniel se drie vriende wat belangrike manne in sy administrasie was, is aan gevaar blootgestel. Verder het sy opdrag om die beeld te aanbid ook in die pad gestaan dat sy onderdane die enigste ware God kon leer ken.

Wanneer ons na hierdie bekende verhaal van Daniel se drie vriende luister dan is ons geneig onsself met hulle te vereenselwig. Die “goeie manne” en ons moet hulle voorbeeld navolg.

En tog is dit nodig dat ons nadink of ons nie ook maar in 'n sekere mate soos Nebukadneser is nie. Ons hoor van God. Ons sien sy almag raak, maar tog het dit nie 'n blywende effek nie. Dit bring nie 'n verandering in ons lewens nie en daarom kring dit ook daarop uit dat die mense naaste aan ons in gevaar gestel word.

Dit benadeel ook die groter gemeenskap om ons omdat ons nie ligdraers is nie. Die mense om my sien nie dat ek anders as die wêreld is nie, omdat ek maar net soos die wêreld om my lyk.

Dan kan ons ook die alternatief sien wat deur Daniel se drie vriende uitgebeeld word. Hoe kan ek anders lyk in die wêreld? Hoe kan ek 'n ligdraer wees? Daniel se drie vriende het in God geglo. Hulle het vertrou dat Hy hulle beste belang op die hart dra en dat Hy lief is vir hulle.

Jy kan alleen soos Daniel se drie vriende word wanneer jy God glo en vertrou. Wanneer jy glo dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Dan kan jy vertrou dat God jou sal bewaar en dat jou vertroue so groot is dat self al gee God nie die uitkoms wat jy graag sou wou hê nie, dat Hy jou nooit alleen sal laat wanneer jy in die vuuroond van die lewe beland nie.

Glo in God. Vertrou dat Hy jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur het sodat jy nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal kry. Vertrou dat Hy jou nooit alleen sal laat wanneer in die vuuroond van die lewe beland nie. Vertrou Hom nie vir dit wat jy verwag Hy vir jou moet gee nie. Vertrou Hom omdat Hy die enigste ware God is waarop jy kan vertrou om na jou beste belang om te sien op die manier wat Hy bepaal het.

Amen