31 Julie 2016

Die Here stuur arbeiders om in sy Koninkryk te werk.



31 Jul 2016 GKE
Skriflesing (Mat 9:35-38)

Sb 1-1 v 1 & 2
Ps. 119-1 v 1 & 2
Ps. 119-2 v 26 & 27
Sb 15-2 v 1 & 3

“Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Jesus het die mense in hulle sinagoges geleer deur die evangelie van die koninkryk te verkondig. Wat is hierdie evangelie van die koninkryk?

Die verhaal oor die Koninkryk is die groot verhaal van die Bybel. Dit begin in Genesis en dit gaan regdeur tot in Openbaring. Ons hoor hoedat God die perfekte koninkryk skep waar Hy regeer en alles binne die koninkryk in harmonie is. Daar is geen onreg nie en die mense leef in liefde met mekaar en met God saam. God is die Koning en Hy heers oor alles en almal en die burgers van die koninkryk leef almal in vrede saam.

Dan daal daar ’n duisternis oor die koninkryk neer. Die burgers kom in opstand teen hulle Koning en dit veroorsaak groot hartseer en ellende. Daar waar alles eens op ’n tyd perfek was, heers nou chaos. Vrede word met onvrede vervang en dit gaan selfs so ver dat die burgers mekaar doodmaak. Mense is in opstand teen mekaar en oorloë is aan die orde van die dag. God die Koning is nog steeds in beheer, maar nie al die burgers wil dit erken. Dit is voorwaar ’ donker tyd in die koninkryk. So donker dat die meeste inwoners nie eers meer hulle Koning herken nie!

Die Koning het egter ’n plan om weer orde te herstel. Hy gaan sy Seun stuur om sy vyande te oorwin. Sy Seun kom egter nie oorlog voer in die tradisionele sin van die woord nie. Hy kom nie met ’n weermag nie. Hy is nie in ’n paleis as ’n prins gebore nie. Nee Hy het gekom as een van die onbelangrikste mense van sy tyd, sonder aansien, sonder vertoon. So eenvoudig was sy geboorte dat Hy in ’n stal gebore is. Ten spyte daarvan is Hy tog deur ’n hemelse koor van engele geëer en as Verlosser bekend gestel.

Gedurende sy hele tyd op aarde het die Joodse raad en owerhede Hom geminag en selfs sy getroue volgelinge het Hom in die steek gelaat tydens sy diepste nood. Een het Hom verraai en die ander het weggehardloop toe Hy gevange geneem is. Een van die binnekring volgelinge het selfs ontken dat hy Hom geken het. Op die oog af het dit gelyk of Hy gefaal het en almal wat op Hom as Verlosser vertrou het was moedverlore. Hy is aan ’n kruis opgehang tussen misdadigers en daar het Hy gesterf.

Wat soos sy grootste mislukking gelyk het, was egter sy grootste oorwinning oor die vyand. Na drie dae in die graf het Hy uit die dood opgestaan en hiermee het Hy die vyand se houvas op die mense gebreek. Hy het aan almal wat vir die dood bestem is, lewe gegee. Hierna is Hy weer terug na sy Hemelse Vader waarvandaan Hy as Koning regeer.

Alhoewel dit ’n groot oorwinning was, is dit egter nog nie die finale oorwinning nie. Die finale oorwinning gaan eers kom wanneer die Koning weer terugkom om die wat hulle by die koninkryk van die sonde geskaar het te oordeel. Na hierdie finale oorwinning oor die bose waar die vyand finaal verslaan, gaan word gaan die gevolge van die sonde finaal beëindig word.

Intussen is daar baie werk vir sy volgelinge. Hulle moet die koninkryk sigbaar maak. Die manier hoe hulle dit moet doen is om die evangelie, die goeie nuus oor Jesus se oorwinning aan die kruis te gaan verkondig. Elkeen wat dit glo en sy eie maak word deel van die koninkryk. Hulle moet verkondig dat God regeer en die Jesus die dood oorwin het en dat sy koninkryk daarom in teenstelling met die koninkryk van die sondige wêreld staan. Hoe meer mense dit hoor en glo, hoe sigbaarder word die koninkryk. Die wat egter nie wil glo nie moet hoor van die Koning se oordeel wat kom.

Hy het egter nie sy volgelinge alleen gelaat met hierdie groot taak nie. Die Heilige Gees het na sy terugkeer na sy Vader toe in sy plek gekom om sy volgelinge met hierdie groot taak te help. Hierdie taak het begin nog voordat Jesus na sy Vader toe teruggekeer het. Hy het vooraf reeds sy volgelinge uitgestuur as voorbereiding vir die groot taak wat voorlê na sy hemelvaart. Eers die twaalf en toe later die twee en sewentig waarvan ons in Mat. 10 en Luk 10 hoor. Dit wat Hy begin het moes hulle klaar maak.

Die mense wat nog nie die koninkryk kan raaksien nie leef in ellende want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie. Jesus het begin omgesien na hulle deur hulle geestelike nood aan te spreek (die gebrek aan kennis van die koninkryk van God) en ook hulle fisiese nood (deur elke soort siekte en kwaal gesond te maak). Jesus se volgelinge moes egter die werk voortsit. Die eerste twaalf volgelinge was te min want die oes is groot en daarom moes hulle tot die Here bid om arbeiders te stuur om die oes (dit wil sê die verlorenes wat nog buite die koninkryk gestaan het) in te samel.

Dit is waarmee die Koning se volgelinge vandag nog mee besig is. Naamlik om die oes in te samel en die koninkryk sigbaar te maak. Omdat die oes so groot is het Hy ook die werk in verskillende take ingedeel en daarom roep Hy ook gelowiges om op hierdie verskillende take te konsentreer. Hy roep gelowiges net as gewone gelowiges en uit hulle roep Hy mense om te spesialiseer as ouderlinge, predikante en ook diakens. Elkeen van hulle het dan ook sy eie unieke taak wat hulle moet verrig sodat die Koning se oes ingesamel kan word.

Jesus het die opdrag gegee dat ons moet bid dat die Here arbeiders stuur. Ons het gebid en Hy het vir ons twee diakens gestuur wat vanoggend in hulle amp bevestig gaan word.

Ons vra nou dat die twee susters wat geroep is na vore kom sodat hulle saam met die gemeente kan hoor wat behels die werk van die diakens in die insameling van die Koning se oes.

Formulier vir die bevestiging van diakens
Geliefdes in ons Here Jesus Christus, U weet hoe ons nou verskillende male die naam/name afgekondig het van ons medebroeder/suster(s) wat as diaken(s) van hierdie gemeente verkies is, ten einde te verneem of iemand iets het waarom hy/hulle nie in sy/hulle diens bevestig mag word nie. Aangesien niemand egter enige wettige beswaar teen sy/haar/hulle bevestiging voorgelê het nie, sal ons hom/haar/hulle nou in sy/haar/hulle diens bevestig. Vir die doel moet u broeder/susters(s) wat bevestig word, en ook alle aanwesiges eers uit die Woord van God 'n kort uiteensetting van die instelling en ampswerk van die diakens aanhoor.

'n Diens om die gemeente as een gemeenskap in Christus te laat lewe, het spoedig in die apostoliese kerke nodig geword[1]. Hierdie diens word duidelik onderskei van die diens van die Woord en gebede asook van die diens van regering[2].

As diaken(s), geliefde broeder/susters(s), word u geroep om sorg te dra dat die gemeente hulle eenheid in Christus in daadwerklike onderlinge liefde beoefen. U moet ook toesien dat die gelowiges aan almal goed doen, sodat die liefde van Christus op hierdie wyse openbaar kan word. Saam met u medediakens moet u almal besoek en hulle aanspoor om daadwerklike liefde teenoor die medegelowiges en alle mense te bewys; deur elkeen te besoek sorg dra dat nie een deur armoede, eensaamheid, ouderdom, siekte of om ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie; die middele wat gegee word tot diens van die wat in nood verkeer, sorgvuldig beheer, met wysheid bestee en met vertroosting uit die Skrif uitdeel.

Sodoende moet u Christus, u medegelowiges en die gemeente tot diens toerus en die liefde van Christus tot verheerliking van God in die wêreld laat skitter.

U het gehoor wat u opdrag is. Ons vra u nou om opreg op die volgende vrae te antwoord:
Is u in u hart daarvan oortuig dat u wettig deur die gemeente van God en daarom deur God self tot hierdie heilige diens geroep is?
Glo u dat die Heilige Skrif die Woord van God is en dat dit die volmaakte leer van die saligheid bevat, en verwerp u alle leringe wat daarmee in stryd is?
Belowe u om u Goddelike opdrag getrou en met ywer in ooreenstemming met hierdie leer uit te voer en volgens hierdie leer te lewe?
Belowe u om u aan die kerklike vermanings en tug te onderwerp as u miskien in leer of lewe afwyk?

Hierop vra die bedienaar: N, wat is hierop u antwoord? Hierop moet hy/sy/hulle antwoord: Ja.

Daarop moet die bedienaar sê: Mag die alvermoënde God en Vader u sy genade skenk om in hierdie diens getrou en vrugbaar werksaam te wees! Verder moet hy hom/haar/hulle sowel as die hele gemeente soos volg vermaan:

Wees dan toegewyd in u diens. Stel vas wat die nood van die gelowiges is, en kom hulle te hulp. Spoor almal tot mededeelsaamheid aan. Wees versigtig in die besteding van die middele wat aan u sorg toevertrou is. Wees getrou in u diens en wees ('n) goeie voorganger(s) vir die hele gemeente[3]. So sal u vir uself 'n eervolle plek in die gemeente verwerf en groot vrymoedigheid in u geloof in Christus verkry en na hierdie lewe in die vreugde van die Here ingaan[4].

En u, geliefde gemeente, ontvang hierdie man(ne)/vrou(e) as dienaar(s) van God. Laat u, in die beoefening van die gemeenskap van die heiliges, deur die diakens lei[5] en wees ('n) goeie voorganger(s) vir die hele gemeente. Gee sonder bybedoelings en dwang, want God het mense lief wat blymoedig gee[6]. Doen u daaglikse werk getrou, sodat u ook hulle kan help wat behoefte het[7]. Dink aan die diakens in u gebede.

Maar omdat ons dit uit onsself nie kan doen nie, laat ons die almagtige God aanroep.

Gebed
Ons Vader, Ons dank U dat u hierdie man(ne) deur u Gees gelei het om die roeping op te volg. Ons bid U, gee aan hom/hulle steeds meer die gawes wat hy/hulle nodig het om sy/hulle diens te verrig. Skenk aan hom/hulle wysheid, skranderheid, onderskeidingsvermoë en liefde. Verleen hom/hulle genade om getrou in die diens te volhard en nooit deur teleurstelling, moeite, verdriet of vervolging van die wêreld te verslap nie. Seën, Here, die gemeente waaroor u hom/hulle gestel het. Voorsien die gemeente genadiglik van die nodige middele om ryk te kan wees in vrygewigheid en alle goeie werke. Leer ons, deur die liefde van ons Here Jesus Christus, om aan mekaar se belange te dink. Laat so u heilige Naam geëer word en die ryk van u Seun Christus kom. Verhoor ons, o Vader, deur u geliefde Seun.
Amen.
[1] Handelinge 2:42, 44-46; Handelinge 4:32-37; Handelinge 6:1-4
[2] 1 Timoteus 3:2,8; Filippense 1
[3] 1 Timoteus 3:13
[4] Matteus 25:21,23
[5] Romeine 12:8
[6] 2 Korintiërs 9:7

[7] Efesiërs 4:28.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking