Wys tans plasings met die etiket diakens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket diakens. Wys alle plasings

04 Oktober 2026

Die oes is groot, maar die arbeiders min


 Teks: Mat. 9:35-38 & 1 Tim. 3:1-13

Teksverse Mat. 9:37-38

Toe Jesus die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

Jesus sien die skare wat geestelik mishandel, uitgemergel en gestroop is van hul vrede. Die godsdiens van hulle tyd het nie vir die mense rus gebring nie. Dit het hulle geestelik afgemat en uitgeput omdat die godsdienstige leiers van hulle tyd ’n onmoontlike las van mensgemaakte reëls en wette op hulle skouers gelaai het.

Daardie toestand van die samelewing so bietjie meer as 2000 jaar gelede beskryf maar ook die samelewing waarin ons vandag leef. Baie mense beleef dat die kerk ’n swaar las op hulle skouers plaas en draai daarom weg van die kerk af.

Dit verlig egter nie hul nood nie. Inteendeel, dit maak hulle nood net soveel groter en daarom is hulle inderdaad moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

Wat is Jesus se reaksie teenoor hierdie mense wat wegdraai en verlore raak? Hy veroordeel hulle nie. Nee, Hy kry hulle innig jammer. Ons sien hier die hartklop van God teenoor 'n verlore mensdom.

Jesus se emosie is nie simpatie nie. Dit is baie meer as om net die nood raak te sien. Dit is ’n diepe empatie waar Hy self ook die pyn en verlorenheid van die mensdom aan sy lyf voel. Hy deel in die hartseer, pyn en verlorenheid van die mensdom.

Die diepste oorsaak van die mensdom se nood is nie fisies nie. Jesus het reeds die siektes en kwale genees van die mense wat daar bymekaar was. Die grootste nood van die mensdom is omdat hulle verhouding met God beskadig is en dit is hierdie verlorenheid van die mensdom wat Jesus in sy wese aanvoel.

Jesus het nie net die verlorenheid van die mensdom raakgesien nie, Hy het daadwerklik iets aan die saak gedoen! Ons hoor in Joh. 10:17-18

“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Jesus het sy lewe afgelê sodat verlore mense weer met God versoen kan word.

Vir die verlore mensdom om weer met God versoen te word, is dit nodig dat hulle die goeie nuus van Jesus Christus moet hoor en daarom sê Jesus in
Mat. 9:37 en 38

“Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Dit is die taak van die kerk van ons Here om die evangelie uit te dra en binne die kerk van die Here is daar die verskillende ampte, naamlik die amp van gelowiges, die diaken amp en die ouderling amp. Die predikant is ook maar net ’n ouderling wat preek gawes het.

Ons staan vandag stil by die amp van ouderling en diaken maar dit wat ons hier hoor is net so van toepassing op die amp van die gelowige.

In 1 Tim. 3:1-7 sê die Here vir ons wat die karakter eienskappe van ’n ouderling is. ’n Ouderling moet onberispelik wees. Met ander woorde sy gedrag moet van so ’n aard wees dat daar geen fout gevind daarin kan word nie.

Verder moet hy getrou aan sy vrou wees. Letterlik staan daar dat hy 'n man met net een vrou moet wees. Met ander woorde hy moenie met ander vrouens rond flankeer nie.

Hy moet ook nugter wees. D.w.s. hy moet verstandig en beskaafd wees. Sy oordeelsvermoë moet helder wees sodat hy moeilike besluite kan neem sonder dat sy denke deur emosies, vooroordeel of impulse verblind word.

Hy moet emosioneel stabiel wees, d.w.s Hy reageer nie roekeloos, drasties of uit woede nie, maar behou sy kalmte onder druk.

Hy moet geestelik waaksaam wees sodat hy gevare en dwaalleer vroegtydig kan raak sien en hy laat hom nie deur elke nuwe wind van leerstelling meesleur nie.

Dus moet hy innerlik self gedissiplineerd wees en uiterlik helder en standvastig in sy optrede wees.

Hy moet ook bekwaam wees om te onderrig. Die ouderling amp is ’n amp van kerkregering en daarom moet hy homself in die Woord verdiep sodat hy met die Woord kan regeer en ook versorg.

Verder moet hy nie aan drank verslaaf of 'n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie.

Indien ’n ouderling nie sy huis goed regeer nie sal hy kwalik in staat wees om die regeer amp in die kerk uit te oefen.

Om bogenoemde te kan doen, moet hy nie ’n nuwe gelowige wees nie omdat mens groei in die geloof. D.w.s hy moet darem al ’n volwasse gelowige wees.

In 1 Tim. 3:8-12 hoor ons ook wat die eienskappe van ’n diaken moet wees.

In die kerk vervul diakens 'n baie praktiese rol soos om barmhartigheidswerk te doen, hulpbronne aan wese en weduwees uit te deel en gemeentelike sake te hanteer.

Daarom moet diakens persone van goeie karakter wees. Hulle moet hul geloof en roeping ernstig opneem en is daarom nie oppervlakkig, ligsinnig of roekeloos in hul optrede nie.

Diakens moet betroubaar in praktiese sake wees, omdat hulle met mense se nood en met die gemeente se finansies werk. Hulle integriteit moet bo alle verdenking wees sodat die gemeenskap hulle kan vertrou.

Verder moet hulle ook die Evangelie se eer beskerm en daarom moet hulle in hul lewenswandel eer aan God en die gemeente bring en nie op 'n manier optree wat skande of diskrediet oor die kerk bring nie.

Hulle moenie uit twee monde praat nie. D.w.s ’n diaken moenie iets agter ’n mens se rug sê wat hulle nie voor daardie persoon sal sê nie. Hulle verander nie hul standpunt of storie net om die gehoor tevrede te stel nie.

Hulle moet betroubaar wees ten opsigte van vertroulike inligting. Met ander woorde , hulle moenie inligting wat aan hulle toevertrou is gebruik om verdeeldheid of praatjies in die gemeente te saai nie. Daar mag nooit ’n versteekte agenda of manipulasie in hulle woorde wees nie.

Verder moet hulle ook nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie en moet hulle in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou.

Diakens moet getrou wees in hulle huwelike en hulle huishoudings moet ook goed bestuur word.

Geliefdes, as ons so na die vereistes van ouderlinge en diakens luister, en terloops, dit is ook maar die vereistes wat vir elke gelowige gestel is, kan mens dalk sê: “Sjoe! Hoe kry mens dit reg?

In my jong dae toe ek nog ’n diaken was het een van die manne op ’n diakonie kongres gesê: “Dis ’n TALL ORDER!”

Die vraag wat voor elkeen van ons voete lê vanoggend, ouderlinge, diakens maar ook aan elkeen wat in die amp van gelowige staan is: “Waar staan ek ten opsigte van dit wat die Here van ons vra? Hoe kry ek dit reg?”

Wat het Jesus gesê direk nadat Hy genoem het hoe groot die oes is en hoe min die arbeiders? Bid! Bid in afhanklikheid tot God vir die gawes wat Hy vra.

In Titus 3:10 kry ons so bietjie verder duidelikheid:

'Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. '

Wanneer ons luister na die gawes wat benodig word is dit nie iets wat ons doen nie. Op ons eie is ons nie in staat om dit te doen nie! Op die uiteinde is dit nie wat ons doen nie, maar wat God in ons deur die Heilige Gees doen.

Daarom is dit so belangrik vir elke ouderling en diaken en daarmee saam ook elkeen van ons wat in die amp van gelowige staan om naby God te leef in afhanklikheid van die Heilige Gees wat ons dra in die geloof.

Geliefdes, Jesus het gesê ons moet bid. Waarvoor moet ons bid? In Luk. 11:13 kry ons die antwoord:

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Vra vir die leiding van die Heilige Gees in die uitoefening van julle amp (ouderling, diaken en ook vir die amp van gelowige). Moenie dit in eie krag probeer doen nie.

Geliefdes, die oes is groot en die arbeiders min. Laat ons as kerk van ons Here aan die werk spring om die oes in te bring.

Amen




29 September 2019

Wees diensbaar – die plek van die Diaken in die gemeente


29 Sep. 2019 GKE
Skrifgedeelte: Hand. 6 v 1 – 7 & 1 Tim. 3 v 8 – 13




Hoekom het ons diakens in die gemeente? Wat doen hulle nou eintlik behalwe om met kollekte sakkies rond te loop en by die deur te staan?

Die werk van die diakens is 'n onmisbare deel in die gemeente en as hulle werk nie gedoen word nie ly die gemeente skade. In ons teksgedeelte hoor ons hoekom daar diakens in die kerk moet wees. In Hand. 3 v 7 hoor ons dat nadat die diakens begin werk het in die gemeente dat die woord van God verder versprei het en dat die getal gelowiges gegroei het.

In Hand. 6 v 1 hoor ons dat daar praktiese probleme in die gemeente ontstaan het omdat hulle al hoe meer geword het. Die Griekssprekende weduwees is afgeskeep in die daaglikse versorging.

In die tyd van daardie eerste gemeentes, is weduwees van die kerk afhanklik gewees vir hul versorging en hier het nou 'n probleem ontstaan. Tot op daardie stadium het die apostels die werk van die daaglikse versorging gedoen. Weens die feit dat die gemeente al hoe groter geword het, kon hulle nie meer by alles bykom nie. Om die versorgingstaak na behore te doen sou beteken dat die apostels hulle primêre taak, naamlik die verkondiging van die woord sou moes afskeep.

Om hierdie probleem aan te spreek het die apostels die hele gemeente bymekaar geroep sodat hulle 'n oplossing vir die probleem kon vind. Die apostel het voorgestel dat sewe manne aangestel word om die werk van die versorging oor te neem. Dit sou die apostels losmaak om te fokus op hulle primêre taak, naamlik die gebed en die bediening van die woord.

Hier is 'n paar sake wat na vore kom. Daar is verskillende fokus areas binne die gemeente. Die hoof fokus area is die geestelike versorging van die gemeente naamlik gebede en woordverkondiging. Om dit moontlik te maak is daar egter praktiese sake wat ook aandag verg.

Daarom is daar dan onderskeid tussen ouderlinge en diakens in 'n gemeente. Die ouderlinge is verantwoordelik vir die geestelike versorging van die gemeente. Hier moet ons onthou dat die predikant eintlik ook 'n ouderling is. Die diakens is die praktiese ondersteuningsnetwerk wat dit vir die ouderlinge moontlik maak om die geestelike versorging te kan doen.

Die ander gemeente lede is egter nie passief nie. Hulle het steeds 'n verantwoordelikheid en daarom het die gemeente tesame besluit oor die aanstel van diakens.

Hoe werk dit prakties in die hedendaagse kerk? Gewoonlik word daar deur die kerkraad persone aan die gemeente voorgehou. Die gemeente het ook die verantwoordelikheid om name vir ampsdraers aan die kerkraad deur te gee.

Daar is twee maniere hoe die verkiesing plaasvind. Indien daar meer name is as wat nodig is, word 'n gemeente vergadering gehou en die gemeente stem dan wie verkies word. Ongelukkig is daar nie altyd genoeg name om 'n verkiesing te hou nie en dan word die name in die gemeente afgekondig.

Die persone word dus ter approbasie aan die gemeente voorgehou en hulle name word vir drie Sondae afgekondig. Dit gee aan die gemeente geleentheid om dit onder die kerkraad se aandag te bring indien hulle bewus is van 'n rede hoekom 'n persoon nie in die amp kan dien nie.

In ons teks hoor ons ook wat die eienskappe moet wees van persone wat verkies kan word vir dienswerk. In Hand. 6 v 3 hoor ons hulle moet vol van die Heilige Gees wees en dat hulle wysheid moet hê.

In de eerste plek word genoem: “vol van die Heilige Gees.” Dit wil sê dit moet iemand wees wat 'n gelowige is, wat die evangelie glo. Dit wil sê dit moet iemand wees wat êrens maak met sy geloofslewe.

In Gal. 5 v 5 & 6 hoor ons wat dit beteken om vol van die Heilige Gees te wees:
Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.
Dit is dus jou geloof wat jou tot dienswerk aanspoor.

Verder moet die persoon wysheid hê sodat hy/sy verantwoordelik kan wees in die uitvoering van die dienswerk in die Koninkryk van God. Die wysheid wat hier benodig word is wysheid wat die Heilige Gees gee en daarom is dit noodsaaklik dat persone in die uitoefening van hul dienswerk, hulle lewe steeds deur die Gees van God beheers word.

In 1 Tim. 3 v 8 tot 12 gee Paulus vir ons meer detail hieroor. Hier word vir ons beskryf hoe die karakter van beide mans en vroue moet lyk en ek is daarvan oortuig dat vroue ook as diakens in die vroeë kerk gedien het.

Hulle moet van goeie karakter wees, dit wil sê hulle moet eerlik wees en nie gierig wees om hulself deur middel van oneerlike winsbejag te verryk nie. Hulle moet verder ook nie aan drank verslaaf wees nie. Hulle moenie skinder nie en in alles nugter en betroubaar wees, dit wil sê hulle moet wysheid hê.

Hulle moet vashou aan die ware geloof en nie in dwaalleer verval nie. Verder moet hulle ook nie onkuis lewe deur ontrou aan hulle huweliksmaats te wees nie.

Die enigste manier om aan hierdie vereistes te voldoen is om in geloof vas te hou aan die evangelie. Om vas te glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding die dood oorwin het om aan jou 'n nuwe lewe te gee waar jou lewe deur die Heilige Gees beheers word. In 1 Tim. 3 v 13 hoor ons dat jou dienswerk as diaken jou laat groei in die geloof.

In ons teksgedeelte hoor ons hoe die karakter van 'n diaken moet lyk. Daar word egter bitter min gesê wat presies hulle prakties moet doen. Die werk wat hulle moet doen is liefdeswerk soos dit ook in verskeie plekke in die Skrif verduidelik word. Dit is liefdeswerk wat deur elke gelowige gedoen moet word, of jy nou in die amp van ouderling, diaken of gelowige dien.

In die bevestigingsformulier vir diakens word die liefdeswerk van die diaken dan ook soos volg uit die Skrif saamgevat. Christus roep deur middel van sy kerk mense tot besondere diens om gelowiges vir hul dienswerk toe te rus tot opbouing van die liggaam van Christus.

Dit is dus nie ’n geval dat die diakonie dienaars is wat die gemeente bedien terwyl die gemeente agteroor sit nie. Die hele gemeente moet diensbaar wees en die diakonie rus die gelowiges toe, ondersteun hulle en neem leiding daarin.

Verder moet die diakens die wat behoeftig, eensaam, oud of siek is, bemoedig. Hulle moet sorg dra dat niemand as gevolg van bogenoemde of ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie.

Die verantwoordelikheid wat die gemeente teenoor die diakens het is om hulle as dienaars van God te aanvaar. Dat u hulle met u liefdesgawes in staat sal stel om hul liefdeswerk te kan doen om mense te help wat behoefte het.

In Hand. 6 v 6 hoor ons dat die gemeente vir die diakens wat gekies is, gebid het. Moenie die diakens vergeet in u gebede nie.

Geliefdes ontvang nou die broeder en susters wat nou bevestig gaan word as dienaars van God in die gemeente.

Bevestig diakens – bevestigingsformulier p. 149

Amen

31 Julie 2016

Die Here stuur arbeiders om in sy Koninkryk te werk.



31 Jul 2016 GKE
Skriflesing (Mat 9:35-38)

Sb 1-1 v 1 & 2
Ps. 119-1 v 1 & 2
Ps. 119-2 v 26 & 27
Sb 15-2 v 1 & 3

“Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Jesus het die mense in hulle sinagoges geleer deur die evangelie van die koninkryk te verkondig. Wat is hierdie evangelie van die koninkryk?

Die verhaal oor die Koninkryk is die groot verhaal van die Bybel. Dit begin in Genesis en dit gaan regdeur tot in Openbaring. Ons hoor hoedat God die perfekte koninkryk skep waar Hy regeer en alles binne die koninkryk in harmonie is. Daar is geen onreg nie en die mense leef in liefde met mekaar en met God saam. God is die Koning en Hy heers oor alles en almal en die burgers van die koninkryk leef almal in vrede saam.

Dan daal daar ’n duisternis oor die koninkryk neer. Die burgers kom in opstand teen hulle Koning en dit veroorsaak groot hartseer en ellende. Daar waar alles eens op ’n tyd perfek was, heers nou chaos. Vrede word met onvrede vervang en dit gaan selfs so ver dat die burgers mekaar doodmaak. Mense is in opstand teen mekaar en oorloë is aan die orde van die dag. God die Koning is nog steeds in beheer, maar nie al die burgers wil dit erken. Dit is voorwaar ’ donker tyd in die koninkryk. So donker dat die meeste inwoners nie eers meer hulle Koning herken nie!

Die Koning het egter ’n plan om weer orde te herstel. Hy gaan sy Seun stuur om sy vyande te oorwin. Sy Seun kom egter nie oorlog voer in die tradisionele sin van die woord nie. Hy kom nie met ’n weermag nie. Hy is nie in ’n paleis as ’n prins gebore nie. Nee Hy het gekom as een van die onbelangrikste mense van sy tyd, sonder aansien, sonder vertoon. So eenvoudig was sy geboorte dat Hy in ’n stal gebore is. Ten spyte daarvan is Hy tog deur ’n hemelse koor van engele geëer en as Verlosser bekend gestel.

Gedurende sy hele tyd op aarde het die Joodse raad en owerhede Hom geminag en selfs sy getroue volgelinge het Hom in die steek gelaat tydens sy diepste nood. Een het Hom verraai en die ander het weggehardloop toe Hy gevange geneem is. Een van die binnekring volgelinge het selfs ontken dat hy Hom geken het. Op die oog af het dit gelyk of Hy gefaal het en almal wat op Hom as Verlosser vertrou het was moedverlore. Hy is aan ’n kruis opgehang tussen misdadigers en daar het Hy gesterf.

Wat soos sy grootste mislukking gelyk het, was egter sy grootste oorwinning oor die vyand. Na drie dae in die graf het Hy uit die dood opgestaan en hiermee het Hy die vyand se houvas op die mense gebreek. Hy het aan almal wat vir die dood bestem is, lewe gegee. Hierna is Hy weer terug na sy Hemelse Vader waarvandaan Hy as Koning regeer.

Alhoewel dit ’n groot oorwinning was, is dit egter nog nie die finale oorwinning nie. Die finale oorwinning gaan eers kom wanneer die Koning weer terugkom om die wat hulle by die koninkryk van die sonde geskaar het te oordeel. Na hierdie finale oorwinning oor die bose waar die vyand finaal verslaan, gaan word gaan die gevolge van die sonde finaal beëindig word.

Intussen is daar baie werk vir sy volgelinge. Hulle moet die koninkryk sigbaar maak. Die manier hoe hulle dit moet doen is om die evangelie, die goeie nuus oor Jesus se oorwinning aan die kruis te gaan verkondig. Elkeen wat dit glo en sy eie maak word deel van die koninkryk. Hulle moet verkondig dat God regeer en die Jesus die dood oorwin het en dat sy koninkryk daarom in teenstelling met die koninkryk van die sondige wêreld staan. Hoe meer mense dit hoor en glo, hoe sigbaarder word die koninkryk. Die wat egter nie wil glo nie moet hoor van die Koning se oordeel wat kom.

Hy het egter nie sy volgelinge alleen gelaat met hierdie groot taak nie. Die Heilige Gees het na sy terugkeer na sy Vader toe in sy plek gekom om sy volgelinge met hierdie groot taak te help. Hierdie taak het begin nog voordat Jesus na sy Vader toe teruggekeer het. Hy het vooraf reeds sy volgelinge uitgestuur as voorbereiding vir die groot taak wat voorlê na sy hemelvaart. Eers die twaalf en toe later die twee en sewentig waarvan ons in Mat. 10 en Luk 10 hoor. Dit wat Hy begin het moes hulle klaar maak.

Die mense wat nog nie die koninkryk kan raaksien nie leef in ellende want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie. Jesus het begin omgesien na hulle deur hulle geestelike nood aan te spreek (die gebrek aan kennis van die koninkryk van God) en ook hulle fisiese nood (deur elke soort siekte en kwaal gesond te maak). Jesus se volgelinge moes egter die werk voortsit. Die eerste twaalf volgelinge was te min want die oes is groot en daarom moes hulle tot die Here bid om arbeiders te stuur om die oes (dit wil sê die verlorenes wat nog buite die koninkryk gestaan het) in te samel.

Dit is waarmee die Koning se volgelinge vandag nog mee besig is. Naamlik om die oes in te samel en die koninkryk sigbaar te maak. Omdat die oes so groot is het Hy ook die werk in verskillende take ingedeel en daarom roep Hy ook gelowiges om op hierdie verskillende take te konsentreer. Hy roep gelowiges net as gewone gelowiges en uit hulle roep Hy mense om te spesialiseer as ouderlinge, predikante en ook diakens. Elkeen van hulle het dan ook sy eie unieke taak wat hulle moet verrig sodat die Koning se oes ingesamel kan word.

Jesus het die opdrag gegee dat ons moet bid dat die Here arbeiders stuur. Ons het gebid en Hy het vir ons twee diakens gestuur wat vanoggend in hulle amp bevestig gaan word.

Ons vra nou dat die twee susters wat geroep is na vore kom sodat hulle saam met die gemeente kan hoor wat behels die werk van die diakens in die insameling van die Koning se oes.

Formulier vir die bevestiging van diakens
Geliefdes in ons Here Jesus Christus, U weet hoe ons nou verskillende male die naam/name afgekondig het van ons medebroeder/suster(s) wat as diaken(s) van hierdie gemeente verkies is, ten einde te verneem of iemand iets het waarom hy/hulle nie in sy/hulle diens bevestig mag word nie. Aangesien niemand egter enige wettige beswaar teen sy/haar/hulle bevestiging voorgelê het nie, sal ons hom/haar/hulle nou in sy/haar/hulle diens bevestig. Vir die doel moet u broeder/susters(s) wat bevestig word, en ook alle aanwesiges eers uit die Woord van God 'n kort uiteensetting van die instelling en ampswerk van die diakens aanhoor.

'n Diens om die gemeente as een gemeenskap in Christus te laat lewe, het spoedig in die apostoliese kerke nodig geword[1]. Hierdie diens word duidelik onderskei van die diens van die Woord en gebede asook van die diens van regering[2].

As diaken(s), geliefde broeder/susters(s), word u geroep om sorg te dra dat die gemeente hulle eenheid in Christus in daadwerklike onderlinge liefde beoefen. U moet ook toesien dat die gelowiges aan almal goed doen, sodat die liefde van Christus op hierdie wyse openbaar kan word. Saam met u medediakens moet u almal besoek en hulle aanspoor om daadwerklike liefde teenoor die medegelowiges en alle mense te bewys; deur elkeen te besoek sorg dra dat nie een deur armoede, eensaamheid, ouderdom, siekte of om ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie; die middele wat gegee word tot diens van die wat in nood verkeer, sorgvuldig beheer, met wysheid bestee en met vertroosting uit die Skrif uitdeel.

Sodoende moet u Christus, u medegelowiges en die gemeente tot diens toerus en die liefde van Christus tot verheerliking van God in die wêreld laat skitter.

U het gehoor wat u opdrag is. Ons vra u nou om opreg op die volgende vrae te antwoord:
Is u in u hart daarvan oortuig dat u wettig deur die gemeente van God en daarom deur God self tot hierdie heilige diens geroep is?
Glo u dat die Heilige Skrif die Woord van God is en dat dit die volmaakte leer van die saligheid bevat, en verwerp u alle leringe wat daarmee in stryd is?
Belowe u om u Goddelike opdrag getrou en met ywer in ooreenstemming met hierdie leer uit te voer en volgens hierdie leer te lewe?
Belowe u om u aan die kerklike vermanings en tug te onderwerp as u miskien in leer of lewe afwyk?

Hierop vra die bedienaar: N, wat is hierop u antwoord? Hierop moet hy/sy/hulle antwoord: Ja.

Daarop moet die bedienaar sê: Mag die alvermoënde God en Vader u sy genade skenk om in hierdie diens getrou en vrugbaar werksaam te wees! Verder moet hy hom/haar/hulle sowel as die hele gemeente soos volg vermaan:

Wees dan toegewyd in u diens. Stel vas wat die nood van die gelowiges is, en kom hulle te hulp. Spoor almal tot mededeelsaamheid aan. Wees versigtig in die besteding van die middele wat aan u sorg toevertrou is. Wees getrou in u diens en wees ('n) goeie voorganger(s) vir die hele gemeente[3]. So sal u vir uself 'n eervolle plek in die gemeente verwerf en groot vrymoedigheid in u geloof in Christus verkry en na hierdie lewe in die vreugde van die Here ingaan[4].

En u, geliefde gemeente, ontvang hierdie man(ne)/vrou(e) as dienaar(s) van God. Laat u, in die beoefening van die gemeenskap van die heiliges, deur die diakens lei[5] en wees ('n) goeie voorganger(s) vir die hele gemeente. Gee sonder bybedoelings en dwang, want God het mense lief wat blymoedig gee[6]. Doen u daaglikse werk getrou, sodat u ook hulle kan help wat behoefte het[7]. Dink aan die diakens in u gebede.

Maar omdat ons dit uit onsself nie kan doen nie, laat ons die almagtige God aanroep.

Gebed
Ons Vader, Ons dank U dat u hierdie man(ne) deur u Gees gelei het om die roeping op te volg. Ons bid U, gee aan hom/hulle steeds meer die gawes wat hy/hulle nodig het om sy/hulle diens te verrig. Skenk aan hom/hulle wysheid, skranderheid, onderskeidingsvermoë en liefde. Verleen hom/hulle genade om getrou in die diens te volhard en nooit deur teleurstelling, moeite, verdriet of vervolging van die wêreld te verslap nie. Seën, Here, die gemeente waaroor u hom/hulle gestel het. Voorsien die gemeente genadiglik van die nodige middele om ryk te kan wees in vrygewigheid en alle goeie werke. Leer ons, deur die liefde van ons Here Jesus Christus, om aan mekaar se belange te dink. Laat so u heilige Naam geëer word en die ryk van u Seun Christus kom. Verhoor ons, o Vader, deur u geliefde Seun.
Amen.
[1] Handelinge 2:42, 44-46; Handelinge 4:32-37; Handelinge 6:1-4
[2] 1 Timoteus 3:2,8; Filippense 1
[3] 1 Timoteus 3:13
[4] Matteus 25:21,23
[5] Romeine 12:8
[6] 2 Korintiërs 9:7

[7] Efesiërs 4:28.