29 Sep. 2019 GKE
Skrifgedeelte: Hand. 6 v 1 – 7 & 1 Tim. 3 v 8 – 13
Hoekom het ons diakens in die gemeente? Wat doen hulle
nou eintlik behalwe om met kollekte sakkies rond te loop en by die deur te
staan?
Die werk van die diakens is 'n onmisbare deel in die
gemeente en as hulle werk nie gedoen word nie ly die gemeente skade. In ons
teksgedeelte hoor ons hoekom daar diakens in die kerk moet wees. In Hand. 3 v 7
hoor ons dat nadat die diakens begin werk het in die gemeente dat die woord van
God verder versprei het en dat die getal gelowiges gegroei het.
In Hand. 6 v 1 hoor ons dat daar praktiese probleme in
die gemeente ontstaan het omdat hulle al hoe meer geword het. Die
Griekssprekende weduwees is afgeskeep in die daaglikse versorging.
In die tyd van daardie eerste gemeentes, is weduwees van
die kerk afhanklik gewees vir hul versorging en hier het nou 'n probleem
ontstaan. Tot op daardie stadium het die apostels die werk van die daaglikse
versorging gedoen. Weens die feit dat die gemeente al hoe groter geword het, kon
hulle nie meer by alles bykom nie. Om die versorgingstaak na behore te doen sou
beteken dat die apostels hulle primêre taak, naamlik die verkondiging van die
woord sou moes afskeep.
Om hierdie probleem aan te spreek het die apostels die
hele gemeente bymekaar geroep sodat hulle 'n oplossing vir die probleem kon
vind. Die apostel het voorgestel dat sewe manne aangestel word om die werk van
die versorging oor te neem. Dit sou die apostels losmaak om te fokus op hulle
primêre taak, naamlik die gebed en die bediening van die woord.
Hier is 'n paar sake wat na vore kom. Daar is
verskillende fokus areas binne die gemeente. Die hoof fokus area is die
geestelike versorging van die gemeente naamlik gebede en woordverkondiging. Om
dit moontlik te maak is daar egter praktiese sake wat ook aandag verg.
Daarom is daar dan onderskeid tussen ouderlinge en
diakens in 'n gemeente. Die ouderlinge is verantwoordelik vir die geestelike
versorging van die gemeente. Hier moet ons onthou dat die predikant eintlik ook
'n ouderling is. Die diakens is die praktiese ondersteuningsnetwerk wat dit vir
die ouderlinge moontlik maak om die geestelike versorging te kan doen.
Die ander gemeente lede is egter nie passief nie. Hulle
het steeds 'n verantwoordelikheid en daarom het die gemeente tesame besluit oor
die aanstel van diakens.
Hoe werk dit prakties in die hedendaagse kerk? Gewoonlik word daar deur die kerkraad persone aan die
gemeente voorgehou. Die gemeente het ook die verantwoordelikheid om name vir
ampsdraers aan die kerkraad deur te gee.
Daar is twee maniere hoe die verkiesing plaasvind. Indien
daar meer name is as wat nodig is, word 'n gemeente vergadering gehou en die
gemeente stem dan wie verkies word. Ongelukkig is daar nie altyd genoeg name om
'n verkiesing te hou nie en dan word die name in die gemeente afgekondig.
Die persone word dus ter approbasie aan die gemeente
voorgehou en hulle name word vir drie Sondae afgekondig. Dit gee aan die
gemeente geleentheid om dit onder die kerkraad se aandag te bring indien hulle
bewus is van 'n rede hoekom 'n persoon nie in die amp kan dien nie.
In ons teks hoor ons ook wat die eienskappe moet wees van
persone wat verkies kan word vir dienswerk. In Hand. 6 v 3 hoor ons hulle moet
vol van die Heilige Gees wees en dat hulle wysheid moet hê.
In de eerste plek word genoem: “vol van die Heilige
Gees.” Dit wil sê dit moet iemand wees wat 'n gelowige is, wat die evangelie
glo. Dit wil sê dit moet iemand wees wat êrens maak met sy geloofslewe.
In Gal. 5 v 5 & 6 hoor ons wat dit beteken om vol van
die Heilige Gees te wees:
Wat ons betref, deur die werking van
die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal
word. In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van
belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.
Dit is dus jou geloof wat jou tot dienswerk aanspoor.
Verder moet die persoon wysheid hê sodat hy/sy verantwoordelik
kan wees in die uitvoering van die dienswerk in die Koninkryk van God. Die
wysheid wat hier benodig word is wysheid wat die Heilige Gees gee en daarom is
dit noodsaaklik dat persone in die uitoefening van hul dienswerk, hulle lewe
steeds deur die Gees van God beheers word.
In 1 Tim. 3 v 8 tot 12 gee Paulus vir ons meer detail
hieroor. Hier word vir ons beskryf hoe die karakter van beide mans en vroue
moet lyk en ek is daarvan oortuig dat vroue ook as diakens in die vroeë kerk
gedien het.
Hulle moet van goeie karakter wees, dit wil sê hulle moet
eerlik wees en nie gierig wees om hulself deur middel van oneerlike winsbejag
te verryk nie. Hulle moet verder ook nie aan drank verslaaf wees nie. Hulle
moenie skinder nie en in alles nugter en betroubaar wees, dit wil sê hulle moet
wysheid hê.
Hulle moet vashou aan die ware geloof en nie in dwaalleer
verval nie. Verder moet hulle ook nie onkuis lewe deur ontrou aan hulle
huweliksmaats te wees nie.
Die enigste manier om aan hierdie vereistes te voldoen is
om in geloof vas te hou aan die evangelie. Om vas te glo dat Jesus Christus vir
jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding
die dood oorwin het om aan jou 'n nuwe lewe te gee waar jou lewe deur die
Heilige Gees beheers word. In 1 Tim. 3 v 13 hoor ons dat jou dienswerk as
diaken jou laat groei in die geloof.
In ons teksgedeelte hoor ons hoe die karakter van 'n
diaken moet lyk. Daar word egter bitter min gesê wat presies hulle prakties
moet doen. Die werk wat hulle moet doen is liefdeswerk soos dit ook in verskeie
plekke in die Skrif verduidelik word. Dit is liefdeswerk wat deur elke gelowige
gedoen moet word, of jy nou in die amp van ouderling, diaken of gelowige dien.
In die bevestigingsformulier vir diakens word die
liefdeswerk van die diaken dan ook soos volg uit die Skrif saamgevat. Christus
roep deur middel van sy kerk mense tot besondere diens om gelowiges vir hul
dienswerk toe te rus tot opbouing van die liggaam van Christus.
Dit is dus nie ’n geval dat die diakonie dienaars is wat
die gemeente bedien terwyl die gemeente agteroor sit nie. Die hele gemeente
moet diensbaar wees en die diakonie rus die gelowiges toe, ondersteun hulle en
neem leiding daarin.
Verder moet die diakens die wat behoeftig, eensaam, oud
of siek is, bemoedig. Hulle moet sorg dra dat niemand as gevolg van bogenoemde
of ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie.
Die verantwoordelikheid wat die gemeente teenoor die
diakens het is om hulle as dienaars van God te aanvaar. Dat u hulle met u
liefdesgawes in staat sal stel om hul liefdeswerk te kan doen om mense te help
wat behoefte het.
In Hand. 6 v 6 hoor ons dat die gemeente vir die diakens
wat gekies is, gebid het. Moenie die diakens vergeet in u gebede nie.
Geliefdes ontvang nou die broeder en susters wat nou
bevestig gaan word as dienaars van God in die gemeente.
Bevestig diakens – bevestigingsformulier p. 149
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking